Seksualiteit

Seksualiteit – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

As Christene is dit ‘n sonde om “seks speelgoed” te gebruik. Net jy en jou man. Hierdie is ‘n vraag wat baie tussen ons vrouens opkom en eintlik weet nie een van ons of dit reg of verkeerd is nie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is nie so ʼn maklike vraag om te antwoord nie, veral omdat daar soveel opinies die rondte doen. As Christene het ons ʼn tradisie deur die eeue van sterk opinies oor seks en seksualiteit. Vroeër was Christelike selfdissipline dikwels daaraan gemeet hoe jy jouself kon ‘beheer’ op seksuele gebied. Dit was dan die manier waarop mense kon bewys dat hulle genoeg gehoorsaamheid gehad het om God te dien. Daarom het jy mans en vroue gekry wat hulle van die huwelik en seksualiteit onttrek het. Ons weet egter uit die geskiedenis dat dit nie altyd moontlik was nie. Ons seksuele drange is so deel van ons soos wat behoefte aan kos is. Dit is iets waarmee ons daagliks te doen het. Nou onlangs het een van die belangrike Duitse professore verklaar dat hy te swak is om priester (ongetroud) te bly en het tot skok van vele die priesterskap gelos. Dit gebeur algemeen.

In die tweede plek het ons ʼn beperkte direkte beeld van seksualiteit. Seks word gesien as uitsluitlik om kinders te verwek. Daarom is daar in die Ou Testament selfs ʼn verbod op mans wat hulle saad buite seksuele gemeenskap stort. Lewe is met die saad verbind en as jy saad stort, mors jy lewe. In die geval sit ons vandag met die probleem dat ons dit  nie meer so sien nie. Ons weet die proses van verwekking is baie meer ingewikkeld. Niemand sal voel hy vermoor iemand as hy saad buite die vrou stort nie. Die etiese vraag is dus of dit dan nog verkeerd is. Die verbod was veral daarop gemik om nie lewe te beskadig nie – ons weet ons beskadig nie lewe as ons dit doen nie. Is dit dan nog verkeerd?

In die derde plek sit ons met ʼn situasie dat mense vandag dikwels eers trou as hulle by die 30 is. In die ou tyd was dit vir vroue as jy ongeveer 12 jaar oud was. Vroue is verbied om buite hulle huwelik seks te hê, en die verbod was veral daarop gemik om die stam/familie suiwer te hou. Daar is geglo dat die karaktertrekke van ʼn familie deur die saad van die man oorgedra word. As daar nou ʼn man van ʼn ander familie of stam sy saad in die vrou stort, beteken dit dat die karaktertrekke van jou familie of stam verander. Dit mag nie. Daarom is die vroue op alle moontlike maniere teen ander mans ‘beskerm’ (Kyk maar hoe die vrouens met die klere toegemaak is. Jy kon dikwels net hulle gesigte of oë sien; Hulle is ook gedwing om meestal tuis te bly en nie in die openbaar rond te hang nie). Omdat die vroue jonk getrou het, is hulle seksuele behoeftes dus van vroeg af bevredig. Vandag is dit natuurlik nie meer so nie.

Etici (mense wat nadink oor wat reg of verkeerd is), vergelyk nou ons situasie met die situasie van die Bybel. Daar is belangrike verskille. Daar is sommige wat argumenteer dat ons maar moet bly by onthouding en niks vreemds doen nie. Hulle argumenteer dat reinheid ook op seksuele gebied beoefen moet word en dat ʼn mens dan jouself in die verband moet dissiplineer. Ander argumenteer wyer. Hulle vertrek van die standpunt dat jy niemand seermaak as jy byvoorbeeld jou seksuele behoeftes bevredig deur masturbasie nie. Die basiese belangrike vereistes van die Christendom gaan om die liefde en die  bewaring van lewe. As ek dus niemand skade aandoen nie, sou dit vir hulle beteken dat dit moeilik as verkeerd beskou kan word. (Ek gaan nie hier op die saak van [kinder]pornografie in nie. Die uitbuiting van mense, veral kinders, om pornografiese materiaal beskikbaar te stel, bly problematies. As mense egter nie uitgebuit word in die beskikbaarstelling daarvan nie, verander die argumente weer). Daar is dus argumente na beide kante toe.

