1

Terug na die Ou Testament: Die terugkeer na die Ou Testament (2)

Terug na die Ou Testament: Die terugkeer na die Ou Testament (2) – Adrio König

En vandag?

Ons het vandag ‘n hele lys van sake wat nie destyds ter sprake was nie. Dit lyk eintlik veel onskuldiger. Allerlei stelsels kom in die gedrang, soos

  • Kersfees en ander Christelike feeste,
  • verjaarsdae,
  • die name van die dae en die maande,
  • die name van God en van Jesus,
  • die ramshoring.

Terloops, is dit nie onvermydelik dat ook die jaartelling en die berekening van jare ter sprake sal kom nie? Die Ou Testament het immers nie net ander name vir die maande gehad en ook die dae anders genoem nie, maar hulle het ook nie ‘n jaar van 365 dae geken nie.

 

En dan kry ‘n mens ook ‘n aantal sake wat skynbaar nie direk uit die Ou Testament voortvloei nie soos

  • drome en droomuitleg,
  • die wederkoms nou.
  • die doop,
  • feetjies, kaboutertjies en liewe heksie.

 

Maar intussen is sommige van die ou sake ook terug op die agenda, en miskien is hulle ook in die huidige situasie die sake wat die deurslag gee:

  • die Sabbat,
  • die feeste,
  • en die wet.

 

Hoe nou?

 

Anders as in Paulus se tyd, lyk dit duidelik dat die meeste van die Christene wat hierdie rigtings inslaan, ernstig en toegewyd is, miskien selfs meer as die gewone “ons”. ‘n Mens het nie die indruk dat jy saam met Paulus kan skryf: As julle dit of dat doen of glo, “sal Christus vir julle geen betekenis hê nie,” dan het “julle julle band met Christus verbreek” nie, dan het julle “die genade van God verbeur” nie (Gal 5:2, 4), of saam met Hebreërs: “Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het?” (Hebr 10:29)

 

Dit gaan oor iets anders. Dit gaan skynbaar oor gelowiges wat die Here met hart en siel dien, wat die verlossing deur Christus ten volle ernstig neem.

 

Maar dit neem nie weg dat ons moet vra wat ons in die Bybel kry oor die dinge waarmee hulle besig is nie.

 

In die hoofstukke wat volg, sal ons die hoofsake van hierdie beweging probeer verstaan in die lig van die Nuwe Testament. Ons begin by die Sabbat.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die terugkeer na die Ou Testament (1)

Terug na die Ou Testament: Die terugkeer na die Ou Testament (1) – Adrio König

1 Die terugkeer na die Ou Testament

Sommige Christene is vandag ernstig om weer te begin met sekere gebruike wat in die Ou Testament baie belangrik was. En dit beteken ‘n radikale herinterpretasie en herorganisasie van hulle lewe.

Daar was altyd verskille onder Christene oor hoe ons die Ou Testament moet hanteer, oor watter dinge nog vir ons geld, en watter nie. Is dit eenvoudig hierdie selfde dinge wat terugkom, of is dit ‘n nuwe situasie?

 

Kom ons kyk terug op die begin van die Christelike geloof.

 

  • Aan die begin was een van die brandendste vrae die een oor die besnydenis (Hand 15; Galasiërs).
  • Maar die feeste en die Sabbat het ook na vore gekom (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17; Rom 14:5-6).
  • Ook die vleis van onrein diere (Hand 10:9-16), en ander voorskrifte oor vleis (Hand 15:20, 29), en oor eet- en drinkvoorskrifte (Kol 2:16-17).
  • Die vraag of gelowiges die vleis wat deur heidene aan afgode geoffer is, mag eet, het hier bygekom (Rom 14; 1Kor 8; 9).
  • Maar ‘n veel ingrypender vraag was die vraag wat die verhouding moes wees tussen die Joodse gelowiges en die gelowiges uit die heidene. Hieroor het Paulus en Petrus selfs in die openbaar radikaal van mekaar verskil (Gal 2:11-14).
  • Maar miskien die heel belangrikste was die Joodse gelowiges wat skynbaar nie net oorweeg het om weer na sekere gebruike in die Ou Testament terug te gaan nie, maar selfs om hulle geloof in Jesus prys te gee terwille van die Ou Testamentiese gebruike  (Hebreërs).

 

Baie nou hieraan verbonde was die algemene vraag oor die wet. Geld die wet nog, of nie meer nie? Wat van die wet geld nog, en wat nie meer nie (oa Rom 7, 8). In hierdie verband het die vraag: Abraham óf Moses, die geloof óf die wet (Gal 3:1-9)) baie sterk na vore gekom. Maar dit was ‘n omvattender vraag as een of twee spesifieke sake. 

 

Die antwoorde op hierdie vrae oor die Ou Testament was van beslissende betekenis vir die voortbestaan van die Christelike geloofsgemeenskap. Die antwoorde was oorwegend negatief wat die Ou Testament betref:

  • Nie meer die besnydenis nie.
  • Nie meer die feeste nie.
  • Nie meer Sabbat nie.
  • Nie meer die tempel, priesters, offers nie.

 

Alles is nie oornag afgeskaf nie. Die gelowiges het hulle geleidelik al meer losgemaak van hierdie dinge. Die apostels het self aanvanklik nog die tempel besoek (Hand 3), die gelowige Jode in Jerusalem het nog lank hulle seuntjies besny (Hand 21:21), en ons het skynbaar selfs een of twee voorbeelde van feeste wat hulle gevier het (Hand 20:6, 16).  

 

Maar die omvattende prysgawe van al hierdie dinge was onontbeerlik vir die behoud en groei van die Christelike geloofsgemeenskap.

 

Indien hierdie proses van “ontbondeling” met die Jode nie plaasgevind het nie, sou die Christene voortbestaan het bloot as ‘n vreemde groepie Jode binne die Joodse geloofsgemeenskap.

 

Dit is immers hoe die Christelike geloofsgemeenskap begin het. Dit was ‘n groepie Jode, deel van die Joodse geloofsgemeenskap, wat geglo het dat die Messias wat hulle verwag het, reeds gekom het. Hulle het saam met die ander Jode die tempel besoek (Hand 3), die feeste gevier (Hand 20:6, 16; 21:26), die wet gehou en hulle kinders besny (Hand 21: 20-21). Indien hulle só aangegaan het, sou hulle niks meer bereik het nie as om ‘n (kleiner of groter) skeuring in Joodse geledere te veroorsaak.

 

Ons het dit aan Paulus en die Hebreërbrief te danke dat die Christene uit hierdie ingehokte situasie uitgebreek het en die heidenwêreld ingevaar het. Dit is veral die inisiatief van Paulus wat die evangelie “verbruikersvriendelik” vir die heidene gemaak het. Die kans dat ‘n massa heidene skielik Jode sou word, was gering. Ons kan moeilik ten volle die betekenis waardeer wat Paulus gehad het en nog steeds het vir die vorming én die groei van die Christendom in die wêreld. Hy was ‘n gawe van God, nie net aan die kerk nie, maar aan die wêreld.

 

Wat het hy gedoen?

 

  • Hy het nie die Ou Testament afgeskaf nie. Dit sou fataal gewees het.
  • Hy het dit ook nie sondermeer, heelhuids aanvaar nie. Dit sou ewe fataal gewees het.
  • Hy het versigtig, selektief, met fyn onderskeidingsvermoë, uitgesoek wat nog geldig is en geldig sal bly, en wat deur Christus vervul en vervang is. 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Inhoudsopgawe

Terug na die Ou Testament: Inhoudsopgawe – Adrio König

Om dit vir ons lesers makliker te maak om die inhoud te volg, plaas ons hier die inhoudsopgawe.

 

Inhoud

1 Die terugkeer na die Ou Testament

 

2 Die Sabbat

2.1 Die Ou Testament     1

2.2 Die Nuwe Testament    2

2.3 Terugkeer na die Sabbat?     4

    2.3.1 Die Sabbat is ‘n ewige instelling     4

    2.3.2 Jesus het self die Sabbat gehou     6

    2.3.3 Matteus 20:24    7

    2.3.4 Het die vroeë Christene die Sabbat gehou?    8

2.4 Kolossense 2:16     9

2.5 En die Sabbat as deel van die tien gebooie?  (Heb 4:9)  10

2.6 En Sondag?     12

 

3 Die feeste

3.1 Die feeste in die Nuwe Testament    1

3.2 Die feeste en God se reddingsplan?    1

    3.2.1 Word die feeste in Jesus vervul?    1

    3.2.2 Die eerste vier feeste    3

    3.2.3 Die laaste drie feeste     6

3.3 Moet Christene nog dié feeste vier?    5

 

4 Vorms van terugkeer in die Nuwe Testament

4.1 Galasiërs    1

    4.1.1 Die Judaïste se argument   1

    4.1.2 Paulus se reaksie     2

4.2 Hebreërs       3

    4.2.1 Joodse Christene wil terug na die Ou Testament   3

    4.2.2 Christus is groter as …     4

    4.2.3 Alles wat verby is     5

    4.2.4 Hebreërs 11    7

4.3 Terugkeer?

 

5 Net die Hebreeuse Name van God en Jesus?

5.1 Die oorspronklike Bybeltale    1

5.2 Die Septuagint     2

5.3 Jahwe – Here?    2

5.4 Jesus    3

5.5 Is die Hebreeus name ‘n moet?    4

 

6 Allerlei

6.1 Wanneer begin ‘n dag?    1

6.2 Die ramshoring     3

6.3 En die besnydenis?    4

6.4 Ure, dae, maande, jare, kersfees, verjaarsdae    5

6.5 Drome     8

6.6 Huisskoonmaak en Christelike skole    9

 

7 Die Christelike doop

7.1 Stellings oor Abraham en oor die doop    1

7.2 Die betekenis van Abraham    2

7.3 Die betekenis van die doop     3

7.4 Doop en kruis    4

7.5 Los opmerkings    5

 

8 Die wederkoms nou?

8.1 Die wederkoms is naby    1

8.2 Die laaste dae    1

8.3 Die tekens van die tye     2

    8.3.1 Algemene tekens   2

    8.3.2 Die antichris    3

    8.3.3 Die heidensending      4

    8.3.4 Israel   5

    8.3.5 Romeine 9-11     7

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Voorwoord

Terug na die Ou Testament: Voorwoord – Adrio König

Voorwoord

Dit is een van die moeilikste boeke wat ek nog geskryf het.

Dis nie oor die stof so ingewikkeld is nie. Dis oor ek moet verskil van mense wat naby my staan, gelowiges wat die Here liefhet.

Daarom is dit deurgaans ‘n saaklike bespreking, want as gelowiges kan ons tog ook saaklik van mekaar verskil, en mekaar probeer verstaan en oortuig.

Die titel is “Terug na die Ou Testament?” Sommige sal alreeds hiervan verskil, en sê hulle is nie op pad terug nie, maar vorentoe om die wil van die Here te doen soos dit uitdruklik in die Bybel staan.

 

Maar soos ek dit verstaan, was die gebruike waaroor dit hier gaan, nie meer deel van die vroeë Christene se lewe nie. Dit het alreeds in die tyd van die Nuwe Testament uit hulle lewe verdwyn.

 

Een saak wat my baie help, is om te onthou dat Jesus in ‘n sekere sin nog heeltemal deel van die Ou Testament was. Hy het nog streng volgens die wet geleef: tempel, offers, feeste, besnydenis, Sabbat. Die werklik nuwe tyd het eers by sy kruis en opstanding gekom. Daarna het die mense wat in Jesus geglo het, vir die eerste keer as ‘n aparte groep begin optree, aanvanklik nog steeds as deel van die Joodse gemeenskap, maar gaandeweg het daar verwydering tussen hulle en die Jode gekom totdat hulle uiteindelik heeltemal ‘n eie godsdiens gehad het. 

 

Selfs binne hierdie nuwe geloofsgemeenskap was daar afstand en soms spanning tussen die Joodse Christene en die Christene uit die heidene. Dit het veral oor die wet en meer spesifiek oor die besnydenis gegaan (Galasiërs).

 

Maar uiteindelik het die “wetsvrye” Christendom heeltemal oorgeneem.

 

Maar dit lyk nou asof daar ‘n groep Christene is wat as ‘t ware wil terug na die wet en na die gemeente wat uit Joodse gelowiges bestaan het. Miskien sou Paulus dit nog wel toegelaat het vir Christene uit die Jode, maar vir Christene uit die heidene het hy ‘n volstrekte Nee gesê. Galasiërs 1: 6-9; 4:8-11en 5:2-4 is duidelik hieroor. In werklikheid lyk dit vir my asof hy hiermee selfs die Christene uit die Jode verbied om nog met die besnydenis voort te gaan. 

 

Maar die besnydenis was net die punt van die ysberg. Dis duidelik dat die Sabbat, die feeste en selfs die voedselvoorskrifte ook uit die lewe van die Christene verdwyn het (Gal 4:8-11; Kol 2:16-17), en later ook die tempel-priesters-offers (Hebreërs). 

 

Die boodskap van hierdie boek is dat die beweging “terug na die Ou Testament” nie pas in ‘n gemeente van Christene nie. Galasiërs, Kolossense en Hebreërs is duidelik hieroor. 

 

Skrywer:  Prof Adrio König