Sekularisasie en ons lewe

The tragedy of modern man is not that he knows less and less about the meaning of his own life, but that it bothers him less and less – Vaclav Havel

Sekularisasie en ons lewe

Ons hoor so baie oor sekularisasie, maar wat is dit nou werklik? Dit is die proses waardeur die beslissende idees en instellings van godsdiens geneutraliseer word – godsdienstige idees is van min belang en godsdienstige instellings word gemarginaliseer. Ons moderne manier van dink, word tot ons vyf sintuie beperk.

 

Tradisioneel is ons lewens in ‘n huis met vensters geleef. Hierdie vensters was soms vuil of stukkend, maar dit was vensters na ander wêrelde. Die moderne lewe word in ‘n huis sonder vensters geleef. Minder en minder van ons lewens word aan God oorgelaat; meer en meer word ons lewens beheer deur ons gebruik van die rede – wetenskap en tegnologie. Die moderne wêreld kom sonder God klaar.

Wat is die invloed van my roeping deur God op sekularisasie?

  • Jesus Christus roep ons om Hom te volg. Terselfdertyd wys Hy vir ons op die belang van geestelike dissiplines in ons lewens. Vir Jesus beteken ‘n geestelike lewe nie net ‘n lewe van nadenke nie – dit is ook ‘n lewe van optrede en dien. Ons kan nie net op die pieke leef nie – ons moet afkom na die vallei van die alledaagse lewe waarheen ons roeping ons neem.
  • Jesus Christus roep ons na daardie spesifieke geestelike dissiplines wat noodsaaklik is om ons roeping te vervul.



Is sekularisasie onvermydelik?

Is sekularisasie onvermydelik?

Soos die wetenskap en tegnologie verbeter, is die agteruitgang van godsdiens onvermydelik? Mary Eberstadt (How the West Really Lost God: A New Theory of Secularization) van die Universiteit van Stanford se Hoover Instituut het die bestaande teorieë oor sekularisasie getoets en bevind hulle antwoord nie al die vrae nie.

 

Sy glo dat gesin en geloof die dubbele spiraal (soos ons in die DNA molekule kry) van die samelewing is. As die gesin sterker word, sal geloof ook sterker word. Die huidige probleme en agteruitgang in beide is ‘n ernstige probleem.

Wat is die redes vir die agteruitgang in beide gesin en geloof? Die seksuele revolusie en die welsynstaat. Die insentief om te trou het drasties afgeneem – dit is nie meer nodig om te trou om gemeenskap te hê nie. Meer as die helfte van eerste geboortes in die VSA is buite die huwelik. Al wil jy ‘n moeder word, is dit nie nodig om te trou nie.

 Die moderne welsynstaat  probeer om die plaasvervanger vir die vader te wees en raak betrokke by dinge wat gesinne gewoonlik gedoen het. Die finansiële beperkings op regerings wêreldwyd, mag rede vir hoop wees. Daar is net nie meer genoeg geld vir ‘n volhoubare welsynstaat nie. As mense nie meer op die staat kan vertrou nie, sal hulle na gesinne en die kerk kyk vir hulp.

Sy sien hoop vir beide die gesin en geloof in die toekoms. In moeilike tye gaan mense huis toe. En hierdie huis? Die gesin en die kerk.