Vergifnis – Hermie van Zyl

Lemvia vra:

Ek was getroud vir 12 jaar. In my huwelik is ek verbaal, emosioneel en fisies mishandel. Ek is geskei en het ‘n jaar later ‘n verhouding met ‘n ander man aangeknoop. Ons is baie lief vir mekaar. Ek het die Here gesmeek om vergifnis na my egskeiding. Maar ek weet ook wat die Bybel sê oor egskeiding. Hy was nog nooit getroud nie en wil nie sondig deur met my te trou nie. Kan ek aanvaar dat God my vergewe het en dat ek kan aanbeweeg?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As die vraagsteller sê dat sy weet wat die Bybel sê oor egskeiding, is daar verskeie gedeeltes wat by ’n mens opkom, soos Eks 20:14: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”; Mal 2:13-16 “… Die Here … haat egskeiding”; Matt 5:32: “Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk”; Matt 19:6,8: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie… Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie”; 1 Kor 7:10-11: “Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie”; Heb 13:4: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” En so sal ons die tekste kan vermenigvuldig wat aantoon dat God se wil oor die huwelik duidelik is: Dis ’n permanente verbinding; so het Hy dit van die begin af bedoel. En egskeiding was nooit deel van sy oplossing vir die probleme wat ’n egpaar binne die huwelik mag beleef nie.

Maar nou weet ons ook dat egskeiding, hoewel teen die wil van God, nie ’n groter sonde as ander is nie. Ook dít word deur God vergewe, as daar opregte berou is en die hartlike voorneme is om binne sy wil te lewe. Dan kan ons aanvaar dat God hierdie ongelukkige gebeure afsluit en die toekoms oopsluit. Die Bybeltekste wat oor egskeiding en hertrou handel moet dus ook in die lig van God se genade beoordeel word. God hang ons nie op aan ons sonde nie, maar handel ook hierin met ons volgens sy barmhartigheid, deernis, liefde en vergifnis. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Ps 103:14). Hy maak inderdaad ’n nuwe lewe moontlik.

Kom ons neem die kwessie van hertrou na egskeiding spesifiek vanuit Matt 5:31-32 in oënskou. Ons gebruik dit as ’n voorbeeld van hoe mens oor hierdie en ander uitsprake in die Bybel oor iets soos egskeiding en hertrou, vandag moet oordeel.

In die algemeen moet ons sê dat egskeiding en hertrou vandag ‘n ingewikkelde saak is wat nie sonder meer reglynig vanuit ‘n paar Bybeltekste afgelees kan word sonder dat die bedoeling van die tekste eers na behore onder die loep geneem is en die spesifieke omstandighede van die eietydse situasie in ag geneem is nie. Eers dan kan mens probeer om ‘n koers en rigting aan te dui wat kan aanspraak maak op Bybelse begronding.

Matt 5:31-32, soos aan die begin genoem, sê dat as iemand sy vrou skei om enige ander rede as owerspel, hy veroorsaak dat die vrou egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. In Matt 19:9 word bygevoeg dat die man wat sy vrou skei, behalwe oor owerspel, sélf ook egbreuk pleeg. In Mark 10:11-12 word ook na die vróú verwys, as sý van haar man sou skei. By laasgenoemde teks is die bedoeling: As die vrou die oorsaak en inisieerder van die egskeiding is en weer trou, dan is sy ewe skuldig aan egbreuk. Die punt is: Man en vrou word deur Jesus op gelyke basis verantwoordelik gehou vir die huwelik.

Ons het hier ‘n paar beginsels omtrent die huwelik wat neergelê word deur Jesus: 1. Die huwelik is in sy wese in die oë van God ‘n permanente verbintenis. Egskeiding is dus geen ligtelike aangeleentheid nie, dit kan nie sommer vir enige bakatel oorweeg word nie; 2. Die man wat sonder grondige rede (owerspel) van sy vrou skei, pleeg egbreuk; 3. Die man wat só van sy vrou skei, veroorsaak dat sy vrou ook egbreuk pleeg en dat enigiemand wat weer met haar trou, ook egbreuk pleeg (omdat in die oë van God die eerste huwelik na regte nog bestaan); 4. Vir die vrou geld dieselfde as sy die inisieerder van die egskeiding is.

