God is die Eienaar van ons verlossing (2)

Not only do we know God by Jesus Christ alone, but we know ourselves by Jesus Christ alone. We know life and death by Jesus Christ alone. Apart from Jesus Christ we know not what is our life, nor our death, nor God, nor ourselves – Blaise Pascal.

God is die Eienaar van ons verlossing  (2)

In die vorige blog het ons na twee aspekte van God as eienaar van die verlossing gekyk:

  • In ons verlossing staan God sentraal; en
  • God is die bron van ons verlossing.

Ons kyk nou na die derde en laaste aspek:

  • Net God kan verlos – niemand en niks anders nie.

Daar is baie mense wat daarop aanspraak maak dat hulle mense kan verlos. Dit is vals – net God kan verlos. Ons moet maar net die Ou Testamentiese profete lees.

  • God verlos as niemand anders dit kan of wil doen nie: Hy sien dat daar niemand tussenbeide tree nie … Daarom tree Hy self op en laat Hy self sy geregtigheid geld. Hy trek geregtigheid aan soos ‘n pantser en redding is die helm op sy kop (Jesaja 59:16 – 17).
  • God verlos waar voorspellers en sterrekykers nie kan nie: Laat jou voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom … Hulle kan hulleself nie red van die vlamme nie (Jesaja 17:13 – 14).
  • God verlos waar konings nie kan nie: Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie (Psalm 146:3).
  • God verlos waar militêre mag nie kan nie: Dit is nie deur ‘n groot leër dat ‘n koning wen nie, en nie deur groot krag dat die held behoue uitkom nie … Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou om hulle van die dood te red (Psalm 33:16 – 18).
  • God verlos waar ander gode nie kan nie: Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ek het die redding aangekondig, Ek het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie (Jesaja 43:11 – 13)

As dit dan so is, is verlossing nie iets wat ons by godsdiens kan kry nie, kan ons dan deur alle godsdienste verlossing kry? Nee, want godsdiens verlos niemand nie – God verlos. Ons is verlos omdat God opgetree het om ons te verlos. Al wat Hy vra is dat ons Hom moet vertrou.

Ons het nou gekyk na God as die eienaar van verlossing. Volgende keer kyk ons na verlossing as God se identiteit.




God is die Eienaar van ons verlossing (1)

The central miracle of the gospel is not the raising of Lazarus or the multiplication of the loaves or all the dramatic healing stories taken together. The miracle of the gospel in Christ, risen and glorified, who this very moment tracks us, pursues us, abides in us, and offers Himself to us as compannion for the journey – Brennan Manning

God is die Eienaar van ons verlossing  (1)

Die verlossing kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam (Openbaring 7:10).

Verlossing, soos alles in die heelal, behoort aan God. Wat van die mens? Die mens is die een wat verlos moet word.

Hier is drie aspekte waarna ons gaan kyk.

  • In ons verlossing staan God sentraal – Hy is die middelpunt.

As die Bybel van verlossing praat, is God die sleutel, die middelpunt, die hoofakteur. As God die Eienaar van verlossing is, is verlossing nooit as gevolg van die inisiatief of prestasies van die mens nie – dit is nie iets wat ons kan doen of verdien nie. Ons beheer nie verlossing nie; ons besluit nie wie verlos word en wie nie; as God iemand verlos het, kan ons dit nie wegneem nie. Volgens die Bybel word verlossing:

  • Deur God se genade geïnisieer;
  • In God se krag gedoen;
  • Op God se voorwaardes aangebied;
  • Deur God se Seun verkry;
  • Deur God se beloftes verseker; en
  • Deur God se oppermag gewaarborg.

Ons kan nie God manipuleer om ons te verlos nie. Al wat ons kan doen is om daarvoor te vra en dit van God te aanvaar. Godsdienste is ook nie die antwoord op ons diepste probleme nie.

  • God is die Bron van ons verlossing.

Mense is soms betrokke by die proses waardeur mense verlos word. Maar die bron om te verlos is steeds by God. Kyk maar na die verhaal van Dawid en Goliat. Dawid was die menslike agent van Israel se verlossing, maar hy het goed besef wie die ware Verlosser was: Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee (1 Samuel 17:47).

In die volgende blog kyk ons na die derde aspek van God, die Eienaar van ons verlossing: Net God kan verlos.




Lewe uit die dood

By blood and origin … I am Albanian. My citizenship is Indian. I am a Catholic nun. As to my calling, I belong to the whole world. As to my heart, I belong entirely to the heart of Jesus – Moeder Teresa

Lewe uit die dood

Hierdie is die opskrif van Efesiërs 2. Paulus se briewe is aan gemeentes wat meestal uit nie-Jode bestaan het, geskryf. Dit is ‘n vervulling van God se belofte aan Abraham: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:3). Hy sê vir die Efesiërs dat hulle, net soos Israel in die Ou Testament, uit genade gered is: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie (vers 8 – 9 ). Hy gaan voort om die ongelooflike transformasie wat hulle verlossing bewerkstellig het, te beskryf.

 

Paulus sê dat die beginpunt van Israel, sy eie en die nie-Jode se verlossing dieselfde was: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). Hy begin Hoofstuk 2 met hierdie stelling: Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het … So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers  (vers 1 – 3). Hulle was geestelik dood.

Wat is die antwoord op hulle dilemma? Die enigste antwoord was dat hulle deur die liefde en genade  van God lewend gemaak moet word. Hoe het God dit gedoen? Hy het ons saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered (vers 5).  Christus se dood en opstanding was die basis van hulle verlossing.

Paulus herinner hulle dan aan wat hulle vroeër was (vers 11 – 12):

  • Sonder Christus;
  • Uitgesluit uit die burgerskap van Israel;
  • Ver van God af; sonder deel aan die verbond en die beloftes wat daarmee saamhang; en
  • Sonder hoop en sonder God in hierdie wêreld.

Hierdie is ‘n beeld van uitsluiting en vervreemding.

Maar deur Jesus Christus se kruis en die prediking van die evangelie het dinge verander – hulle is met God versoen (vers 13 – 14):

  • Maar nou is julle een met Christus Jesus;
  • Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom;
  • Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het; en
  • Christus is ons vrede.

God, deur Jesus Christus, het ’n nuwe mensheid geskep.

Wat is die eindresultaat van hierdie transformasie (vers 19 – 22):

  • Julle is dus nie meer ver van God af nie … maar medeburgers van die gelowiges.
  • Julle is dus …lede van die huisgesin van God.
  • In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.

Ongelooflik wat God in Jesus Christus in die mens doen. Geen wonder Paulus skryf aan Timoteus: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos (1 Timoteus 1:15).




Die verlossing kom van ons God

Have you ever wondered why some of Jesus’s stories seem to complicate or even obscure truth rather than clarify or simplify it? Perhaps it’s that God, who knows us better than ouselves, is not content to speak simply to the rational intelligence, but informs us instead through imagination, intuition, wonder and epiphany – Luci Shaw

Die verlossing kom van ons God

In Openbaring 7 lees ons van die groot menigte – wat niemand kon tel nie – wat voor die troon en voor die Lam gestaan het. Hierdie menigte roep toe hard uit: Die verlossing kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam (vers10). Hier is twee dinge van belang:

  • Die verlossing kom van God – Hy is as ‘t ware die Eienaar van verlossing. Wat beteken dit as ek sê dat die verlossing van God kom?
    • In ons verlossing staan God sentraal – Hy is die middelpunt.
    • God is die Bron van ons verlossing.
    • Net God kan verlos – niemand en niks anders nie.
  • Die verlossing kom van ons God. Hier lees ons iets van die identiteit van God:
  1. oDit kom van ‘n spesifieke God en van niemand anders nie.
  2. oGod is verlossing.
  3. oAnder gode kan nie verlos nie.

Sjoe, hierdie is ‘n mondvol. Kom ons kyk na die verskillende elemente. Volgende keer kyk ons na God as die Eienaar van ons verlossing.