Wees teenwoordig

The art of progress is to preserve order amid change, and to preserve change amid order. -Alfred North Whitehead, wiskundige en filosoof (1861-1947)

Wees teenwoordig

Hoe kan ek mense wat swaarkry en hartseer is vertroos? David Brooks (The Art of Presence) noem ‘n paar lesse wat hy geleer het:

  • Wees teenwoordig. Moenie aanvaar dat die persoon wat swaarkry ruimte nodig het  om sy pyn te hanteer nie.
  • Moenie vergelyk nie; moet nooit sê: “Ek weet hoe jy voel nie.”
  • Klein, stil geskenkies word nooit vergeet nie.
  • Moet nooit probeer interpreteer of probeer sin maak uit wat gebeur nie.

Christene sukkel met hierdie laaste punt. Die versoeking is daar om te verduidelik hoe hierdie tragedie sin maak – of sal sin maak of in die groter prentjie inpas. Job se vriende was wonderlik toe hulle doodstil by hom gesit het. Maar toe hulle begin interpreteer oor wat nou aangaan, raak hulle die spoor byster.

Ons is dikwels geneig om te oorinterpreteer – om dit wat nie verduidelik kan word nie, te verduidelik. Die Bybel is nie ‘n boek met ‘n formule om elke denkbare situasie te hanteer nie. In ons kultuur wil ons probleme oplos en dit wat stukkend is regmaak. Wat egter nodig is, is die kuns van teenwoordig wees – moenie probeer om die onderliggende situasie te beheer nie. Laat die natuur sy gang gaan; laat dié wat swaarkry in waardigheid hulle eie proses hanteer; laat hulle hulle betekenis definieer. Wees net daar as die persoon pyn het en as alles donker lyk. Wees prakties, eenvoudig en direk.

 




Die een ding wat ware vriende doen

 Christ dit not die just to save us from our sins, but to bring us together in community – Gilbert Bilezikian

Die een ding wat ware vriende doen

Anyone can give advice, but real friends know the power of being there – Meredith Kane

Daar is baie hartseer in ons samelewing – mense wat geliefdes verloor, mense wat hulle werk verloor, egskeidings … Om te weet wat om onder hierdie omstandighede te sê, is ‘n uitdaging. Ons woorde voel so leeg.

Wat is die een ding wat ware vriende doen? Hulle is daar. Mense soek nie kaartjies en blomme nie – hulle soek jou teenwoordigheid. (Kaartjies en blomme is nie verkeerd nie.) Hulle soek iemand om by hulle te sit – net saam te wees. Hulle wil weet dat hulle nie alleen is nie, maar dat daar ander is wat nie van hulle vergeet het nie en vir hulle omgee.

 

In Markus 2:1 – 5 lees ons van die genesing van die verlamde man. Vier mans dra hom; hulle breek die dak reg bokant Jesus oop; hulle laat hom tot voor Jesus sak. Jesus was so beïndruk met hulle geloof dat Hy die verlamde man se sondes vergewe. Wat hierdie vier mans gedoen het, was beslis nie ‘n maklike taak nie, want die mense het in en om die huis saamgedrom.

Klein taak wat hulle saam gedoen het – hulle was daar toe ‘n man in groot nood – ‘n fisiese nood – hulle nodig gehad het. Hulle voel sy pyn aan en hanteer hom as een van hulle eie. Hulle bring hom na die plek van genesing. Wat baie interessant van hierdie verhaal is, is dat niemand sê wat die verhouding tussen die verlamde man en die vier wat hom gedra het, is nie. Is hulle vriende/familie/vreemdelinge? Ons weet nie. Hierdie besonderheid is blykbaar nie vir die skrywer belangrik nie.

Al wat saak maak, is dat hulle daar was. Om daar te wees, beteken ek moet uit die bed klim en ‘n doelbewuste poging aanwend om te help. Dit beteken ek moet ander voor myself plaas; dit beteken ek moet my tyd opoffer; dit beteken ongemak vir my. Ons is dit aan mekaar verskuldig om aan te meld as daar ‘n behoefte is of as iemand seerkry. Ek moet doelbewus besluit om in daardie plekke in te gaan – plekke waar daar dwelms of haweloses of mense met VIGS is. Maar ook daar waar mense se drome nie verwesenlik is nie.

Wees daar al is dit moeilik. Hoeveel beter sou ons verhoudings nie gewees het as ons nie altyd weggeskram het van plekke van nood nie. Maak jou hande vuil; wees betrokke; neem mekaar na die dak toe.