Mense wat verdeeldheid in die gemeente saai

When I see Thee as Thou art, I’ll praise Thee as I ought. —John Newton

Mense wat verdeeldheid in die gemeente saai

Mense wat verdeeldheid saai ignoreer twee belangrike waarhede oor Christelike leiers (1 Korintiërs 3:5 – 17). Wat is hierdie twee waarhede?

  • Christelike leiers is dienaars van God – ons moenie aan hulle dieselfde mate van trou bewys as wat ons aan God bewys nie.
  • God gee om vir sy kerk en Hy hou sy leiers verantwoordelik vir hoe hulle sy kerk bou.

Baie belangrik is hoe Paulus hierdie twee waarhede oordra. Hy gebruik twee analogieë (een uit die landbou en een argitektonies) wat hy dan met ‘n kragtige retoriese vraag en gevolgtrekking opvolg.

 

Die analogie uit die landbou (3:5 – 9a)

Paulus het hulle reeds daarop gewys dat hulle verdeeldheid saai deur sekere leiers aan te hang. Hoe moet ons hierdie leiers sien? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Die antwoord is eenvoudig: Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Christenleiers is in die eerste plek net dienaars aan wie die Here sekere take toevertrou het.

Paulus verduidelik die analogie nou verder. Sommige plant, sommige gooi nat, maar dit is God wat laat groei het. Die dienaars het verskillende take, maar die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet. Die een is nie belangriker as die ander nie. God sal elkeen beloon volgens sy werk. Dit is egter belangrik dat ons die groter prentjie verstaan: Ons is medewerkers in diens van God – hulle is mededienaars wat aan God behoort en deur God gebruik word. Die saailand van God is die Korintiërs; die werkers is mense soos Paulus en Apollos en hulle is God se medewerkers; Hy gee aan die werkers hulle take; Hy alleen laat die saad groei.

Die analogie uit die argitektuur (3:9b – 15)

Julle is ook die gebou van God. Nou is die gelowiges God se gebou en die leiers is die bouers. Ons moet onthou dat bouwerk destyds ‘n stadige proses was. Dit het soms dekades geneem om ‘n tempel te voltooi. Daarom mag die een bouer die fondament gelê het en ander bouers ander fases van die projek. Die les is duidelik: Paulus het die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Dit is die hele projek wat belangrik is en dit sou dwaas wees om op net een van die bouers te fokus. Die bouers het ‘n gemeenskaplike doel gedeel.

Daar is twee aspekte waar hierdie analogie van die vorige een verskil:

  • God vervul ‘n ander rol. Hier is niks wat groei nie. Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Die gebou behoort aan God en Hy beoordeel die gehalte van elke bouer se werk.
  • Hier word baie klem gelê op die aanpreeklikheid van die bouers. Sommer vroeg-vroeg waarsku Paulus: Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou. Paulus self het die fondament soos ‘n goeie bouer gelê. Hy waarsku ook dat niemand ‘n ander fondament kan lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus.  Al is die fondament Jesus Christus is daar steeds die gevaar van slegte vakmanskap en minderwaardige materiaal later. Bouers mag goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi gebruik. Die materiaal wat gebruik word, is nie vir Paulus belangrik nie. Hy ken net twee soorte boumateriaal: die wat die toets van die vuur weerstaan en dié wat dit nie kan weerstaan nie. Die vuur skei die goeie van die slegte. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word.

 Uit hierdie analogie is dit duidelik dat God vir sy kerk omgee en dat hy die leiers verantwoordelik hou.

Paulus se retoriese vraag en sy ontstellende gevolgtrekking (3:16 – 17)

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? Die gebou word nou God se tempel. Hier verwys God se tempel na die kerk. Dit is die tempel waaraan al die bouers gewerk het. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle. Hierdie waarskuwing word gerig teen bouers wat minderwaardige werk gedoen het – werk wat nie die vuur kan weerstaan op die dag wat Christus weer kom nie. Maar die waarskuwing geld ook vir ander: as iemand die tempel van God beskadig.

Daar is baie maniere om die kerk te beskadig: verdeeldheid, dwaalleer, as ons ons oë van die kruis afwend, skinder, bitterheid, Bybelse ongeletterdheid, selfbevordering, materialisme, ens. Hierdie waarhede het die persone verantwoordelik vir die verdeeldheid in Korinte geïgnoreer. Hierdie waarhede word vandag steeds geïgnoreer. Dit is tyd vir selfondersoek.




Dinge wat die gemeente verdeel

What really flatters a man is that you think him worth flattering. -George Bernard Shaw

Dinge wat die gemeente verdeel

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Jogannes 13:35)

Daar is seker min dinge wat tragieser is as ‘n gemeente wat verdeeld is. Ongelukkig word ons gemeentes dikwels gekenmerk deur stryery en verdeeldheid en nie deur lidmate se liefde vir mekaar nie. Wat doen ons dan? Ons blameer ander. Ons moet altyd onthou dat die saadjies van verdeeldheid klein is, maar hulle kan welig groei.

Die eerste stap is altyd om eerste na jouself te kyk en te vra: Is ek nie dalk die oorsaak van die verdeeldheid nie?

Hoe gaan ek weet of ek nie dalk die oorsaak is nie? Mark Driscoll gee vyf tekens wat ons moet oorweeg.

  • Trots

Dit is ‘n lelike sonde en trotse mense is lelike mense. Trots in die gemeente lei onvermydelik tot verdeeldheid. As jy baie van jouself dink, as jy daarvan hou om jou mening te gee, as jy verwag dat mense jou altyd moet konsulteer, as jy kwaad word as mense jou nie gehoorsaam nie, dan sukkel jy in alle waarskynlikheid met trots.

  • Dwaalleer

Ons is nogal geneig om ander Christene as dwaalleraars te etiketteer. Hoekom? Want hulle verskil van ons oor een of ander onbenullige besonderheidjie. Dit is nie dwaalleer nie – dit is verskille. ‘n Dwaalleraar is iemand wat die Christelike leer verwerp – hulle glo nie Jesus Christus God se Seun is nie, hulle glo nie aan die Drie-eenheid nie, hulle glo nie dat Jesus sondeloos is nie, dat Hy aan die kruis vir ons sondes gesterf het nie en dat Hy as ons Verlosser opgestaan het. Dit is noodsaaklike dinge wat ons moet glo as jy ons Christene wil wees. Daar is natuurlik nog meer as net hierdie kernelemente. As ons dwaalleer in die gemeente toelaat, sal dit die gemeente mettertyd verdeel.

  • Wettisisme

Hierdie mense dink hulle kan gedurig reëls maak. Dan gebruik hulle hierdie reëls wat hulle self gemaak het as wapens om die gemeente te verdeel. In plaas daarvan dat hulle God verheerlik, verag en veroordeel hulle diegene wat nie soos hulle is nie.

  • Wantroue

Wantroue in die gemeente, veral onder leiers, lei sekerlik tot verdeeldheid. Leiers het die verantwoordelikheid om betroubaar te wees (1 Timoteus 3:2; Titus 1:6). Lidmate moet hulle leiers eer en aan hulle gehoorsaam wees. Dit vereis vertroue. Leiers en lidmate se verhouding met mekaar moet op vertroue gebou wees. Die ergste ding in ‘n gemeente is wanneer jy nie jou leiers vertrou en dit met hulle uitpraat  nie, maar agter hulle rug skinder. Dit vererger wantroue en verdeeldheid.

  • Tradisionalisme

Tradisie op sigself is nie sleg nie, maar as ons ‘n metode bokant sy oorspronklike funksie verhef, word dit ‘n afgod wat gemeentes kan verdeel. As ons verandering van nie-Bybelse tradisies vir geen goeie rede teenstaan nie, dan sal dit verdeeldheid veroorsaak.

As Christene moet ons die eenheid van die gemeente nastreef. In Christus is ons ‘n verenigde groep mense – een liggaam, een Here, een geloof, een doop, een God en Vader (Efesiërs 4:4 – 6). Hoe streef ons hierdie eenheid na?

  • Streef verandering na. Ons is deel van ‘n lewende gemeente bestaande uit lewende mense. Soos ‘n mens groei en ontwikkel moet ons ook groei en verander – ons word volwasse.
  • Luister versigtig na Paulus se woorde. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (Efesiërs 4:2 – 3). Die sleutelwoord is beskeidenheid. ‘n Beskeie mens soek nie persoonlike wins nie. Sy grootste strewe is om vir God en sy naaste lief te hê.

As ons die twee grootste gebooie gehoorsaam – liefde vir God en liefde vir jou naaste – verdeel ons nie die gemeente nie. Inteendeel God kan ons gebruik om eenheid in die gemeente te bring.