Is ek seker van my verlossing?

What God has done in his grace is to include us in Christ. In dealing with Christ he has dealt with the Christian; in dealing with the Head he has dealt with all the members –  Watchman Nee

Is ek seker van my verlossing?

Kan ek seker van my verlossing wees? Die Bybel sê: Beslis ja. Maar hoe kan ons seker wees?

  • Sekerheid kom deur die objektiwiteit van die storie

Verlossing is nie iets wat ek doen of voel of dink of bereik nie. As dit so was, kon ek beslis getwyfel het of ek genoeg gedoen het om verlos te word. Verlossing is egter iets wat God reeds gedoen het. Dit  leer ons uit die verlossingstorie in die Bybel.

Dit is ‘n storie gegrond op historiese feite en gebeure. Wat is hierdie storie? Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (2 Korintiërs 5:19). Die feite van die evangelie is daar; dit is hierdie feite wat verlossing moontlik maak. Hou daaraan vas, want dit is jou versekering en hoop.

  • Sekerheid kom van die beloftes van God

God het aan ons wat glo die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy beloof het (2 Petrus 1:4). In Hebreërs lees ons: En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is (6:15). Ons kan ook seker van ons geloof wees as gevolg van God se beloftes. Hierdie versekering kry ons dwarsdeur die Bybel.

  • Sekerheid kom deur die getuienis en werk van die Heilige Gees

Ons is verlos deur wat God gedoen het. Tog is daar ook ‘n innerlike en persoonlike kant aan verlossing. Dit is waar die Bybel die rol van die Heilige Gees beklemtoon. In Handelinge 10 lees ons die verhaal van Kornelius. Hier sien ons dat die gawe van geloof met die gawe van die Heilige Gees gepaard gaan: Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Die Heilige Gees oortuig ons van die waarheid van die evangelie.




Verlossing: ‘n Ondervinding

Christianity, in its purest form, is nothing more than seeing Jesus – Max Lucado.

Verlossing: ‘n Ondervinding

In Openbaring lees ons van die groot menigte wat voor die troon en voor die Lam staan. Hulle het wit klere aan en palmtakke in hulle hande. Hulle roep hard uit: Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit en van die Lam. Daarna kniel hulle en sing ‘n lofsang. Hierdie is duidelik ‘n beskrywing van ‘n feesviering – die fees van diegene wat verlos is. Hulle roep dit uit, want hulle wil hê dat almal dit moet weet.

 

Ons ondervind verlossing deur geloof, maar ook saam met ander mense. Verlossing is dus glo en behoort. – glo in die God wat verlos en behoort aan diegene wat God verlos het.

  • Ondervind verlossing deur geloof

God neem die inisiatief en verlos ons deur sy krag. God het dit gedoen; ons ontvang dit. All is of God, the only thing of my very own which I contribute to my redemption is the sin from which I need to be redeemed (William Temple). Verlossing volg op bekering – draai weg van jou sonde en jou opstand teen God en draai terug na God in gehoorsaamheid.

Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses verdelg Hy (Psalm 145:18 – 20). Let op aanroep … dien … liefhet.  Geloof is die manier waarop ons verlossing aanvaar, maar geloof is ook ‘n gawe van God. Ons word verlos deur God se genade en ons vertrou op Hom.

  • Ondervind verlossing onder God se mense

Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? (Romeine 10:13 – 14). Om verlos te word, moet ons die storie van verlossing ken. Verlossing beteken dat ek vertrou op wat God reeds vir my gedoen het – en dit is die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus. Ons moet die God wat verlos, ken: Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (Romeine 10:17). Ons word verlos deur deel te word, saam met al sy mense, van God se storie. Hierdie is die mense wat God gekies, geroep, verlos en deel van sy gemeenskap gemaak het.




Verlossing: verlede. hede. toekoms

Anyone who does not believe in miracles is not a realist – David Ben-Gurion

Verlossing: verlede. hede. toekoms

‘n Deel van die verlossingsverhaal lê in die verlede – dit het in die geskiedenis gebeur en kan nie verander word nie. ‘n Deel van die verlossingsverhaal lê in die hede – dit is ‘n voortdurende proses waarin ons God vra om ons te verlos. ‘n Deel van die verlossingsverhaal lê in die toekoms – die wêreld het nog nie verander in die plek wat God bedoel het dit moet wees nie – ons kyk vooruit na die voltooiing van die verhaal.

 

  • Die verlede

Dit is iets wat in die verlede gebeur het, maar wat steeds vir ons gevolge – in die hede – inhou. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof (Efesiërs 2:8). Dit mag ook verwys na iets wat God in die verlede gedoen en afgehandel het. Ons kyk daarna met dankbaarheid. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? (Romeine 8:24)

  • Die hede

Paulus sien verlossing as ‘n voortgaande proses. My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13). Dit beteken nie dat verlossing iets is wat ons kan doen nie, maar dat ons dit daagliks prakties in ons lewens moet uitleef. Verlossing beïnvloed ons lewens en lewenstyl. Ons moet leef soos mense wat God se verlossing in ons lewens aanvaar. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (1 Petrus 2:2). Ons groei nie om meer verlos te word as wat ons reeds is nie. Nederige dissipelskap en toenemende volwassenheid is die vrugte en bewys van verlossing in ons huidige lewens.

  • Toekoms

Die mense volg vir Petrus en Johannes na die Pilaargang van Salomo. Petrus spreek hulle toe en sê onder andere: Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het (Handelinge 3:19 – 21). Paulus sê basies dieselfde: Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag (Filippense 3:20). Gelowiges kyk steeds vooruit na Jesus Christus se wederkoms.




Verlossing soos Paulus dit sien

We are not defenders of the Jesus story, but participants with him in his story –  Mike McNichols

Verlossing soos Paulus dit sien

Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus (2 Tessalonisense 2:13 – 14)

Hierdie verse is aan die gelowiges in Tessalonika geskryf, maar geld vir alle gelowiges. Wat sê Paulus hier?

 

  • God het ons lief.
  • God het ons uitverkies.
  • God het ons verlos/gered.
  • Die Heilige Gees het ons geheilig.
  • Ons is na geloof geroep in die waarheid van die evangelie.
  • Ons is bestem om in die heerlikheid van Jesus Christus te glo.

Dit is opvallend dat Paulus se konsep van verlossing gevorm is deur die verlossingsgeskiedenis van Israel in die Ou Testament. Hierdie geskiedenis word ‘n werklikheid in die evangelie van Jesus Christus.