Masturbasie – reg of verkeerd

Masturbasie – reg of verkeerd – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

In die Bybel is ‘n gedeelte: Stort jou saad eerder in die palm van jou hand as in die buik van ‘n hoer. Waar staan dit? Wat is die Bybel se standpunt omtrent selfbevrediging.

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Masturbasie – reg of verkeerd

Die Nuwe Testament het geen direkte verwysings na masturbasie nie. Indien ons die etiese vraag vra of dit reg of verkeerd is, sal ons met ander woorde na die implisiete etiek van die Nuwe Testament moet kyk. Die implisiete etiek vra met ander woorde wat die onderliggende waardes van die NT is. Die antwoord rondom seksualiteit is baie eenvoudig. In die vroeë kerk word die aksent op selfbeheersing en seksuele reinheid geplaas. Selfs in die Griekse filosofie in die tyd van die NT het die filosowe daarop klem gelê dat die mens nie ‘n dier is nie, en daarom die vermoë het om rasioneel met jou kop te kan dink en keuses te maak. Daarvolgens is dit duidelik dat die mens die vermoë het om seksuele begeertes te kan beheer. In die NT is een vrug van die gees juis selfbeheersing, die vermoë om eksterne impulse te kan beheer. Dit sluit in dat die gelowige die vermoë het om seksuele luste te beheer. In die NT word daar sterk teen seksuele misbruik gepraat en gelowiges word opgeroep om rein lewens te lei, veral in die Pauliniese materiaal. Dit wil volgens navorsing voorkom of Paulus veral in 1 Korintiers ‘n Joodse seksuele etiek handhaaf.

Die Jode het ‘n baie interessante manier gehad om na die wêreld te kyk. Volgens Levitikus is daar duidelike “kaarte” van persone, plekke en tye. Dit wat uit plek uit is, is onrein. Daarom maak Levitikus dit duidelik dat bloed se regte plek in die liggaam is. Indien ‘n vrou maadstonde het, dan is sy vir ‘n bepaalde tyd onrein. Indien ‘n man se semen, wat eintlik in sy liggaam hoort, buite sy liggaam in kontak kom dan word hy ook vir die hele dag onrein, en moet hy deur bepaalde reinigingsrituele gaan om weer rein te word. Neem byvoorbeeld Levitikus 15;16-18

Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:

Lev 15:2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As enige man ‘n vloeiing uit sy vlees het, dan is dié vog onrein.

Lev 15:3 En dit sal sy onreinheid deur die vloeiing wees: As sy vlees die vog laat loop of sy vlees verstop raak van die vog dit is ‘n onreinheid in hom.

Lev 15:4 Elke bed waar hy op lê wat die vloeiing het, sal onrein wees; en alles waar hy op sit, sal onrein wees.

Lev 15:5 En elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein;

Lev 15:6 en die een wat gaan sit op die voorwerp waarop hy gesit het wat die vloeiing het, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein;

Lev 15:7 en die een wat aan die liggaam raak van hom wat die vloeiing het, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:8 En as hy wat die vloeiing het, op ‘n reine spuug, moet dié een sy klere was en ‘n bad neem, en hy bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:9 En elke saal waar hy op ry wat die vloeiing het, sal onrein wees.

Lev 15:10 En elkeen wat aan iets raak wat onder hóm is, sal onrein wees tot die aand toe. En die een wat dit dra, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:11 En elkeen aan wie hy raak wat die vloeiing het, sonder dat hy eers sy hande in die water afgespoel het, dié een moet sy klere was en ‘n bad neem, en hy bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:12 Ook die erdegoed waar hy aan raak wat die vloeiing het, moet stukkend gebreek word; maar al die voorwerpe van hout moet in die water afgespoel word.

Lev 15:13 En as hy wat die vloeiing het, van sy vloeiing rein word, moet hy sewe dae tel ná sy reiniging en sy klere was en sy liggaam in vars water bad; dan sal hy rein wees.

