Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (5)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (5)

  • Redding

As ‘n mens gered moet word, veronderstel dit jy is in ‘n groot ge­vaar. Waar kom die gevaar dan vandaan?

Dit is baie sleg om eensydig nadruk te lê op die liefde en genade van God. Ons aanvaar dit later as vanselfsprekend. En dan is dit lankal nie meer goeie nuus wat ons in beweging bring nie. Iemand het gevra: “What is so amazing about grace?” na aanleiding van die lied “Amazing Grace”. *Genade het goedkoop geword. Son­der die donker agtergrond van die *toorn en die *oordeel van God oor ons *sonde, word sy liefde en genade vaal.

Daar is in die Nuwe Testament baie ernstige waarskuwings teen die *hel. Maar ek het in 30 jaar nooit ‘n preek gehoor waarin hier­die waarskuwings ernstig oorweeg word nie. Intussen stroom die versekerings van God se liefde erediens na erediens oor ons. Is dit regtig nog goeie nuus wat ons opgewonde maak?

God is heilig. Hy haat die sonde. Hy wil dit met die dood straf.

Ons is sondaars. Ons staan onder die oordeel van God. Wat gaan van ons word?

Trouens, ons kry eers ‘n redelike idee van hoe erg God oor die sonde dink as ons na Jesus se vernedering en kruisdood kyk. Dis wat dit die Vader en die Seun kos om ons van die verderf te red. Eers in hierdie lig begin ons besef: genade is duur. Dis nie vanself­spre­kend nie. Dis peperduur. Maar God het besluit om die prys self te betaal. Dis dus genade dat Hy genadig is. Juig! Dis goeie nuus!

Die begrip “redding” bied dus ‘n besondere perspektief op die heilsweg. Dit herinner ons daaraan dat ons in groot gevaar is son­der die genade van God, en dat ons met albei hande sy aan­bod moet aanvaar. Die begrip “redding” kom minstens 25 keer by Paulus voor in die sin van verlossing met die oog op die ewige lewe. Dit is in­teressant dat dit net soveel keer in die Evan­gelies en Handelinge gebruik word vir *genesing. Die implikasie daarvan kan wees dat genesing ‘n wesenlike deel is van die heil wat Christus gebring het. (*Heil)

Net Lukas gebruik dit (in Handelinge) vir beide verlossing en genesing (4:10, 12).

Nogeens is dit duidelik dat redding dus nie een stasie op ‘n lang pad is nie, maar eerder een perspektief op die manier waarop ons aan die heil, dit is die gemeenskap met die Here, deel kry. Redding sê ons word uit groot moeilikheid verlos.

 

  • Vergifnis

Vergifnis veronderstel skuld. Maar in hierdie geval is dit skuld wat te groot is om te betaal. Dit bring weer iets na vore van *redding uit verlorenheid, uit ‘n groot gevaar.

Daar is heelwat van die begrippe wat ons vir die heilsweg ge­bruik wat so ‘n radikale betekenis het. Redding veronderstel verloren­heid, wedergeboorte veronderstel dat ons misluk het (ons moet oor ge­bore word), bekering veronderstel ons loop op die ver­keerde pad in die verkeerde rigting, iets van: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop”(Jes 53:6). En vergifnis impliseer dat ons nie ons eie verantwoordelikheid kan aanvaar en uitvoer nie. Iemand moet vir ons instaan.

Is dit nie vernederend nie? Ja, dit is. ‘n Mens wil graag jou eie ding doen, self jou verantwoordelikheid nakom. Maar skynbaar kan ons nie. Daar is ‘n ou leerstuk wat lui dat ons totaal verdorwe is. (*Totale verdorwenheid, corruptio totalis) Dit beteken nie dat ‘n mens wat nie die Here ken nie, niks goeds kan doen nie. Natuurlik doen baie ongelowiges wonderlike dinge. Maar nie hulle of ons kan enigiets doen om ons saligheid by God te verdien nie.

Natuurlik is dit vernederend. Dit beteken ons moet van *ge­nade leef, van iemand anders se goedheid. Maar die werklike oorsaak van ons vernedering is nie dat ons van genade moet leef nie, maar dat ons sondaars is. Sonde verneder ‘n mens. Dis sommer in die gewone lewe sigbaar. Kyk hoe lyk mense wat hulle lewe aan die duiwel wy. Jy sien dit later sommer op hulle gesigte.

Daarteenoor is vergifnis en genade verheffend. Dit gee ‘n mens weer waarde. Dit verseker jou: God gee soveel vir my om dat Hy selfs sy Seun gegee het.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Vergifnis – Vraag

Henk Geyer vra:

As die Woord van God ons riglyn is, is ek veronderstel om eers iemand sy oortreding teen my te vergewe wanneer hy dit teenoor my bely het? 

Antwoord deur Prof Jan van der Watt

Henk gee nie die teksgedeelte wat hy in gedagte het nie, maar dit hang saam met die opdrag om ons sondes teenoor mekaar te bely. Die hart van sondebelydenis is om verhoudings te herstel wat seergekry het of stukkend geraak het vanweë verkeerde gedrag of lelike optrede. Daarom moet ons sonde bely, omdat God ons roep om in gesonde verhoudings met mekaar te leef. Sondebelydenis wil dus altyd verhoudings gesond maak. Sondebelydenis en vergifnis is egter twee sye van dieselfde munt.

In Matteus 18:15-35 word die hele saak van vergifnis bespreek. Jesus sê vir Petrus dat hy 70×7 maal moet vergewe. Vergifnis het dus nie grense nie. Om dit te verduidelik volg die verhaal van die koning (as beeld van God) wat ʼn amptenaar uit genade vergewe. Die amptenaar wat nou net die wonder van die vergifnis ervaar het, doen egter nie dieselfde nie en vergewe self nie sy medeamptenaar wat hom iets skuld nie. Toe die koning dit hoor, roep hy weer die amptenaar en hierdie keer vergewe hy hom nie weer nie. Hy stuur hom reguit tronk toe. Nou sou ʼn mens kon vra: wat het nou van die 70×7 geword, want die koning (as beeld van God) het net eenmaal vergewe en die tweede maal nie. Hoe moet ʼn mens dit verstaan?

a) Sondebelydenis wil ons verhoudings normaliseer – die koning vergeef die amptenaar en so herstel hy weer die verhouding met hom.

b) Die amptenaar reageer egter nie soos iemand wat in die verhouding reg wil leef nie, want hy tree presies die teenoorgestelde op as die koning.

c) Die koning straf hom nou nie oor wat hy skuld nie, maar omdat hy nie leef volgens die herstelde verhouding nie.

Daar hou vergifnis dus op?! In die sin is dit reg dat met vergifnis daar altyd die voorwaarde saamgaan dat die verhouding tussen beide partye herstel moet word. Dit is nie eenrigting verkeer dat die een maar net moet vergewe en die ander party maar kan doen wat hy of sy wil nie. Dit is waar belydenis inkom – belydenis is die aanduiding dat die persoon wat die fout gemaak het, die verhouding wil herstel. As dit die geval is, mag jy nie die gebaar van die hand wys nie – nooit nie: dit is waar die 70×7 inkom. Daar mag geen beperking gestel word aan hoeveel keer ʼn gelowige bereid moet wees om weer voor te wil begin en verhoudings met ander te wil herstel nie. Ons moet altyd daarna streef om verhoudings te herstel en ons verhoudings gesond te hou. Dit verwag die Here van ons. 

Van hierdie bereidheid om te vergewe mag egter nie misbruik gemaak word nie – soos gesê is, vergifnis is nie eenrigting verkeer nie, maar is die een sy van die munt: belydenis is die ander sy. Die twee moet altyd saamgaan. As die persoon wat bely nie opreg is nie en nie werklik die verhouding wil herstel nie (soos die amptenaar in die gelykenis), kan vergifnis ook nie funksioneer nie. Die doel van vergifnis is immers om die verhouding weer te herstel en as dit nie gebeur nie, werk vergifnis nie regtig nie (dit word ook met tug in die gemeente geïllustreer – Matteus 18:15-17). 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Vergifnis van sonde – Vraag

Vergifnis van sonde – Vraag

Chris Krause vra die volgende vraag:

Met verwysing na die artikels oor die vergifnis van sonde. Dit het my nog altyd bepla dat ons aan die eenkant praat van die vergifnis van sonde, maar aan die anderkant weer verkondig dat Jesus met sy kruisdood die straf van ons sonde vir ons gedra het. Ek is ook in die Sondagskool geleer dat God nie sonde kan oorsien (vergewe) en dat dit die rede is hoekom Jesus moes betaal. Sekerlik, as die kruisprys betaal is, is daar nie sprake van vergifnis maar eerder van liefdevolle opoffering van Jesus en van God se kant af. Of hoe nou? 

Antwoord:

Dankie vir ‘n baie goeie en moeilike vraag!

Waarom vergewe God? Omdat sy woede “afgekoel” is deur ‘n bemiddelaar? Omdat sy wraak in liefde verander word deur ‘n losprys wat betaal word?

Ek dink dat ons almal geneig is om God se liefde en geregtigheid teenoor mekaar te stel.

Jaap du Randt het gereeld gesê: God se oordeel staan nooit los van sy liefde nie. Sy oordeel is die ander kant van die muntstuk, want ‘n God van liefde sit nie langs dieselfde vuur met onreg wat soveel leed en lyding veroorsaak nie.

God – wat liefde is – het sy Seun opgeoffer (gegee – Johannes 3:16 en oorgegee – Romeine 8:32) om vir ons sondes te sterf. So het Hy vir ons skuld betaal. Die skuldbewys teen ons is vernietig (Kolossense 2) en God het ons, wat goddeloos was, vrygespreek. Maar Hy doen dit OMDAT Christus, die sondelose, vir ons ontwil tot sonde gemaak is, sodat ons vergifnis kan ontvang. Vry en verniet. Genade en nogmaal genade alleen.

God vergewe nie om sy woede af te koel nie…. En sy wraak verander nie in liefde nie…

Hy is en bly altyd liefdevol en regverdig, heilig en genadig, ‘n verterende vuur en ‘n sagte hand…

 

Skrywer: Dr Danie Malan 

 




Die kans om oor te begin (Vergifnis)

Die kans om oor te begin (Vergifnis)

Vergifnis is die wonderlikste ding wat God vir ons gegee het. As jy nie kan vergewe nie, het jy nog nie mooi verstaan waaroor God en sy boodskap gaan nie. Dit is God se manier om die verhouding tussen ons as gelowiges gesond te hou.

God het eerste vir ons gewys hoe vergifnis lyk. Dit is om ʼn swak geheue te hê as dit by ander se foute kom, om nie oor dinge wat ander teen jou gedoen het, te top nie. Dit is veral om nie planne uit te dink hoe jy ander kan terugkry nie. Vergifnis is presies die teenoorgestelde van wraak. So het God nie vasgekyk teen wat ons alles teen Hom gedoen het nie. Hy het eenvoudig in liefde daarby verby gekyk en ons alles vergewe.

Net so wil Hy hê moet ons met mekaar maak. Ons moet vergeet wat ander teen ons gedoen het. So gee ons mekaar kans om voor en weer te begin. Dink net wat sal gebeur as almal al die dinge wat jy verkeerd gedoen het, teen jou hou. Jy sal geen vriende meer oorhê nie. Maar juis omdat hulle jou vergewe en aanvaar soos jy is, kan jy nog hulle vriend of vriendin wees. Vergifnis gee lewe en laat mense oor begin. Dit is die petrol wat ons verhoudings nodig het om aan te gaan.

Maar wat is vergifnis presies. Beteken dit dat ek heeltemal moet vergeet van iets wat iemand teen my gedoen het en wat my baie seergemaak het? Nie noodwendig nie; vergifnis beteken dat jy iets wat teen jou gedoen is, oorsien; nie dat jy nooit weer daaraan sal dink of dit sal onthou nie. Vergifnis is dat jy nie wraakgedagtes teen die ander persoon koester nie. Jy moenie hier binne in jou gedurig planne maak oor hoe jy die ander ou gaan terugkry nie. As iemand jou baie seergemaak het, kan jy dit waarskynlik nooit vergeet nie. Ons kan nie ons geheue programmeer om alles net te vergeet nie (as jy oud word, begin dit wel te gebeur). Ons onthou eenvoudig dinge en voel partymaal selfs emosioneel daaroor. Dit is menslik. Maar dit beteken nie dat jy nog nie vergewe het nie. Al onthou jy nog, maar maak nie planne om die ander persoon terug te kry of seer te maak nie, het jy vergewe.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy