Die aard van ons verlossing

 . —David Shepherd

Die aard van ons verlossing

Ek is tans besig om na Paulus se brief aan die Filippense te kyk. Paulus dink na oor die menswording van Jesus Christus – die feit fat Hy waarlik mens geword het. Hoekom? Om die mens te verlos. Dit vereis vernedering, gehoorsaamheid, lyding en die dood aan die kruis. Maar die dood is nie die finale woord nie. Christus oorwin die dood en word verheerlik. Sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie wou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader (2:10 – 11).

 

Paulus gaan verder en praat van die dag van die Here. Dit is die dag van sy wederkoms. Maar Paulus is nie swaarmoedig oor hierdie dag nie:  Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (1:6). Hierdie dag word gretig deur al Jesus se volgelinge afgewag.

Paulus beskryf God se verlossingsplan: van menswording tot sy finale verheerliking met sy tweede koms. En dan beskryf hy die wonder: Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (3:21). Die uiteinde van sy verlossingsplan is dat ons as sy volgelinge altyd die lewe saam met ons Verlosser sal geniet.




Verlossing en God se soewereiniteit (3)

Jesus is the focus of Scripture. The Bible is not a random collection of religious documente –  John Stott

Verlossing en God se soewereiniteit (3)

Christopher J. H. Wright (Salvation belongs to our God) het ‘n uitstekende oorsig van verlossing gegee. Ons kyk vandag verder na Verlossing en God se soewereiniteit.

Mense kom tot verlossing deur die storie van die Bybel te hoor en in Jesus Christus te glo. Wat nou van mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie? Wat van Abraham wat  lank voor Jesus Christus geleef het? Is ons verlossing deur Jesus Christus of deur ons kennis van Hom?

 

Kan mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie, verlos word? Daar is twee groepe wat glad nie hier ter sprake is nie – hulle kan nie verlos word nie.

  • Mense wat glo dat hulle op ander maniere deur ander godsdienste verlos kan word.
  • Mense wat van Jesus Christus gehoor het, maar Hom verwerp het.

Op die vraag of mense wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie, verlos kan word kry ons een van twee antwoorde wat lynreg teenoor mekaar staan:

  • Dit is heeltemal onmoontlik; daar is geen hoop op verlossing nie

Mense wat dit glo verwys dikwels na twee verse: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander manier op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12); Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Hiervolgens is Jesus Christus die enigste pad  na verlossing. Mense wat nog nooit van Hom gehoor het nie, kan dus nie verlos word nie.

  • Daar is wel hoop op verlossing

Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moet rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie (Handelinge 17:26 – 27). Miskien sal dit help as ons hierdie groep verder onderverdeel.

Wat van gelowiges in die Ou Testament? Hulle het nie geweet van die geskiedkundige Jesus Christus nie. Hulle verlossing was as gevolg van God se inisiatief en sy genade. Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek (Romeine 4:3). Dieselfde geld ook vir nie Jode soos Ragab, Rut, Naäman:  Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo (Galasiërs 3:8). Hierdie mense is verlos al het hulle lank voor die koms van Jesus Christus geleef.

Wat van mense vandag wat nog nooit van Hom gehoor het nie? Mense wat glo dat daar wel hoop op verlossing is, glo dat God in sy genade hierdie mense gaan verlos. Net God ken die harte van hierdie mense.

Ons staan voor twee keuses. Wat kies ons? Dwarsdeur hierdie reeks oor verlossing het die klem geval op wat God in die geskiedenis gedoen het. Dit is herhaaldelik beklemtoon dat die normale manier van verlossing is dat ons Jesus Christus ken en in Hom glo. Kan ons aanvaar dat God onwillig is (of nie die vermoë het) om mense op enige tyd te verlos nie?  Kan ons die soewereine God se genade ten opsigte van verlossing inperk? Ons moet toelaat dat God God kan wees. As ons sê dat verlossing aan God behoort beteken dit ook dat Hy kan kies wie Hy wil verlos.

Die Here ken dié wat aan Hom behoort (2 Timoteus 2:19).




Verlossing en God se soewereiniteit (2)

It is Christ Himself, not the Bible, who is the true word of God. The Bible, read in the right spirit, and with the guidance of good teachers, will bring us to Him –  C. S. Lewis

Verlossing en God se soewereiniteit (2)

Christopher J. H. Wright (Salvation belongs to our God) het ‘n uitstekende oorsig van verlossing gegee. Ons kyk vandag verder na verlossing en God se soewereiniteit.

God se kosmiese eienaarskap

Uit Deuteronomium 10:14 het ons gesien dat die heelal aan God behoort – alles. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here (Psalm 24:1); Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne. Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm (Psalm 95:4 – 5).

Dit hou implikasies vir ons in.

  • As die aarde aan God behoort, beteken dit dat ons slegs huurders/rentmeesters is. Daarom hou God ons verantwoordelik vir hoe ons sy aarde gebruik en bestuur.
  • Wat vir God oor eienaarskap geld, geld ook vir Jesus Christus: God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak (Hebreërs 1:2). Waar ons dan in Jesus Christus se Naam gaan om die goeie nuus te verkondig, beweeg ons op sy eiendom.

God se kosmiese soewereiniteit

God het gesag oor alle magte en kragte in die heelal – materieel en geestelik. Dieselfde geld ook vir Jesus Christus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Paulus sê dat ten spyte van al die ander aansprake is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (1 Korintiërs 8:6).

God het al die gode onttroon. Hy nooi almal wat hierdie gode aanbid het uit om na Hom te kom om verlos te word.




Verlossing en God se soewereiniteit (1)

There is redemptive power in Christ

Crucufied unmatched anywhere else

F. F. Bruce

Verlossing en God se soewereiniteit (1)

Christopher J. H. Wright (Salvation belongs to our God) het ‘n uitstekende oorsig van verlossing gegee. Ons kyk vandag na Verlossing en God se soewereiniteit.

Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit (Openbaring 7:10). Wat doen God op die troon? Van daar heers Hy oor die hele skepping. Dit beteken: Verlossing is van ons God wat soewerein is.

Hierdie beeld van God wat op die troon sit, kom uit die Ou Testament. Jesaja sê dat hy die Here gesien het: Hy het op ‘n baie hoë troon gesit (6:1). Ook Esegiël sien vir God op die troon (1:26).

Deuteronomium 10:14 – 19  praat oor God se soewereiniteit.

  • Vers 14: Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop – alles behoort aan God.
  • Vers 17: Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie – God regeer die heelal.

Hier is twee aspekte waarna ons gaan kyk:

  • God se kosmiese eienaarskap; en
  • God se kosmiese soewereiniteit.

 Hierdie is twee groot stellings. Die vraag: Wat is die implikasies van hierdie stellings?

Volgende keer gaan ons kyk na die implikasies van die stelling oor God se eienaarskap en soewereiniteit van die heelal.