Lev 15:14 En op die agtste dag moet hy vir hom twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en voor die aangesig van die HERE kom, by die ingang van die tent van samekoms, en dié aan die priester gee;

Lev 15:15 en die priester moet hulle berei, die een as sondoffer en die ander as brandoffer; so moet die priester dan vir hom vanweë sy vloeiing versoening doen voor die aangesig van die HERE.

Lev 15:16 En as daar van ‘n man ‘n saadvloeiing uitgaan, moet hy sy hele liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.

Lev 15:17 Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:18 En wat die vrou aangaan met wie ‘n man vleeslike gemeenskap het altwee moet ‘n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees.

Lev 15:19 En as ‘n vrou ‘n vloeiing het, en die vloeiing in haar vlees bloed is, dan bly sy sewe dae lank in haar onreinheid; en elkeen wat aan haar raak, sal tot die aand toe onrein wees.

Lev 15:20 En alles waar sy in haar onreinheid op lê, sal onrein wees; en alles waar sy op sit, sal onrein wees.

Lev 15:21 En elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:22 En elkeen wat raak aan enige voorwerp waar sy op sit, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein;

Lev 15:23 en as daar iets op die bed is of op die voorwerp waar sy op sit, as hy dit aanraak, sal hy tot die aand toe onrein wees.

Lev 15:24 En as ‘n man met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees; en elke bed waar hy op lê, sal onrein wees.

Lev 15:25 En as ‘n vrou lank ‘n bloedvloeiing het, buiten die tyd van haar onreinheid, of as sy vloei oor die tyd van haar onreinheid, moet sy gedurende al die dae van haar onreine vloeiing wees soos in die dae van haar maandelikse onreinheid; sy is onrein.

Lev 15:26 Elke bed waar sy gedurende al die dae van haar vloeiing op lê, sal vir haar soos die bed van haar maandelikse onreinheid wees; en alles waar sy op sit, sal net so onrein wees soos iets wat deur haar maandelikse onreinheid verontreinig is.

Lev 15:27 En elkeen wat aan hierdie dinge raak, sal onrein wees: dié een moet sy klere was en ‘n bad neem en bly tot die aand toe onrein.

Lev 15:28 Maar as sy van haar vloeiing rein geword het, moet sy sewe dae tel, en daarna sal sy rein wees.

Lev 15:29 En op die agtste dag moet sy vir haar twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en dié by die ingang van die tent van samekoms na die priester bring.

Lev 15:30 Dan moet die priester die een as sondoffer en die ander as brandoffer berei; en die priester moet vanweë haar onreine vloeiing vir haar versoening doen voor die aangesig van die HERE.

Lev 15:31 So moet julle dan die kinders van Israel van hulle onreinheid afsonder, dat hulle nie deur hulle onreinheid sterwe nie deurdat hulle my tabernakel wat in hulle midde is, verontreinig.

Lev 15:32 Dit is die wet vir hom wat ‘n vloeiing het en vir hom van wie ‘n saadvloeiing uitgaan, sodat hy daardeur onrein word;

Lev 15:33 en vir die vrou wat deur haar onreinheid onwel is, en vir die een wat aan ‘n vloeiing ly, man of vrou, en vir ‘n man wat met ‘n onrein vrou gemeenskap het.

In die Nuwe Testamentiese kerk is hierdie reinigingsrituele en sienings van rein en onrein nie meer toegepas nie. Die vroeë Christene het dus gebreek met hierdie reëls. Wat egter konstant gebly het, is dat seksuele reinheid belangrik was en dat die vroeë Christene ‘n hoë premie geplaas het op selfbeheersing. Die vraag of masturbasie dan reg of verkeerd is, word implisiet in die Nuwe Testament beantwoord met die voor-vraag, naamlik of jou seksualiteitsbeoefening in verband staan met jou identiteit as kind van God. Die oomblik as jou seksualiteit uit lyn uit beweeg met die waardes van jou identiteit as kind van God, staan jy die risiko om teen die wese van jou geloofsoriëntasie in te beweeg. Laat dit met ander woorde die eerste bril wees waardeur jy kyk, indien jy die etiese vraag wil vra of masturbasie eties regverdigbaar is of nie.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok