Wat sê die Bybel oor vertroue – Francois Malan

Francois vra:

In ons groepie is `n stelling gemaak dat volgens die Bybel niemand vertrou kan/moet word nie. God vertrou nie eers die engele nie en Jesus het nie sy dissipels vertrou nie.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Sonder onderlinge vertroue kan ons nie lewe nie – ek vertrou die kos wat ek eet is nie vergiftig nie, anders sal ek nooit eet nie (maar dit kan gebeur); ek vertrou die kar wat aankom gaan by die rooilig stop, anders kan ek nie ry nie (maar soms gebeur dit wel). As mense my nie vertrou nie, sal ek nooit ’n werk kan kry nie, en geen vriende kan hê nie. Maar die aanleiding tot die vraag gaan eintlik oor wat die Bybel sê oor vertroue in mense, engele, ens.

Die Bybel praat baie oor God wat ons absoluut kan vertrou, nie om óns wil uit te voer nie, maar om sy wil met ons deur te voer (wat soms met my wil kan ooreenstem, maar dikwels nie, en dan het die Here iets beters vir my in gedagte).

Eers wat die Bybel sê dat jy nie ’n mens kan vertrou nie:

Ps 62:13 sê: Ek het by God hoor sê: dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

Spreuke 28:26 Wie op homself vertrou, is ’n dwaas. Wie hom deur wysheid laat lei, is veilig.

Miga 7:5 Moenie ’n maat vertrou nie, moenie op ’n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê.

 

Dat die Here nie op engele kan vertrou nie:

Job 4:18 Elifas sê vir Job: In sy hemelse dienaars stel Hy geen vertroue nie. Voor Hom is selfs sy engele vol gebreke

Job 15:15 Elifas sê vir Job: As God nie eers die hemelwesens vertrou nie  en selfs die hemel nie rein is voor sy oë nie, hoeveel minder ’n onein verdorwe mens wat boosheid indrink soos water?

 

Maar deur die Here kan ons vertrou hê in mense:

2 Tess 3:3-4 Die Here is getrou. Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou.

Eks 19:9 Toe het die Here vir Moses gesê: Ek sal na jou toe kom in ’n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanner Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.

Ons vertroue is eintlik op die Here wat in ons kom woon het met sy Heilige Gees om ons te lei en te bewaar. Ons lewe is in sy hand, ook wanneer ons eet of op pad is of tussen mense lewe en werk. Hy lei ons ook in die vertroue wat ons in mense kan stel. 2 Kronieke 16:9 Die Here het sy oë oral op die aarde, sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.

En dan die baie tekse in die Bybel oor vertroue in die Here:

Ps 84:13 bely: Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou.

Ps 112:7: die regverdige…is gerus, hy vertrou op die Here.

Ps 115:11 Julle wat die Here dien, vertrou op die Here, Hy help en beskerm julle.

Spreuke 3:5 Vertrou volkome op die Here, en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Spreuke 16:20  wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed; een wat op die Here vertrou is voorspoedig

Jesaja 28:16 Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U.

 

Volgens die Bybel moet ons, en kan ons, op God vertrou. Hier is ’n paar tekse daaroor:

 

Ps 4:6; 9:11; 25:2,3,21; 26:1; 27:14; 28:7; 31:15; 32:10;  33:20; 37:3,7,34; 38:16; 46:6,12;  43:5; 55:24; 56:4; 62:2; 71:5; 78:22; 91:2;

Spr 20:22; Jes 12:2; 25:9; Jer 14:22; Dan 3:28; 6:24;

Mat 27:43; Hand 27:45; 2 Kor 1:9; 3:4; Hebr 2:13.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Ek kies om God te vertrou

Most assuredly God will require an account of the children from the parents’ hands, for they are His, and only lent to their care and keeping. —A.W. Pink

 

Ek kies om God te vertrou

Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ‘n blote mens aan my doen? (Psalm 56:4 – 5).

Ons moet doelbewus kies om God te vertrou. Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kern ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God! (Psalm 42:12).

Ons lees van Dawid, die dapper soldaat, wat van Saul wegvlug na koning Akis van Gat. Hy hoor koning Akis se amptenare gesels: Toe Dawid besef wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat (1 Samuel 21:12). Psalm 56 word aan hierdie episode verbind, maar hier sê die psalmis: Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.

 

In die psalms lees ons herhaaldelik dat God vertrou word. Ons sien dit ook in Psalm 23: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. Ook Psalm 16:8: Ek het die Here altyd by my; omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. God is altyd by ons. Hy sê self: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie (Hebreërs 13:5).

 

Die probleem is dat ons sy teenwoordigheid moet erken – gaan ons sy beloftes van voortdurende beskerming en versorging glo of nie. Dit verg ‘n wilsbesluit van ons kant af. Maar voordat ons so ‘n wilsbesluit kan neem het ons ‘n sekere kennis nodig. Ons moet weet dat God soewerein, wys en liefdevol is.