1

Die Groot Geloofswoordeboek: Vulgaat

Die Groot Geloofswoordeboek: Vulgaat

Vulgaat

(*Vertaling(-s) van die Bybel)

Dit is die vertaling van die Bybel wat Hiëronimus (Jerome) in die vierde eeu in Latyn gemaak het. Hy het liewer die Hebreeuse Ou Testament as die Septuagint gebruik. Dit help ons soms om te weet hoe die Hebreeuse teks destyds gelyk het omdat daar dele van die Hebreeuse Ou Testament is waarvan ons nie meer afskrifte uit daardie tyd het nie. Die Vulgaat was vir eeue lank algemeen in gebruik in die Westerse kerk. Dit is belangrik om te onthou dat die Vulgaat, net soos die Septuagint, ’n aantal boeke ingesluit het wat nie in ons Ou Testament is nie, sodat ook die kerk in die Weste vir baie eeue ’n ruimer Ou Testament as ons gebruik het. (*Kanon) Die kerk in die Nabye-Ooste het natuurlik Grieks gepraat. Hulle sou dus die oorspronklike Griekse Nuwe Testament en die Septuagint gebruik het.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Vulgaat

Die Vulgaat – Coen Slabber

[Hierdie artikel volg op die artikel van die Septuagint. Die twee artikels behoort eintlik saam gelees te word.]

Met verloop van tyd word Latyn belangriker en verplaas Grieks as die algemene spreektaal. Reeds in die tyd van Jesus Christus was Latyn die dominante taal in die westelike dele van die Romeinse Ryk – dele soos Gallië en Noord-Afrika. Die noodsaaklikheid van ‘n Latynse vertaling van die Ou Testament word dringend.

Verskillende Latynse vertalings van die Ou Testament word gemaak. In 160 n.C. gebruik Tertullianus  waarskynlik ‘n Latynse teks. Voor sy dood in 258 n.C. gebruik Siprianus ook ‘n Latynse teks. Hierdie ou Latynse tekste was vertalings van die Septuagint. (Op die webblad is daar ‘n artikel oor die Septuagint.) Ongelukkig is geen van hierdie ou Latynse manuskripte bewaar nie – slegs fragmente is beskikbaar.

In die derde eeu n.C. verplaas Latyn Grieks as onderrigtaal in die Romeinse Ryk. Die kerk besef dat ‘n uniforme, betroubare teks in Latyn nou dringend noodsaaklik is. Pous Damasus I gee in 382 opdrag aan Hieronimus om die Ou Testament te vertaal. Hieronimus was ‘n student van die Latynse, Griekse en Hebreeuse tale. Hieronimus het begin deur eers die vier evangelies in Latyn te vertaal. Hy voltooi hierdie taak in 384 – die jaar waarin Pous Damasus I oorlede is.

Hieronimus begin deur die Septuagint as sy grondteks vir sy vertaling te gebruik. Hy besef egter gou dat dit beter sou wees om eerder die Hebreeuse teks te gebruik. Hierdie teks was nog in Palestina as grondteks gebruik. Tussen 390 en 405 vertaal hy die Ou Testament in Latyn. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat. [Dit is afgelei van die Latynse woord vulgare wat verkrygbaar maak beteken.]

Nou het die kerk ‘n probleem: Hieronimus beklemtoon die belang van die Hebreeuse Ou Testament – 39 boeke; die Septuagint het ‘n hele aantal boeke wat nie deel van die Hebreeuse Ou Testament was nie, ingesluit. By die Sinode van Trente aanvaar die Rooms-Katolieke Kerk hierdie boeke wat nie deel van die Hebreeuse Ou Testament was nie as gesagvol. Hulle verduidelik dit deur twee woorde:

(a)   Proto-kanoniek. [Proto is afgelei van die Griekse protos wat eerste beteken.] Hierdie boeke is eerste as gesagvol aanvaar. Hierdie is die 39 boeke wat ons in die Hebreeuse Ou Testament kry.

(b)   Deutero-kanoniek. [Deutero is afgelei van die Griekse deuteros wat tweede beteken.] Hierdie ekstra boeke is dus dié boeke wat tweede as gesagvol aanvaar is.

Vir die Rooms-Katolieke Kerk beteken dit nie dat die een meer gesagvol as die ander is nie – die kerk het net op ‘n latere stadium die deutero-kanonieke boeke aanvaar as gesagvol.

Vir eeue was die Vulgaat die Bybel van die kerk.

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Die Septuagint

Die Septuagint – Coen Slabber

Met die verspreiding van die Jode buite Palestina ontstaan daar ‘n probleem – daar ontwikkel ‘n geslag Jode wat nie meer Hebreeus kon lees of praat of verstaan nie. Die algemene spreektaal van destyds was Grieks. Die Jode in Egipte was Griekssprekend. Dit was duidelik dat ‘n Griekse vertaling dringend noodsaaklik was.

Die Septuagint is die oudste Griekse vertaling van die Ou Testament. Sewentig geleerdes het in Aleksandrië bymekaargekom om die Ou Testament in Grieks te vertaal. Daar word dikwels na die Septuagint as die LXX verwys. Dit is die Romeinse syfers vir 70.

Die Pentateug is waarskynlik in ongeveer 250 v.C. voltooi. Die res van die Ou Testament en die apokriewe wat ook in die Septuagint ingesluit is, is mettertyd voltooi. Wanneer die werk voltooi is, weet ons nie – waarskynlik in die middel van die eerste eeu v.C. Ongelukkig was daar nie ‘n standaard vertalingsbeleid nie. Sommige boeke was letterlike vertalings van die Hebreeuse Ou Testament terwyl ander amper parafrases was – ‘n baie dinamiese vertaling.

Daar is ‘n Joodse legende dat Ptolemeus Philadelphus 72 geleerdes op die eiland Pharos (Naby Aleksandrië) bymekaargekry het. Hy het elkeen in ‘n kamer toegesluit en beveel dat hulle die tora moes vertaal. Na 72 dae kom al 72 met identiese vertalings na vore.

Die Septuagint was aanvanklik die Bybel van die Jode buite Palestina. Dit het egter ook die Ou Testament toeganklik gemaak vir die hele Griekssprekende wêreld – ook nie-Jode. Die Septuagint was ook die Bybel van die vroeë Christelike kerk. In die tyd van Jesus Christus het die die meeste Jode in Palestina Aramees en Grieks gepraat. Selfs die Jode in Palestina het dus die Septuagint gelees. Die aanhalings vanuit die Ou Testament wat ons in die Nuwe Testament kry, kom meestal uit die Septuagint.

Watter boeke is in die Septuagint ingesluit? Dit was die 39 boeke wat ons in die Hebreeuse Ou Testament kry – dit wil sê die Ou Testament soos ons dit ken. Die volgende boeke word bygevoeg:

  • Tobit
  • Judit
  • Toevoegings tot Ester
  • Die Wysheid van Salomo
  • Die Wysheid van Ben Sirag
  • Barug (met die Brief van Jeremia ingesluit)
  • Toevoegings tot Daniël
    • Asarja se gebed en Die lied van die drie jong manne
    • Susanna
    • Bel en die Draak
  • 1 en 2 Makkabeërs.

Die algemene gebruik van die Septuagint het tot gevolg gehad dat die apokriewe wat ingesluit is, behoue gebly het in baie vertalings. So het die Rooms-Katolieke Kerk in 1546 by die Sinode van Trente bevestig dat die ekstra boeke in die Septuagint, wat nie deel is van die Hebreeuse Ou Testament nie, deur hulle as gesagvol aanvaar word.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber