Wat sê die Bybel oor verassing?

Wat sê die Bybel oor verassing? – Francois Malan

Ben vra:

Ek wil graag weet of daar enige skrif verwysing is na die verassing van `n afgestorwene wat sê dit is verkeerd of geen probleem om iemand te veras nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Nee, daar is nie spesifieke Skrifbewyse vir of teen verassing nie.

 Die Hebreeuse kultuur het nie ‘n skeiding tussen siel en gees geken nie, en dood is nie gesien as ‘n skeiding van die twee nie. ‘n Lewende was ‘n lewende siel en ‘n dooie ‘n ‘dooie siel(nefesj)’ (Num 6:6; Lev 21:11; die 1983-vertaling vertaal ‘dooie siel’ met ‘n ‘lyk’). Dood was vir hulle nie vernietiging nie. Solank die bene nog bestaan, het die bene ‘n siel, as ‘n skaduwee in die doderyk (sheool)  (Job 26:5-6; Jes 14:9-10; Esegiël 32:17-32).

            Daarom was die lyke van die dooies belangrik en moes hulle ‘n eerbare begrafnis gekry het, want die siel was volgens hulle bewus wat met die dooie liggaam gedoen word. Om onbegrawe te lê vir die roofdiere en voëls was die ergste van vervloekings (1 Kon 14:11; Jer 16:4; 22:19; Eseg. 29:5). Maar die graf en die lyk was onrein en mag nie aangeraak word nie (Lev 21:1-4; 22:4; Num 19:11-16; Eseg 43:7).

Verbranding van die lyke was slegs met erge kriminele gedoen (Gen 38:24; Lev 20:14; 21:9). Die mense van Jabes in Gilead het egter die liggame van Saul en sy seuns met eerbied verbrand voordat hulle hulle bene begrawe het (1 Sam 31:12) wat ‘n uitsondering was.

 

Die Nuwe Testament praat van ons aardse liggame wat vergaan en ‘n opstanding van ‘n verheerlikte onverganklike liggaam met Christus se wederkoms  (1 Korintiërsd 15:35-57). 2 Kor.5:1-5 sê ons liggaam word afgebreek en ons het ‘n ewige woning in die hemel wat deur God gebou is. Paulus sê om te sterwe is vir hom ‘n wins en hy verlang om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is die allerbeste (Filippense 1:21-24). Met ons dood is ons reeds by Christus wat uit die dood opgestaan het en ons deur geloof aan Hom verbind het vir die ewige lewe.

 

Daar is egter geen etiese argumente waarom verassing verwerp of aanvaar moet word nie:

 1 Piëteit en eerbied vir die liggaam van die dooie hoef nie noodwendig te ontbreek by verassing nie en is nie vanselfsprekend teenwoordig by ‘n begrafnis nie.

 2 Die uiteindelike resultaat van verassing en begrawe is presies dieselfde. Die liggaam los in sy grondbestanddele op.

 3 Die liggaam word reeds geskend deur die dood wat ingetree het, voordat die proses van ontbinding in die graf verder voortgaan, selfs deur wurms verteer word,  of die verbranding begin.

 4 Verassing is nie ‘n onnatuurlike proses en begrawe ‘n natuurlik proses nie. Albei is kultuurhandelinge wat ons met die liggaam doen.

 5 Ons weet dat God, wat oral teenwoordig is (Ps 139:8), ook in die graf en in die oond teenwoordig is, en Hy kan ‘n mens daaruit opwek, selfs vir hulle wat op see deur visse opgevreet is (Openb 20:13), solank ons maar in Hom is, ons name opgeskrywe is in die boek van die lewe (Openb 20:15), deurdat ons in Jesus Christus glo en aan Hom gehoorsaam is (Johannes 3:36).  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Verassing

Verassing – Kobus Kok

Johan vra: 

Ek lees die artikel oor verassing met al die tekse daarby, maar ek kry nie ‘n direkte antwoord nie, is verassing verkeerd, sondig of is dit in vandag se lewe ‘n regte wyse om tot stof te vergaan 

Antwoord:

Prof Kobus Kok antwoord:

My eerlike opinie is dat daar geen bewyse is dat verassing vanuit ‘n Christelike perspektief sonde is nie. Ons sien in die navorsing wel dat die Jode van die Ou Testament gesê het dat mens die beendere van ‘n dooie mooi moet bêre omdat God die liggaam weer gaan verenig en vleis aan die dooie beendere sit (Lees gerus Eseg 36-37). In die Nuwe Testamentiese tydperk het dit minder belangrik geword. Vandag besef ons dat God se herskepping nie afhang van die aanwesigheid van ons dooie beendere nie. Hy gaan alles nuut maak (Lees gerus Openb 21). Dit maak dus nie saak of ons begrawe of veras word nie. Stof was ons en tot stof sal ons terugkeer.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Is verassing sonde?

Is verassing sonde? – Kobus Kok

Pierre Coetzer vra:

Is verassing ‘n Sonde en ‘n heidense gebruik? Die woord sê vir jou stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Verassing is wel ‘n gebruik wat vrylik onder die heidense kulture van die antieke tyd voorgekom het. In die Joodse kultuur is mense ook verbrand, maar as gevolg van sonde. So lees ons in Levitikus 20:14 dat diegene wat bloedskande pleeg verbrand moes word. In Lev. 21:19 lees ons dat ‘n priester se dogter wat ontugtig leef ook verbrand moes word. Wanneer die woord verbranding voorkom, kom dit dus in die meeste van die voorkomste daarvan in ‘n negatiewe wyse voor, of in die konteks waar daar van offers gepraat word. Die rede daarvoor is dat die dood en gevolglike begrafnis van mense ‘n saak van eer en skaamte was.  Daar was destyds baie moeite gedoen met begrafnisse.

In die antieke stad Hiërapolis (Heilige stad) se Nekropolis (stad van die dooies) (foto, links) is daar tot vandag toe nog grafte wat getuig van die geweldige moeite wat gedoen is met begrafnisse.

antiekegrafte

(foto afgetrek van http://www.flickr.com/search/?q=hierapolis+graves)

 

In sommige van die grafkelders is hele gesinne geplaas. Daar is so ver as moontlik gepoog om die liggaam te versorg tydens die begrafnis. Verassing was veral in die Joodse konteks nie iets wat gedoen was nie. In die tyd na die Ballingskap en in die tyd van die Nuwe Testament is die beendere van die Jode bewaar omdat daar geglo is dat die beendere met die vlees verenig sal word op die groot dag van Jahweh. Vandag weet ons dat die herskepping van ons liggame met die wederkoms nie afhanklik is van ons beendere nie. Daarom sien ons vandag nie verassing as ‘n sonde nie.

 

Hier onder is tekste waar die kwessie van verbranding aan die orde kom:

(Gen 38:24 AOV)  Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.

(Eks 3:3 AOV)  En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.

(Eks 12:10 AOV)  Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand.

(Eks 29:14 AOV)  Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met vuur verbrand. Dit is ‘n sondoffer.

(Eks 29:34 AOV)  En as daar van die vleis van die wydingsoffer of van die brood tot die môre toe oorbly, moet jy wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie, want dit is heilig.

(Eks 32:20 AOV)  En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink.

(Lev 4:12 AOV)  die hele bul moet hy buitekant die laer uitbring op ‘n rein plek waar die as uitgegooi word, en hy moet hom op hout met vuur verbrand; op die plek waar die as uitgegooi word, moet hy verbrand word.

(Lev 4:21 AOV)  Daarna moet hy die bul buitekant die laer uitbring en hom verbrand soos hy die eerste bul verbrand het; dit is ‘n sondoffer van die vergadering.

(Lev 6:30 AOV)  Maar elke sondoffer waarvan ‘n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.

(Lev 7:17 AOV)  Maar wat van die offervleis oorgebly het, moet op die derde dag met vuur verbrand word.

(Lev 7:19 AOV)  En die vleis wat aan iets onreins raak, mag nie geëet word nie; met vuur moet dit verbrand word. Maar wat verder die vleis betref elkeen wat rein is, mag vleis eet.

(Lev 8:17 AOV)  Maar die bul met sy vel en sy vleis en sy mis het hy buitekant die laer met vuur verbrand, soos die HERE Moses beveel het.

(Lev 8:32 AOV)  Maar wat van die vleis en die brood oorbly, moet julle met vuur verbrand.

(Lev 9:11 AOV)  En die vleis en die vel het hy buitekant die laer met vuur verbrand.

