‘n Oordraagbare vloek – Hermie van Zyl

Annalize
vra:

Kan
daar ‘n band oor my lewe wees wat oorgedra was deur my ma of pa? My ma het
selfmoord gepleeg want sy het depressief geraak. My ma en pa het buite-egtelike
verhoudings gehad. My pa was ‘n alkoholis. My man is nes my pa, hy breek my af
soos my pa my ma afgebreek het. Hy drink net so baie soos my pa gedrink het.
Beide my ma en pa is oorlede. Dit voel of iets my heeltyd in die negatiewe in
trek. Ek begin so depressief raak dat dit voel: hoekom leef ek nog, wat is die
nut daarvan? My man hou aan vertel watter lekker tye hy saam met ander vroue
het. Kan dit ‘n vloek op ‘n mens se lewe wees? Is daar so iets?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller meld dat sy depressief
raak as gevolg van haar omstandighede. (Wie sou nie?) Tog wil dit voorkom of
die swaartepunt van haar vraag eerder neig in die rigting van ‘n sogenaamde
vloek wat op haar sou rus, wat dan vermoedelik van haar ouers se kant af kom.
Ek sal dus in my antwoord op laasgenoemde kwessie fokus. (Indien haar
gemoedstoestand egter verband hou met kliniese depressie – ‘n potensieel
lewensbedreigende mediese toestand – is dit dringend noodsaaklik dat sy ‘n
dokter, sielkundige of psigiater spreek sodat sy met behulp van medikasie
behandel kan word.)

Wat ek nou aanbied, is ‘n opsomming van
wat ek reeds uitvoerig uitgewerk het onder die titel:
“bloedlynvloeke”, op ons webwerf: bybelkennis.co.za. Ek nooi dus ons
vraagsteller uit om die volledige artikel op hierdie webwerf te soek en te
lees. Sy kan net die woord “bloedlynvloeke” insleutel by die blokkie
“Soek Fasiliteit”. Dit sal haar na die artikel toe neem. Die
hooftrekke van die artikel is soos volg:

Ons mag nooit die mag van sonde
onderskat nie. Sonde is nie net iets persoonlik wat ‘n mens doen of nalaat om
te doen nie. ‘n Mens sondig nooit net in jou persoonlike hoedanigheid nie, dit
het altyd ‘n effek op die mense rondom jou. In dié sin is sonde ook ‘n
bo-persoonlike mag wat van ‘n persoon, familie of selfs gemeenskap besit kan
neem, met verwoestende gevolge. Kom ek gee ‘n voorbeeld. Wanneer ‘n kind
opgroei in ‘n gesin waar hy of sy van kleins af blootgestel word aan
mishandeling van watter aard ook al – die pa wat die ma mishandel, of die ouers
die kinders – dan is die kanse baie goed dat so ‘n kind, wanneer hy/sy
grootword, dieselfde gedragspatrone sal openbaar teenoor sý/háár kinders of man
of vrou. Dis asof mense vasgevang word in ‘n geweldspiraal waaraan hulle so
gewoond raak dat hulle moeilik daaraan kan ontsnap. As daar nie definitief
opgetree of besluite geneem word nie, kan dit gebeur dat hulle daardie gedrag
in hulle eie lewens as volwassenes voortsit, want dis vir hulle
“normale” gedrag. Maar dit het niks te doen met ‘n Goddelike vloek
wat “vir ewig” op ‘n gesin of familie rus waaraan jy niks kan doen
nie. God plaas nie vloeke op mense nie; Hy soek nie die dood of ongeluk van
mense nie. Die aard van sonde is net sodanig dat dit verwoestende gevolge het
as jy niks daaraan doen nie. Wat lei tot die volgende gedagte.

Die Bybel is duidelik daaroor dat ons
nooit vir God of ander die skuld kan gee vir ons eie oortredings en mislukkings
nie. God het ons met ‘n eie verantwoordelikheid geskape waarmee ons moet
woeker, hoe moeilik ons omstandighede ook al is. Wanneer ons verkeerd optree,
gaan God ons self verantwoordelik hou daarvoor. Ons kan nie sê dat dit God se
skuld is omdat Hy my in sulke ellendige omstandighede laat opgroei het, of ‘n
“vloek” op my geplaas het, of dat ek slegte ouers of maats gehad wat
my lewe verwoes het, of altyd verlei het tot sonde nie. Ek moet self keuses
maak oor hoe ek my lewe wil lei. ‘n Mens is nooit net ‘n gevangene of totale
slagoffer van jou omstandighede nie. Daar is soveel verhale van mense wat in
die haglikste omstandighede grootgeword het, maar met God se genade daarbo
uitgestyg het en ‘n wonderlike seën vir hulle familie en samelewing geword het.
En dit bring ons by die laaste gedagte.

God is ‘n genadige God, ‘n God wat
verlos van sonde. Dit is juis die hoofboodskap van die Bybel. God het geen
behae in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat ‘n sondaar hom bekeer en
lewe. God wil nie hê dat ons voortploeter in die sonde nie, maar dat ons tot
insig kom van ons sonde, God se vergifnis ontvang en lewe. Daarom dat Jesus aan
die vrou wat in owerspel betrap is, kon sê: Ek veroordeel jou nie; jy kan maar
gaan, maar moenie verder sondig nie (Johannes 8:11). Dus, wanneer iemand tot
inkeer kom, belydenis van skuld en sonde doen, God se vergifnis aanvaar omdat
Christus in ons plek gesterf het, en die begeerte het om Jesus te volg, dan is
God genadig om ons die sonde te vergewe en aan ons ‘n nuwe lewe te skenk. God
hou nie ons verlede teen ons nie. Hy maak ons juis los daarvan en open vir ons
‘n nuwe toekoms. ‘n Mens mag dus nooit terugsit nie en dink: dis te laat; of ek
is nou maar wie ek is, my sonde is te groot; of God se vloek rus op my en my
familie. Nee, God staan altyd gereed om ons te vergewe en tot ‘n nuwe lewe vry
te stel.

Ek wil dus ons vraagsteller uitnooi om te vergeet van vals leringe soos God se vloek wat op haar en haar familie rus. Dis gewoon nie waar nie. Aanvaar God se genade en breek met die verlede. En baie belangrik: Kry hulp; moenie net op jou eie insig en krag staatmaak nie. Gaan spreek ‘n dominee, pastoor of ander geestelike leier. Daar is baie mense wat gereed staan om jou by die hand te vat en verder te help.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Vloeke

Vloeke – Francois Malan

Martin vra:

Ons vraag handel oor bloedlyn vloeke: 1) Waar in die Bybel word daarna verwys 2) Hoe word dit verbreek en is dit Bybels 3) Het Jesus of sy dissipels bloedlyn vloeke gebreek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Seën en vloek het altyd met God te doen. Dit is Hy wat seën en Hy wat vervloek. In Deuteronomium 27:14-26 word ‘n hele reeks oortredings genoem wat die Here se vloek op die volk sal bring. In hoofstuk 28:1-14 word ‘n lys van seëninge gegee waarmee die Here die mense sal seën wat sy wil doen, en van vers 15-68 al die strawwe waarmee die Here die mense wat nie na Hom luister nie sal straf (vgl. ook Levitikus 26). Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid bepaal die Here se seën of sy vloek. Die uitwerking van seën of vloek hang van God af. Spreuke 26:3 sê: ‘n vervloeking gaan by jou verby as jy dit nie verdien  nie.

Die seën van die Here beteken Hy met sy genadige en goedgunstigheid by jou teenwoordig is. In die Ou Testament sê die Here: Ek is jou God en jy is my volk vir wie Ek met my krag versterk en beskerm (vgl. sy seën op Abraham in Genesis 12:1-3). In die Nuwe Testament sê Jesus: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Hy doen dit deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons aan Hom te verbind, ons daagliks te lei en te versterk (Johannes 14:15-17; Romeine 8:8-17). En niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:31-39).

Die vloek van God beteken dat Hy jou los en jou oorgee aan die krag van sy vloek wat jou ongeluk bewerk (Deuteronomium 28:20; Maleagi 2:2); dat Hy jou oorgee aan jou eie begeertes, aan die drange van jou harte, aan jou skandelike begeertes, om jouself te vernietig (Romeine 1:24-32) omdat jy Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:18-23). Sy vloek beteken dat jy deur God verlaat word. Maar Paulus sê vir die Korintiërs: So was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God (1 Kor 6:11). Jesus was aan die kruis deur God verlaat om in ons plek die vloek van God oor ons sonde te dra (Matteus 27:46).

Bloedlyn vloeke – in Eksodus 20:5-6 eis die Here onverdeelde trou aan Hom, maar vir die kinders van die mense wat dit nie doen nie word die sondes van hulle vaders toegereken tot die derde en vierde geslag van die mense wat die Here nie heelhartig liefhet nie. Die onverskilligheid en louheid teenoor die Here is aansteeklik in ‘n familie of in ‘n gemeenskap wat die Here nie van harte liefhet nie. Die kinders volg die pad van hulle ouers, en word dikwels nog erger as hulle ouers. Maar die Here betoon sy liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Ook die ouers se opregte toewyding aan die Here en in liefde met mekaar lewe beïnvloed die lewe van hulle kinders om die Here te dien. Die mens wat omdraai en die Here liefhet staan nie langer onder die vloek van die Here nie, maar onder sy liefde. En die Here se seën is duisend maal meer as sy vloek van die derde en vierde geslag van die mense wat nie met Hom rekening hou in hulle lewe en optrede nie.

In Galasiërs 3:8-14 verwys Paulus na God se belofte aan Abraham in Genesis 12:1-3: in jou sal al die nasies geseën word. Dit is dus dié wat in Jesus glo wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op hulle onderhouding van die wet, val onder die vloek. Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan geskryf: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deuteronomium 21:23). Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof in Christus die Gees ontvang wat God beloof het.

Vir die Korintiërs sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Maar die genade van die Here Jesus sal by julle wees (1 Kor. 16:22,23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Vervloeking

Vervloeking – Francois Malan

Alicia vra:

Ek sukkel om mense te oorreed dat vloeke nog bestaan, dat jyself en ander mense vloeke oor jou en jou geliefdes kan uitspreek, asook bindinge.
Watter menslike voorbeelde, maklike voorbeelde, kan ek gebruik en hoe om die vloeke te breek en vloeke of bindinge te stop.

En dan, Mag ek as Christen ‘n vloek terug stuur van wie af dit kom en hoe doen ek dit?

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In die heidenwêreld word die vloek gebruik as ‘n magiese middel wat toorkrag het, in die geloof dat die vloekwoord self krag het om iemand te benadeel en selfs dood te maak. Die Israeliete van die Ou Testament was omring deur volke wat dit geglo het en gebruik het. Sommige Israeliete het dit ook so geglo.

Maar die gelowige Israeliet het die vloek gesien as iets wat deur God beheer word en waaroor Hy die seggingskap het. In die Ou Testament word baie maal na die vloek verwys, met verskillende Hebreeuse woorde om dit te beskryf;

alah – vloek as dreiging van ongeluk wat oor iemand, oor homself of oor iemand anders stel as hy of sy ‘n misdaad sou pleeg (vgl. bv. 1 Kon.8:31-32)

kalala – die vloekformule waarmee iemand of iets vervloek word (bv. Gen.27:12).

ta-elah – bv. Klaagl.3:64-65 ‘straf hulle Here, volgens wat hulle gedoen het, laat benoudheid hulle oorval, tref hulle met U vloek…’

me-erah – bv. Deutr. 28:20 ‘Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het.’

arar – met ‘n vloek bind – vgl. die lang lys in Deutr. 27:16-26, en Gen.3:14,17.

In die Nuwe Testament bring Jesus egter ‘n hele omwenteling van die vloek. In Gal.3:10-14 skryf Paulus dat almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, onder die vloek val (met verwysing na Gen.27:26). Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word soos Deutr.21:23 sê: vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is. Daardeur kan ook ons wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het. So bly God self in ons om ons te beskerm en te lei (vgl. Joh.14:23).

In 1 Kor.16:22 sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy (vgl. ook Gl 1:8,9).

Nee die pad vir ‘n Christen is nie om vloeke heen en weer te stuur nie. In Romeine 12:17-21 sê Paulus: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe ‘dit is Mý reg om te straf, Ék sal vergeld’, sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Dit is dieselfde as wat Jesus gesê het in Matteus 5:43-48 Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg – anders is julle maar net soos die heidene. Julle moet soos julle hemelse Vader wees – Hy wat in ons kom woon het deur sy Gees omdat Jesus ons vloek aan die kruis gedra het.

 

Skrywer: Prof Francois Malan