Geloofsvrae: Slegte Verhoudings

Geloofsvrae: Slegte Verhoudings – Adrio König

Die wese van die sonde

1. Slegte verhoudings

Die mens is ‘n verhoudingswese. Ons lewe ons hele lewe in verhoudings. Ons is bedoel om in ‘n netwerk van hegte, opbouende verhoudings te leef: met God, met mense, en met die natuur. Die kwaliteit van ons lewe word bepaal deur die kwaliteit van hierdie verhoudings.

Ons verhouding tot God is die basiese en beslissende verhouding: ons is geskape om in die verbond met Hom te leef, om sy bondgenoot en beeld te wees. Ons is ook geskape in ‘n netwerk van verhoudings met ander mense én met die natuur. Elke mens het ten minste ‘n vader en ‘n moeder, en ons is ook deel van ander groepe. Verder is ons soseer met die natuur in verhouding dat ons eintlik self ‘n deel van die natuur is en volkome aangewese is op die hulpbronne uit die natuur: suurstof, water, voedsel.

Wat is sonde dan? ‘n Mens sou kon sê sonde is die verbreking van ons verhoudings. Maar dis nie heeltemal waar nie. Ons kan nie ons verhoudings verbreek in die sin dat ons hulle beëindig en nie langer in verhoudings staan nie. Ons kan bv. wel sleg met die natuur omgaan – die water en die lug besoedel of die hulpbronne mors – maar ons bly nog altyd in hierdie verhouding, ons het nog altyd die water en die suurstof nodig.

Ons kan in ‘n slegte verhouding met ons ouers leef, maar ons bly hul kind. Ons kan God verwerp en vergeet, maar ons leef nog altyd ons lewe voor sy oë en ons is nog altyd bedoel om sy bondgenoot en sy beeld te wees.

Dit is dus meer korrek om te sê sonde is slegte verhoudings, ontrouheid in die verbond, die verkeerde omgang met God, ander mense, en die natuur. En omdat ons verhoudings wesenlik vir ons lewe is, kan ons verwag dat sonde ons lewenskwaliteit radikaal sal beïnvloed.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Straf God sonde op aarde?

Straf God sonde op aarde? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Wat is u mening: straf God sonde op aarde?

Antwoord 

Prof Francois Malan antwoord: 

God het vir die mens gesê: van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy (Gen.2:17), maar nadat Adam en Eva daarvan geëet het om soos God te word, het God in sy genade die mens nog ‘n tyd gegee om te lewe voordat hy gesterf het. Maar die vrou se geboorte-gee aan kinders is met pyn en risiko gelaai as haar straf, en die aarde is vervloek om met distels en dorings die man se arbeid met moeite te belas as straf op sy sonde. Sedertdien sterf alle mense nog altyd. Rom.5:12 sê: deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Rom.8:19-22 sê die skepping is aan verydeling onderworpe, alles gaan dood, omdat God dit aan die dood onderwerp het met die mens se sondeval, en sal van die verganklikheid bevry word wanneer God bekend maak wie sy kinders uit die mense is. Dood is straf op sonde.

Die Here straf Kain om ‘n swerwer te word, nadat hy sy broer Abel vermoor het, maar uit sy genade gee die Here ‘n teken aan Kain sodat niemand wat hom raakloop, hom sal doodmaak nie (Gen.4:10-15).

Toe die Here die mens se groot verdorwenheid sien, dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, het die Here alle mense en diere met die groot vloed uitgewis, maar uit genade vir Noag en sy gesin gespaar (Gen.6:5-8:18).

Toe die Egiptenaars die Israeliete verdruk het en harde slawe-arbeid laat verrig het onder slawedrywers wat hulle geslaan en gemoor het, het die Here Egipte met 10 plae gestraf (Eks.3:7-12:30).

Toe Israel weier om in die beloofde land in te trek, het die Here besluit om hulle met ‘n pes uit te roei, maar op Moses se gebed het die Here hulle 40 jaar lank in die woestyn laat rondswerf, tot hulle almal gesterf het, en net hulle kinders in die land kon intrek (Numeri 14).

Toe Moses ongehoorsaam was, die rots met sy kierie geslaan het om water vir die volk te lewer, en nie met die rots gepraat het, soos die Here beveel het nie, is hy nie toegelaat om in die beloofde land in te gaan nie (Num.20:1-13).

Toe Dawid egbreek gepleeg het met Batseba, en haar man Uria laat doodmaak het, was die Here se straf vir hom: die swaard sal nooit uit jou huis weggaan nie (2 Samuel 12:10). Daarna het Dawid se seun Ammon sy halfsuster Tamar onteer, en het haar broer Absalom vir Ammon laat vermoor (2 Sam.13), Absalom kom in opstand teen Dawid en word in ‘n bloedige geveg wat baie lewens geëis het, doodgemaak (2 Sam.18). En tog gaan die geslag van Dawid voort deur sy seun Salomo wat hom opvolg, volgens die Here se genade oor Dawid (2 Sam.7:12).

Dwarsdeur die geskiedenis van Israel straf die Here uiteindelik die sonde van die betrokke koning en die volk, tot Hy die 10 stamme in ballingskap na Assirië laat wegvoer nadat hulle deur oorlog verteer is, omdat hulle afgode dien en die Here verlaat het (vgl. Hosea 11). Maar omdat die Here sy volk lief het, sal Hy hulle nie uitwis nie, en as hulle geleer het om na die Here terug te kom en om Hom lief te hê, sal hulle weer na hulle land toe terugkom (Hosea 14).

