Die duiwel as aanklaer

Die duiwel as aanklaer – Jan van der Watt

Erica Coetzee vra:

Die duiwel was die aanklaer van mense by God, maar het sy posisie verloor as aanklaer deur Jesus se kruisdood en opstanding. Jesus het die duiwel se plek ingeneem as advokaat. Verstaan ek dit reg? Wat is die duiwel se posisie dan nou? Hy is nie meer in die hemel om die aanklaer te wees nie, so hy versoek, verlei en mislei ons op aarde?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die duiwel word inderdaad in die Bybel geteken as die aanklaer. Kyk maar na Job. Die volgende het toe met die duiwel gebeur volgens die Nuwe Testament. (Lees asseblief ook die ander artikels oor die duiwel op die webblad – dit vorm die agtergrond vir die vraag).

a) Met die koms van Jesus is die mag van die duiwel gebreek. Lees byvoorbeeld net die volgende dele:

1 Johannes 3:8 – 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

Hebreërs 2:14-15 – 14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.’

b) Om die radikaliteit van wat gebeur het te onderstreep, sê die Bybel op verskillende plekke dat die duiwel uit die hemel uitgegooi is – byna soos ʼn aanklaer wat uit ʼn hof uitgegooi is. Lees die volgende:

  • Lukas 10:18 – 18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.
  • Johannes 12:31 – 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.
  • Openbaring 12:7-9 – 7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

c) Wat beteken dit?

Dit beteken dat as die finale hofsaak gaan plaasvind die duiwel nie daar sal wees om ons aan te kla nie. Hy is uit die hofsaak geban. Jesus, ons verdedigende advokaat, sal wel daar wees. Hy sal ons dus verdedig. Die kanse dat ons dus skuldig bevind sal word as ons aan Jesus behoort is nul. Lees Romeine 8:33-34 – 33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.’ As dit dus by die aankla kom, is net Jesus in die ‘hof’.

As jy egter nie aan Jesus behoort nie, verdedig Jesus jou nie, maar dan word jy jou aanklaer. Lees Johannes 12:47-48 – 47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Ter helle neergedaal

Ter helle neergedaal – Jan van der Watt

Isabell vra:

Sedert my Sondagskooldae hoor ek dat Jesus, nadat Hy dood is, “ter helle neergedaal” het, met ander woorde, as ek dit reg verstaan, 3 dae in die hel deurgebring het sodat ek dit nie hoef deur te maak nie. Maar, Sy laaste woorde aan die kruis was: Vader in U hande gee Ek My Gees oor”. Wat ek nou verstaan is dat Satan nooit beheer oor Sy Gees gehad het nie. Wat moet ek van alles verstaan?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die uitdrukking ‘ter helle neergedaal’ kom natuurlik nie in die Bybel voor nie. Dit is woorde wat eers in die middeleeue in die Apostoliese geloofsbelydenis ingevoeg is. Sedertdien het dit woorde baie probleme veroorsaak, want dit lyk of Jesus in die hel was. Die hel word natuurlik geassosieer met die sonde en in die algemene spreektaal sê ons dat ons hel toe gaan as ons sondig is. Nou maar wat het Jesus daar gaan doen, as ons natuurlik reg is oor die ‘hel’.

Verskillende kerke het al probeer om die saak anders te stel, bv. die NG kerk het al die woorde op ʼn stadium verander na ‘neergedaal na die hel’ terwyl die Gereformeerde kerk nou sê dat Jesus die helse pyn gely het. Dit wys dat die kerke ook ongemaklik voel oor die woorde, aangesien dit iets kommunikeer wat nie regtig so is nie.

ʼn Paar dinge is hier op die spel:

  • Die gedeelte in die Nuwe Testament waarop die uitspraak dat Jesus ter helle neergedaal het, teruggaan, is 1 Petrus 3:18-19 – 18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.Die gedeelte sê dat Jesus as mens (liggaamlik) wel dood was, maar dat Hy wel geestelik lewend was en na die geeste in die gevangenis (ʼn tipiese beeld vir die doderyk waarheen mense gaan as hulle dood is) is. (Johannes 10:16-17 en indirek Johannes 11:25-26 sê ook dat Jesus wel liggaamlik dood was, maar dat Hy tog nog lewend was in die tyd tussen die kruis en die opstanding). Dit blyk dus hier dat Jesus tussen sy kruis en opstanding na die doderyk is om sy oorwinning aan te kondig. Die idee dat Hy in daardie tyd in die mag van die Satan sou wees, is dus nie reg nie. Hy was nooit in die mag van die Satan nie. Hy het juis sy oorwinning oor die Satan gaan aankondig.
  • Uit hierdie gedeelte is dit dus duidelik dat Jesus nie tussen sy dood en opstanding geteken word as gepynigde, lydende nie, maar reeds as oorwinnaar. Dit is juis die ongemaklikheid met die ‘ter helle neergedaal’ as ʼn mens dit sien as plek waar Hy lydend in die mag van die Satan sou wees. Dit staan nêrens in die Bybel nie.
  • Ons kan dus hieruit aflei dat die meeste wat ʼn mens in die ‘ter helle’ vanuit ʼn Bybelse hoek moet inlees, is dat Jesus ook na die doderyk gegaan het toe sy liggaam aan die kruis gesterf het. Daar was Hy tot Hy weer opgestaan het. God is natuurlik alomteenwoordig en dus selfs in die doderyk was God by Jesus.
  • Hel’ in die Nuwe Testament beteken meestal doodgewoon ‘doderyk’ (daar waar die dooies na hulle dood is) en nie die plek van straf nie (dit ook in sommige kontekste). Die Bybel gebruik ook verskillende woorde vir die doderyk, soos gehenna, sheo’l, hades, ens. wat elkeen sy eie betekenis het. ‘Hel’ in die Nuwe Testament beteken dus nie outomaties die plek waar jy braai vir jou sonde nie, om dit so uit te druk. Dit beteken in baie gevalle bloot die plek waar die dooies is.
  • Nou kom ons weer na die belydenis terug. Die term ‘ter helle neergedaal’ is, soos ons gesien het, baie dubbelsinnig en die kerke worstel maar oor die presiese betekenis. Aangesien dit ʼn belydenis van die kerk is (waarmee hulle iets wil sê oor wat hulle glo) moet die kerk dus self inhoud gee aan wat hulle bedoel. Ons het gesien dat die NG Kerk die woorde verander het om klem te lê op die feit dat Jesus in die drie dae ‘hel’ toe is. ‘Die Gereformeerde Kerk interpreteer dit as die lyding van Jesus. Dit gaan dus nie daaroor dat Jesus in die hel was nie, maar dat hy pyn gely het wat ʼn mens aan helse pyn laat dink. So word die woorde maar deur verskillende kerke (en verskillende mense) anders ingevul. Persoonlik verkies ek om ‘ter helle neergedaal’ vanuit ʼn Bybelse hoek te lees as ‘in die doderyk neergedaal’ te lees. Dit mag ook baie dinge beteken, maar ten minste skep dit nie die indruk asof Jesus in die hel geland het waar Hy in die mag van die duiwel as sondaar hanteer is nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Satan se mag en majesteit

Satan se mag en majesteit – Jan van der Watt

Henk Geyer vra:

Ek wil graag weet In Lukas 4:6 waar die Here deur die satan versoek word. Ek wil weet wie het hierdie Mag en Majesteit aan hom gegee?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Lukas 4:5-6 lees: 5Daarna bring die duiwel Hom op ‘n hoogte en wys Hom in ‘n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

Waar kom die idee vandaan dat die duiwel mag op aarde het en homself as koning oor koninkryke sien? Dit is ‘n opmerking wat nie net hier voorkom nie, maar ook elders in die Nuwe Testament, byvoorbeeld in Johannes 12:31 word die duiwel ‘n heerser/regeerder (archoon in Grieks) van hierdie wêreld genoem (Efesiërs 2:2. Sien ook Efesiërs 6:12); . In 2 Korintiërs 4:4 word hy selfs die god van hierdie wêreld genoem. Dit beteken dat hy ‘n koninkryk het, dat hy mag het, dat hy regeer, ens.