Persoonlik dink ek dat ons seksualiteit nooit ʼn bedreiging vir onsself moet word nie. Die Here het dit vir ons gegee om te geniet, veral (ek dink selfs spesifiek) in die huwelik. Party mense sukkel om hulleself te beheer en masturbeer byvoorbeeld. Dan sit hulle met skuldige gewetens wat hulle hele lewe negatief beïnvloed. Dit hoef nie so te wees nie.

Nou ja, daar sal verskil van opinie bly bestaan. Jy sal altyd hoor dat verskillende mense jou verskillende raad gaan gee. Ek dink jy moet maar jou gewete in gebed volg in die lig van bogenoemde.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoe ver mag ek vry?

Hoe ver mag ek vry? – Kobus Kok

ʼn Leser vra:

Ek en my meisie is albei Christene en het besluit dat ons nie gaan seks hê voor die huwelik nie. Daaroor staan ons al twee vas. Dit is nie ‘n kwessie nie! Wat is die perke?? Tot waar kan mens gaan dat dit nie onsedelik is nie?? En dit sal NIE lei tot seks nie. Dit is waar selfbeheersing inkom en ons het die besluit gemaak. Dit is glad nie ‘n kwessie nie! As voorhuwelikse seks verkeerd is, wat is alles ingesluit in die definisie van “seks”??

Antwoord:

Miskien moet die vraag nie wees hoe vér kan ek vry nie, maar hoe ver kan ek dit regkry om my maat op seksuele gebied op te pas en te respekteer.

Die Bybel gaan jou eintlik min raad oor die betrokke saak gee. Soos ek in die vorige artikel oor saambly verhoudings verduidelik het, moet ons verstaan dat die Bybel in ‘n gans andere kulturele konteks as vandag geskryf is. In die Bybelse tyd was enige fisiese kontak binne die Joodse konteks streng gemonitor. Nou die dag was daar ‘n Joodse vrou en haar man by my in die spreekkamer. Na ons gesprek het ek die man en toe die vrou gegroet met die hand, soos ons mos maar doen. Sy het onmiddellik opgemerk dat ‘n Joodse Rabbi dit nooit sou doen nie. Hulle vat nie sommer net aan vrouens nie. Die rede daarvoor is dat daar in die Bybelse tyd geglo is dat mens onrein kan raak as jy aan ‘n onrein persoon raak en dan moet jy deur die hele proses van reiniging gaan. Mense kon jou dus kontamineer. Net so kon onrein kos of onrein objekte jou ook onrein maak. Die punt is dat die Jode ‘n fyn uitgewerkte sisteem gehad het wat hulle reinheid sou beskerm. Daar was ook bepaalde ruimtes waarbinne mense gefunksioneer het. Elke persoon het sy/haar plek en funksie gehad. Soos ek in die vorige artikel gesê het, het Joodse mans en meisies maar nooit voor ‘n huweliksvoltrekking seksuele of ander intieme fisiese kontak gehad nie. Dit was gewoon taboe. Daarom sal jy nooit in die Bybel iets kry wat jou gaan raad gee oor hoe ver jy mag vry nie.

Wat my persoonlik betref, dink ek dat mens in ons tyd, wat gesien kan word as die groot tyd van revolusies (inligtingsrevolusie, tegnologiese revolusie) en by name veral ook die seksuele revolusie, mooi moet verstaan wat aan die gang is. Seks voor die huwelik is nie die uitsondering soos dit in die Bybelse tyd se kulturele konteks was nie, inteendeel! Vrye seks is die algemene aanvaarbare reël in ons kulturele konteks. In die Bybelse tyd het mense ook getrou toe die meeste van hulle maar tieners was. Vandag trou ons dikwels eers hier by 30, wat twee maal langer wag beteken voordat mens seksueel kan verkeer. Die vraag is nou, hoe kan ek as Christen my seksuele verhouding bestuur, en wanneer is ek besig om te sondig deur eintlik seks voor die huwelik te beoefen. Wel, in ons tyd sal verskillende kerkgroepe dit ook verskillend benader wat op ‘n spektrum van uiters links na uiters regs wissel. Sommige groepe is byvoorbeeld van mening dat enige iets meer as hande vashou na die seksuele neig, en dat vryery al klaar seksueel van aard is. Hulle moedig jongmense aan om dan eerder te “court” totdat hulle eendag trou. Hierdie mense fokus op die geestelike, sosiale en emosionele dimensie van  die verhouding en vermy die fisiese so ver moontlik (vgl. silwer ring thing ens). Mense wat “courting” doen beleef dan vir die heel eerste keer seks op hulle huweliksaand. Ander geloofsgroepe verbreed die begrip “huwelik” en is van mening dat mense wat in ‘n hegte verhouding van opregte verbintenis staan en wat wedersydse respek vir mekaar het en in ‘n gesonde verhouding is reeds “getrou” het. Seks in so ‘n verhouding is dan vir hulle iets gesond wat uitdrukking gee aan hulle opregte liefde en die verbintenis versterk.

Myns insiens is daar ‘n verskil tussen seksuele geslagsgemeenskap en fisiese aanraking met ‘n seksuele dimensie. Seksuele geslagsgemeenskap is uit die aard van die saak seks en is myns insiens bedoel vir die huwelik. Fisiese aanraking met ‘n seksuele dimensie is iets wat gesond kan wees tussen twee gelowiges wat God as die kern van hulle lewe sien. Indien God die kern van jou lewe is, is heiligheid ook iets wat vir jou belangrik is. Net so sal respek en vertroue en integriteit vir jou belangrik wees. As so ‘n paartjie dan in fisiese aanraking met ‘n seksuele dimensie verkeer, sal so ‘n paartjie op ‘n volwasse wyse met geloofsintegriteit die aard van die aanraking en koestering hanteer. Ek het gewoon net altyd gevra of my meisie (wat nou my vrou is) se pa tevrede sou wees met die manier waarop ek met haar omgaan. Uit respek vir hom, en omdat dit nie my vrou is nie maar sy dogter, het ek haar liggaam en ons verhouding met respek en heiligheid hanteer. Wat doen jy nou as jou meisie of ou se ouers geen probleem met seks het nie? Wel, dan kan jy vanuit die sogenaamde “significant other” dimensie funksioneer. Hoe sou jou selgroep voel oor die manier waarop julle met mekaar werk? Daarom is dit belangrik om ook ‘n sterk sosiale kring te hê wat op geloofsvlak saam met jou die pad kan loop. Myns insiens is dit die moeite werd om mekaar met respek te hanteer en binne die konteks van jou verhouding met God en die “significant others” in jou lewe (ouers, geloofsvriende, mentors) jou weg te vind in die gesonde uitleef van jou fisiese verhouding.

Praktiese raad: Dit is altyd beter om fisiese grense te stel en in jou verhouding met jou maat dit te artikuleer. Julle kom dan duidelik ooreen en sê vir mekaar dit of dat is die grensdraad en daar vat ons nie of dit doen ons nie. So beskerm julle mekaar en kyk julle na mekaar en sal julle die verhouding se fisiese dimensie mooi kan bestuur. Onthou net altyd dat julle emosioneel, geestelik en fisies saam moet groei. Moet nie net op die fisiese fokus nie. Fokus veral op die geestelike en die emosionele. Daarin lê onuitputbare diepte. Met tyd sal julle sien dat die krag van die fisiese afneem, en dan is dit die emosionele en die geestelike wat geweldig kosbaar is. Investeer nou reeds daarin.

Ten slotte: Soos ek in die begin gesê het: Miskien moet die vraag nie wees hoe vér kan ek vry nie, maar hoe ver kan ek dit regkry om my maat op seksuele gebied op te pas en te respekteer.

Outeur: Dr. Kobus Kok

 

 

 




Seks om te geniet

Seks om te geniet

Ons hoef nie bang of skaam te wees vir ons eie seksualiteit nie.

God het ons so gemaak. Dit is ʼn gawe van Hom af. Maar soos alle dinge wil Hy ook hê dat ons dit verantwoordelik moet gebruik. Hoewel daar in die Bybel ʼn sterk lyn deurloop dat seks se einddoel voortplanting is, kan ʼn mens ook jou seksualiteit bloot net geniet. Kyk maar hoe mooi skryf Hooglied oor die liefde.

Daar is tog ook grense aan die uitleef van ons seksualiteit. Ons kan dit goed gebruik of verkeerd gebruik. Dit hang van ons eie selfbeheersing af, want die drang vir seks voel ons almal maar. Die Bybel voel egter baie sterk oor die huwelik en sien dit as die regte en eintlik die enigste plek vir seks in sy mees intiemste vorm.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy