Hoekom laat God ons wag?

Preaching without spiritual aroma is like a rose without fragrance. We can only get the perfume by getting more of Christ –  A. B. Simpson

Hoekom laat God ons wag?

Ons moet vir iets wag; ons voel gespanne en angstig; ons wonder hoe lank dit nog gaan neem. Daar is baie min mense wat daarvan hou om te wag. Sit net agter ‘n kar wat stadig ry. Dit frustreer ons. Ons is altyd haastig op pad na die volgende plek. Hierdie gesindheid mag oorspoel na ons geestelike lewe. Tog lyk dit nie of God haastig is nie – altans dit voel nie so nie. Hoekom? Omdat Hy ‘n doel en plan met alles het.

 

Die probleem met wag, is dat ons nie al die besonderhede het nie. Vanuit ons perspektief het ons alles uitgesorteer en ons verwag dat God binne ons raamwerk moet beweeg. Maar: Wag is deel van die lewe en een van die instrumente wat God gebruik om ons te ontwikkel. God beweeg selde volgens ons tydsraamwerk, en daarom raak ons gou mismoedig.

Lees weer die verhaal van Marta en Maria wat wag vir Jesus om te kom om hulle broer Lasarus te kom genees. Luister vir Marta: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie (Johannes 11:21). God het altyd goeie redes waarom Hy ons laat wag. Die Bybel is vol verhale van mense wat moes wag: Noag, Abraham, Moses, Josef, Dawid, Daniël, Jesus, Paulus, ens.

Hoekom het God hierdie mense laat wag?

  • Ons ware motiewe word geopenbaar as ons wag. Wag bring die beste of die slegste in ‘n mens na vore. Mense met verkeerde motiewe sal nie lank wag nie, want hulle stel nie belang in die toewyding wat nodig is om dinge klaar te maak nie. Hulle stel belang in korttermyn resultate. Baie van dit wat ons wil bereik, is ‘n poging om ‘n naam vir onsself te maak – ons eie ego’s.
  • Wag bou geduld in ons lewens. As ons nie kan wag om ‘n klein dingetjie te doen nie, kan ons beslis ook nie wag vir Hom om iets groot te doen nie. Ons glo die groot dinge in die lewe is finansies en besittings; God dink die groot ding is om mense te verander.
  • Wag bou afwagting. Kyk maar na kinders kort voor Kersfees – die afwagting maak hulle opgewonde. Hoe langer ons vir iets moet wag, hoe meer waardeer ons dit.
  • Wag verander ons karakter.  In die wagtyd word al die growwe rante van ons persoonlikheid afgeskuur. Moses moes veertig jaar in die woestyn wag sodat sy karakter verander kan word. Toe hy jonk was, was hy ongeduldig – hy slaan sommer ‘n Egiptenaar dood. Toe hy weer ‘n geleentheid kry, doen hy dit op God se manier en sy tyd.
  • Wag bou intimiteit en afhanklikheid van God. Al die groot mense in die Bybel het geleer dat sukses in die lewe deur hulle intimiteit en afhanklikheid van God bepaal word. Hierdie is nie iets wat oornag gebeur nie. Wag tydens moeilike tye ontwikkel hierdie verhouding.

God stel net soveel belang is ons reis as in die bestemming Ons mag nie verstaan waarom ons moet wag nie, maar die goeie nuus is dat God ons nooit vra om sonder Hom te wag nie.




Ons hou nie van wag nie

Come to the edge, He said. They said: We are afraid. Come to the edge, He said. They came. He pushed them, And they flew . . .Guillaume Apollinaire

 

Ons hou nie van wag nie

In hierdie tyd waarin alles kits-iets is, hou ons niks van wag nie. Ons word gefrustreer as ons moet wag. ‘n Onlangse artikel in die New York Times sê dat mense ‘n webblad minder sal besoek as dit meer as 250 millisekondes stadiger is as dié van ‘n mededinger! Dit is ‘n kwart sekonde – geen normale mens kan so lank wag nie!!

 

 

Wat is die probleem? As ons wag voel dit vir ons asof ons tyd mors en niemand mag tyd mors nie. Ons het te veel om te doen; elke sekonde tel. Die Advent seisoen is ‘n seisoen van wag. Ons word herinner aan die eeue wat God se mense gewag het op die vervulling van sy belofte dat Hy ‘n Messias sou stuur – jare van onsekerheid en twyfel. Ons glo dat hierdie seisoen net te doen het met Jesus se geboorte. Dit is natuurlik waar, maar ons moenie die vooraf wagtyd vergeet nie.

 

Miskien is wag nie so sleg soos ons dink nie. Hou wag moontlik enige voordele in?

  • Ons word so vasgevang in ons eie planne; ons glo dat alles wat ons doen belangrik is. Daarom is dit so frustrerend om te wag. As ons moet wag, word ons daaraan herinner dat ander mense ook planne en prioriteite het. Ons is nie die fokuspunt van die heelal nie. Natuurlik moet ons beplan, maar ons moet dit net in perspektief sien.
  • As ons moet wag besef ons ten minste dat ons nie in beheer is nie. Dit is ‘n goeie geleentheid om na te dink oor wie nou eintlik in beheer is.
  • As ek moet wag, het ek ‘n keuse: ek kan murmureer en kla oor die verlies aan my kosbare tyd of ek kan myself daaraan herinner dat elke sekonde van my lewe ‘n gawe van God is sodat ek die geleentheid het om vir sy heerlikheid te lewe. Dit is nie wat ek beplan het nie, maar dit verander nie God se gawe nie.
  • Wag frustreer ons, want ons is toekoms georiënteerd – ons fokus altyd op wat volgende kom. Maar wat van nou? Volgende is in God se hande. Nou is wat ons het.
  • Elkeen van ons het beperkte tyd tot ons beskikking. Hoekom moet ons nou wag vir dinge om te gebeur? Maar natuurlik is ons tyd nie beperk nie – ons is immers bestem vir ‘n ewige lewe. Dit beteken nie ons kan maar gerus wees oor die tyd wat ons nou het nie, maar wag herinner ons dat hierdie lewe slegs deel is van ‘n groter geheel. As ons aan die ewigheid dink, is ‘n paar minute se wag nie so erg nie.

 

Die Adventseisoen is ‘n goeie tyd om weer nuut na tyd te kyk. God laat sy mense vir eeue wag voor Hy sy belofte vervul en die Messias stuur. Ons wag al weer eeue vir Jesus se tweede koms. Wag herinner ons daaraan dat hierdie God se storie is, dat Hy in beheer is en dat Hy die storie sal laat ontvou wanneer Hy wil. Dit gaan nie oor ons nie.