Bose simbole wat jou geestelik kan beïnvloed

Bose simbole wat jou geestelik kan beïnvloed – Kobus Kok

Corne vra: 

Ek wil nou baie seker maak. My dogter was op n kamp waar hulle opleiding ontvang mbt musiek in die moderne wêreld. Daar is verskillende popgroepe en selfs Afrikaanse alternatiewe ” rock bands” waar woorde en tekens in hulle musiek en video’s voorkom wat satanistiese oorsprong het. ‘n Rukkie gelede was daar n e-pos oor die Monster energie drankie wat sportmense gebruik. Die M is blykbaar Hebreeuse syfers vir 666. Ek het op die Internet gaan gaan soek vir webwerwe oor die onderwerp. Daar is nogal heelwat inligting oor musiek met versteekte boodskappe en selfs kos en koeldrankadvertensies waar daar versteekte boodskappe in hul logos versteek is. Hoe maak mens in n wêreld vervuil van goed wat jy nie eers weet dat die duiwel dit gebruik om jou in te trek of om jou te verswak nie. Hoe maak mens dit duidelik aan jou kinders? Moet hulle nou onmiddellik gaan en alle musiek van hulle selfone of rekenaars afhaal of skrap? Kan dit ‘n invloed hê op jou gees of bindinge plaas op jou lewe sonder dat mens dit eers besef? Kan dit bindinge bring soos vrees, angstigheid, terneergedruktheid , lae selfbeheersing of die vrug van die Gees in jou lewe aanval?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wees versigtig om inhoud te “vul” in simbole

Mens moet versigtig wees om nie vasgevang te word in die soeke en interpretasie van allerlei simbole nie. Ek het nou die dag gehoor hoe iemand daarop wys dat Apple rekenaars, ipads en iphones eintlik duiwelse simbole dra. Die rede wat aangevoer word, is dat die appel van Apple Computer ‘n half geknaagde appel verteenwoordig en dit verwys na Genesis waar die slang vir Eva verlei het om die appel te eet en net soveel soos God te wees. Net so verlei Apple Computers mens om te vergeet dat God alles is en dat diegene wat Apple rekenaars gebruik elke dag verlei word. Die probleem is egter dat iemand op ‘n dag die halfgeknaagde appel raakgesien het en dat hulle die simboliese betekenis daarvan met “verskuilde” inhoud gevul het. Dit is baie problematies omdat verbande getrek word en inhoud ingevul word in die simbool wat nie noodwendig getrek moes word nie. Dit is altyd die probleem met simboliese interpretasie – simbole in hulle aard skep die ruimte waarbinne betekenis “ingevul” moet word. Enige ou kan amper enige betekenis daarin vul. Net so het iemand anders eendag die Apple Rekenaar so gekyk en gesê die halfgeknaagde appel staan vir “An apple a day keeps the doctor away”, so Apple Rekenaars probeer iets van heelheid deur die appel simboliseer.  Dit wys jou net dat mens amper enige inhoud in ‘n simbool kan vul. Mense wat geestelik paranoïes is, sal agter elke liewe ding iets geestelik boos en sleg sien. Daarteen moet ons waak.

Christene deel aan God se oorwinningskrag

Ons moet sommer van die begin af vir mekaar se dat ware Christene weet dat geen magte en kragte enige effek op hulle kan hê nie. In Kolossense lees ons van die vroegste Christene wat ook gedink het dat hulle allerlei goed moes doen om die magte van die kosmos (stoigeia toe kosmoe) goed te stem. Hulle was naamlik bang dat die magte van die kosmos negatiewe dinge met hulle kan aanvang. Paulus stel dit in Kolossense 1:15-20 duidelik dat Christus die beeld van die onsienlike God is, en dat hy die eersgeborene van die ganse skepping is. Alles het deur hom tot stand gekom en is in hom en vir hom geskep – die sienlike en die onsienlike. Deur sy kruisdood en opstanding het God deur Christus geïllustreer dat hy baie sterker is as enige mag of krag. Selfs die sterkste mag, die dood, moes voor die opstandingskrag swyg. Christus het die bose magte in die triomftog van God meegesleur (vgl. Kol 2:15). Christene hoef nie bang te wees vir die magte van die kosmos nie, en  hoef ook nie koorsagtig op die uitkyk te wees vir bose simbole nie. Dit het geen mag oor ‘n Christen nie. Leer jou kinders om vanuit hulle identiteit as kinders van die God van oorwinning te leef.

Christene maak regte keuses

Christene is mense wat vanuit ‘n herskepte verhouding met God leef, wat hulle identiteit in God verstaan en graag keuses maak wat in lyn is met hulle identiteit. Sommige vorms van musiek is duidelik nie musiek wat mens se verhouding met God versterk nie. Net so is sekere gesprekke en vriendskappe met mense ook nie altyd opbouend vir mens se geloof nie. Die geheim is om jou te omring met geestelik opbouende dinge. Indien jy voel dat sekere musiek jou negatief beïnvloed, bly eerder daarvan weg.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Simbole in die Bybel

Simbole in die Bybel

Mense stry baie oor hoe letterlik ons die Bybel moet lees. As daar in Openbaring 21 staan dat die hemel soos ʼn stad van goud en edelgesteentes is, gaan dit letterlik so wees? Of as die Bybel sê dat God ons “loskoop” met Jesus se bloed, beteken dit dat God Jesus se bloed letterlik in geld verander en dit aan die duiwel betaal? Sjoe, moet God regtig die duiwel so betaal?

Dit is nie onbelangrike vrae nie. As jy byvoorbeeld ʼn grappie met iemand maak en die persoon dink jy is ernstig is daar gewoonlik ʼn gemors. Daai persoon dink jy wil hom beledig of in die gesig vat en dan is hy dadelik vies. En jy wou maar net gaaf en oulik gewees het. Nee, dit is belangrik dat jy die bedoeling van woorde reg moet verstaan. Daarom moet ʼn mens seker maak dat jy nie iets letterlik lees wat eintlik figuurlik bedoel is nie, en omgekeerd.

Omdat die Bybel oor God praat, is daar báááie dinge wat figuurlik is, doodgewoon omdat ons as mense nie woorde en selfs die kennis het om alles van God behoorlik te beskryf nie. God is net soveel groter as ons en die hemelse dinge so anders as wat ons ken, dat ons net met beelde en metafore en beskrywings regkom.

Vat byvoorbeeld die beeld van die nuwe Jerusalem wat van goud gemaak is. Jy sou nie eers lekker met jou meisie op die sypaadjie kon sit nie, want die goue grasspriete sou jou lekker van agter bygekom het. Nee, die hemel gaan nie ʼn goue stad wees nie. Dit gaan soos (vergelyking) ʼn goue stad wees. Die skrywer moes vir sy lesers vertel hoe die hemel gaan wees, maar het eintlik nie woorde gehad nie. Die hemel is te wonderlik. Toe vat hy die beste en wonderlikste beskrywing wat hy kon kry… ʼn stad van goud en edelgesteentes en ʼn pragtige rivier met genoeg kos. Beter en wonderliker as dit kan hy hom nie voorstel nie. Die goud en pêrels en edelgesteentes is maar net maniere om ons regtig te help om te verstaan hoe wonderlik die hemel gaan wees. Om alles letterlik te lees gaan jou in die geval op die verkeerde pad sit. As jy verstaan dat die goud en edelgesteentes en die dinge beelde is van iets wat nog baie wonderliker as dit is, verstaan jy wat die skrywer wou sê.

Om beelde en simbole, ja, figuurlike taal, in die Bybel te herken, is belangrik. (Onthou, die meeste dinge wat gesê word, is letterlik, maar daar is ook figuurlike taal en dit moet jy herken). Het jy geweet dat in omtrent al die plekke in die Nuwe Testament beelde gebruik word, waar daar gepraat word oor hoe ons gered word? Daar word byvoorbeeld gesê dat ons versoen word (ʼn beeld van kwaaivriende wat weer vriende word); losgekoop word (die beeld van ʼn slaaf wat vrygekoop word); dat ons geregverdig word (ʼn beeld van ʼn regter wat jou van jou skuld vryspreek sodat jy nou regverdig uit die hof kan uitstap); dat ons wedergebore word (die beeld van ʼn kind wat in die wêreld gebore word, hierdie keer geestelik), en so kan ons aangaan. Deur te snap dat die Bybel soms in “beeldtaal” praat, help ons ook sommer om te verstaan wat die Bybel wil sê. Daarom is behoorlike Bybelstudie (ook met hulpmiddels) nie net ʼn goeie idee nie, maar nogal lekker ook.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy