Hoekom het dinge in die wêreld skeefgeloop?

My chains fell off, my heart was free,

I rose, went forth, and followed Thee.

Charles Wesley

 

Hoekom het dinge in die wêreld skeefgeloop?

Antwoord: sonde. God het ons gemaak om Hom te verheerlik en te dien en om ander lief te hê. Maar die mensdom keer sy rug op God – kom in opstand teen sy gesag. Ons word selfgesentreerd. Omdat ons verhouding met God verbreek is, is alle ander verhoudings verbreek. Die wêreld verkeer nou onder die mag van sonde.

 

 

Sonde het twee ernstige gevolge:

  • Geestelike slawerny (Romeine 6:15 – 18). Ons probeer beheer oor ons lewens kry deur vir ander dinge te leef – geld, beroep, familie, roem, seks, mag, gemak, ens. Die gevolg is altyd ‘n verlies aan beheer – slawerny. Almal moet vir iets lewe en as dit nie God is nie, dryf daardie ander ding ons. Almal aanbid. Die keuse wat ons het, is wie of wat ons wil aanbid.
  • Veroordeling. Die loon wat die sonde gee, is die dood (Romeine 6:23). Ons ly nie net as gevolg van sonde nie, ons is skuldig. Om ‘n “goeie lewe” te leef, maar die verhouding met Hom aan wie ons alles verskuldig is, te verwaarloos, is verkeerd. God het ons gemaak. Ons is alles aan Hom verskuldig. Ons kan mos nie anders as om vir Hom te lewe nie. Ons het ‘n skuld wat betaal moet word.

 

Wat sal dinge weer regstel?  Antwoord: Christus. Hoe doen Hy dit?

  • Deur sy menswording. God het nie net vir ons inligting gegee nie. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14).
  • Deur plaasvervanging. God kan nie sommer ons sondes afskryf nie. Om jammer te wees, is nie genoeg nie. Ons kan tog nie verwag dat die volmaakte hemelse Regter ons sondes sommer moet vergeet nie. Jesus Christus het nooit gesondig nie (Hebreërs 4:15). En ons? Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Johannes 3:10). Maar wat gebeur? Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring (1 Petrus 3:18). Paulus sê: Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21).
  • Deur alles wat verkeerd geloop het, reg te maak. Die eerste keer toe Jesus na die wêreld gekom het, het Hy in swakheid gekom en vir ons sonde gely. Maar met sy weerkoms kom Hy om die wêreld te oordeel. Dan bring Hy ‘n einde aan die bose, lyding en die dood. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God beloof het en waar die wil van God sal heers (2 Petrus 3:13). Die finale doel van God is die hernuwing en herstel van die materiële wêreld, en die verlossing van ons siele en liggame. Ons verlossing lê nie daarin dat ons uit die wêreld ontsnap nie, maar in die transformasie van hierdie wêreld.

 

Dinge het skeefgeloop, maar Jesus Christus het dinge weer kom regstel.




Sonde van die vaders

Sonde van die vaders – Francois Malan

Sonja vra:

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

 

  • Waarom is dit dat sy kinders en die se kinders onder die sonde nie vrygespreek sal word nie as die kinders en die se kinders in God glo? –

Die gedagte kom van Eksodus 20:5,6 wat eintlik die volk Israel wat uit hulle slaweskap in Egipte bevry is, wil leer en waarsku teen afgode en die aanbidding van beelde. En die moeilike woord is ‘Ek reken die kinders die sondes van hulle vaders toe’ – die woord vir ‘toereken’ in Hebreeus pakad het ‘n wye verskeidenheid van betekenisse: ‘toereken’ soos in verantwoordelik stel vir, maar ook bv. Hom ‘bekommer’ oor hulle. En daarom die byvoeging: maar Ek betoon (of doen) liefde (of lojale verbondenheid) aan duisende wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Eksodus 20:5,6 sê: Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My (dit teenoor diens aan ander gode of afbeeldings van God in 20:3,4). Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van die wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (vgl. Deutr. 5:9,10).

In Romeine 14:12 sê Paulus: Elkeen van ons sal oor homself aan God rekenskap moet gee.

 

  • Het Jesus nie aan die kruis gesterf vir al ons sondes nie? –

In Joh 5:24 sê Jesus: Dit verseker Ek julle: Wie luister wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood in die lewe oorgegaan.

 

  • Waarom glo mense dat die sondes van die vader tot in die derde, vierde geslag sal geld en ek as kind daaronder lei? –

‘n Kind wat in ‘n huis groot word waar God nie gedien word nie, het die nadeel dat hy of sy van kleins af nie vir Jesus by sy of haar ouers leer ken nie. Maar kan Hom leer ken op baie ander maniere: bv. by die skool, of by maats, of deur boeke, veral die Bybel. En aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Joh 1:12)

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Sonde

– James Alison

Sonde

Die woord sonde kry ons vir die eerste keer in die Bybel in Genesis 4:7 waar die Here vir Kain sê die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers. Dit is nie die eerste sonde nie. Paulus sê: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom (Romeine 5:12 – 14). Paulus verwys hier na Adam.

 

Maar wat is sonde? In Genesis 3 is dit Adam en Eva wat vrugte eet van die boom in die middel van die tuin – al het God hulle verbied om dit te doen. In Genesis 4 is dit Kain wat sy broer vermoor. Dwarsdeur die Bybel kry ons verskillende vorms van sonde: leuens, steel, afgodery, owerspel, ens.

Enige sondige optrede – leuens, owerspel, moord, steel, ens – is die vrugte van die sonde. Die werklik kern is die minagting van God.

Hoekom is daar nog so baie sonde?

Hoekom is daar nog so baie sonde? – Francois Malan

Pieter vra:

Indien al die mense en hulle sondes op die aarde vernietig was met die sondvloed, behalwe die 8 mense op die Ark, hoekom is daar dan nog so baie sonde op die aarde vandag? Of is dit die sondige natuur van die mense wat saam met die 8 gekom het? En ons as mens maar net eenvoudig te goed in onsself is om te luister?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die manier waarop Genesis 3:5-6 die sondeval beskryf, beklemtoon dat die slang se versoeking aan die mens was dat ‘julle soos God sal wees deur dat julle alles sal ken. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik is omdat dit kennis kan gee.’ En dit is vandag nog elke mens se probleem: ons wil soos God wees en daarom ons eie god wees – selfsugtig, dit gaan om ‘ek’, ons lewe draai om ons self, en is nie op God gerig nie.

Toe die volk in vrees vir God se verskyning in donderslae en weerligte  vir Moses gestuur het om na Hom te gaan luister (Eksodus 20:18-21), en Moses 40 dae op Sinaiberg bly om die voorskrifte van God te ontvang, vra hulle vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak om hulle te lei (32:1). ‘n god wat hulle op hulle skouers kan tel en met hom loop waar hulle wil.

Samuel sê vir Saul wat deur God uitverkies is as koning en toe ongehoorsaam geword het aan God se opdrag: weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery (1 Samuel 15:23).

In Galasiërs 5:16-21 verduidelik Paulus wat alles die gevolg is van ons sondige natuur wat in stryd is met wat die Gees van God vir ons wil leer.

In Romeine 1:18-32 verduidelik Paulus: omdat die mense God nie as God eer en dank nie, maar in plaas van die heerlikheid van die onverganklike God dien hulle beelde van verganklike mense of voëls of diere of slange – die grootste afgod wat ons dien is ek self – daarom gee God in sy toorn oor die sonde van die mense hulle aan hulle eie begeertes oor, om te maak soos hulle wil, en dan volg die lys sondes wat hy uitstippel.

Dit het Jesus kom verander, en die Gees van God wat in die gelowige kom woon het, verbind ons aan Jesus wat Homself in liefde geoffer het vir ons sonde, sodat ons ook ons self aan God kan gee en vir Hom en vir ons naaste in liefde te lewe (Romeine 8:1-17).


Skrywer: Prof Francois Malan