(Lev 10:16 AOV)  En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:

(Lev 13:52 AOV)  Daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van linne of enige leervoorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand; want dit is ‘n kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word.

(Lev 13:55 AOV)  As die priester dan die aangetaste voorwerp bekyk, nadat dit gewas is, en sien dat die plek nog net so lyk, hoewel die plek nie versprei het nie, dan is dit onrein; jy moet dit met vuur verbrand. Dit is ‘n invreting aan die agter of aan die voorkant.

(Lev 13:57 AOV)  Maar as dit nog in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp gesien word, dan is dit ‘n melaatsheid wat weer uitbreek; jy moet die aangetaste voorwerp met vuur verbrand.

(Lev 16:27 AOV)  Maar die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om versoening te doen in die heiligdom, moet hulle buitekant die laer uitbring; en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.

(Lev 16:28 AOV)  En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.

(Lev 19:6 AOV)  Op die dag as julle dit offer en die dag daarna, moet dit geëet word; maar wat tot die derde dag toe oorbly, moet met vuur verbrand word.

(Lev 20:14 AOV)  En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.

(Lev 21:9 AOV)  En as die dogter van ‘n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word.

(Num 16:39 AOV)  Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as ‘n oortreksel vir die altaar-

(Num 18:9 AOV)  Van die hoogheilige gawes, met uitsondering van wat verbrand word, moet dít joue wees: al hulle offers, naamlik elke spysoffer en elke sondoffer en elke skuldoffer van hulle, wat hulle My bring-as iets hoogheiligs moet dit vir jou en jou seuns wees.

(Num 19:5 AOV)  Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.

(Num 19:8 AOV)  Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.

(Num 19:17 AOV)  Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in ‘n pot op gooi;

(Num 31:10 AOV)  Verder, al hulle stede in hulle woonplekke en al hulle laers het hulle met vuur verbrand

(Deu 7:5 AOV)  Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.

(Deu 7:25 AOV)  Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God ‘n gruwel.

(Deu 9:21 AOV)  En ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, geneem en dit met vuur verbrand en dit stukkend gestamp en terdeë gemaal totdat dit so fyn soos stof was; en dié stof het ek in die stroom gegooi wat van die berg afkom.

(Deu 12:3 AOV)  En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.

(Deu 12:31 AOV)  So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ‘n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode.

(Deu 13:16 AOV)  En al die buit daarvan moet jy op die stadsplein bymekaarbring en die stad en al die buit as voloffer met vuur verbrand aan die HERE jou God; en dit moet vir ewig ‘n puinhoop wees, dit mag nie weer opgebou word nie.

(Jos 6:24 AOV)  En die stad met alles wat daarin was, het hulle met vuur verbrand; net die silwer en die goud en die koper- en ystervoorwerpe het hulle by die skat van die huis van die HERE gevoeg.

(Jos 7:15 AOV)  En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en ‘n skanddaad in Israel begaan het.

(Jos 7:25 AOV)  En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.

(Jos 8:28 AOV)  Toe het Josua Ai verbrand en daarvan ‘n puinhoop gemaak vir ewig, ‘n wildernis tot vandag toe.

(Jos 11:6 AOV)  Toe sê die HERE vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand.

(Jos 11:9 AOV)  En Josua het met hulle gedoen soos die HERE aan hom gesê het: hulle perde se hakskeensenings het hy afgesny en hulle strydwaens met vuur verbrand.

(Jos 11:11 AOV)  En hulle het al die siele wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref; niks wat asemhaal, het oorgebly nie, en Hasor het hy met vuur verbrand.

(Jos 11:13 AOV)  Net al die stede wat op hulle heuwels gelê het, dié het Israel nie verbrand nie, behalwe Hasor alleen-wat Josua verbrand het.

(Rigt 9:52 AOV)  En Abiméleg het gekom tot by die toring en daarteen geveg; maar toe hy nader kom tot by die ingang van die toring om dit met vuur te verbrand,

(Rigt 12:1 AOV)  En die manne van Efraim is saamgeroep en het oorgetrek na Safon toe en vir Jefta gesê: Waarom het u deurgetrek om teen die kinders van Ammon te veg en óns nie geroep om saam met u te trek nie? Ons sal u huis bo u met vuur verbrand.

(Rigt 14:15 AOV)  En op die vierde dag sê hulle aan die vrou van Simson: Haal jou man oor dat hy die raaisel vir ons uitlê, anders verbrand ons jou en die huis van jou vader met vuur; het julle ons genooi om ons te berowe, of hoe?

(Rigt 15:6 AOV)  Toe vra die Filistyne: Wie het dit gedoen? En hulle sê: Simson, die skoonseun van die Timniet, omdat dié sy vrou geneem en haar aan sy metgesel gegee het. En die Filistyne het opgetrek en haar en haar vader se huis met vuur verbrand.

(Rigt 18:27 AOV)  Maar hulle het saamgeneem wat Miga gemaak het, en die priester wat hy gehad het; en hulle het Lais, ‘n rustige en onbesorgde volk, oorval en dié met die skerpte van die swaard verslaan en die stad met vuur verbrand.

(1Sa 30:1 AOV)  En toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete ‘n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand.

(1Sa 30:3 AOV)  Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer.

(1Sa 30:14 AOV)  Ons het ‘n inval gedoen in die Suidland van die Kretiërs en in dié van Juda en in die Suidland van Kaleb, en Siklag met vuur verbrand.

(1Sa 31:12 AOV)  het al die dapper manne hulle gereedgemaak en die hele nag deur getrek; en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand.

(2Sa 23:7 AOV)  en elkeen wat hulle wil aanraak, wapen homself met ‘n yster of die steel van ‘n spies, en met vuur word hulle op daardie plek heeltemal verbrand.

(1Kon 9:16 AOV)  (Farao, die koning van Egipte, het opgetrek en het Geser ingeneem en dit met vuur verbrand en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as ‘n trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee.)

(1Kon 13:2 AOV)  en hy het uitgeroep teen die altaar deur die woord van die HERE en gesê: Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, ‘n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía, en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan, en op jou sal mensbene verbrand word.

(1Kon 15:13 AOV)  Ja, selfs sy moeder Máäga het hy as gebiedster afgesit, omdat sy ‘n afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en in die dal Kidron verbrand.

(2Kon 10:26 AOV)  En hulle het die pilare van die Baälstempel uitgebring en dit verbrand

(2Kon 17:31 AOV)  en die Awiete het Nibhas en Tartak gemaak. En die Sefarviete het hulle seuns vir Adramméleg en Anamméleg, die gode van Sefarváim, in die vuur verbrand.

(2Kon 23:4 AOV)  Toe gee die koning die hoëpriester Hilkía en die priesters van die tweede rang en die drumpelwagters bevel om uit die tempel van die HERE al die voorwerpe uit te bring wat gemaak is vir Baäl en Asjéra en die hele leër van die hemel; en hy het dit buitekant Jerusalem in die velde van Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-el laat dra.

(2Kon 23:6 AOV)  En hy het die Asjéra uit die huis van die HERE buitekant Jerusalem uitgebring na die spruit Kidron en dit by die spruit Kidron verbrand en dit tot stof vermaal en sy stof gegooi op die algemene begraafplaas.

(2Kon 23:11 AOV)  En hy het die perde uitgeroei wat die konings van Juda gegee het tot verering van die son, by die ingang van die huis van die HERE, by die kamer van Natan-Meleg, die hofdienaar, in die aanbousel; en die waens van die son het hy met vuur verbrand.

(2Kon 23:15 AOV)  En ook die altaar wat in Bet-el was, die hoogte wat Jeróbeam, die seun van Nebat, gebou het, wat Israel laat sondig het, ook daardie altaar en die hoogte het hy afgebreek en die hoogte verbrand; hy het dit tot stof vermaal en die heilige boomstam verbrand.

(2Kon 23:16 AOV)  En toe Josía hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die HERE wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het.

(2Kon 23:20 AOV)  En al die priesters van die hoogtes wat daar was, het hy op die altare geslag en mensbene daarop verbrand en na Jerusalem teruggegaan.

(2Kon 25:9 AOV)  En hy het die huis van die HERE en die huis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem, ja, elke groot huis met vuur verbrand.

(1Kron 14:12 AOV)  En hulle het hul gode daar agtergelaat; en Dawid het bevel gegee, en hulle is met vuur verbrand.

(2Kron 15:16 AOV)  Ja, selfs het hy Máäga, die moeder van koning Asa, afgesit as gebiedster, omdat sy ‘n afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en stukkend gestamp en in die dal Kidron verbrand.

(2Kon 28:3 AOV)  Hy het self ook offerrook in die dal van die seun van Hinnom laat opgaan en sy seuns met vuur verbrand, volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het.

(2Kron 34:5 AOV)  En die beendere van die priesters het hy op hulle altare verbrand en Juda en Jerusalem gereinig.

(2Kron 36:19 AOV)  En hulle het die huis van God verbrand en die muur van Jerusalem omgegooi en al die paleise daarvan met vuur verbrand, sodat al die kosbare voorwerpe daarvan vernietig is.

(Neh 1:3 AOV)  En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur Verbrand.

(Neh 2:17 AOV)  Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer ‘n voorwerp van smaad kan wees nie.

(Psa 46:9 AOV)  (46:10) wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.

(Psa 74:8 AOV)  Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand.

(Psa 80:16 AOV)  (80:17) Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om.

(Psa 83:14 AOV)  (83:15) Soos vuur wat ‘n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek-

(Spreuke 6:27 AOV)  Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?

(Hoogl 1:6 AOV)  Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie.

(Jes 1:7 AOV)  Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes.

(Jes 10:17 AOV)  En die Lig van Israel sal ‘n vuur wees, en sy Heilige ‘n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.

(Jes 27:4 AOV)  Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand.

(Jes 33:12 AOV)  Dan word die volke ‘n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word.

(Jes 44:16 AOV)  Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!

(Jes 44:19 AOV)  en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ‘n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ‘n stuk hout?

(Jes 47:14 AOV)  Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie-dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!

(Jes 64:11 AOV)  Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het ‘n puinhoop geword.

(Jer 7:31 AOV)  En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand-iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.

(Jer 19:5 AOV)  En hulle het die hoogtes van Baäl gebou om hulle seuns met vuur te verbrand as brandoffers aan Baäl-iets wat Ek nie beveel of uitgespreek het nie, of wat in my hart nie opgekom het nie.

(Jer 21:10 AOV)  Want Ek het my aangesig teen hierdie stad gerig ten kwade en nie ten goede nie, spreek die HERE. Dit sal oorgegee word in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.

(Jer 32:29 AOV)  En die Chaldeërs wat teen hierdie stad veg, sal kom en hierdie stad aan die brand steek en dit verbrand, saam met die huise op die dakke waarvan hulle vir Baäl rook laat opgaan het en vir ander gode drankoffers uitgegiet het om My te terg.

(Jer 34:2 AOV)  so sê die HERE, die God van Israel: Gaan en spreek met Sedekía, die koning van Juda, en sê vir hom: So spreek die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.

(Jer 34:22 AOV)  Kyk, Ek gee bevel, spreek die HERE, en sal hulle na hierdie stad terugbring; en hulle sal daarteen oorlog voer en dit inneem en met vuur verbrand; en Ek sal die stede van Juda ‘n wildernis maak, sonder inwoner.

(Jer 36:25 AOV)  alhoewel selfs Élnatan en Delája en Gemárja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie.

(Jer 36:27 AOV)  Toe kom die woord van die HERE tot Jeremia-nadat die koning die rol verbrand het met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia opgeskrywe het-en sê:

(Jer 36:28 AOV)  Neem vir jou weer ‘n ander rol en skrywe daarop al die vorige woorde wat op die eerste rol was, wat Jójakim, die koning van Juda, verbrand het.

(Jer 36:29 AOV)  En aangaande Jójakim, die koning van Juda, moet jy sê: So spreek die HERE: Jy het hierdie rol verbrand met die woorde: Waarom het jy daarop geskrywe en gesê: Die koning van Babel sal sekerlik kom en hierdie land verwoes en mens en dier daar uitroei?

(Jer 36:32 AOV)  Toe het Jeremia ‘n ander rol geneem en dit aan die skrywer Barug, die seun van Nería, gegee; en hy het daarop uit die mond van Jeremia geskrywe al die woorde van die boek wat Jójakim, die koning van Juda, met vuur verbrand het; en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg.

(Jer 37:8 AOV)  en die Chaldeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand.

(Jer 37:10 AOV)  Want al sou julle die hele leër van die Chaldeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, sodat daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, dan sou hulle elkeen in sy tent opstaan en hierdie stad met vuur verbrand.

(Jer 38:17 AOV)  Daarop sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis.

(Jer 38:18 AOV)  Maar as u nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand; en u self sal uit hulle hand nie vryraak nie.

(Jer 38:23 AOV)  Hulle sal dan al u vroue en u kinders na die Chaldeërs uitlei; ook sal u self uit hulle hand nie vryraak nie; maar u sal deur die hand van die koning van Babel gevang word, en hierdie stad sal met vuur verbrand word.

(Jer 39:8 AOV)  En die Chaldeërs het die paleis van die koning en die huise van die volk met vuur verbrand; en die mure van Jerusalem het hulle omgegooi.

(Jer 43:12 AOV)  En Ek sal ‘n vuur aansteek in die huise van die gode van Egipte; en hy sal hulle verbrand en hulle as gevangenes wegvoer; en hy sal hom wikkel in die land van Egipte soos ‘n herder hom wikkel in sy kleed, en hy sal daarvandaan in vrede wegtrek.

(Jer 43:13 AOV)  En hy sal die klippilare van Bet-Semes wat in Egipteland is, verbreek en die huise van die gode van Egipte met vuur verbrand.

(Jer 49:2 AOV)  Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek teen Rabba van die kinders van Ammon oorlogsgeskreeu sal laat hoor, en dit sal word ‘n woeste puinhoop, en sy onderhorige plekke sal met vuur verbrand word; dan sal Israel die wat hom in besit geneem het, in besit neem, sê die HERE.

(Jer 51:32 AOV)  en dat die driwwe beset is, en hulle die rietvleie met vuur verbrand het, en die krygsmanne verskrik is.

(Jer 51:58 AOV)  So sê die HERE van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte sal met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.

(Jer 52:13 AOV)  en hy het die huis van die HERE en die paleis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem en elke groot huis met vuur verbrand.

(Eseg 5:2 AOV)  ‘n derde deel moet jy binne-in die stad met vuur verbrand as die dae van die beleëring verby is; dan moet jy ‘n derde deel neem en met die swaard stukkend kap rondom die stad, en ‘n derde deel moet jy in die wind strooi; en Ek sal ‘n swaard agter hulle uittrek.

(Eseg 5:4 AOV)  en daarvan moet jy nog weer neem en dit binne-in die vuur gooi en dit met vuur verbrand; daar sal vuur van uitgaan in die hele huis van Israel.

(Eseg 16:41 AOV)  Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal ‘n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.

(Eseg 20:47 AOV)  en sê aan die bos van die Suidland: Hoor die woord van die HERE: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek steek ‘n vuur in jou aan wat in jou elke groen boom en elke droë boom sal verteer; die uitslaande vlam sal nie uitgeblus word nie, maar daardeur sal alle aangesigte verbrand word van die Suidland af tot die noorde toe;

(Eseg 23:47 AOV)  En die vergadering moet hulle stenig en hulle met hul swaarde stukkend kap; hulle seuns en dogters moet hulle doodmaak en hulle huise met vuur verbrand.

(Eseg 43:21 AOV)  Dan moet jy die sondofferbul neem, en hulle moet hom verbrand in die daarvoor bestemde plek van die huis, buitekant die heiligdom.

(Amos 2:1 AOV)  So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het.

(Amos 6:10 AOV)  En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder, en aan iemand wat in die agterste vertrekke is, sê: Is daar nog iemand by jou? en hy antwoord: Nee-dan sal die eerste sê: Bly stil, want dit is nie gepas om die Naam van die HERE te vermeld nie!

(Miga 1:7 AOV)  En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot ‘n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer.

(Mat 3:12 AOV)  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

(Mat 13:30 AOV)  Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.

(Mat 13:40 AOV)  Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld:

(Luk 3:17 AOV)  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.

(Joh 15:6 AOV)  As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

(Hand 19:19 AOV)  en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwerstukke was.

(1Kor 3:15 AOV)  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

(1Kor 13:3 AOV)  En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.

(Heb 13:11 AOV)  want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word-hulle liggame word buitekant die laer verbrand.

(2Pe 2:6 AOV)  en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;

(2Pe 3:10 AOV)  Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

(Open 8:7 AOV)  En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand.

(Open 17:16 AOV)  En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.

(Open 18:8 AOV)  daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok