1

Sefanja (4)

Our tongues were made to bless the Lord – Isaac Watts

Sefanja (4)

Mike Bullmore het onlangs ‘n artikel geskryf waarin hy ‘n kort oorsig van Sefanja gee – God se groot liefdeshart teenoor sy eie mense. Hierin beskryf hy hoe God mense verlos. Hy beskryf ‘n proses bestaande uit drie stappe.

Stap 3: Die flikkering van hoop, bars uit in blydskap.

Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie. Daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou (3:14 – 17)

 

 

Verlossing beteken nie net dat ek God se toorn ontsnap nie – dit is ook my toegang tot sy vreugde. Die mense wat hier te sprake is, is hulle wat hulle na God toe gedraai het. Dit geld nie net vir Israel nie. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (Galasiërs 3:29).

Diegene wat God se verlossing ontvang het, word opgeroep om te sing, te juig en vrolik en bly te wees. Hoekom? As ons net dink aan wat God in Jesus Christus vir ons gedoen het, kan ons nie anders nie. Wat het God vir ons gedoen? Lees net 3:15:

  • Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf. Dit herinner baie sterk aan Romeine 8:1: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Jesus Christus is nie.
  •  Die Koning van Israel, die Here is by jou. In 3:17 lees ons dieselfde: Die Here jou God is by jou.
  • Jy hoef geen ramp meer te vrees nie. Daar is geen rede om te vrees nie, want ons magtige Koning is in ons midde.

Sefanja sluit op ‘n hoogtepunt af: Wanneer die tyd daar is, laat Ek julle kom, maak ek julle bymekaar en gee Ek aan julle roem en eer onder al die volke op aarde; dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander, julle sal dit met julle eie oë sien, sê die Here (3:20)

Watter wonderlike boodskap in ‘n boek wat ons nie eintlik lees nie. Dit is die geskiedenis van die mens: van absolute hulpeloosheid tot blydskap in God.




Sefanja (3)

The Old Testament is like a richly furnished but dimly lit room. The contents only become clear when the light is turned on in the person and work of Jesus – B. B. Warfield

Sefanja (3)

Mike Bullmore het onlangs ‘n artikel geskryf waarin hy ‘n kort oorsig van Sefanja gee – God se groot liefdeshart teenoor sy eie mense. Hierin beskryf hy hoe God mense verlos. Hy beskryf ‘n proses bestaande uit drie stappe.

Stap 2: ‘n Flikkering van hoop

Ruk julle reg, onbeskaamde nasie, voordat die besluit voltrek word, voordat die dag kom en julle soos kaf word voor die gloed van die toorn van die Here,voor die dag van die toorn van die Here oor julle kom. Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here (2:1 – 3)

Miskien. Hier is ‘n klein vlammetjie wat brand in die see van oordeel.

Al wat oor is, is die nou poort. Daar is net een plek waar ek kan skuil en verlossing kry – by die Here. Ons staan skuldig voor die heilige en regverdige God. Maar die versoeking is groot om op allerhande ander plekke skuiling te soek. Dit sal my nie help nie. God kan en sal my in genade verlos; Hy het my verlossing in Jesus Christus bewerk indien ek my sondes bely. Daar is geen ander geheime formule nie. Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here (3:12).

God wil mense red om Hom te aanbid en te verheerlik. Hier is hoop as ons op Hom vertrou. As ons dit doen volg Stap 3.

 




Sefanja (2)

God gives the grace of forgiveness in order to receive the glory of worship. —Rhett Dodson

Sefanja (2)

Mike Bullmore het onlangs ‘n artikel geskryf waarin hy ‘n kort oorsig van Sefanja gee – God se groot liefdeshart teenoor sy eie mense. Hierin beskryf hy hoe God mense verlos. Hy beskryf ‘n proses bestaande uit drie stappe.

Stap 1: Geen hoop nie

Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde, sê die Here, Ek gaan ‘n einde maak aan mens en dier, aan voëls en visse, Ek gaan ‘n einde maak aan dié wat mense laat struikel het, en aan die goddeloses; Ek gaan die mense van die aarde af uitroei, sê die Here (1:2 – 3).

Dramaties. Die volk wat hierdie uitspraak gehoor het, was sekerlik stomgeslaan. Hoekom sou God so iets wou doen? Dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid, dié wat die Here aanbid en aan Hom trou sweer, maar terselfdertyd ook aan Milkom (1:5) Hierdie is mense wat aan die druk van die kultuur toegegee het: Hoe kan Israel se God nou die enigste god wees? Daarom aanbid hulle die son, maan en sterre en ook vir Milkom, die God van die Moabiete.

 

Om niemand aanstoot te gee nie, aanbid hulle darem ook die Here. Dit is ‘n belediging vir God. Hy het baie duidelik vir sy volk gesê dat Hy die enigste, ware God is en dat hulle net vir Hom moet aanbid. As ons God plus iemand/iets anders aanbid, aanbid ons nie vir God nie. Soos Sefanja sê: ons draai ons rug op die Here, ons vra nie na sy wil nie en raadpleeg Hom nie. Sulke mense gee net voor dat hulle in God glo, maar in werklikheid leef hulle soos ateïste.

