1

Uitverkiesing – Hermie van Zyl

Willem vra:

Hoe verduidelik mens die Bybelse uitsprake oor uitverkiesing (bv Rom 8:28-30) aan iemand wat dit as ’n onderdrukking van die mens se vryheid van keuse beskou. Die persoon verklaar dat hy nie aan so ’n onregverdige God kan glo nie. Ek het die emeritaatrede van prof Dirkie Smit oor die goeie boodskap van die uitverkiesing gelees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In my antwoord gaan ek nie op alle aspekte van die uitverkiesing in nie, maar slegs op die vraag of uitverkiesing teenoor persoonlike keuse staan – die kwessie wat ons vraagsteller aanroer. (Daar is reeds uitstekende bydraes op die Bybelkennis-webblad oor die uitverkiesing; die vraagsteller kan net “uitverkiesing” by die soekfunksie intik en so al die artikels vind.)

Wanneer uitverkiesing as ’n teoretiese konsep hanteer word, los van hoe die saak in die bladsye van die Bybel voorkom, word dit inderdaad ’n probleemkwessie en word allerlei besware daarteen opgewerp, soos wat ons vraagsteller aan die orde stel. Dit word dan maklik so voorgestel asof uitverkiesing alle menslike keuse en verantwoordelikheid by voorbaat uitskakel, asof God ons soos pionne op ’n skaakbord rondstoot sonder dat ons enige sê het. Maar laat ek dit onomwonde stel: Goddelike uitverkiesing onderdruk nie menslike vryheid van keuse nie, maar roep dit juis op. Laat ek verduidelik.

Een van die klassieke tekste in die Nuwe Testament wat oor die uitverkiesing handel, is Efesiërs 1:3-14. In v4 word gesê dat God voordat die wêreld geskep is, ons uitverkies het. Hierdie woorde word soms so verstaan asof God eensydig besluit het wie Hy uitkies om aan Hom te behoort en dat die mens nie ’n keuse daarin het nie. So voorgestel, maak dit inderdaad van die uitverkiesing ’n saak van Goddelike willekeur en menslike onmag. Die mens moet maar eenvoudig aanvaar wat God in sy almag besluit het: is jy uitverkies, is jy een van die gelukkiges; is jy nie uitverkies nie, het jy dit ongelukkig sleg getref. Maar as mens so redeneer, gebeur presies waarteen ek hierbo gewaarsku het, dat van die uitverkiesing ’n teoretiese konsep gemaak word, los van die uitleg en bedoeling van die Bybelteks. En met Bybelteks word altyd bedoel dat mens nie woorde en uitdrukkings op die klank af uit hulle verband haal en dan ’n hele teorie daar rondom bou nie. Nee, mens moet noukeurig lees om die bedoeling van die teks self te peil en te verstaan. Kom ons pas dit toe op Efesiërs 1. Dan ontvou ’n heel ander verstaan van die uitverkiesing. Ons kyk na drie sake.

1   Daar word telkens in hierdie verse gesê dat God ons in Christus uitverkies het. Soos ’n refrein loop dit deur v3-14: in Christus het God ons uitverkies (v4), God skenk sy genade vrylik in die Geliefde (v6), deur die bloed van sy Seun is ons verlos (v7), God het die geheimenis van sy wil deur Christus tot uitvoering gebring (v10), dit was God se doel om alles op aarde onder een hoof, Christus, te verenig (v10), deur Christus het ons deel geword van die volk van God (v11,13), in Christus het die Heilige Gees ons tot God se eiendom beseël (v13), en ons het ons hoop op Christus gestel (v12). Die punt is: die uitverkiesing is nie ’n onbekende besluit van God wat in groot duisternis gehul is en waaroor mense maar net in onsekerheid kan wonder nie. Nee, God se ewige uitverkiesing van mense vind in en deur Christus plaas. God het voor die grondlegging van die wêreld reeds besluit dat Hy mense in Christus na Hom toe sal trek. En hierdie besluit het God in die geskiedenis van Israel waar gemaak. Hy het sy redding, wat vir die hele wêreld beskikbaar is, deur die kruis en opstanding van Christus kant en klaar voorberei. Wanneer jy nou in Christus glo en deur die Heilige Gees beseël is, is die doel van God se uitverkiesing voltrek en weet jy vir seker dat jy deel van sy volk, sy gemeenskap van gelowiges op aarde is. Daar is dus nie ’n uitverkiesing wat skuilgaan agter en buite Christus om en wat ons in groot onsekerheid laat oor ons ewige heil nie. Die heil wat deur die bloed van Christus beskikbaar is, is die onteenseglik sigbare bewys van God se ewige verkiesing. Niemand hoef dus te wonder hoe God se uitverkiesing werk nie; dit werk wanneer jy in Christus glo. Dan is jy deel van die heil wat God beskikbaar stel op aarde. En wáár is dit beskikbaar? Dit bring ons by die volgende punt.

2.   Wat treffend is in Efesiërs 1:3-14 is die “ons” en “julle” wat deurgaans voorkom. Dit is telkens ons wat in Christus uitverkies is en julle wat deel geword het van die volk van God. Hierdie meervoude is nie om dowe neute daar nie. Ons wil dikwels van die uitverkiesing ’n individualistiese saak maak, maar hierdie “ons” en “julle” verwys na Israel en die kerk wat as heilsinstansies uitverkies is om God se redding op aarde te verwesenlik, instansies waardeur God sy genade na almal op aarde laat vloei. Elkeen wat glo, word deel van hierdie uitverkore gelowige volk van God. Die uitverkiesing werk dus eintlik via die volk van God na elke individu toe; ’n mens kry deel aan die uitverkiesing wanneer jy ingelyf word by daardie instansie wat God uitverkies het om sy heil op aarde te vergestalt. Hierdie siening verlig ook die druk wat ons laat opbou rondom die uitverkiesing dat elke individu voor die grondlegging van die wêreld persoonlik deur God uitverkies is. In ’n sekere sin ís dit so, maar dis eintlik indirek so: jou uitverkiesing word in die geskiedenis ’n werklikheid wanneer jy die heil wat beskikbaar is in God se uitverkore voertuie – die volk Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament – in die geloof aangryp en jou eie maak. Dan word jy opgeneem in hierdie stroom van genade wat God uitgekies het om sy heil op aarde te versprei.

3.  Hierbo het ons telkens van geloof gepraat. Dis nou nodig om dit duideliker uit te spel in terme van die uitverkiesing. Die uitverkiesing in Christus en die inskakeling by die kerk hou in dat dit mense se geloofskeuses oproep en insluit. Efesiërs 1:13 sê duidelik dat ons die uitverkiesing in Christus ’n werklikheid gemaak het deur die evangelie te hoor en tot geloof te kom. Verre sy dit dus daarvan dat die uitverkiesing ’n mens sonder die vryheid van keuse laat of menslike verantwoordelikheid uitskakel. God maak nie van ons stokke en blokke wat Hy na willekeur manipuleer nie. Die mens het nog steeds die verantwoordelikheid om gehoor te gee aan die heil wat God beskikbaar stel. Natuurlik, presies hoe Goddelike verkiesing en menslike geloof in mekaar pas, is nie deursigtig nie. As ’n mens kies om in Christus te glo, kan jy nie sê dis jou eie prestasie nie, want dan word geloof ’n goeie werk op grond waarvan God jou beloon. Nee, ook jou geloof is deel van God se misterievolle werking wat ons deur sy Gees van binne-af nuut maak deur die wedergeboorte (Joh 3:3-8). Daarom word die werk van die Heilige Gees ook spesifiek genoem in Efesiërs 1:13-14: Die Gees beseël ons as God se eiendom en is die waarborg dat ons alles sal ontvang wat God belowe het. Menslike keuses het egter ook ’n slegte keersy: ’n Mens kan ook nee sê vir God se heil; jy het die keuse om God se verkiesing in Christus te verwerp. Maar as jy hierdie heil verwerp, kan jy nie Gód die skuld gee daarvoor nie. Dit staan volledig op jóú rekening; dis jou keuse. God verwerp niemand van alle ewigheid af nie; Hy verwerp alleen dié wat Hóm volhardend verwerp, wat eintlik daarop neerkom dat God jou oorlaat aan jou keuse. God neem ons besluite dus baie ernstig – hetsy ons keuse van geloof, hetsy die keuse wanneer ons sy heil verwerp. Die verkiesing in Christus staan van alle ewigheid af vas. Wie dit in die geloof aangryp, maak daarmee God se verkiesing in Christus effektief en is seker van God wat red. Maar wie dit in eiesinnigheid verwerp, het slegs homself te blameer.

Uit bostaande oorsig oor Efesiërs 1:3-14 behoort dit duidelik te wees dat die uitverkiesing allermins beteken dat menslike keuses uitgeskakel word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die uitverkiesing – Francois Malan

‘n Leser vra:

Is dit net die Vader wat weet wie se name opgeteken is in die Boek van die lewe of weet Christus ook? Hulle is mos een? Ek stoei daarmee dat as God ons uitverkies het in Christus, God die Vader alleen weet wie uitverkies is. Help my asb reg? Hulle is mos een.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Joh 10:30 het Jesus gesê: Ek en die Vader is een (vgl 17:11,21: net soos U, Vader, in My is en Ek  in U; in Joh 14:11 sê Jesus: Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is. In Joh 5:19-20 sê Jesus: wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen.

Die uitverkiesing is die gesamentlike besluit van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en word ook uitgevoer deur die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Jeremia 23:18 verwys na die raadskamer van die Here, letterlik die Raad, die groep wat die besluite neem, wat in die Nuwe Testament duidelik word dat dit die Vader en die Seun en die Heilige Gees is wat die Raad vorm wat die besluite neem).  As iemand uitverkies is, is hy/sy aan Christus verbind. Efesiërs 1:4-5 sê: ‘God die Vader het ons voor die skepping in Hom (in Christus Jesus) uitgekies sodat ons heilig en onberispelik in  liefde voor Hom sou leef, voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word…’ Ef 1:11: In Hom is ons ook uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur. Joh 5:26: die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen. In Joh 16:14-15 sê Jesus van die Heilige Gees: Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal bekend maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy (die Heilige Gees) van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekendmaak.

Die Vader gee die uitverkorenes aan die Seun en trek hulle na die Seun toe.  In Johannes 6:37 sê Jesus: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom…’ In 6:39 die wil van die Vader is dat Jesus van almal wat die Vader aan Hom gegee het, nie ‘n enkele een sal laat verlore gaan nie; 6:44 Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na my toe trek nie…’  en 6:65 Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.

En hoe word die uitverkorenes aan Christus gegee en na Hom toe getrek? Deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees oortuig ons dat Jesus God is wat die sonde van die hele wêreld (van die Ou Testament se tyd af) op Hom geneem het, ons straf gedra het en ons van sonde kom verlos het (Johannes die Doper sê van Jesus volgens Joh 1:29: Kyk, daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; in Joh 16:8 sê Jesus: Die Heilige  Gees sal die wêreld oortuig van sonde, en geregtigheid – dat Jesus ons in die regte verhouding met God bring – en van oordeel oor die wat nie in Jesus glo nie). Die Heilige Gees oortuig ons deur die woord van God wat ons hoor of lees, sodat ons glo in Jesus as my Verlosser, die Here van my lewe, en my God. Efesiërs 2:8 sê: Want uit genade is julle verlos deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie, dit is die gawe van God.  Joh 3:36 sê: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.

In Mt 24:31 sê Jesus: as die Seun van die mens op die wolke van die hemel kom ‘sal Hy sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak…’ (so ook in Mk 13:27)

In Joh 13:18 sê Jesus vir sy dissipels dat Hy weet wie Hy uitgekies het; en in Joh 15:16: Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies…’ (vgl. ook Joh 15:19; Hand 1:2)

Lk 18:7, Romeine 8:33 en  Titus 1:1;  praat weer van God se uitvekorenes; vgl. ook Mk 13:20; 1 Kor 1:27).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Name in die Boek van die Lewe – Hermie van Zyl

Jan Smith vra:

Efesiërs 1:4: soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, Dan Romeine 8: 28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. (29) Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;(30) en die wat hy vantevore verordineer het, die het Hy geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook verheerlik. Op 20: 12: En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is volgens hulle werke. (15) En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Die Vader het in Sy alwetendheid voor die grondlegging van die wêreld reeds geweet wie die uitverkorenes sou wees en hulle toe reeds in die liggaam van Christus opgeneem. Ek veronderstel as die “Bruid” volgens Efes 1: 4. In Openbaring word die boeke geopen en die dode geoordeel volgens hulle werke wat daarin opgeteken is.

My vraag is nou: As die name in die boek van die lewe reeds voltallig is, hoe kan dit wees dat daar nog iemand sal wees wie se naam nie in hierdie boek opgeskryf is nie? Waarom sou die ander persone dan op grond van hulle werke, goed of sleg, beoordeel word? In watter konteks moet mens die sinsnede “die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp” verstaan, asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In bogenoemde navraag word uitgegaan van bepaalde aannames oor die uitverkiesing wat nie heeltemal geldig is nie. Ek antwoord dus eers oor die uitverkiesing in die algemeen en dan oor die spesifieke navraag omtrent Op 20:12-15.

In die leer oor die uitverkiesing moet mens baie versigtig wees om nie in determinisme te verval nie. Dit beteken dat God “voor die grondlegging van die wêreld” sou bepaal (“gedetermineer”) het dat sekere mense uitverkies word tot die ewige lewe (hulle name is opgeskryf in die boek van die lewe) en dat ander verwerp word tot die ewige verdoemenis. Hierdie getalle en name is dan voor die tyd reeds vas en afgesluit. Dit maak dus nie saak wat elke kategorie mense in hulle lewe op aarde doen nie, maar hemel toe sál jy gaan as jy uitverkies is, en die hel ís jou voorland as jy verwerp is; om dit in sulke krasse terme te stel. Hierdie voorstelling van sake bring mee dat ‘n mens se lewe dan eintlik volgens ‘n vooraf opgestelde program verloop waarin jy nie veel keuses het nie. Jou lewensloop is vir jou bepaal (gedetermineer), en so sal jou lewe verloop.

Hierdie siening klop egter nie met die gegewens in die Bybel waar mense in ‘n dinamiese verhouding tot God en ander mense staan nie. Mense maak foute, verhard daarin, of kom tot bekering. En selfs God kan van plan verander oor besluite wat Hy geneem het om uit te voer. Dink hier aan sy plan om Nineve te vernietig, maar dan verander hy van plan as hulle tot bekering kom. Die een wat by die oorspronklike plan wou bly – Jona – en wat God verkwalik dat Hy nie by hierdie plan hou nie, is die een wat bedroë daarvan afkom, terwyl die Een wat “van plan verander” juis die genadige God is. God is dus in voortdurende interaksie met mense se gedrag en besluite. Die enigste besluit wat onveranderlik vasstaan in God se raad, is dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe. God stel alles in werking om mense na Hom te trek om hulle van hulle doodsbestaan te red. Die verhouding tussen God en mense is dus baie meer dinamies as wat in ‘n deterministiese uitverkiesingsleer uitgebeeld word.

Die bedoeling van tekste soos Ef 1 wat praat oor God wat mense uitverkies voor die grondlegging van die wêreld, is nie dat ons daaruit allerlei afleidings sal maak oor die arbitrêre manier waarop God red nie (Hy kies en verwerp na willekeur), maar dat die gelowiges aan wie die Efesiërbrief gerig word die troos sal hê dat hulle verlossing vasstaan in God se raad. Let ook daarop dat die verkiesing “in Christus” plaasvind (Ef 1:4). Wat vasstaan van “voor die skepping” is dus nie die individuele name van mense nie, maar God se verlossingsplan “in Christus” wat in die kerk sigbaar word. Dit gaan oor die verlossing wat in Christus voorberei is en oor mense wat tot geloof moet kom voor hulle die voordele van “uitverkies” te wees, kan geniet. Om dit pront te stel: As jy in Christus glo, wéét jy jy is uitverkies. Maar as jy nie glo nie, is daar niks te sê oor jou uitverkiesing nie. God se ewige besluite en mense se daadwerklike bekering en geloof in Christus staan dus nie teenoor mekaar nie, maar is die Goddelike en menslike kant wat sáám die totale prentjie van uitverkiesing en ewige lewe uitmaak. Soos ‘n bekende teoloog uit die verlede dit treffend gestel het: “God neem sy ewige besluite altyd op die allerlaaste oomblik.” Presies hoe hierdie misterie van God se alwerksaamheid (ewige verlossing in Christus) en menslike werksaamheid (bekering en geloof in Christus) presies werk, is uiteraard ‘n misterie. Maar dit kan beslis nie in terme van ‘n deterministiese uitverkiesingsleer verstaan word nie.

Om nader aan Op 20 te beweeg, moet eers iets gesê word oor die verhouding tussen geloof en werke. Dit is wáár dat ons nie op grond van ons werke gered word nie, maar deur die geloof in Christus. Hieroor skryf Paulus in geen onduidelike taal nie. Maar nou is die Bybel ook duidelik daaroor dat gelowiges die bewyse van hulle geloof moet lewer. So sê Jak 2:14-26 onomwonde dat geloof wat nie op dade uitloop nie, dood is. En Matt 7:15-23 noem dat nie elkeen wat bloot “Here, Here” (d w s glo) sal ingaan in die koninkryk van hemele nie, maar net diegene wat die wil van die Vader doen. Dit beteken nie dat mens tog uiteindelik deur jou goeie werke gered word nie, maar dat geloof en werke mekaar oor en weer definieer. Iemand wat werklik ‘n gelowige is, sal die dinge doen wat by die geloof pas, en iemand se werke sal wys wat ten diepste in sy hart leef. Waar daar dus in die Bybel sprake is van ‘n oordeel op grond van ons werke, is dit eintlik maar net ‘n ander manier van sê dat God sal kyk of ons werklik in Jesus geglo het. Die intieme band tussen geloof en werke is reeds sigbaar in die Ou Testament, byvoorbeeld Jer 17:10, waar staan dat God die hart en verstand deurgrond (geloof en denke), en die mens laat toekom vir wat hy doen.

Dit bring ons by Op 20:11-15. Ons moet onthou dat Openbaring nie op ‘n direkte manier praat nie, maar in beelde en simbole. Mens moet dus altyd bedag wees daarop dat die uitleg by die bedoeling van hierdie beeldspraak moet pas.

Hier is sprake van twee boekrolle – die boek van die werke (geïmpliseer) en die boek van die lewe. Die agtergrond hiervan moet in die Ou Testament (vgl Dan 12:1) en in sekere Joodse apokaliptiese werke (vgl 1 Henog) gesoek word. Hiervolgens word mens geoordeel volgens wat jy doen tydens jou lewe (boek van die werke), en of jy opgeteken is in God se “bevolkingsregister” (in Openbaring die “boek van die lewe” genoem, vgl 3:5; 17:8; 21:27). In die eindoordeel word mense geoordeel volgens wat in beide boeke geskryf staan. Hoe mens ook al oor hierdie “boeke” dink, feit is dat die gedagte van geloof en werke ook hierin vervat is. Wat jy in jou lewe gedoen het (boek van die werke) is niks anders nie as ‘n weerspieëling van jou verhouding met God, of jy werklik deur geloof aan Hom verbind was (boek van die lewe). Daarom word iemand wat nie in die boek van die lewe is nie, in die poel van vuur, die sg tweede/ewige dood gegooi. Laasgenoemde is beeldspraak vir die ewige straf, die plek wat God voorberei vir die duiwel en sy engele en almal wat aan die bose behoort.

Ook in Openbaring is daar dus nie sprake van die uitverkiesing wat staan teenoor diegene wat net op grond van hulle werke geoordeel word nie. Almal word uiteindelik op grond van hulle werke beoordeel, wat op sy beurt tekenend is van hulle geloofsverhouding met God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Kan ek my uitverkiesing verloor?

Kan ek my uitverkiesing verloor? – Kobus Kok

‘n Leser vra

Ons worstel met die Uitverkiesing. Ons kinders is as Christene grootgemaak. Een van ons seuns het uitgestyg en leef nou in weelde. As jongeling het hy ‘n innige verhouding met die Here gehad en wou selfs predikant word. Hy gaan nou nie meer kerk toe nie en is heeltemal ontoeganklik tov die Here. Ons karring nie aan hom nie, bid net. Is al ons gebede, vir sy redding, dalk tevergeefs…is hy dalk net nie uitverkies nie? Dit maak ons so verskriklik hartseer. Hy is verder steeds dierbaar en ‘n goeie mens.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Kan ek my uitverkiesing verloor?

Wat bedoel die Bybel as hy sê dat God ons uitverkies het (Efes 1:4), en kan mens jou uitverkiesing verloor? Calvyn het eenmaal gesê dat God voor die grondlegging van die aarde alreeds geweet het wie sou Hy kies en wie sou Hy nie kies nie. Dit plaas God in die sentrum en mense dooie skaakpionne op die dramatiese verhoog van lewe en dood. Een van ons Griekse dosente het my eenmaal vertel van die dominee wat gepreek het oor die uitverkiesing toe hy nog ʼn kind was. Die dominee het die verhaal vertel van Shaka of Dingaan wat sy impies op ʼn afgrond laat staan het en hulle so een vir een om die beurt laat aftuimel het tot hulle dood, net omdat hy wou. Die dominee sê toe God se uitverkiesing werk ook so – eintlik kan mens niks daaraan doen nie. As God jou afstamp kan jy niks doen om weer terug te kom nie. Mens moet egter onder geen omstandighede so oor die uitverkiesing dink nie. Mense wat so dink kry maklik ʼn skeefgetrekte teologie. Sommige mense dink hulle is nou eens en vir altyd uitverkies deur God en dan gaan hulle heerlik aan met hulle sondige en afvallige lewe. Ander mense dink weer dat hulle in elk geval nie deur God uitverkies is nie en probeer nie eers om in God se goeie boekies te kom nie. Ander mense wonder sommer net en bly lou in die geloof.

In Johannes 5:24 lees ons dat iemand wat glo van ʼn bestaanstoestand van dood na ʼn bestaanstoestand van lewe oorgegaan het. In die Grieks staan dit in die perfektumvorm van die werkwoord. Dit beteken dat God mens oor laat beweeg het in die verlede, met jou bekering, en dat mens nog steeds in daardie staat verkeer. Sulke mense ontvang die reg om kinders van God genoem te kan word (Joh 1:12). Tog maak die Bybel dit duidelik dat mens jouself uit spel kan plaas. Indien mense wat kinders van God was teen God kies, dan plaas hulle hulself eintlik in die dampkring van die duiwel wat hulle nuwe vader word (Joh 8:44). Ja, dit is dus moontlik dat iemand sy uitverkiesing kan “verloor”. Lees maar net die eerste brief van Johannes. Die brief maak dit duidelik dat sommige mense so kan optree of dink dat hulle eintlik nie meer God se kinders is nie.

Aan die ander kant is ons nie God nie, en kan ons nie sit en spekuleer oor die vraag of iemand nou in- of uitgesluit is uit God se groot verlossingsplan nie. Selfs in die laaste minute van sy lewe het die sondaar langs Jesus aan die kruis God se geskenk van lewe ontvang. God kan mense nog steeds oorhaal na die lig! (1Pet 2:9). 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok