Alle Paaie lei na Jesus: Paulus se verwerping van die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Paulus se verwerping van die wet – Adrio König

3.6  Paulus se verwerping van die wet

In die vorige artikel het ons na Paulus en die wet en ons saligheid gekyk. Daar loop egter ook ’n ander lyn in Paulus se Briewe. Om dit te verstaan, moet ons onthou daar was twee verskillende sienings van die wet onder die Jode. Die Jode in Palestina (die strenger groep) het van die heidene verwag om net soos hulle self Jode te word as hulle die God van Israel wou dien.

Hulle moes hulle laat besny en die hele wet onderhou nes die Jode self. Maar die Hellenistiese Jode (wat buite Palestina geleef het en ’n ruimer siening gehad het) het die heidene aanvaar as hulle net in die God van Israel glo en die sinagoge saam met die Jode besoek. Hulle is deur hierdie Jode die “godsdienstiges” of  godvresendes” genoem (Hand 10:2). Kornelius was ’n goeie voorbeeld van so ’n Griek. Hy was ongetwyfeld in hoë aansien onder die meer gematigde Jode. Dit is immers belangrik  om te onthou dat hy buite Palestina gewoon het onder die Joodse gemeenskap met ’n ruimer siening.

 

Omtrent dieselfde onderskeid het posgevat tussen die Christen-Jode en die heiden-Christene. Die gelowiges uit die Jode het van die heidene geëis om bo en behalwe hulle geloof in Jesus ook besny te word en die wet te hou (Hand 15:1), terwyl Paulus net van hulle verwag het om Jesus te aanvaar om gered te word (Gal 2:16). Trouens Paulus het nog verder gegaan. Hy het nie net hierdie gelowiges uit die heidene toegelaat om nie die wet te onderhou nie, hy het hulle ten strengste verbied om besny te word en die wet te onderhou. Dit sou hulle losmaak van Christus wat die enigste weg tot saligheid is (Gal 5:2-4).

 

Die Christen-Jode het wel self nog die besnydenis en die wet baie streng onderhou, en Paulus het skynbaar vrede daarmee gehad. Trouens in Handelinge 21:17-26 stem hy selfs daartoe in om self in die tempel ’n offer te gaan bring om die gelowiges uit die Jode te oortuig dat hy self nog die wet onderhou (Hand 21:24).

 

’n Mens moet sekere dinge netjies van mekaar onderskei om hierdie standpunt van Paulus te verstaan. Enersyds verklaar hy kategories dat die Jode self nie in staat is om die wet te hou nie, maar andersyds onderhou hy self die wet. Hoe werk dit? Die onderskeid is skynbaar die volgende. Wanneer dit gaan oor die redding of saligheid, verwerp hy die wet radikaal. Net deur die geloof in Jesus Christus kan ’n mens gered word, heidene én Jode (Gal 2:15-16). Maar wanneer dit gaan om die lewe van die gelowige in gehoorsaamheid aan God, is die wet nog altyd die rigsnoer vir ons toewyding. Daarom kan hy in die vermanende dele van die Briewe die wet as basis gebruik en dit terwyl dit Briewe is wat aan heiden-Christene geskryf is (Ef 4 en Kol 3).

 

Daar is dus ’n sin waarin Paulus baie vry met die wet kan omgaan, afhangende van die situasie waarin hy hom bevind. Dit kom baie sterk na vore in Korintiërs. Paulus is vry van almal, maar hy is tog gewillig om hom aan almal diensbaar te maak om soveel mense as moontlik te red (1 Kor 9:19 ev). “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.” En vir dié wat sonder die wet is, het hy geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Paulus kan dus in een situasie vir Timoteus laat besny terwille van die Jode (Hand 16:3), maar in ’n ander situasie weier om die Griek Titus te laat besny omdat die Jode vals voorwendsels gehad het (Gal 2:3-5).

 

Hiermee is sekerlik nie alle probleme in verband met Paulus se siening oor die wet opgeklaar nie. Dit is trouens een van die heel moeilikste onderwerpe in die hele Nuwe Testament. Maar dit het wel geblyk dat ’n mens tog iets kan verstaan as jy eers seker maak in watter verband Paulus oor die wet skryf. As dit oor redding gaan, is hy onverbiddelik negatief. Nie net die heidene nie, maar ook die Jode kan net gered word deur die geloof in Jesus Christus, en nie deur die onderhouding van die wet nie.

 

Trouens as hulle deur die wet geregverdig wil word, maak hulle hulleself los van Christus en het Hy vir hulle geen waarde nie. Maar as dit gaan oor die nuwe lewe en ons toewyding aan die Here, het die wet sy volle betekenis behou soos dit oorspronklik bedoel was toe dit aan die volk van God by Sinai gegee is. Dit is die riglyne waarvolgens hulle in gehoorsaamheid aan die Here moes leef.

 

In die volgende artikels gaan ons na die wet in die Hebreërbrief kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Paulus: die wet en saligheid

Alle Paaie lei na Jesus: Paulus: die wet en saligheid – Adrio König

3.5 Paulus: die wet en ons saligheid

Ons het nou na Jesus se houding teenoor die wet en die wet in Handelinge gekyk. Wat van Paulus?

Dit is veral in Romeine, 1 Korintiërs en Galasiërs waarin Paulus die wet bespreek. En die direkte aanleiding waarom hy dit doen, is dieselfde as in Handelinge: die Christen-Jode wat eis dat heiden-Christene die wet moet hou, en veral dat hulle besny moet word (Hand 15:1). Paulus neem sterk standpunt hiertéén in.

Dis nie net ’n kwessie daarvan dat dit onnodig is vir die gelowiges uit die heidene om die wet te hou en besny te word nie. Dis veel erger as dit. Dis óf die besnydenis óf Christus. Hy skryf: “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur” (Gal 5:2-4).

 

Paulus gaan hier veel verder as wat ons in Handelinge gekry het. Dáár was dit net ’n keuse: nie die wet nie, maar Christus. Hier staan die wet radikaal en uitsluitend téénoor Christus. Dis geen onskuldige keuse nie! Op hierdie negatiewe waardering van die wet kom ons later terug. Maar ons moet eers kyk na ander aspekte van Paulus se siening.

 

Enersyds is Paulus positief oor die wet. Die wet (wat dikwels eenvoudig die hele Ou Testament beteken) het lank tevore al getuig van die vryspraak wat God sou gee, die vryspraak wat toe in Christus gekom het (Rom 3:21-22). Hy noem die wet heilig en reg en goed (Rom 7:12). Die wet gee ons kennis van sonde (Rom 3:20). Paulus skryf byvoorbeeld dat hy nie sou geweet het dis sonde om te begeer as die wet dit nie gesê het nie (Rom 7:7 ev). Maar wanneer Paulus die wet en die evangelie met mekaar in verband bring, word dit skielik ’n ander saak. Dan is hy regtig negatief oor die wet. “Die letter (die wet) maak dood, die Gees maak lewend” (2 Kor 3:6). Verderaan in hierdie hoofstuk skilder hy regtig ’n donker prentjie oor die betekenis van die wet teen oor die evangelie. Die wet  gaan verby, die wet veroordeel mense, die wet lei tot die dood (2 Kor 3:7-11). Elders lees ons die wet moedig ons aan om te sondig (Rom 7:8 ev), die wet het die sonde lewendig gemaak, want sonder die wet was die sonde dood (7:8). Die sonde kry dus sy krag uit die wet (1 Kor 15:56). Ons het hier sterk uitsprake oor die negatiewe krag en werking van die wet.

 

Paulus se negatiewe houding teenoor die wet kom egter ook van ’n ander kant af, van die kant van die swakheid van die wet. Dit was alreeds geïmpliseer in sy stelling dat die wet eintlik vir ons die lewe moes bring, maar toe uiteindelik die dood gebring het (Rom 7:10). Die wet doen dus iets anders as wat dit bedoel was om te doen. Die rede hiervoor lê egter nie in die wet self nie, maar eerder in ons. Die wet is deur ons sonde swak gemaak (Rom 8:3).

 

In Galasiërs (wat voor Romeine geskryf is) het hy dit nog ’n bietjie anders gesien. Toe was hy oortuig dat die wet glad nie gegee  was of bedoel was om ons die ware lewe te gee nie (3:18, 21). Die wet het net gesê wat reg en verkeerd is. Dit is dus nie net ’n geval dat die wet te swak was nie, dit was glad nie daarvoor bedoel nie.

 

Maar hierdie twee kante is maar net kop en stert van dieselfde muntstuk: Dis nie die wet van ons red nie, maar Christus.

 

Die wet en die kruis Trouens dis juis deur die wet wat ons onder die oordeel van God gekom het. “Die wet bring juis die straf (oordeel) van God” (Rom 4:15). En omdat ons op geen manier vir ons sonde kon vergoed en self aan die eise van die wet kon voldoen nie, het Christus in ons plek kom staan. Daarom is daar soveel nadruk in die Nuwe Testament op die feit dat Hy onder die wet was. “Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word” (Gal 4:4-5). Elders in dieselfde Brief: “Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek (van die wet) … Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ’n vervloekte te word” (Gal 3:10, 13). Immers Hy wat sonder sonde was, is in ons plek deur God as sondaar behandel, sodat ons deur ons verbondenheid aan Hom, deur God vrygespreek kan word (2 Kor 5:21).

 

Hierdie betekenis van die wet sou Paulus nooit uit die Ou Testament kon kry as hy nie in Jesus geglo het nie. Joodse teoloë wat Jesus nie as Messias aanvaar nie, kan dan ook glad nie met Paulus saamstem oor sy negatiewe wetsinterpretasie nie. Hulle is oortuig dat die wet gegee was om onderhou te word, wat vanselfsprekend beteken dat mense dit kan en moet onderhou. En hulle het sterk gronde hiervoor in die Ou Testament.

 

Maar omdat Jesus gekom het, lees Paulus die Ou Testament anders as hulle. “As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterf het” (Gal 2:21). Dit is hierdie betekenis van die kruis van Jesus wat Paulus se uitleg van die wet bepaal en legitimeer. In die Brief aan die Hebreërs gaan ons dit nog duideliker sien.

 

As Paulus skryf Christus is die einde van die wet (Rom 10:4), is dit hierdie betekenis van die wet wat hy in gedagte het. Hy bedoel Christus is die einde van die wet as jy dink jy kan die wet onderhou om gered te word. Hy is egter oortuig dat dit nooit die doel van die wet was nie (Gal 3:18, 21). Die wet was gegee vir mense wat klaar die volk van God was, nie vir mense wat deur die wet te hou, nog eers deur God aanvaar moes word nie. Die wet was die riglyne waarvolgens God se kinders in gehoorsaamheid aan Hom moes leef, nie die manier waarop mense wat Hom nie ken nie, by Hom guns moes verwerf nie.

 

Sover die negatiewe betekenis van die wet by Paulus. Maar ons het aan die begin kortliks daarna verwys dat hy die wet ook in ’n positiewe lig kan sien. Paulus beklemtoon die feit dat die gelowiges deur die krag van die Gees die wet kan hou. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur die sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees” (Rom 8:4). Daarom is die tien gebooie ook die sleutel van sy vermanings aan die gemeentes. Een na die ander pas hy die gebooie op hul lewe toe. In Efesiërs 4:25-5:5 hou hy agtereenvolgens aan hulle voor die negende, agtste, derde, sesde, eerste en sewende gebooie. In Kolossense 3:5- 11 agtereenvolgens die sewende, eerste, sesde, derde en negende gebooie. En hy hou dit voor as gebooie wat hulle inderdaad in staat is om te hou. Maar hy skryf dié gedeeltes nádat hy oor die nuwe lewe gehandel het wat hulle deur Christus en die Gees ontvang het (Ef 4:17-24; Kol 3:1-4).

 

In die volgende artikel gaan ons na Paulus se verwerping van die wet kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die wet in Handelinge

Alle Paaie lei na Jesus: Die wet in Handelinge – Adrio König

3.4 Die wet in Handelinge

Noudat ons na Jesus se houding teenoor die wet gekyk het, gaan ons kyk na die wet in Handelinge. Ons is nie altyd so goed bewus daarvan nie, maar in Handelinge is die wet die eintlike strydpunt.

Maar om dit te verstaan, moet ons eers net na die agtergrond van Handelinge kyk. Ons moet van die begin af duidelik onderskei tussen vier groepe:

  • die Jode,
  • die apostels,
  • die Joodse Christene,
  • en heiden-Christene.

 

Die Jode wat tot geloof gekom het, het Jesus as Messias (Christus) aanvaar. Hulle was egter nog steeds Jode, net Christen-Jode. Hulle het nog gereeld die tempel besoek en die Joodse feeste gevier (Hand 3:1; 5:12; 5:20-21; 5:42; 22:17; 24:18), en Paulus was nog bereid om ’n offer in die tempel te gaan bring (Hand 21:24-28; 24:17-20).

 

Kom ons kyk nou watter rol die wet in die interaksie tussen hierdie vier groepe gespeel het. Ons gaan agtereenvolgens kyk na Handelinge 6:12-14; 11:1-3; 13:38-39; 15:1, 5; 18:12-15; 21:20- 21; 21:28.  Die woord wet gaan elke keer gekursiveer word om die  punt te beklemtoon.

