Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (3) – Adrio König

Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle

Presies hoe het God geskep?

Uit dit alles kan ons interessante gevolgtrekkings maak. Enersyds weet ons nou dat Israel sonder huiwering die meeste voorstellings gebruik wat ook in ander godsdienste voorkom. Dit beteken dat hulle nie ’n eie, unieke beskouing gehad het hoe alles geskape is nie. Trouens hulle kon van dieselfde ding sê dat dit op meer as een manier geskape is. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

 

  • Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame.
  • In die voortyd al het U die aarde gevestig, en die hemele met u eie hande gemaak.

Van die hemele word dus woordskepping én daadskepping bely.

  • Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag (Hebreeus: my regterhand) het Ek die hemelkoepel oop gesprei. Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom.

 

Dus nog ’n keer, hierdie keer in dieselfde sin, kry ons twee voorstellings: Die Here het die aarde en die hemelkoepel met sy hande gemaak, én Hy het dit met ’n bevel geskep (dus daadskepping én woordskepping tegelyk).

 

Ons het nou twee belangrike sake. Die Bybelskrywers is bereid om die gewone voorstellings te gebruik wat die omringende volke gebruik het. En verder het hulle van dieselfde ding bely dat dit op twee verskillende maniere geskep is. Hierdie laaste verskynsel sal ons oor en oor in Genesis 1 kry. Die Here beveel dat daar moet ligte wees (1:14), maar dan maak Hy ook die ligte (1:16). Dit geld ook van die “gewelf” en die seediere (1:6-7, 20-21). Skynbaar moet ons hieruit aflei dat die Bybelskrywers nie regtig probeer sê het presies hoe alles geskep is nie, maar eerder dat God, dit is Israel se God, alles geskep het – hoe dit dan ook al tot stand gekom het. Dit is ’n insig wat belangrik is as ons dink aan die oortuigings van natuurwetenskaplikes oor hoe alles ontstaan het.

 

Dit beteken ook dat ons nie moet probeer om vas te stel wanneer alles geskep is nie. Ons moet onthou die Bybelskrywers se voorstelling van tyd en ruimte was baie beperk. Wat ruimte betref, was hulle oortuig die wêreld en die heelal is maar taamlik klein. Hulle het gemeen die sterre is klein liggies wat nie alte hoog in die lug nie aan die vaste blou koepel hang. Ons gaan dit tog nie meer vir ons kinders in die wetenskapklas leer as die waarheid nie. En hulle voorstelling van tyd was net so beperk. Hulle het inderdaad gemeen alles is maar net ’n paar duisend jaar gelede geskep. Maar ons het vandag genoeg getuienis om te aanvaar dit is oneindig veel langer gelede. En ons voel ook nie dat ons daarmee die boodskap van die Bybel aantas nie omdat dit uit ons behandeling van Genesis 1-11, en uit ons behandeling van Genesis 1 wat nou volg, duidelik is dat die ouderdom van die aarde nie deel van die Bybel se boodskap is nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 1 – 11

Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 1 – 11 – Adrio König

Hoofstuk 4

In hierdie hoofstuk kyk ons na die skepping. Verskeie aspekte van die skepping gaan hanteer word. Ons begin met Genesis 1 – 11.

Skepping

4.1 Genesis 1-11

Een van die grootste foute wat ons met die Bybelse boodskap oor die skepping gemaak het, is om ons tot Genesis 1 te beperk en die verskeidenheid voorstellings in die res van die Bybel te verwaarloos, selfs dié in Genesis 2. ’n Verdere fout is dat ons nie die betekenis van die hele deel Genesis 1-11 raakgesien het nie. Genesis 1-11 is ’n merkwaardige deel. ’n Mens sou kon dink dit het eintlik “uit die bus geval”. Hoe pas dit in die res van die Bybel in?

 

Immers van Genesis 12 af gaan dit in die Ou Testament oor die geskiedenis van God met Israel. Maar in Genesis 1-11 is daar nog geen spoor van Israel nie. En in die Nuwe Testament gaan dit om Jesus en die kerk. Ook hiervan is daar natuurlik niks in Genesis 1-11 nie. Wat het ons eintlik hier? Ons praat graag van die oergeskiedenis. Dit is die geskiedenis vóór Israel. Dit is die begin van die wêreld en die wêreldgeskiedenis. Dit is universele geskiedenis. Hierdie stukkie universele geskiedenis pas ook nie in die struktuur van die verhale van ander volke in Israel se omgewing nie.

 

Wat is die probleem? Die ander volke se skeppingsverhale begin nie met universele geskiedenis nie, maar met hulle eie volksgeskiedenis. En dis juis wat die Bybel nie doen nie. Die ander volke het geglo hulle was die eerste mense. Die gode het hulle eerste geskep en só het die mensdom begin. Eintlik moes Genesis dus ook begin het met die skepping van Israel.

 

Maar dis juis die wonderlike betekenis daarvan dat Genesis 1-11 “uit die bus val”. Israel was die enigste volk uit daardie tyd wat nie by hulleself nie, maar by die mensdom begin het. Hulle moes dus van die begin af duidelik daarvan bewus gewees het dat hulle God nie soos die ander volke se gode ’n volksgod is nie. Die God van Israel het aan die begin, nog voor Israel bestaan het, die mense geskape. Hy is dus juis nie net die God van Israel nie, maar die God van die hele wêreld en van alle mense. As Skepper het Hy die reg op alle mense. Eeue en eeue later skryf Paulus dit so kernagtig: “Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal” (Rom 10:12).

 

’n Verdere kenmerk van hierdie hoofstukke is dat hulle handel oor dinge wat die mensdom van destyds in gemeen gehad het: verhale oor die skepping, oor ’n sondeval, ’n sondvloed, ’n toring. Die res van die Ou Testament, en ook die Nuwe Testament het in hoofsaak geskiedenisse en ander literatuur wat uniek is en geen of min verbande het met ander volke se verhale nie. Ons kom ’n bietjie verder aan terug op die ander volke se skeppingsverhale. Maar Genesis 1 – 11 is universele geskiedenis. God is van die begin af by die hele mensdom betrokke. Ons het dus in Genesis 1-11 ’n besondere boodskap: God is God van die hele wêreld, en Hy het een geskiedenis gemaak met hierdie oerwêreld. Hy was van die begin af universeel betrokke.

 

Maar ons kan ook van ’n ander kant af na Genesis 1-11 kyk. Dis interessant om ’n oomblik te dink oor die vreemdheid dat Israel skryf oor die oerbegin, die tyd nog voor hulle bestaan het. Hulle gebruik Hebreeuse name vir die eerste mense: Adam, Eva, maar Hebreeus het nog glad nie bestaan nie. En in Hebreeus het hierdie name toepaslike betekenisse. Adam kan iets soos stof of (rooi) grond beteken, en volgens Genesis 2:7 is hy uit stof/grond  gemaak. Eva is ook Hebreeus en beteken iets soos lewe. Volgens Genesis 3:20 het Adam haar só genoem omdat sy die moeder was van al die mense. Dit kon natuurlik nie regtig histories só gebeur het nie omdat Hebreeus nog nie bestaan het nie. Ons het hier dus ’n klassieke voorbeeld van ’n verhaal wat agterna geskryf is in die taal/voorstellingswêreld van ’n veel later tyd. Na die belangrike vraag oor die historisiteit van hierdie verhale sal ons later kyk.

 

Met hierdie as agtergrond gaan ons in die volgende artikel na verskillende skeppingsverhale en skeppingsvoorstellings kyk

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König