Verkoop in die kerk – Jan van der Watt

Leser vra (teks effens verkort):

Daar is ‘n bediening in die kerk wat klere verskaf hulpbehoewende mense. Klere word deur die gemeentelede en gemeenskap geskenk. Die afgelope jaar is die fokuspunt verskuif. Die klere word nou verkoop en aanvraag van arm mense het met 98% afgeneem. Mense het nou nie meer die vrymoedigheid om te kom vra vir klere nie. Die klere nou aan eksklusiewe kopers van goeie tweedehandse klere teen weggeepryse verkoop. Die geld word gebruik om kosvoorrade aan te koop vir armoedige gesinne.

Kwelvrae:
Hoe Bybels is die handeldryf in die kerk? Verder word daar gewonder oor die verkoop van die klere aan ryker kopers en of die verkopery nie die projek in ‘n winkel verander nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hoewel die reaksies in Bybelkennis oor die Bybel en Bybelse inligting gaan en ons normaalweg nie op sulke praktiese vrae fokus nie, verdien die vraag tog ’n opmerking of twee. Die vraag of die kerk mag handel dryf moet binne konteks gesien word. In Johannes 2:13-17 lees ons van Jesus wat die handelaars uit die tempel gejaag het met die waarskuwing dat hulle nie die huis van sy Vader ’n besigheidsplek moet maak nie. Dit gaan hier egter oor die totale verandering van die kerk se funksie en waarvoor dit gebruik word. God word nie meer daar gedien nie, maar geld. As dit in enige gemeente die geval is, moet rooi ligte aangaan. God hou nie daarvan nie.

Aan die ander kant, as kerke geld insamel (deur basaars, of met projekte soos hierdie een blyk te wees) om hulle roeping om ander te help te vervul (vgl. 1 Joh 3:16-17) en so die Evangelie te verkondig, is dit ’n ander saak. Die geld moet nooit die fokus word nie, maar die liefde en diens aan ander en God moet die dryfveer wees.

Wat die manier van geld insameling betref: Die vraer noem twee moontlikhede: om klere weg te gee of om dit te verkoop en die geld dan te gebruik om ander te help. Beide is ewe geldig. Maar wat is nou die verskil? Die situasie maak die verskil. As mense nie klere het nie, gee vir hulle klere. As hulle egter kos meer as klere nodig het, gee vir hulle kos. As jy dan die klere het asook ’n mark daarvoor en jy die geld vir kos kan gebruik as kos nodig is, lyk dit na ’n werkbare opsie. Dit is gewoon praktiese wysheid. Die Bybel gee geen riglyne oor wat mens moet kies nie, maar sê wel dat ’n mens in gebed en afhanklikheid van God hierdie praktiese wysheid soek (byna soos Salomo). En ’n mens moet altyd onthou dat die Here graag wil hê dat ons in liefde en vrede moet saamwerk. Uitvoering van hierdie opdrag begin gewoonlik by onsself.

Skrywer: Prof Jan van der Watt