Uitgebrand: Wat doen ek nou?

Do not consider it proof when it is written in a book, a liar who deceives with his tongue, will not hesitate to deceive with his pen. – Maimonides

 

Uitgebrand: Wat doen ek nou?

Ons het al baie oor uitbranding geskryf – veral wat dit veroorsaak en hoe ons dit kan voorkom. Die Bybel geen nie alleen vir ons die redes vir ons lewensprobleme nie, maar ook die genesing daarvoor. Elia het ook eenmaal uitbranding in die gesig gestaar. God het hom toe gehelp om vier dinge te doen wat vandag nog net so toepaslik is. Rick Warren identifiseer hierdie dinge vir ons.

  • Rus jou liggaam

Elia is besig om vir Isebel te vlug. Hy pleit selfs dat die Here sy lewe sal neem. Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ‘n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ‘n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het ‘n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van die Here (1 Konings 19:5 – 8).

 

Toe Elia selfmoord oorweeg, het God hom nie uitgetrap nie – hy vererger nie sy skuldgevoelens verder nie. God se genesing was om Elia te laat slaap en om vir hom kos te gee – en weer te laat eet en slaap. ‘n Goeie nagrus kan jou gesindheid verander. Moegheid bevorder teneergedruktheid. Jy sal geestelik sterker wees as jy fisies sterker is.

 

  • Raak ontslae van jou frustrasies

Bid daaroor. Vertel vir God daarvan. Bely dit aan God. Elia kom by Horeb aan en bring die nag in ‘n grot deur. God sê vir hom: Wat maak jy hier, Elia (19:9). Toe vertel hy vir God hoe hy voel: Ek het my hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Hy vertel vir God presies hoe hy voel. God laat hom kla totdat sy woorde op is. God onderbreek hom nie; God kritiseer hom nie. God is nie geskok as ons kla nie; God luister. God laat ‘n geestelike skoonmaak in Elia toe.

 

  • Herfokus op God

Moenie na die probleem staar nie. Vind uit wat God in jou lewe wil doen. Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan. Toe stuur God ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk het. Daarna stuur die Here ‘n aardbewing en daarna ‘n vuur – maar die Here was nie in die wind of die aardbewing of die vuur nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan.

 

God praat selde met ons op ‘n dramatiese wyse. Meestal praat hy met ons in die stilte – daar waar ons net stil voor Hom is. God het net vir Elia herinner dat Hy daar langs hom is – hy moet net stil wees en luister

 

  • Wy jou lewe opnuut aan God toe

Laat God jou rigting en ‘n nuwe doel vir jou lewe gee – ‘n nuwe bediening. Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om.”  Hy sê basies vir Elia om na sy taak terug te keer. Hy gee aan hom ‘n nuwe taak. Die gouste manier om van jou teneergedruktheid ontslae te raak, is deur by die behoeftes van ander betrokke te wees. Kry ‘n plek waar jy van jouself kan gee. Moenie soos Elia weghardloop nie.

 

Dit is nie nodig dat ons uitgebrand moet bly nie. God kan jou help – neem hierdie vier stappe. Jy is nie alleen nie; God gee om vir jou – ook die mense in jou gemeente gee om vir jou. Jy kan, met God se hulp verander.

 

 




Kan ek uitbranding verhoed?

 

“If it must always be better, it can never be good enough.” ~ Joodse spreekwoord

Kan ek uitbranding verhoed?

Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan (Psalm 62:2 – 3).

Ons wil altyd beter wees as wat ons is, meer hê as wat ons het en meer bereik. Die gevolg is ‘n nimmereindigende siklus van aktiwiteite. Ons is die hele dag besig. Op sy eie lyk hierdie aktiwiteite nie te oorweldigend nie, maar as jy almal dag na dag saamvoeg, kan hulle tot spanning en uitbranding lei. Hoe kan ons dit verhoed?

 

  • Ons moet tyd maak om stil voor die Here te word. Jesus sê vir sy dissipels toe hulle teruggekom het nadat Hy hulle uitgestuur het: Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie (Markus 6:31) Om in God te rus hernuwe ons siele en maak ons denke stil. Dit stel ons in staat om in sy krag te deel.
  • Ons moet onsself gedurig afvra: Is al hierdie dinge wat ek doen noodsaaklik? God sê: Bedaar en erken dat Ek God is (Psalm 46:11). God wil hê dat ons nie so vinnig moet lewe nie, want ons lewens is in sy hande. As ons dit besef kan ons hierdie voortdurende strewe na meer, vervang met rus en vertroue. Maak nie saak wat ons in die lewe doen nie, ons moet dit tot verheerliking van God doen.

 

Maak vandag nog tyd om stil voor die Here te sit. Laat toe dat Hy vir ons die krag en rus wat ons nodig het, gee. Laat toe dat Hy vir ons wys waar ons onnodig strewe. Hy wil vrede en rus vir sy kinders gee.