Handeldryf Op Sondag

Handeldryf Op Sondag – Francois Malan

Nico Peyper vra:

Daar is tans baie vrae oor die “sabbat” en Sondag. Die “sabbat” bestaan nie in die Nuwe Testament nie en die rusdag is ook nie die Sondag nie. Enige dag kan aangewend word as die rusdag – maar op daardie dag moet ons rus – rus in God. Is daar  ʼn moontlikheid dat u my meer kan inlig wat die Bybel vir ons sê hoe om ‘n Sondag deur te bring. Ek kan nie die “handeldryf” op ‘n Sondag verstaan nie. Volgens ons herder en ouderlinge is daar niks mee verkeerd nie, MAAR eers die samekoms van die gelowiges bywoon dan die “handeldryf”. Gee raad asb. By voorbaat dankie.

Antwoord:

Dr. Francois Malan antwoord:

Handeldryf op Sondag

Volgens Markus 2:27-28 sê Jesus vir die Fariseërs wat beswaar maak dat sy dissipels op die sabbatdag koringare afpluk om te eet: ‘Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.’ Die sabbat is nie ʼn doel op sigself nie. By die skepping het God die sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ʼn wet nie, maar as ʼn bevryding van die las en drukte van sy werk, as ʼn verkwikking ook vir die diensknegte en die vee, ʼn dag waarop God saam met die mens wil feesvier. Daarvoor kom die gemeente Sondae saam om met dankbaarheid en vreugde saam met die Here en sy kinders te verkeer en die opstanding van Christus te vier. Die sabbat is op Jesus as ons Here gerig. Hy het ons sonde oorwin en ons lewe vir Hom.

In Markus 3:4 is Jesus se vraag: ‘Mag ʼn mens op die sabbat goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?‘ Hy genees ʼn man se gebreklike hand, en die Fariseërs gaan saam met hulle vyande, die Herodiane, ʼn komplot smee om Hom dood te maak – ʼn dag vir goeie dade, nie vir bose planne nie.

In Romeine 14:1-6 reageer Paulus op mense wat hulle sienswyse op ander wil afdruk. Elkeen moet voor God sy eie besluit neem. Dit kan beteken dat gelowiges oor sake verskil. Maar dit gee hulle nie die reg om ander te veroordeel wat nie soos hulle dink nie. Ons moet mekaar aanvaar want ons behoort aan die Here ‘Die een wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here.’

In Kolossense 2:16-17 reageer Paulus teen die dwaalleraars wat o.a. die onderhouding van die sabbat as ʼn maatstaf  van ware godsdienstigheid uitlê. Paulus beskou dit as ʼn skaduwee van Christus wat sou kom, wat nou die betekenis van Christus verduister. Die voorskrifte en gebooie van die Ou Testament was die skaduwee wat die omtrekke van Christus vertoon het. Maar nou het Hy gekom, en moet ons nie langer aan die skadubeeld vashou nie, maar op Hom konsentreer.

Wat sê dit oor handeldryf op Sondag? Dat dit seker nie verkeerd is om op Sondag te gaan kos koop soos die dissipels koringare uitgevryf het nie. Maar wat van die winkelassistente wat nie tot rus kan kom en die dag saam met Here en sy gemeente vier nie?

Die Heidelbergse Kategismus (vraag 103) wys na die saamkom van die gemeente vir die erediens op die rusdag, en ʼn lewe wat elke dag die Here deur sy Gees in my laat werk.

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




Sabbat of Sondag?

Sabbat of Sondag? – Francois Malan

Johann Trollip vra:

Het  u enige inligting oor die viering van die rusdag op ‘n Sondag en nie op ‘n Saterdag nie!

Antwoord:

Dr. Francois Malan antwoord:

Jesus is op Sondagmôre uit die dood opgewek en het op die dag reeds aan sy dissipels verskyn (Matteus 28:1; Markus 16:1-6; Lukas 24:1-7; 13-40; Johannes 20:1,2,19). Die Christene het die opstandingsdag van Jesus die ‘dag van die Here’ genoem (Openbaring 1:10). Volgens Handelinge 20:7 en 1 Korintiërs 16:2 het die gelowiges op Sondae bymekaargekom vir hulle gemeenskaplike maaltyd en nagmaal.

Die woord Pinkster kom van die Grieks vir 50 (pentekoste). Op die vyftigste dag na Paasfees het die Jode hulle dankfees vir die oes gehou, dit is die dag na die sewende Sabbat vanaf die fees van die eerstelinge (Levitikus 23:15-16). Op die Sondag is die Heilige Gees uitgestort (Handelinge 2:1-4).

Jesus en sy apostels het wel die Sabbat gevier, maar Jesus het beswaar gemaak oor die wettiese betekenis daarvan. Volgens Markus 2:27-28 sê Jesus vir die Fariseërs wat beswaar maak dat sy dissipels op die sabbatdag koringare afpluk om te eet: ‘Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.’

Die sabbat is nie ‘n doel op sigself nie. By die skepping het God die sabbat as gawe aan die mens gegee, nie as ʼn wet nie, maar as ʼn bevryding van die las en drukte van sy werk, as ʼn verkwikking ook vir die diensknegte en die vee, ʼn dag waarop God saam met die mens wil feesvier. Die sewende dag waarop God gerus het, was eintlik die mens se eerste dag, nadat hy op die sesde dag geskep is (Genesis 2:2-3). Ons word geroep om die Here te dien, nie die sabbat nie.

Wanneer Paulus in ʼn stad by die Jode begin met sy sendingwerk, gaan hy na die sinagoge op ʼn Sabbatdag (Handelinge 13:14-15), maar vir die gelowige gemeentes preek hy op Sondag (Handelinge 20:7). Aan die bekeerlinge uit die nie-Jode het Paulus nie die onderhouding van die Sabbat verkondig nie, maar vryheid van die Joodse wette en gebruike, en ʼn lewe aan Christus verbind (Romeine 14:1; Galasiërs 4:9-11). By die vergadering in Jerusalem word die onderhouding van die Sabbat nie van die bekeerlinge uit die nasies gevra nie (vgl. Handelinge 15:28-29).

In Kolossense 2:16-17 reageer Paulus teen die dwaalleraars wat onder andere die onderhouding van die sabbat as ʼn maatstaf  van ware godsdienstigheid vereis. Paulus beskou dit as ʼn skaduwee van Christus wat sou kom, en dat dit nou die betekenis van Christus verduister. Die voorskrifte en gebooie van die Ou Testament was die skaduwee wat die buitelyne van Christus vertoon het. Maar nou het Hy gekom, en moet ons nie langer aan die skadubeeld vashou nie, maar in liefde en dankbaarheid saam met Hom en vir Hom lewe (vgl. ook Hebreërs 8:5-6; 10:1).

Outeur: Dr Francois Malan