Vrygewigheid

Vrygewigheid

Negehonderd jaar gelede het Maimonides ‘n leer van vrygewigheid opgestel. Die leer loop van die laagste vorm van vrygewigheid na die hoogste.

  • ‘n Persoon gee, maar net as hy gevra word.
  • ‘n Persoon gee, maar hy is maar ongelukkig daaroor.
  • ‘n Persoon gee blymoedig, maar hy gee minder as wat hy behoort te gee.
  • ‘n Persoon gooi geld in die huis van iemand wat arm is. Die arm persoon weet nie wie sy weldoener was nie, maar die gewer weet wie hy gehelp het.
  • ‘n Persoon gee ‘n bydrae op ‘n sekere plek en stap dan weg. Hy weet nie wie hy gehelp het nie, maar die arm persoon weet wie die weldoener was.
  • ‘n Persoon gee anoniem vir ‘n fonds vir die armes. Die arm persoon weet nie wie sy weldoener was nie en die ryk persoon weet nie wie hy gehelp het nie.
  • Geld word gegee om te verhoed dat ‘n ander persoon arm word – soos om vir hom ‘n werk te gee, om vir hom ‘n ambag te leer of om hom te help om ‘n besigheid te begin. Die ontvanger word dus nie gedwing om ‘n hand uit te hou om te bedel nie. Dit is die hoogste sport op hierdie leer.

Pous Johannes Paulus II het gesê dat armoede nie so seer oor geld gaan nie, maar dat die arm persoon uitgesluit word uit die netwerk van produktiwiteit. Baie mense het ‘n materialistiese siening van die armes. Hulle wil geld herversprei van diegene wat het na diegene wat nie het nie (dinge soos kos, klere en huisvesting). Hierdie siening is dat mense primêr verbruikers is.

Miskien moet ons weer na Maimonides kyk. Om geld te gee aan armes is dikwels noodsaaklik, maar ons mag nie daar ophou nie. Ons moet mense in staat stel om hulleself te help as dit enigsins moontlik is.

Ons gee alles

Ons gee alles

 

Hulle het net 50 lidmate en tog gee hulle ongeveer R500 000 weg aan mense in die gemeenskap. Die vraag is natuurlik hoe hulle sonder inkomste kon voortbestaan. ‘n Ander gemeente het ‘n fasiliteit verniet tot hulle beskikking gestel. Toe mense buite die gemeente hoor van die projek skenk hulle geld vir die gemeente se onderhoud.

  

Wat verbasend was, was hoe die lidmate geestelik gegroei het as gevolg van hulle vrygewigheid. Die projek het hulle oë oopgemaak vir die ongelooflike vrygewigheid van God.

Miskien moet ons as individue en gemeentes weer na ons eie begrotings kyk. Is ons vrygewig soos God van ons verwag?