Met die ballingskap het die Jode hulle land en hoofstad Jerusalem verloor. As iemand sy land verloor, beteken dit veral dat die koning verloor het, want sy basiese werk was om sy mense te beskerm. God was as heerser gesien, wat natuurlik deur die gewone konings indirek regeer het. Toe die Jode verslaan word, was die vraag natuurlik of God ook nou verslaan is? Nee, het die profete gesê, God het hom van sy volk onttrek en die vyandige magte toegelaat om hulle te oorwin as straf vir hulle sonde. BELANGRIK: die ander konings het dus nou mag oor die wêreld, en ook oor die Jode gehad. Agter hulle, is daar later gesê, staan natuurlik die duiwel. So het die idee ontstaan dat die duiwel die regeerder van hierdie wêreld was.

God is egter nie so oorwin of weg nie. Hy is steeds die heerser van die heelal wat die duiwel maar net toelaat om as straf vir sy volk se ongehoorsaamheid oor die wêreld te heers. Die profete het die volk egter verseker dat die dag van die Here sal kom wanneer God as heerser sal terugkom en sy mense sal opeis. Die koninkryk van God met God as koning sal weer kom. Dit is dan ook die agtergrond van die woorde wat ons in die Nuwe Testament uit die mond van Johannes die Doper en Jesus kry: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van God is naby’. ‘n Koninkryk is nie naby of kom nie as dit reeds daar is nie. Dit was egter nie daar voor Jesus gekom het nie in die sin dat God sy direkte heerskappy en verlossing nog van sy mense teruggehou het. As Hy in Jesus weer kom, kom dryf hy die duiwel uit en kom vestig weer sy koninkryk tussen sy mense. So kom die koninkryk, waarvoor ons in die Ons Vader ook bid.

Terug na die duiwel as heerser. In die lig van die feit dat God die duiwel (en die konings van die aarde) toegelaat het om op die aarde te heers en Homself so in ‘n sekere sin van sy volk ‘teruggetrek’ het, kon daar gesê word dat die duiwel die heerser van hierdie wêreld (nie die heelal nie) is. Hy probeer dus vir Jesus ompraat om by sy koninkryk in te val en hom as heerser te erken. Dan sou hy Jesus soort van tweede in bevel maak. Dit sou beteken dat Jesus eintlik teen die koninkryk van God wat kom, sou moes draai. Die duiwel het ‘n vet kans gevat wat nie gewerk het nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Demone wat in ʼn mens klim (Duiwelbesetenheid)

Demone wat in ʼn mens klim (Duiwelbesetenheid)

Die Bybel steek nie die bestaan van die duiwel en bose magte weg nie.

Net so min word die bose magte as skadeloos vir die mens beskryf. Nee, die duiwel wil mense hê… ja, hy, of sy demone, kan in mense klim en hulle in besit neem. Hulle neem dikwels die persoonlikhede van die mense oor en laat hulle snaakse dinge doen. Ons sien hoe Jesus toe hy hier op aarde was, mense met sulke demone in hulle moes help deur die demone uit te dryf.

Duiwelbesetenheid kan vandag nog voorkom… maar nie in Christene nie. Christene het die Heilige Gees in hulle; en die Heilige Gees deel nie sy “huis” met ʼn demoon nie, nie eers die buitekamer van sy huis nie. Om dus te wil voorgee dat demone in ʼn Christen is, is ʼn ernstige mosie van wantroue in die krag van Jesus en die Heilige Gees. Waar duiwelbesetenheid vandag nog voorkom, is dit in mense wat die Here nie ken nie.

Nou moet Christene nie gerus raak nie. Die duiwel kan wel nie meer in ʼn gelowige klim en hom of haar besete maak nie. Tog kan hy die gelowige nog verlei, weg van God af. Hy kan vir hulle strikke stel, soos ʼn brullende leeu wag om hulle te verslind, soos ʼn wolf in skaapsklere of ʼn engel van die lig aan hulle verskyn om hulle te probeer bedrieg, sodat hulle verkeerde dinge doen. Daarom moet gelowiges die geestelike wapenrusting aantrek (Efesiërs 6). Die hart van hierdie wapenrusting is om naby God te bly en in sy krag die duiwel teen te staan.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy