Die Groot Geloofswoordeboek: Die Onsterflike Siel

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Onsterflike Siel

Onsterflike siel

(*Siel, *Mens, *Tussentoestand, *Opstanding)

Dit is ‘n baie bekende uitdrukking wat vir sommige Christene ‘n besondere betekenis het. Hulle sien die taak van die kerk as “die redding van onsterflike siele”. Dit beteken dat mense tot bekering moet kom. En dit is inderdaad ‘n baie belangrike deel van die roeping van alle Christene en die kerk as geheel om mense na die Here toe te roep en te lei.

Die uitdrukking self, “onsterflike siel”, kom egter nie in die By­bel voor nie. Trouens, daar lees ons dat net God onsterflikheid be­sit (1 Tim 6:16). Ons lees wel dat ons by die opstanding on­sterflik sal word (1 Kor 15:53-54), maar dit beteken juis dat ons nog nie on­­sterflik is nie.

Mense kan daarvan verskil. Hulle kan daarop wys dat Pau­lus skryf dat die sterflike liggaam met onsterflikheid beklee sal word. Dit sou volgens hulle beteken dat net ons liggaam nog nie onsterflik is nie, maar ons siel natuurlik wel onsterflik is. Die moeilikheid hier­mee is dat Paulus anders daaroor dink (1 Tim 6:16). Verder is elders daarop gewys dat dit ‘n misverstand is om te meen dat Paulus in 1 Korintiërs 15 met “liggaam” net ‘n deel van die mens bedoel en die siel uitsluit. (*Opstandingsliggaam) “Liggaam” be­teken hier “die mens” sonder meer. Paulus skryf dus hier dat die mens onsterflik sal word by die wederkoms van Christus. By die bespreking van *mens is daarop gewys dat die mens ‘n een­heid is en nie uit twee of meer “onderdele” bestaan nie.

En tog moet ons volle respek hê vir mense wat met soveel nadruk praat van “onsterflike siele”. Wat hulle waarskynlik eint­lik bedoel, is dat elke mens ‘n ewige bestemming het, en dat ons ons lewe vir die Here moet gee sodat ons die *ewige lewe kan beërf.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Mense wat uit die grafte kom met Christus se dood in Matteus 27

Mense wat uit die grafte kom met Christus se dood in Matteus 27 – Kobus Kok

Willie vra:

In Matteus 27:52 staan daar ” En God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was , weer lewendig gemaak – vers 53 “Hulle het uit die grafte gegaan en na Jesus se opstanding het hulle aan baie mense verskyn” Die blyk dat die mens wat sterf en na God toe gaan , sonder sy liggaam gaan – die ontslapene is by Christus en ons weet Christus is nie in die graf nie – Openbaring 6:9-11 sê Johannes hy het die siele van die mense gesien wat doodgemaak is omdat hulle aan die Woord van God vasgehou het My vraag is was die mense wat opgestaan het in Matteus 27 se siele reeds by God in die hemel en moes hulle toe al die pad terugkom aarde toe om weer daar met hulle liggame verenig te word, ten einde op te staan uit die grafte uit ?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord

In Matteus 27:52 lees ons uit die Ou Afrikaanse vertaling: “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur; en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.

Hierdie betrokke teks is een van die mees ingewikkelde, maar interessante tekste en daar is baie daaroor geskryf. In die eerste plek moet mens altyd onthou dat wanneer mens ʼn vraag aan ʼn teks stel, mens nie altyd die regte vraag vra nie. Indien ons die Afrikaanse uitdrukking “sy het na jare van swerwing die pot aan die einde van die reënboog gevind” as voorbeeld neem, dan sou ʼn historiese vraag nie die regte vraag wees nie. Indien ons die sin ontleed en wil weet hoeveel kilometer die vrou geloop het en waar sy die pot gekry het en watter kleur die pot was, dan mis, ons die punt. Die punt van hierdie sin is dat die vrou na jare van soek en van swerf in haar lewe uiteindelik ware geluk gevind het. Net so moet ons ook die regte vraag aan die teks stel. Nou is die vraag of ons in die eerste plek die wat presies gebeur het vraag moet vra en of ons die wat wil die Bybelse skrywer daardeur kommunikeer vraag moet vra. Myns insiens gaan hierdie gedeelte in Matteus eerder oor die saak wat Matteus aan die orde wil bring, naamlik dat Jesus se dood en opstanding uiteindelik die bewys was dat God se spesiale tydperk aangebreek het. In hierdie gedeelte van Matteus sien ons ʼn paar interessante gegewens soos dat die gordyn van die tempel geskeur het. In die Grieks word die woord vir skeur in die passief werkwoordvorm gebruik wat beteken dat die gordyn nie sommer net vanself of toevallig geskeur het nie, maar dat God die gordyn laat skeur het. Die punt wat Matteus wil maak is dat die voorhangsel wat die allerheiligste van die res van die tempel geskei het, oopgebreek het. In die verlede, voor Jesus se dood, kon gewone mense nie by die allerheiligste inkom nie. Net die priester mag daar in God se allerheiligste teenwoordigheid inkom, en dit ook net een keer per jaar. Met die skeur van die voorhangsel het almal nou toegang. Dit is eerder ʼn simboliese uitspraak as ʼn blote historiese uitspraak. Indien ons nou vashaak by die vraag hoe groot die skeur was en of dit wind was wat dit geskeur het of die aardbeweging dan mis ons die punt. Die punt is dat God se allerheiligste teenwoordigheid nou toeganklik word vir almal.

In Matteus speel aardbewegings ʼn belangrike rol (Matteus 24:7; 28:2). In die Ou Testament en in die tyd van Jesus is aardbewegings met teofanie geassosieer (Jesaja 24:19; 29:6; Jeremia 10:10; Amos 8:8), met ander woorde, met die teenwoordigheid van God. In Matteus is daar tydens die dood van Jesus ʼn reuse aardbeweging. Met die beeld van die aardbewing kommunikeer Matteus dus dat iets groots aan die gebeur was. Met die dood van Jesus, en die aardbeweging wat plaasvind, kraak die grafte oop. Net soos in die geval van die skeur van die voorhangsel gebruik Matteus die passiewe vorm van die werkwoord vir aardbewegings (esgisthesan [ἐσχίσθησαν]). God het dus die aarde laat oopskeur en bewe. Die mense wat dood was, wat in die onderwêreld in die graf was, kom dan en daar tot lewe. Dit is ook nie alle dooie mense van alle tye nie, maar volgens Matteus net die heiliges. Hierdie tema is vir Matteus die vervulling van die Ou Testamentiese verwagting in Jesaja 26:19 en Esegiël 37:13 dat die dooies sal lewend word op die groot dag van Jahweh. Met die dood van Jesus gebeur dit. Die punt wat Matteus wil maak is dat Jesus se dood, die greep van die liggaamlike dood deurbreek en dat Jesus die dood oorwin. Ons moet versigtig wees om die gedagte van die opstanding van die heiliges in Matteus net as historiese inligting te lees en die teologiese punt te mis. In die Nuwe Testament, en veral in Paulus is die opstanding van Jesus ʼn wesenlike belangrike moment in die geskiedenis en Jesus is die eerste vrug van die wat opgestaan het (1 Korintiërs 15:20). In Matteus word die heiliges opgewek voor die opstanding van Jesus, met ander woorde op die Vrydag. Dit skep ʼn teologiese probleem, aangesien dit dan teen Paulus se leer sal ingaan dat Jesus se opstanding die eerste opstanding van die vlees was. ʼn Verdere vraag wat die saak kompliseer is wat die aard van die liggame was van die heiliges (aardsvaders, profete, martelare) wat opgewek is toe Jesus gesterf het. Was dit fisiese liggame wat gerestoureer is en wat blootgestel was aan verdere dekomposisie soos ons gewone aardse liggame – met ander woorde dat die liggame heeltemal biologiese aardse liggame was (soos die van Lasarus in Johannes 11 wat weer later doodgegaan het), of was dit verheerlikte liggame waarvan ons in 1 Korintiërs 15 lees? Die verdure vraag op historiese vlak is waar hulle verkeer het in die drie dae voordat Jesus opgewek het? Het hulle maar daar rondgeloop en vir mense gaan kuier of het hulle tempel toe gegaan? Hoekom het ons net in Matteus enige inligting hiervan? Die feit dat ons geen ander historiese inligting oor die saak het nie, maak enige historiese uitsprake daaroor baie moeilik. Alhoewel ons nie genoegsame historiese inligting het nie, het ons meer as genoeg teologiese informasie. Matteus het nie probeer om blote bruta facta (historiese feite) neer te pen nie, maar om ʼn teologiese interpretasie te gee van die Jesus-gebeure. Die vraag is dus eerder wat Matteus daardeur wou sê. In kort, ek stem saam met geleerdes soos die bekende prof Brown (R. E. Brown, Death of the Messiah, 1137-40) wat volstaan het dat die gebeure rondom die opstanding van die heiliges in Matteus misterieus is en nie histories maklik verklaar kan word  nie, en dat mens nie eintlik hoef nie. Matteus se teologiese boodskap is egter klinkklaar en duidelik – Jesus se dood en opstanding het die ganse geskiedenis geïmpakteer en God se nuwe (eind)tyd laat aanbreek. Jesus het die dood oorwin, opgestaan en ons as gelowiges gaan ook uit die greep van die dood gered word en saam met God woon. Die Jesus gebeure in Matteus is die vervulling van die Ou Testamentiese apokaliptiese verwagtings en die motiewe daarin (kyk Jesaja 26:19; Daniël 12:2; Esegiël 37:12-14).

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Siel, gees en liggaam

Siel, gees en liggaam

Hoewel nie al die Bybelskrywers dit doen nie, praat Paulus plek-plek van die mens as “siel, gees en liggaam” (1 Tessalonisense 5:23).

As Paulus so praat bedoel hy nie dat dit die enigste manier is waarop daar oor ʼn mens gepraat word nie. Hy probeer eerder name gee vir drie dinge wat eie is aan die mens:

  • Die liggaam ken ons almal – dit is die deel van jou waaraan jy kan vat.
  • Maar ʼn mens kan ook dink en voel en daaraan kan jy nie vat nie. Jy weet dit is daar, maar dit is onsigbaar. Hierdie vermoë om te “lewe”, te dink, te ervaar, te voel, noem Paulus jou siel en partymaal, as hy nie die Griekse woord vir siel gebruik nie, gebruik hy sommer die woord vir gees. Dit is jou onsigbare deel.
  • Maar ʼn mens is nie ʼn dier nie. Die mens het ook die vermoë om met God te kan praat, om Hom te leer ken en op die geestelike dinge te fokus. Dit is miskien hoekom siel en gees soms langs mekaar genoem word. Om “geestelik” te wees mag meer op jou verhouding met God dui, terwyl siel wil sê dat jy kan dink, redeneer, of voel. In alle geval, woorde is nie so belangrik nie; net solank ons weet waaroor dit gaan.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy