NEHEMIA – VERNUWING (2).

 

Nehemia – Vernuwing (2).

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #12: Vernuwing … verfris jou leierskap

 

Esra

In Hoofstuk 8 ontmoet ons nou vir Esra. Die mense van Jerusalem het hard gewerk – hulle is fisies en emosioneel uitgeput. Hulle het vernuwing nodig.

Nehemia was die goewerneur en in baie opsigte die volk se geestelike leier. Hier sien ons nog ‘n dimensie van sy leierskap: hy is gewillig om sy leierskapsrol met ander te deel. Vantevore het hy Ganani en Gananja betrek. Nou laat hy toe dat Esra die leiding neem.

 

Hoe begin geestelike vernuwing vir die moeë muurbouers? Dit was ‘n week na die muur voltooi was; dit was die begin van die sewende maand; dit was die tyd vir die viering van die jaarlikse huttefees – let op God se tydsberekening. Die volk kom bymekaar op die plein voor die Waterpoort (8:2). In die volgende verse lees ons ‘n beskrywing van ‘n herlewing in aksie. Hier is die bewyse dat ‘n geestelike vernuwing op pad is:

  • Die volk stel belang in God se woord – hulle vra vir Esra om die wetboek van Moses … te bring (8:2).
  • Daar was ‘n begaafde leermeester. Esra was aktief as leermeester betrokke vir die afgelope 15 jaar. Daarom vra die volk vir hom om die wetboek te bring.
  • Daar was ‘n begeerte om God se woord te hoor en te verstaan. Dertien ander mans het Esra bygestaan om die waarheid vir die mense te interpreteer. Hulle het ook vir die volk gewys hoe dit op hulle lewens van toepassing is (8:5 – 9)
  • Daar was eerbied vir God se woord: Toe kniel hulle en buig diep voor die Here … die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” (8:6 – 7)
  • Die mense reageer op God se woord. Toe hulle God se woord hoor en verstaan, huil hulle – hulle het berou oor hulle sonde (8:10).
  • Hulle besluit om God se woord te gehoorsaam. In die wet lees hulle van die ontstaan van die huttefees. Hulle besluit daar en dan om die huttefees te vier (8:15 – 17).
  • Hierdie gees van vernuwing was nie net ‘n verbygaande emosie nie. Die hele maand deur duur dit voort. Die mense bevestig weer hulle gehoorsaamheid aan God en sy wette (Nehemia 9).

 

As ons vernuwing wil ondervind, moet ons God se woord ontvang en toelaat dat die Heilige Gees ons energie gee. God se woord is die middelpunt van vernuwing. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).

 

Om die muur te herbou was ‘n noodsaaklike doelwit, maar slegs oor die korttermyn. Jy moet nooit die hele beeld uit die oog verloor nie. Die muur gee vir die mense ‘n veilige omgewing vir herlewing en vernuwing. Om te verseker dat dit kon gebeur, staan Nehemia onselfsugtig terug – hy laat Esra toe om hierdie taak te doen, want hy was beter daartoe in staat.

 

Vernuwing is ‘n voortgaande proses. Hoekom? Leierskap en die lewe dreineer ‘n mens. Jy moet verander; jy moet aanpas; jy moet jouself fisies, verstandelik en veral geestelik vernuwe om toegerus te wees vir die lewe. Doeltreffende leiers laat toe dat God hulle vorm. Hulle haak nie vas in een metode nie.

 

Volgende keer kyk ons na die dertiende kenmerk van ‘n leier – lojaliteit.

 




NEHEMIA – VERNUWING (1)

All of us would be wiser if we would resolve never to put people down, except on our prayer lists. —D.A. Carson

 

Nehemia – Vernuwing (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #12:

Vernuwing … verfris jou leierskap

Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring … Hy het daaruit voorgelees … van ligdag af tot die middel van die dag (8:3 – 4)

Almal het vernuwing nodig. Uitbranding is wanneer ‘n leier se tenk leeg is. Dan verloor hy momentum, rigting en energie. Hy word maklik moedeloos en terneergedruk. Nou is vernuwing noodsaaklik. Vernuwing beteken dat die fisiese, verstandelike en geestelike tenk weer volgemaak word – jy herlaai jou batterye. Baie leiers doen dit nie en dit beïnvloed hulle vermoë om te lei – negatief.

  • God het beveel dat ons een dag per week moet rus. Hy het besef dat die mens vernuwing nodig sal hê. Indien enigsins, is dit vandag selfs meer nodig. ‘n Dag se rus bevorder jou produktiwiteit. God weet die beste; sy voorskrif van rus op die sewende dag geld steeds.
  • Vernuwing is noodsaaklik vir doeltreffende en suksesvolle leierskap. Jy moet jou wysers dophou en sien of jy nie dalk vernuwing nodig het nie. Is jou humeur en geduld kort? Word jy nie meer opgewonde nie? Hierdie is waarskuwingstekens. Een profeet  wat nie die tekens raakgesien het nie, was Elia (1 Konings 18 – 19). Elia het pas 450 profete van Baäl gekonfronteer. Sy emosies was egter nie genoeg om hom te laat voortgaan nie. Mismoedig en vreesbevange vlug hy vir  Isebel. Hy is so terneergedruk dat hy selfs vir God vra om te sterwe. God gee vir hom kos en rus. Toe openbaar God Hom aan Elia. Hy besef dat God in beheer van alles is; sy energie is terug; hy is gereed vir sy volgende taak. Leer by Elia: moenie op jou emosies vertrou om jou aan die gang te hou nie.
  • Vernuwing beteken jy gaan terug na die basiese dinge. Jy herontdek jou suksesvolle verlede. Watter dinge het jou toe gemotiveer en energie gegee?
  1. oFisiese vernuwing. The world is run by tired men. Hulle is toegewy, maar moeg. Elke leier moet rus en oefening kry. Sodra jy moeg is, neem jou produktiwiteit af en word jy moedeloos. Dit was Jesus se voorskrif. Hy het die twaalf apostels uitgestuur. Hulle kom terug en vertel vir Hom alles wat hulle gedoen het: Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie (Markus 6:31). Mense voel dikwels skuldig as hulle moeg is: Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jesaja 40:31). Leiers moet rustig wees en geduldig wag op God se leiding. Ons moet ophou om ons fisiese en emosionele energie te mors waar God se krag ons sal help. Die lewe, bediening, werk, verhoudings, leierskap is nie naellope nie – dit is maratons.
  2. oVerstandelike vernuwing.beteken tyd maak om te dink. Selfondersoek is belangrik
  3. oGeestelike vernuwing. Wat het jou aanvanklik die nodige energie gegee? Die Here. Om die rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Jesus is die belangrikste prioriteit in ons lewens. Keer terug na die dinge wat jy dalk begin verwaarloos het – gebed, Bybelstudie, gemeenskap en aanbidding. Laat ons dan elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof (Hebreërs 12:1 – 2).
  • Besef dat verandering ‘n vorm van vernuwing is. Soms is dit nodig om uit jou dodelike roetine te breek. Doen iets anders tot jy weer entoesiasties is.
  • Vernuwing is ‘n geleentheid om jou te herontdek. Jy kan jou liggaam vernuwe deur oefening te doen; jy kan jou verstand vernuwe deur ‘n goeie boek te lees; jy kan jouself geestelik vernuwe deur die Bybel te lees. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot (Klaagliedere 3:22 – 23).

 

Volgende keer gaan ons na die rol van Esra kyk.