Ook die Juda-stam, wat al meer die afgode begin dien, word 100 jaar later ook vir 70 jaar na Babylon in ballingskap weggevoer, voordat die Here die pad oopmaak vir al twaalf stamme om terug te kom na die beloofde land (Jesaja 40; Esra en Nehemia).

En dan stuur God uit sy groot liefde sy Seun, om God se straf op die sonde van die hele wêreld, van Adam se tyd af tot Christus weer kom, te dra (Joh.1:29) en elkeen wat in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê (3:16). Maar wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh.3:18). Wie in die Seun glo, het (reeds) die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh.3:31).

Mense wat nie aan Jesus behoort en Hom volg nie, word gestraf. God openbaar Homself in die hele skepping, maar die mense aanbid dinge wat die Here geskep het in plaas van die Skepper, en lewe vir hulleself as hulle eie god. Daarom openbaar God vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. God se straf op sulke mense is: Hy gee hulle oor aan die drange van hulle hart en aan sedelike onreinheid, aan skandelike drifte, aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is, bv. onsedelikheid, perversiteit, hebsug, gemeenheid, moord, bedrog, ens. (Romeine 1:18-32). As God sê, doen wat jy wil, is dit sy straf. Daarmee vernietig die mens homself, en beland hy ook in die ewige straf.

Maar vir mense wat glo dat Jesus God is, wat in ons plek die straf op ons sonde aan die kruis gedra het, en daarom ons lewe aan Hom wy, verander die straf in tug. Die Here tug hulle om hulle tereg te wys as hulle afdwaal, Hy tug hom wat Hy liefhet, en straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Spreuke 3:11,12; Hebreërs 12:4-8). Met allerhande beproewings word die egtheid van ons geloof getoets sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus (1 Petr.1:6-7). God het die Heilige Gees gestuur het in elke gelowige te kom woon en werk (Joh.14:15-17; 16:7-11; Rom.8:13-17), om aan hulle die geloof in Christus te gee, en hulle lewens al meer te verander om soos Jesus te word (2 Kor.3:17-18).

Jesus het ook die dood van die gelowiges verander. Dit is nie meer ‘n straf op ons sonde nie. Jesus het dit nou vir ons die deurgang na die hemel gemaak. Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan (2 Kor.5:1-2). Ons sterflike liggaam word met onsterflikheid beklee, en dan sal die woord vervul word wat sê: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal…ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning oor die sonde gee deur ons Here Jesus Christus (1 Kor.15:54-57).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Adam se sonde

Adam se sonde – Jan van der Watt

Andre vra:

Iemand vra my: Is dit dan reg dat omdat Adam gesondig het en as straf vir die res van sy dae in die sweet van sy aangesig sy brood moes verdien, hoekom word ons vir sy sonde gestraf om ook in die sweet van ons aangesig ons brood te verdien?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die situasie in Genesis, waar Adam in die Paradys was impliseer dat hy ’n vriend van God was wat in sy direkte teenwoordigheid kon wees. Sy sonde en rebellie het egter die verhouding bederf en God kon nie toelaat dat sonde deel van sy Paradys en hemel word nie. So het God sy eie heiligheid beskerm. Daarom kon Adam nie meer al die voorregte geniet wat die Paradys gebied het nie. Hy moes nou vir homself sorg met die skepping wat God hom gebied het. Hy moes nou werk vir sy kos en was nie meer ’n gas in die Paradys nie.

Nou hoekom moet ons ook ly soos Adam? Die argument is gebaseer op die groepsgedagte. As die kaptein die loot verloor verloor die hele span die loot omdat hulle deel van die groep van die kaptein is. As Adam nie meer in die Paradys is nie, kan die kinders nie verwag om daar te wees nie. Hulle moet dan saam met Adam hulle kos en brood verdien. Daarom deel ons aan Adam se swaarkry. Dieselfde geld vir die nuwe Adam (Jesus – Romeine 5 byvoorbeeld). As ons aan Jesus behoort deel ons ook aan dit wat Hy het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Ek wil gedoop word maar bly saam met my ou – wat nou?

Ek wil gedoop word maar bly saam met my ou – wat nou? – Kobus Kok

Alet vra: 

Ek en my vriend bly saam. Ons staan nou voor die keuse om gedoop te word. Ek weet egter nie of ek moet nie. Mag ek gedoop word as ek weet ek gaan verder in sonde saam leef?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Ek wil gedoop word maar bly saam met my ou – wat nou? Dr. Kobus Kok 

Die doop is ‘n teken of seël van die feit dat iemand Jesus as verlosser aangeneem het. Dit veronderstel dat jy jou ganse lewe aan God oorgegee het en dat jy begeer om volgens Sy wil te leef. Wanneer mens tot wedergeboorte kom, is dit die Gees wat werksaam in jou is. Die Gees oortuig jou ook van wat reg en eerbaar is in God se oë (Joh 3:3-6). In Romeine 12:1-2 maak Paulus ‘n oproep op gelowiges om hulle liggame as heilige en lewende offers aan God te gee en om nie aan hierdie sondige wereld gelyk te word nie. In plaas daarvan om gelykvormig te word aan hierdie wereld moet die Christen haar denke laat vernuwe. Indien mens toelaat dat God jou denke vernuwe, se Paulus, sal mens ook vinnig weet wat vir God goed en aanneemlik en volmaak is. Die vraag is dus: Wat dink jy eerlik is die wil van God in hierdie situasie? Doen dan die wil van God – die Gees sal jou duidelik wys wat die antwoord is. Wees gehoorsaam aan God!

 

Skrywer: Dr Kobus. Kok