Die Tien Gebooie: Goeie nuus vir mense wat die wet breek

When sin becomes bitter, then Christ becomes sweet – Thomas Merton

 Die Tien Gebooie: Goeie nuus vir mense wat die wet breek

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo (Romeine 1:16 – 17).

Hiermee verklaar Paulus sy eie vertroue in die Christelike boodskap. In die wet word die geregtigheid van God geopenbaar – dit  verdoem al ons aansprake op geregtigheid. In die evangelie word die geregtigheid van God as ‘n gawe geopenbaar. God wys vir ons in die wet wat ons moet doen om gered te word, maar terselfdertyd gee Hy aan ons die status van volkome heiligheid – dit kry ons net in die evangelie.

 

Die slegte nuus: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou nie en nie daarvolgens lewe nie (Deuteronomium 27:26). Paulus begin sy brief aan die Romeine deur te verduidelik dat die Jode deur die wet veroordeel is en die heidene deur ‘n wet wat op hulle gewetes deur die skepping geskryf is, veroordeel is. Daarom sê Paulus: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie … almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (Romeine 3:9 – 12). Sy gevolgtrekking is duidelik: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (3:20).

 

Die goeie nuus: Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus  (3:21 – 24). Luther sê: Terselfdertyd vrygespreek en sondig. Ons eie prestasie is dus van geen waarde nie.

 

Die evangelie, anders as die wet, is nie iets wat ons met ons rede of uit die natuur kan leer nie. Daarvoor het ons ‘n openbaring van God nodig en dit kry ons in sy Woord. In Christus ontvang ons ‘n nuwe lewe wat lei tot geregtigheid en gehoorsaamheid wat uit ‘n hart wat vernuwe is, vloei. Ons noem die heiligmaking. God spreek ons nie alleen vry nie – Hy maak ons heilig.

 

Die Heidelbergse Kategismus vra die vraag: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie? In die antwoord word twee redes genoem:

  • Sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken, en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek.
  • Ons moet ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik.

 

Dit is duidelik uit hierdie reeks  dat die Tien Gebooie vir ons steeds belangrik is. Ons moet ook let op Jesus Christus se interpretasie van hierdie gebooie – veral in sy bergrede. Ons sien dat Hy die toepassing van hierdie gebooie uitgebrei het.

 

 

 




Die tien gebooie: Wanneer meer minder is

There is scarcely anything so dull and meaningless as Bible doctrine taught for its own sake. Truth divorced from life is not truth in its Biblical sense, but something else and something less (A. W. Tozer).

 

Die tien gebooie: Wanneer meer minder is

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie (Eksodus 20:17).

 

Die Hervormers het hierdie gebod as ‘n opsomming van die vorige vyf gebooie gesien – dit beskryf ons plig teenoor ons naaste. Luther gaan so ver as om te sê dat hierdie gebod die finale hou is vir diegene wat dink hulle staan nog na die vorige nege gebooie. Die Heidelbergse Kategismus volg hierdie benadering: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê. Hierdie gebod is dan eintlik ‘n herformulering van al die gebooie.

 

Meeste Christene het nogal ‘n hoë dunk van hulleself. Hierdie gebod is gerig op diegene wat sê: Ek is nie skuldig aan moord, egbreuk en al hierdie ander sondes nie.” Die basiese bousteen vir hierdie gebod is tevredenheid. Kan ons soos Paulus sê: Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed  te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:11 – 12).

 

Daar is niks romanties aan armoede nie. Tevredenheid is nie sentimenteel nie; God seën nie gelowiges meer as ander as dit oor materiële dinge gaan nie. Luister na die psalmis: Ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien … Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei …Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd (73:2 – 3, 16 – 18, 25 – 26). Die psalmis kon verder as die kortsigtigheid van materiële voorspoed kyk en die uiteindelike betekenis van die lewe raaksien. Tevredenheid is nie ‘n saak van net rykdom of armoede nie – Paulus was tevrede met beide. Ons moet ons hoop op God vestig wat alles ryklik aan ons gee om te geniet (1 Timoteus 6:17).

 

Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Daarom kan ons met vertroue sê: Ðie Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:5 – 6). Die Hebreërskrywer se oproep vir tevredenheid berus nie op iets sentimenteel nie, maar op God se belofte om ons nooit te verlaat nie – God se volharding met ons ten spyte van ons sonde en opstandigheid. Maar die evangelie gaan nie oor positiewe denke en selfbeeld nie.

 

Dit lyk nie asof Christene anders leef of dink as nie-Christene nie. Barna bevind in een van sy opnames dat Christene has fallen prey to materialism, hedonism, secular humanism and even to a jaded form of Christianity that rejects much of the commitment required of faithful servants.

Ons moet weer leer om tevrede te wees met wat ons het .

Volgende keer ‘n kort afsluiting van hierdie reeks oor die Tien Gebooie




Die Tien Gebooie: Praat die waarheid

You do not really preach the gospel if you leave Christ out – if He is omitted, it is not the gospel! You may invite men to listen to your message, but you are only inviting them to gaze upon an empty table unless Christ is the very center and substance of all that you set before them – Charles Spurgeon

 

Die Tien Gebooie: Praat die waarheid

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Jy mag geen vals getuienis teen ‘n ander gee nie (Eksodus 20:16)

 

Feitlik almal verdoem leuens; feitlik almal vertel daagliks leuens (Time, 5 Oktober 1992). Hoekom het God hierdie gebod vir ons gegee?

  • Die waarde van ‘n persoon se naam. Mense se name moet teen skinder en misleiding beskerm word. In die antieke wêreld was ‘n goeie naam noodsaaklik vir oorlewing. ‘n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud (Spreuke 22:1). Baie mense sien skinder as geen probleem solank as wat ons net ons doel bereik! As waarheid deur vals getuienis vervang word, belemmer dit verhoudings.
  • Die waarde van ‘n persoon se woord. Jesus sê: Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein (Matteus 15:11). Woorde is simbole van ons geestelike toestand.
  • Die waarde van die waarheid self. Dit is ‘n lastigheid, want die moderne mens glo nie meer dat daar so iets soos die absolute waarheid is nie – net persoonlike voorkeure.

 

Maar nou weet ons dat die waarheid kan seermaak en verhoudings bederf as dit op die verkeerde tyd en plek gebruik word. maar wat word dan van ons verwag?

  • Openheid. Dit beteken nie dat ons alles wat ons van iemand hoor, moet glo nie. Aanvaar sy onskuld tot andersins bewys. Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien (1 Tessalonisense 4:11). Openheid vereis steeds dat ek hoflik optree. Openheid beteken nie naïewe, sentimentele optimisme nie.
  • Standvastigheid. Dit beteken dat as ek van die waarheid oortuig is, ek daaraan vashou. Dit beteken nie dat ek aan vals waarhede uit die verlede vashou nie. Christene moet hulle geloof toets – is dit die waarheid?

 

In die Nuwe Testament is hierdie gebod uitgebrei om dinge soos iemand se woorde te verdraai, ‘n kwaadsteker te wees en om iemand onverhoord te help veroordeel in te sluit. Alle vorme van lieg en bedrieg word deur hierdie gebod verbied. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (Heidelbergse Kategismus).

Human kind cannot bear very much reality – T. S. Elliot

 

Volgende keer kom ons by die tiende gebod.




Die Tien Gebooie: Vertrou op God se voorsiening

Every Christian is either a missionary or an imposter – Charles Spurgeon

 

Die Tien Gebooie: Vertrou op God se voorsiening

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 Jy mag nie steel nie (Eksodus 20:15).

 

Calvyn sê dat ons reg en geregtigheid aan ons naaste verskuldig is, want hy is ook ‘n beelddraer van God. Die Bybelse siening is een van verantwoordelikhede en nie een van regte nie. Die tien gebooie spel uit wat ons ons naaste skuld en nie wat ons van hom kan verwag nie. Van ons word verwag om ons naaste se reg op privaat eiendom te respekteer. As dit ‘n misdaad is om iets van iemand te steel, het daardie persoon tog die reg om daardie ding te besit.

 

Maar daar is ook ‘n ander beginsel te sprake: God is soewerein oor alles wat Hy gemaak het. Ons is dus in werklikheid nie eienaars nie, maar rentmeesters. Om te misluk in ons rentmeesterskap beteken in werklikheid dat ons van God en ons naaste steel.

 

Hoe oortree ons dan hierdie gebod? Luther sê ons oortree die gebod as ons ons naaste uitbuit – iets wat tot ‘n verlies vir hom lei. Ons steel nie net as ons iemand se besittings vat nie, maar as ons hom in besigheid uitbuit. Luister na Luther: “If we look at mankind in all its conditions, it is nothing but a vast, wide stable full of great thieves.” Hy verwys hier onder andere na swendelaars. Hierdie is dikwels gesiene mense in ons samelewing.

 

Die Heidelbergse Kategismus sê: God verbied nie slegs die diefstal en roof wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry. Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, geld, deur woeker of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid en alle misbruik en verkwisting van sy gawes. Die Heidelbergse Kategismus stel dit ook positief: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel. Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek behoeftiges in hulle nood kan help.

 

Dit gaan dus in hierdie gebod nie net oor diefstal nie. Ons kan natuurlik op verskillende maniere steel – bedrog, buitensporige krediet (ek koop dinge wat ek weet ek nooit sal kan betaal nie), buitensporige pryse vir goedere (ons glo solank iemand bereid is om die prys te betaal, is alles reg), deur goedkoop arbeid te gebruik – veral kinders, ens. Luther het gesê dat ‘n Christen skoenmaker ‘n goeie skoen moet maak en dit teen ‘n billike prys moet verkoop. ‘n Moderne metode van steel is deur buitensporige rente te vra.

 

Steel is dus ‘n veel breër begrip as wat ons normaalweg dink.