Die doderyk

Die doderyk – Francois Malan

Amanda vra:

Waarheen gaan die Christen en Nie Christen as hulle sterwe. Kan u asb vir my meer inligting gee oor die DODERYK.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord doderyk is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord sjeool wat 65 maal in die Ou Testament voorkom en deur die Griekse vertaling van die Ou Testament met hades vertaal is. In die Afrikaanse vertaling word dit vertaal as ‘die dood’ (bv. Spr.1:12) doderyk (Spr.27:20; 30:16; Jes.5:14; Hab.2:5). Deutr. 22:22 sê dit is daaronder; Job 10:21-22 dink dit is stikdonker; 11:8 dit is diep; Jes.7:11 diep uit die doderyk; Ps 139:8 gaan lê ek in die doderyk, U is daar.

Die ou gedagte was dat ‘n mens vir ewig in die doderyk ingaan (Job 7:9-10; 16:22; Pred.12:5 praat van ‘n ewige woning). Na die ballingskap word gepraat van ‘n opstanding uit die dood (Jes.26:19; Dan.12:2).

In die Nuwe Testament: in Lukas 16:19-31 vertel Jesus ‘n gelykenis van die ryk man in die doderyk hades en Lasarus wat na die ereplek, die boesem van Abraham, gedra is. Mat.11:23 praat ook van afdaal na die doderyk; 12:40 van binne in die aarde; Openb. 20:3 van ‘n onderaardse diepte; 1:18 van die sleutels van die dood en die doderyk; Openb.20:14 sê die dood en die doderyk is tydelik, en word op die oordeelsdag in die vuurpoel gegooi, ook diegene wie se name nie in die boek van die lewe geskryf is nie 20:15.

Die doderyk is die staat van die dood, waarin die afgestorwenes ná hulle dood en vóór hulle opstanding verkeer (1 Sam.2:6). Oor die aard van hierdie toestand laat die Skrif hom nie uit nie, behalwe dat dit duidelik is dat die lot van die gelowiges en ongelowiges nie dieselfde is nie, soos die gelykenis van die rykman en Lasarus sê.

Ons mense is in ons denke aan tyd en ruimte gebind het nie ‘n begrip van ewigheid waar 1000 jaar gelede by God vandag is, en 1000 jaar vorentoe ook vandag is nie. Ook nie ‘n begrip van alomteenwoordigheid nie.

Die gelowige kinders van die Here gaan egter na die ewige wonings (Lk 16:9), na die paradys 23:43; by die Here (2 Kor. 5:8), met Christus verenig (Flp.1:23), in die hemelse Jerusalem (Hebr. 12:22).

Jesus praat in die gelykenis van die skape en die bokke oor die oordeelsdag in Matteus 25:31-46 as Hy weer kom en die mense sal skei: die wat deur sy Vader geseën is en die wil van God gedoen het, sal hy nooi om deel te word van sy koninkryk (vv34,46). Die wat nie die wil van God gedoen het nie, word ‘vervloektes’ genoem, ontvang die ewige straf, hulle word na die ewige vuur gestuur wat God vir die duiwel en sy engele berei het (vv41,46).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Is my lewe se strepie onveranderbaar deur God getrek?

Is my lewe se strepie onveranderbaar deur God getrek? – Kobus Kok

Miskien is dit al hanteer, maar ek vra dit omdat dit iets is wat ‘n mens aldag hoor. Wanneer iemand tot sterwe kom, hoor ‘n mens dat mense sou sê: wel hy/haar se stepie is getrek, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. My vraag is dus, bepaal God dan die datum van ons sterwe? Hy behoed en bewaar ons mos? Is lewe nie maar tydelik nie en is die omstandighede waarin ons leef, aan dit waaraan ons ons blootstel ens nie maar deel van lewe en of sterwe nie? Ons leef mos nie in die paradys nie of hoe? Ons leef in ‘n sondige wêreld waarin ons deur sy krusidood alreeds begenadig is, opgeroep word om ons te bekeer sodat ons die ewige lewe kan be-erwe. Hoe sal ek mense kan antwoord op die “getrekte streep” stelling?

Antwoord

Is my lewe se strepie onveranderbaar deur God getrek?

Daar is verskillende tekste waarin die Bybelse skrywers verklaar dat God ons dae bepaal het (soos Psalm 39:6) : “Kyk, U het bepaal dat my dae min sal wees, in u oë is my lewensduur byna niks.” Dit word egter verkeerdelik geïnterpreteer as dat God op een of ander wyse op ‘n kliniese manier mens se strepie getrek het en besluit het só ver en nie verder nie. Hulle gaan selfs so ver as om te argumenteer dat God beplan hoe jy gaan doodgaan en dat ‘n mens se wyse van dood en die dag van jou dood deterministies (onveranderlik) vasgeskryf is in die boek van die lewe. Myns insiens is dit nie wat die Bybel bedoel as dit sê dat God ons dae bepaal het nie. Die Bybel gaan eerder van die standpunt uit dat God ons die lewe geskenk het en dat God die bron van lewe is. Alle mense gaan dood en moet ook doodgaan. Dit is die gang van die lewe. Soos die vraagsteller genoem het – ons is nog aan hierdie kant van die ewige lewe en nie in die hiernamaals nie. Dood en siekte is ‘n normale gang van hierdie wêreld. Tog maak die Bybel dit duidelik dat God nie net die God van die verlede en die hede is nie, maar ook die God wat die toekoms ken. Daarom kan ons sê dat God buite tyd staan en argumenteer dat God alreeds weet op watter wyse ons sal sterf en wanneer. Hierdie betekenis lê egter op ‘n heel ander vlak as om te argumenteer dat God die primêre handelende subjek is wat ons strepie trek en mense wreed laat doodgaan. Ons dood is eerder die gevolg van die realiteit van hierdie aardse dimensie. Die streepteologie werk ook net in retrospeksie. Eers nadat iemand dood is sal ons sê: “Shoe, sy/haar strepie was getrek”. Niemand weet wanneer hulle dood gaan aanbreek nie. In die Bybel het ons ook verhale van mense wie se lewe deur God verleng is. In 2 Konings 20 lees ons:

In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.” 2Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: 3”Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil. 4Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: 5”Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. 6Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”

Hierdie verhaal gaan duidelik teen die streepteologie in omdat God volgens hierdie tekste iemand se strepiesdag kan uitstel. Die punt is dat niemand weet wanneer hulle strepie getrek is nie. Al wat ons weet is dat God ‘n God van liefde is wat ons die lewe geskenk het. In die Bybel is die boodskap duidelik, naamlik dat God in beheer is van ons lewe – dat God betrokke is by alles (Kyk Openbaring 4:1-11). In die NT is die angel van die dood uitgehaal. Die dood is nie iets om te vrees nie, maar iets om na uit te sien, omdat ons vir ewig in vrede by Hom sal wees en God se herskeppende teenwoordigheid sal beleef. As jy die dood nie vrees nie, word die lewe ‘n fees!

 

Skrywer: Dr Kobus Kok