Ons is deur en vir God gemaak; ons is gemaak om met Hom in ‘n verhouding te leef; ons is van Hom afhanklik; ons is gemaak om Hom te vertrou, te erken en Hom te soek. Maar vers 6 stel dit duidelik dat dit nie is wat ons doen nie. Wat gaan God hieraan doen? Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed of kwaad nie (1:12).

Die volk verwaarloos God – hulle marginaliseer Hom. Ons doen dit ook. God is nie meer ‘n faktor in die mens se lewe nie. Wat belangrik is, is my reputasie en my gemak. God, as Hy bestaan, is in ieder geval nie betrokke by ons lewens nie. Ons hoef Hom nie meer in aanmerking te neem nie.

Hier word van Jerusalem, die opstandige, besoedelde stad waarin daar soveel onderdrukking is, gepraat (3:1). Die mense van Jerusalem was trots en selfversorgend en het niks van ander mense, of God, nodig gehad nie. Sefanja ‘n profeet van God gestuur deur God, sê vir hulle: Die groot dag van die Here is naby, dit kom gou. Luister hoe bitter, hoe skril klink die geskreeu van die soldate dié dag! Die dag is ‘n dag van toorn, ‘n dag van nood en benoudheid, ‘n dag van storms en verwoesting, ‘n dag van donkerte, van duisternis, ‘n dag van wolke, van swaar onweer, ‘n dag waarop die ramshoring sal blaas en die krygsgeskreeu sal klink teen die vestingstede, teen die hoë hoektorings (1:14 – 16). Die dag van God se toorn is op pad en dit sal ‘n verskriklike dag wees.

God is regverdig en heilig. As Hy hierdie trots, afgodery en opstand sien, is Hy kwaad en sal Hy oordeel. ‘n Paar jare later word dit ‘n werklikheid en sy volk word in ballingskap weggevoer. Jerusalem se mure word platgeslaan, die tempel word afgebreek. Hierdie is ‘n voorsmaak van die verskriklike dag van die Here wat sal kom vir diegene wat nie in Hom glo nie. Almal van ons sal geoordeel word.

Hoekom maak Sefanja hierdie aankondiging? Die eerste waarheid van God wat in die Bybel ontken word, kry ons reeds in Genesis 3:4 toe die slang vir Eva sê: Julle sal beslis nie sterf nie. Ons glo dat ons sondes maar klein en onbelangrik is en nie permanente gevolge sal hê nie. Maar God se oordeel kom vir alle mense: Die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede (3:8).

Waar het ek God in my lewe geplaas? Verwaarloos ek Hom? Vertrou ek op myself? Nog hulle silwer nog hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek … Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land (1:18). Op daardie dag sal niks my kan red nie; ek sal nie kan wegkruip nie; ek sal alleen voor God staan.

As ek glo dat Stap 1 nie waar is nie, sal ek nooit Stap 2 en 3 sien nie. Dan eindig ek my lewe sonder hoop.




Sefanja (1)

A Christian isn’t a man who never goes wrong, but a man who is enabled to repent. CS Lewis

Sefanja (1)

Mike Bullmore het onlangs ‘n artikel geskryf waarin hy ‘n kort oorsig van Sefanja gee – God se groot liefdeshart teenoor sy eie mense.

Sefanja is nie ‘n boek wat ons dikwels lees nie – hy is immers een van die “kleiner” profete. Maar hierdie boek begin met: Die woord van die Here wat gekom het tot Sefanja. Daarom is daar baie belangrike lesse wat ons uit hierdie boek kan leer. Dit begin met ‘n sobere evaluering van die toestand van die mens wat teen God sondig. Daarna volg God se regverdige oordeel oor sondaars. Maar midde in hierdie sombere aankondiging met sy oordeel, wanhoop en angs, skyn ‘n klein liggie – ‘n woord van hoop. Dit is goeie nuus – ‘n woord van verlossing. Dit is goeie nuus vir ‘n sondige mensdom wat onder die oordeel van God staan. Ten spyte van God se regverdige oordeel en as gevolg van sy genade, is daar tog hoop vir die mens.

 

Sefanja sê vir ons dat God verlossing voorsien. Ons ontsnap nie net God se oordeel nie, maar word deel van sy vreugde. Hierdie proses verloop in drie stappe:

Stap 1: Daar is geen hoop nie. God gaan die hele mensdom oordeel.

Stap 2: Daar is ‘n klein vlammetjie van hoop wat brand – iewers hoor ons veraf ‘n woord van hoop.

Stap 3: Hierdie klein vlammetjie van hoop word ‘n groot vuur – God verlos sy mense.

In die volgende blogs gaan ons na hierdie drie stappe kyk.