Met hierdie uitsprake wou Christus nie mense se lewens onmoontlik maak wat deur egskeiding geraak word nie, maar wou Hy orde skep in die destydse klimaat waar mans – en soms ook vroue – sommer ligtelik van hulle vrouens geskei het. Hy belig weer die oorspronklike bedoeling van die huwelik – ‘n permanente lewenseenheid wat ernstig geneem moet word – en verder neem Hy in die besonder die vrou in beskerming. Sy is dikwels in ‘n onmoontlike situasie ingedwing deurdat die man haar sonder enige geldige rede geskei het. Om te kon oorleef, moes sy weer so gou as moontlik trou. En dan, sê Jesus, word sy eintlik in ‘n staat van egbreuk ingedwing wat sy nie gewil het nie. Die onus vir ‘n gelukkige huwelik is dus net soveel die man se verantwoordelikheid as die vrou s’n. Die punt is: die destydse sosiale omstandighede moet deeglik verreken word om spesifieke Bybeluitsprake te verstaan en toe te pas vir vandag.

Die bedoeling van Jesus se uitsprake is om die heiligheid van die huwelik as Goddelike instelling te beskerm sodat daar nie op ‘n ligtelike en ligsinnige manier mee omgegaan word nie. En natuurlik om die sondige en liefdelose praktyke van mense – selfs godsdienstige mense! – aan die kaak te stel. Ons leef egter in ‘n gebroke werklikheid. Waar ‘n egskeiding wel plaasgevind het – om watter rede ook al – en daar ‘n tweede huwelik tot stand kom, word egpare vanuit bg uitsprake van Jesus opgeroep om hulle lewenspad in oënskou te neem, dit te belig in God se liefdeswil, daaroor met berou belydenis te doen soos nodig, en vervolgens die nuwe huwelik te koester en tot eer van die Here daarmee om te gaan. Die egpaar hoef nie te voel dat hulle nuwe huwelik vanweë die foute van die verlede gedoem is tot mislukking of in sonde voortbestaan en dat mens glad nie God se seën op die huwelik kan vra of verwag nie. As daar opregte belydenis van skuld by ons is en die hartlike begeerte om na sy wil te lewe, dan vergewe God ons sonde en stel Hy ons vry in ‘n nuwe lewe wat ons tot eer van Hom moet lewe. Dis alleen die verharding van harte en volharding in die sonde (in hierdie konteks: onverantwoordelike skei en trou, skei en trou, skei en trou) wat veroordeel staan deur God. Maar wanneer die hartseer van egskeiding ook in die lig van God se wil en genade hanteer word, en die nuwe huwelik aanvaar word uit sy hand, kan die egpaar ook hierdie nuwe lewenspad loop met die volle vertroue dat hulle die seën van die Here kan verwag.

Dit behoort uit bostaande beredenering duidelik te wees dat dit in hierdie sake nie gaan oor die klakkelose nakom van “wetsbepalings” oor egskeiding en dan is alles weer reg nie. Daar moet veral aan die gees van die wet voldoen word. Die wetsbepalings is eintlik net daar vir dié wie se harte hard is (Matt 19:8). ’n Huwelik, egskeiding of tweede huwelik slaag nie bloot omdat aan sekere reëls voldoen is nie, selfs al is dit Bybelse reëls, maar wanneer mense mekaar van harte aanvaar en vergewe, en as nuwe mense in die aangesig van God die pad saamloop.

As die gees van die wet rakende huwelike uitgeleef word, dan word die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik eerbiedig, en dan word die huwelik beleef en geleef as ‘n permanente lewensverbintenis waar man en vrou mekaar in liefde ondersteun. Egskeiding is dan hoogs uitsonderlik, selfs waar moeilike tye beleef word. En wanneer ernstige probleme ontstaan waar egskeiding ‘n laaste uitweg is (bv weens volhardende mishandeling of owerspel), moet hard probeer word om eers versoening te bewerkstellig. Iets soos owerspel verplig nie tot egskeiding nie, maar is eintlik ‘n toegewing as dit nie anders kan nie. Vir Christene is die eerste opsie egter altyd om te kyk of versoening, restitusie en herstel nie moontlik is nie. Daar is baie voorbeelde waar huweliksgeluk na so ’n ernstige misstap weer moontlik was. Maar natuurlik vra dit opregte berou en vergifnis van beide egliede.

En wanneer ‘n huwelik werklik onherstelbaar verbrokkel het en daar wel egskeiding plaasvind, is die regte hantering hiervan nie om te vra of formeel aan bepaalde Bybelse reëls voldoen is voor ‘n tweede huwelik kan plaasvind nie. Die tweede kans moet eerder met dankbaarheid uit die hand van die Here ontvang en met hernude toewyding aangegryp word. En dit is altyd aan te beveel dat die afsluiting van die ou pad en die begin van die nuwe pad ook saam met die hulp van kundiges in huweliksberading aangepak word sodat die nuwe paartjie as mense wat waarlik vrygemaak is van die verlede die tweede huwelik kan begin.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Vergifnis na erge trauma – Hermie van Zyl

Mariana vra

My man is ‘n alkoholis. Ons is al twee jaar uitmekaar. Hy bly nou saam met ‘n ander vrou en ons het nie eintlik meer kontak nie. Hy het my emosioneel baie mishandel. Hoe vra ek die Here dat ek my man kan vergewe? Hoe vergewe ek myself omdat ek my kinders by so ‘n pa grootgemaak het? Hulle is nou 19, 23 en 28. Al drie is dogters en almal het soveel emosionele skade opgedoen. Wat doen ek met die selfverwyt? Ek weet ek moet alles agter my sit, want ek kan nou niks verander nie. Moet ek nog vir hom bid? Wat maak mens met die skuldgevoel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is ‘n vrou wat met wisselende emosies sit. Sy het erge trauma oor ‘n lang tyd beleef as gevolg van haar gewese man wat haar emosioneel mishandel het, en sy weet nie of sy dit oor haar hart kan kry om hom te vergewe nie. Hiervoor soek sy hulp by die Here. Verder sit sy ook met selfverwyt en skuldgevoelens oor sy toegelaat het dat haar dogters emosionele skade opgedoen het weens haar man se optredes. Het hulle nie dalk onherstelbare skade gely nie? Sy voel dis alles haar skuld, dat sy hulle gefaal het. Tog weet sy dis die beste om die verlede agter te laat en vorentoe te kyk. Want wat gebeur het, het gebeur. Sy kan niks aan die verlede verander nie. ‘n Mens kan nie jou lewe lank ‘n gevangene van die verlede bly nie. God het tog sekerlik iets beter vir haar weggelê in die toekoms?

Hierdie is geen maklike kwessies nie. Skuldgevoelens, selfverwyt, ‘n onvermoë om te vergewe, ‘n onwilligheid om die verlede agter te laat en gebrek aan ‘n toekomsvisie skep ‘n “perfekte emosionele storm” en kan van ‘n mens ‘n wrak maak wat jou lewe ruïneer. Hoe help ons haar op haar weg vorentoe?

Eerstens, maak vrede met die keuses wat jy gemaak het in die verlede. By terugskou is dit maklik om te sê dat jy eerder jou kinders en jou goed moes gevat en geloop het. Maar dis maklik om dit nou te sê; nou is die kinders groot en relatief onafhanklik; al drie kan waarskynlik grotendeels vir hulleself sorg. Maar toe die kinders klein was, was dit ‘n ander storie. Toe was daar ander faktore wat ‘n rol gespeel het: die opvoeding en versorging van die kinders; finansiële sekuriteit; die hoop dat die situasie kan verander. Al hierdie oorwegings kon ‘n rol gespeel het waarom jy nie tóé jou man verlaat het nie. Dis keuses wat jy tóé moes maak wat waarskynlik nie anders kon nie. En met daardie keuses in die verlede moet mens vrede maak, selfs al was hulle by terugskou verkeerd. Niemand van ons is volmaak nie; almal maak groter of kleiner foute waarmee ons moet saamleef vir die res van ons lewe. Dit help nie om nou te sê ek moes destyds anders gekies het of van beter geweet het nie. ‘n Mens maak keuses by die lig wat jy op daardie oomblik ontvang. As jy dink – by die lig wat jy nou oor jou verlede het – dat dit destyds foutiewe keuses was, vra dan die Here om vergifnis, aanvaar sy vergifnis, en leef uit daardie vergifnis. Maar moenie tob oor jou swak keuses van die verlede net omdat jy nou in ‘n beter posisie is om daaroor te oordeel nie. Die Here hang ons nie op aan ons verlede nie. Anders sou Jesus nie vir die vrou wat in owerspel betrap is, gesê het nie: “Jy kan maar gaan, en moenie verder sondig nie” (Joh 8:11).

Tweedens, ek weet nie hoe die verhouding met jou dogters is nie, maar as dit kan, neem hulle in jou vertroue en speel oop kaarte met hulle. Sê vir hulle hoe jy voel oor die verlede – dat jy voel jy het hulle in die steek gelaat. Praat die saak met hulle deur; hoor hoe húlle reageer en daaroor voel. Kinders het partykeer ‘n heel ander perspektief as die ouers op dieselfde situasie. Verder, die drie kinders het nie noodwendig elkeen dieselfde gevoelens oor dinge wat na jou mening verkeerd geloop het nie. En as dit so is dat hulle letsels opgedoen het, vra dan hulle vergifnis daarvoor. Probeer ‘n nuwe verstandhouding met hulle aangaan waarop die verhouding met hulle in die toekoms gebou kan word. Probeer aan hulle verduidelik waarom jy destyds die keuses gemaak het wat jy wel gedoen het. Jy mag dalk net agterkom dat hulle emosionele letsels veel minder is as wat jy self oor skuldig voel. En dan straf jy jouself onnodig. Die punt is: moenie alléén oor die verlede wroeg nie, praat openlik die dinge deur met jou dogters; kry alles in die oopte. Dit op sigself behoort al klaar ‘n stuk verligting en genesing van die skuldgevoelens te bring.

Derdens, jou man. Jy sê nie of julle formeel geskei is nie; ek vermoed van nee, want jy praat nog van jou man asof julle steeds getroud is, hoewel hy intussen by ‘n ander vrou ingetrek het. Maar dit klink of die band permanent verbreek is; jy stel nie daarin belang om die huwelik te probeer red nie. Al wat jy graag wil doen, is om finaal afskeid te neem van daardie deel van jou lewe en vorentoe te beweeg. Indien my opsomming korrek is, dink ek die eerste stap nou is om formeel van hom te skei. Egskeiding bring finaliteit en open nuwe moontlikhede. Want soos sake nou staan, kan jy nie met ‘n goeie gewete nuwe verhoudings aangaan nie. En indien jy sou, sal dit weer nuwe skuldgevoelens by jou kweek. Daarom, pak die bul by die horings en bring formeel ‘n einde aan daardie deel van jou lewe. Dis deel van die genesingsproses. Jy mag dalk vind dat die nuwe situasie van geskei te wees in sigself ‘n stuk terapie is wat dit gaandeweg ook vir jou makliker sal maak om daardie hoofstuk af te sluit. Dit wys dat jy beheer kan neem van jou lewe; jy is nie meer ‘n gevangene van jou verlede en emosies nie. Dit gaan dit ook vir jou makliker maak om hom te vergewe as jy sterker staan in jou eie emosies. Want om daardie hoofstuk werklik af te sluit, sal jy hom uiteindelik móét vergewe. Anders gaan dit aan jou bly vreet, anders bly hy deel van jou lewe. En onthou, vergifnis is nie ‘n emosionele, spontane reaksie nie. Dis ‘n geloofsbesluit wat jy neem om uit God se genade vir jóú te lewe, en op grond daarvan ook ander wat jou onreg aangedoen het, te vergewe. Jy sien dan in die eerste instansie jousélf as medesondaar wat vergifnis nodig het, en vervolgens raak dit ook makliker om ander se oortredings te vergewe. Ons is immers almal sondaars by wie dit ontbreek aan God se heerlikheid (Rom 3:23). En vanuit hierdie breër perspektief op jouself én ander vat jy dan elke dag op sy eie en lééf vanuit daardie geloofsbesluit. En gaandeweg sal jy ervaar dat daar genesing kom en dat jou emosies ook in pas kom met die besluit wat jy geneem het.

Laastens, kom ons werp ‘n bietjie lig op jou situasie vanuit twee Bybelfigure se lewe. Paulus het geweldige skuldgevoelens beleef omdat hy vóór sy bekering die gemeente van God vervolg het. Dit slaan deur in Skrifgedeeltes soos 1 Kor 15:9, Fil 3:6 en 1 Tim 1:13 waar Paulus sê dat hy vanweë sy vorige lewe nie op enigiets kan aanspraak maak nie; trouens, hy sien homself as die geringste van die apostels. Hy sê ook dat hy by terugskou nou verstaan dat hy destyds in totale onkunde gehandel het; hy het nie mooi geweet het wat hy doen nie, want tóé het hy nog nie die opgestane Here op die Damaskuspad ontmoet nie. Die blote feit dat hy hierdie dinge in meer as een van sy briewe noem, briewe wat op verskillende tye van sy bediening geskryf is, lê sy hart bloot – dat hy nooit heeltemal daarvan kon vergeet dat hy so dom en onnosel was, dat hy vroeër in sy lewe sulke verkeerde besluite geneem het nie. Tog sê hy dat hy die dinge wat verby is, agtergelaat het en dat hy hom nou uitstrek na wat voor is (Fil 3:13). Hy kan dit doen omdat hy die genade van God aanvaar het. Hy kan nou voluit vir die Here werk, selfs harder as al die ander apostels. Dus, ten spyte van sy slegte verlede het hy besluit om hom nie sy lewe lank daaroor te verknies nie, maar om aan te beweeg en vrugbaar te arbei in die wingerd van die Here. Dieselfde met die dissipel Petrus. ‘n Mens kan net dink watter geweldige sielewroeging hy moes deurgaan nadat hy sy Meester verloën het. Petrus kon homself ook, soos Judas, gaan ophang het, maar hy besluit om die Here se vergifnis te aanvaar, asook die nuwe taak wat die Here aan hom opdra – om sy kudde te versorg – en voortaan voluit met hierdie roeping besig te wees (Joh 21:15-19). Dit ís dus moontlik om jou slegte verlede agter te laat en die toekoms wat God se genade in Christus vir jou ontsluit, in die geloof aan te gryp en ‘n nuwe lewe te begin. Dit is die enigste pad wat werklik sin maak. Ek wens dit van harte vir jou toe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Vergifnis – Francois Malan

Anna vra:

Hi, ek het iemand wie ek moet vergewe, alhoewel dit moeilik is. As ek sover kan kom om te vergewe, maar ek wil die persoon nie sien nie, is ek dan verkeerd. Ek worstel met vergifnis teenoor die persoon.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Ek weet te min van die redes agter die vraag om spesifiek daaroor ‘n mening te gee; maar bied hieronder Bybeltekse aan wat die Here se aanwysings oor vergifnis vir ons gee.

In Matteus 6:14-15 sê Jesus vir sy dissipels: As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe, Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.

In Matteus 18:21-35 vra Petus vir Jesus: Here hoeveel keer moet ek my broer (mede-gelowige) vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?

Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer.

Daarby vertel Jesus toe ‘n gelykenis oor hoe die koninkryk van die hemel vergelyk kan word, met ‘n koning vir wie sy amptenaar miljoene rand geskuld het, en toe hy om uitstel vra het die koning hom van al sy skuld vrygestel. Maar toe die amptenaar ‘n mede-amptenaar wat hom ‘n paar rand skuld kry, het hy hom gewurg en in die tronk laat gooi. Toe die koning dit hoor het hy die eerste amptenaar laat haal en gesê Jou skurk, ek het jou jammer gekry, moes jy nie ook jou mede-amptenaar jammer gekry het nie? Toe het die konng hom oorgegee om gemartel te word totdat hy sy skuld betaal het.

So sal my Vader wat in die hemel is ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.

In die Onse Vader wat Jesus ons leer bid het, bid ons ook (Matteus 6:12) ‘en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.’

So vergewe God al die sondeskuld van ons hele lewe as ons in berou na Hom toe kom in gebed, en verwag Hy dat ons mekaar ook van harte sal vergewe. Dit beteken dat ons nie kan sê: ek wil die persoon nie sien nie.

In Matteus 5:44-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (deur ook julle vyande lief te hê). Vergelyk ook Lukas 6:27-36

Romeine 12:26-27 sê: As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Wat is vergifnis?

 

Until Christ’s return, there is only a pilgrim church here on earth, not a perfected one. —Sinclair Ferguson

Wat is vergifnis?

I asked God for a bike, but I know God doesn’t work that way. So I stole a bike and asked for forgiveness.” (Al Pacino)

Hier is ‘n spanning: As God dan vergewe, waarom moet ons na ‘n heilige lewe strewe? As die skuld reeds betaal is, hoekom moet ons vooruitgaan? Hierdie spanning is die gevolg van ‘n verwarde siening van genade.

Wat is genade? Genade is nie ‘n ding wat God uitdeel en as dit op is, is dit op nie. God gee Homself wanneer ons dit nie verdien nie. Genade is ‘n gawe, maar God is nie net die Gewer nie … Hy Homself is die Gawe.

Maar wat doen genade? Hoe werk dit? Genade verander alles. Dit red en maak heilig. Ons ontvang genade, maar word nie daardeur verander nie, want ons verstaan dit nie.

Daar is vyf ernstige wanbegrippe oor genade:

  • Genade gee aan ons toestemming om te sondig. As God in sy genade sonde vergewe, waarom nog sukkel met reg lewe? Hierdie denke aanvaar dat dit God se werk is om ons sondes  te vergewe. Genade is nie toestemming om te sondig nie – dit is die krag om sonde te oorwin. Heiligheid is nie ‘n voorvereiste vir genade nie – dit is ‘n produk van genade.
  • Genade vul die gapings.”Doen jou bes en God doen die res.” Hiervolgens doen ons self meeste van die harde werk en God vul net aan waar ons sukkel. Die probleem met hierdie siening is dat ons die omvang van sonde totaal onderskat. Die Bybel sê nie dat ons mense is wat ‘n bietjie hulp nodig het om oor die wenstreep te kom nie – die Bybel sê dat ons geestelike lyke is wat nuwe lewe nodig het. As ons die Bybel se leer dat sonde elke deel van my lewe betrek aanvaar, sal ek besef ek het nie net so ‘n bietjie afronding nodig nie – genade is die begin, middel en einde van die Christen se lewe. Hoe eerliker jy oor sonde is, hoe meer sal jou hart hom in genade verheug.
  • Genade is God wat sy standaarde laat val. Genade beteken nie dat God sy wet afwater nie, maar dat Hy sy Seun stuur om dit te vervul – iets wat die mens vantevore nie kon regkry nie. Deur die vernuwende effek van die evangelie en die mag van die Heilige Gees kan die Christen ‘n lewe van liefde lei wat begin om in lyn te kom met die standaarde van God se wet.
  • Genade staan teenoor poging. Nie waar nie.Grace is not opposed to effort, it is opposed to earning.” (Dallas Willard). Christene moet hard werk en streef, maar ons doen dit nie om genade te ontvang nie, maar omdat ons genade ontvang het. Ons word nie deur skuldgevoelens gemotiveer nie, maar uit dankbaarheid. En die evangelie is die grootste motiveringskrag in die wêreld.
  • Genade is vir Goddelike mense. Hierdie siening berus op ‘n wanbegrip dat God van goeie mense hou en nie dat God se liefde mense goed maak nie. Die Bybel is nie die verhaal van God wat goeie mense soek nie, maar een van God wat sondaars vergewe. Genade is vir goddelose mense, maar genade maak hulle goddelik.

Daar is drie vyande van genade:

  • Trots.Ek wys ‘n gratis gawe van die hand, want as ek dit aanvaar, kry ek nie krediet daarvoor nie. Die grootste vyand van genade is egter dat ek dink dat ek dit nie nodig het nie. Genade verander my van binne na buite. Ons weerstaan genade, want ons wil voel ons het dit verdien.
  • Ek glo ek is daarop geregtig. Die oomblik wat ek dink dat ek genade verdien, verloor genade sy krag. Genade moet my dankbaar maak.
  • Selfbejammering. Ek is nie goed genoeg om so ‘n gawe te ontvang nie. Ons hoor dikwels: “Ek weet dat God my kan vergewe, maar ek kan myself nie vergewe nie.” God is ‘n groter Verlosser as wat jy ‘n sondaar is. Vertrou net – sy genade is voldoende.

God sien nie sonde oor nie, maar Hy vergewe en verander sondaars. God se liefde ontmoet ons daar waar ons is, maar dit los ons nie daar nie