Geen sagte liefde nie

If you do not desire to be holy I do not see that you have any right to think that you are a Christian. —D. Martyn Lloyd Jones

Geen sagte liefde nie

In sy boek The Kingdom of God in America skryf H. Richard Niebuhr hierdie bekende woorde:A God without wrath brought man without sin into a kingdom without judgment through the ministrations of a Christ without a cross.” Dietrich Bonhoeffer praat van “Protestantisme sonder die Hervorming.”

 

 Sonde, oordeel, die kruis en selfs Christus is vandag problematiese woorde in ons gesprekke oor God. Niks irriteer en verwar mense soos die begrip van Goddelike toorn nie. Die lied In Christ alone is ‘n lied wat in baie kerke van baie denominasies gesing word. Die Presbyterian Committee on Congregational Song het egter probleme gehad met ‘n reël in die derde vers:”Till on that cross as Jesus died/the wrath of God was satisfied.” Hulle wou dit vervang met: “…as Jesus died/the love of God was magnified.” Die skrywers weier dat die lied se woorde verander mag word … en die lied word uit die liedboek verwyder.

 Om die woorde van liedere te verander om dit meer aanvaarbaar te maak, is niks nuuts nie. Die Mormoonse Tabernakel koor sing Reginald Heber se lied “Heilig, Heilig, Heilig,” maar hulle vervang die woorde God in three persons, blessed Trinity met God in Thy glory through eternity.

 Hoekom skram so baie Christene weg van die toorn van God? ‘n Mens kry die indruk dat baie predikers skaam of verleë is hieroor. Die gevolg is ‘n onvolledige beeld van wie God is en wat Hy gedoen het – veral deur Jesus Christus. Ons aanvaar die teerheid en liefde van God, maar verwerp sy oordeel. As ons na Jesus aan die kruis kyk, besef ons die erns van sonde.

 God se toorn is nie soos ons toorn nie. Tony Lane (The Wrath of God as an Aspect of the Love of God) sê dat die liefde van God sy toorn impliseer. God se liefde bestaan nie net uit deernis, barmhartigheid en genade nie, maar ook oor ontsteltenis oor ongeregtigheid en voortdurende teenstand teen die bose.




Die Groot Geloofswoordeboek: Oordeel, Toorn, Straf

Die Groot Geloofswoordeboek: Oordeel, Toorn, Straf

Oordeel/Toorn/Straf van God Jaloerse God

(*Hel)

In die toorn, oordeel en straf van God gaan dit telkens om dieselfde saak. In die lewe van die kerk ry hierdie begrippe wipplank. In een tydperk word dit oorbeklemtoon, net om dan weer vir lang tye verwaarloos te word. Dit wissel ook van groep tot groep. En tog het ek die indruk dat dit, saam met die *hel/verdoemenis/verderf, ge­durende die laaste paar dekades eenvoudig uit die geloofstaal van die meeste kerke verdwyn het. Natuurlik sal alle konserwatiewe Christene op navraag nog bevestig dat hulle glo daar is so iets, maar of dit deel van hulle praktiese geloofbelewing en hulle getuienis is, is ‘n ope vraag.

Daar is ook verskillende sienings oor die plek en funksie van die toorn van God in die Bybel. Sommige meen ons kry die toorn van God net in die Ou Testament. Dit sou dan beteken dat dit eintlik ‘n verouderde gedagte is wat met die tyd verdwyn het. Net so sou die liefde van God eintlik nog nie in die Ou Testament voorgekom het nie, maar eerder in die plek van die toorn van God in die Nuwe Testament na vore getree het.

Dit is egter nie waar nie. Net in die brief aan die Romeine alleen is daar agt verwysings na die toorn van God, soms vertaal as die straf van God (1:18; 2:5, 8; 3:5; 4:15; 5:9; 9:22; 12:19).  Die toorn van God kom dus in beide Testamente voor, al is dit wel so dat die wreedheid van die Ou Testament versag in die Nu­we. Maar Jesus se uitsprake teen die Fariseërs en skrifgeleer­des is nog vol van hierdie toorn (Matt 23), en die boek Openbaring is vol ontstellende voorbeelde van die wreedheid van die toorn van God.

Die woord “toorn” is natuurlik ‘n vreemde woord. Ons praat gewoonlik van woede, of ons sê iemand is kwaad. Maar dié woorde hou verband met emosies wat ‘n mens nie meer goed onder be­heer het nie. Ons praat van ‘n woedeuitbarsting, van onbeteuelde woe­de. En dis juis waarom ons dié woorde nie vir God gebruik nie. Want sy toorn is nie onbeteueld nie, dit is nie onbeheerbare woe­deuitbarstings nie; dit is ‘n beplande, ge­kontroleerde uiting van af­kering.

Dit hou verband met ‘n ander vreemde woord vir God: sy ja­loesie. Die 1953-vertaling het nog van die “jaloerse God” ge­praat, die 1983-vertaling maak dit: “Hy eis onverdeelde trou” (Eks 20:5). Dit beteken dat God omgee, dat dit vir Hom saak maak of ek sy liefde met liefde beantwoord. Hy is nie ‘n koue klip wat daarbo op sy eie sit en met niemand naby-verhoudings het nie. (*God, *On­ver­anderlikheid, *Liefde) As Hy regtig liefhet soos die Bybel sê, is dit ‘n volkome sinvolle reaksie om wederliefde te eis.

Net so is sy toorn/straf/oordeel ‘n sinvolle reaksie op ons ver­werping van sy liefde. As ons nie vir God belangrik was nie, sou Hy dit eenvoudig ongemerk by Hom laat verbygaan het. Maar die beelde wat in die Bybel vir sy verhouding met ons gebruik word, praat ‘n ander taal. Hy is die man en ons die vrou. En ‘n vrou mag net aan een man behoort.

Om te swyg oor die toorn van God is om die evangelie self dood te maak, want dit is om te impliseer dat God nie liefde is nie. Dit skep dieselfde situasie as om te beweer dat daar nie ‘n Bose en *bose magte is nie omdat dit die vraag sal laat ontstaan waarvan Jesus mense kom bevry het.

Terselfdertyd moet ons erns maak met die gevaar van die toorn van God. Dit is ‘n waarskuwing wat ons in alle erns moet op­neem. Die geskiedenis van die Ou Testament is vol van die oor­de­le van God wat die ongehoorsame volk tref. Die ballingskap is die ergste voorbeeld daarvan. Maar in die apokaliptiese geskrifte (*Apo­kaliptiek) gaan die oordele van God oor van hierdie hi­s­toriese oordele na bonatuurlike oordele, en uiteindelik het ons die skrikwekkende beeld van die *hel.

Dit is ‘n aanstoot vir ons moderne menslikheidsgevoel om oor die oordele van God en oor die hel te praat. En dis goed so. Ons kan God dank vir die menslikheid wat in die wêreld ingekom het se­dert Bybeltye. Maar dit neem nie die erns weg van die waarsku­wings in die Bybel teen die oordele van God nie. Die laaste norm is nie ons menslikheidsgevoel nie. Dié kan vorentoe nog weer verander. Die laaste norm is die Woord van God, en dié het dringende waar­skuwings dat God selfs ‘n verterende vuur kan wees (Heb 10:26-31; 12:29).

 

Skrywer: Prof Adrio König