1.    ’n Sekere groep Jode kom in Jerusalem in opstand teen Stefanus. Hulle sweep mense op om hom voor die Joodse Raad te beskuldig: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander” (Hand 6:13-14). In hierdie geval is dit Jode wat Stefanus daarvan beskuldig dat hy die tempel en die wet minag.

2.    Nadat Petrus die heiden Kornelius besoek het en hy en sy gesin tot bekering gekom het, moet Petrus hom in Jerusalem gaan verantwoord voor Christen-Jode wat hom beskuldig: “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet” (Hand 11:3). In hierdie geval is dit Christen-Jode wat Petrus beskuldig dat hy nie die wet (die reinheidswette) hou nie. Maar natuurlik sou die Jode self dit ook gedoen het. Dit beklemtoon net nog ’n keer die punt dat Christen-Jode nog steeds Jode was.

3.    Paulus preek vir Jode in die sinagoge in Antiogië in Pisidië: “Wat aan julle verkondig word, is die vergewing van sondes deur Hóm … Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie” (Hand 13:38-39). In hierdie geval is dit Paulus wat ontken dat ’n mens deur wetsonderhouding gered kan word.

4.    “Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: ‘As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie’” (Hand 15:1). Kyk ook 15:5. Hier is dit Christen-Jode wat heiden-Christene probeer oortuig hulle moet die wet hou om gered te word.

5.    Die Jode kom in Korinte teen Paulus in opstand en beskuldig hom voor die goewerneur: “Hierdie man probeer die mense oorhaal om God op ’n manier te vereer wat in stryd is met ons wet” (Hand 18:13). Nogeens is dit Jode wat Paulus beskuldig dat hy die wet minag.

6.    “Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: ‘Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.” In die volgende verse vra hulle Paulus dan om self tempel toe te gaan en ’n reinigingshandeling uit te voer. “Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou.” Paulus willig dan in en gaan doen dit (Hand 21:20-26). Hier is dit Christen-Jode wat nog die wet “stiptelik” hou.

7.    “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig” (Hand 21:28). Jode beskuldig Paulus dat hy die wet oortree.

 

Wat het ons nou in hierdie ses verwysings?

  • Jode beskuldig Christene dat hulle nie die wet hou nie (1 en 5, 7).
  • Christen-Jode beskuldig Petrus dat hy nie die wet hou nie, en hulle hou self nog die wet en probeer heiden-Christene oortuig om die wet te hou anders kan hulle nie gered word nie (2, 6, 4).
  • Paulus probeer Jode oortuig dat die wet hulle nie kan vryspreek van sonde nie (3).

 

Dit alles lyk, om die minste daarvan te sê, na ’n groot ver warring.

 

Die Jode Natuurlik wil die Jode nog hê dat almal die wet moet hou. As ’n mens mooi na die voorbeelde kyk, gaan dit vir hierdie Jode nie soseer oor die heidene nie, maar oor die ander Jode wat tot geloof in Jesus gekom het. Hoe kan hulle nou ophou om die wet te hou? Dis dan die Here se wet. Dis alles maklik om te verstaan.

Die Christen-Jode Maar dis interessant dat gelowiges uit die Jode ook nog die wet wil hou. En hulle het gemeen die apostels ondersteun hulle hierin. Petrus-hulle het dan self nog gereeld die tempel besoek, en Paulus is nog bereid om self ’n offer in die tempel te gaan bring.

Paulus en Petrus Paulus verkondig selfs aan Jode, dus nie net aan heidene nie, dat die wet hulle nie kan red nie, net Jesus. En die feit dat Petrus wel in Kornelius se huis ingaan en saam met hom eet, getuig daarvan dat ook hy in hierdie situasie nie die reinheidswette gehou het nie. Dis presies die teenoorgestelde as wat die Christen-Jode vir die heidene gesê het: Julle kan nie deur Jesus gered word as julle nie meer die wet onderhou nie (Hand 13:38-39; 15:1).

 

Dit is verder ook nog duidelik dat Petrus self maar met hierdie saak moeilikheid gehad het. Eers moes die Here hom deur ’n wonderwerk oortuig dat hy wel die evangelie aan Kornelius moet gaan verkondig (Hand 10), en later het hy weer teruggeval in sy ou oortuigings dat heidene onrein is toe hy nie in Galasië saam met gelowiges uit die heidene wou nagmaal gebruik nie. Hieroor het Paulus hom skerp aangeval (Gal 2:11-14). Dis dan ook interessant dat Petrus nooit êrens in Handelinge of in sy Briewe regtig op hierdie probleem ingaan nie. Dit is uiteindelik Paulus wat ons help om dit te verstaan.

 

Kom ons probeer ’n paar dinge vasmaak.

1.    Paulus en die ander apostels beklemtoon nie die wet nie. In nie een van die preke van Petrus of Paulus kom die wet as selfstandige item voor nie. Hulle preek dat Jesus, die opgestane Here, die Jode se Messias (Christus) is. Gaan gerus ’n keer die opsommings van hulle preke self na (Hand 2:14 ev; 3:12 ev; 4:8 ev; 5:29 ev; 10:34 ev; 13:16 ev; 17:21 ev).

2.    Die wet kom net een keer in een van hierdie preke voor, en dit is omdat Paulus Jesus verkondig as die Verlosser van sonde, en dan net ter verduideliking byvoeg dat dit dus nie die wet is wat ’n mens van sonde kan vrymaak nie, maar Jesus (Hand 13:38-39).

3.    Verder kom die wet net een keer voor as ’n selfstandige punt van bespreking, en dit is in die vergadering in Jerusalem waar Paulus en Barnabas saam met die apostels en ouderlinge in Jerusalem vergader (Hand 15). Die rede vir hierdie vergadering was die aanval van Christen-Jode op Paulus se sendingwerk onder die heidene. Hulle het die heiden-Christene probeer oortuig dat hulle bo en behalwe hulle geloof in Jesus, ook nog die wet moet hou om gered te word. Die uitkoms van die vergadering was dat die gelowiges uit die heidene nie meer die wet hoef te hou nie.

4.    Dit alles beteken dat die probleem veroorsaak is deur Jode én Christen-Jode wat daarop aangedring het dat die heiden-Christene nog die wet moet onderhou om gered te word. Dit het dus glad nie oor die wet-in-die-algemeen gegaan nie, maar oor die vraag hoe ’n mens gered word. Na die wet-in-die-algemeen sal ons later kyk.

5.    Van die Jode kan ’n mens die reaksie verstaan dat die wet onontbeerlik is vir redding. Die wet was vir hulle omtrent die een en al. Daarna het ons vroeër in hierdie hoofstuk gekyk.

6.    Maar wat van die Christen-Jode? Waarom het hulle nog so vasgeklou aan die wet? Die apostels het immers nie bedoel dat dit net die heidene is wat net op Jesus hoef te vertrou en nie daarby ook nog die wet hoef te hou om gered te word nie. Paulus preek dit in die sinagoge vir twee groepe: Jode en heidene wat reeds die Joodse geloof (die Ou Testament) aanvaar het (Hand 13:14-16). En hierdie preek lewer hy lank voor hy enigeen van sy Briewe geskryf het. Hy het waarskynlik sy eerste Brief, die een aan Galasië, omtrent in die tyd van Handelinge 20 se gebeure geskryf. Terloops, die boek Handelinge is natuurlik lank na die tyd eers geskryf, maar dit vertel die geskiedenis van direk na Pinkster.

7.    Nogeens, waarom hou die gelowiges uit die Jode dan so lank aan met die wet? Wel waarom sukkel Petrus so, Petrus wat ’n apostel was wat gedurende die hele aardse bediening van Jesus met Hom saamgeloop het? Hoe moes die Here nie met hom werk nie om hom te oortuig om die evangelie aan die heiden Kornelius te bring! (Hand 10) En waarom val hy later weer terug in sy ou oortuigings en weier om nagmaal saam met heiden-Christene te gebruik? Ons moet onthou hoe sterk godsdienstige oortuigings is, veral as ’n mens dit met “moedersmelk ingekry het” en jou hele lewe ernstig daarvolgens geleef het. En ons moet ook onthou hoe radikaal die veranderings was wat daar in die geloof van die Ou Testament gekom het as gevolg van Jesus se werk. Die hele tempel-, priester-, offerdiens het verval. Die besnydenis het weg geval. Die honderde wette van Levitikus het. Dit was vir die gelowige Jode ’n skok om te aanvaar dat hulle nie God se guns moes verdien deur sy wet te hou nie. En het baie van ons nie ook so ’n paar reëls waaraan ons krampagtig vashou om in die Here se goeie boekies te bly nie?

 

Kan ons die hele diskussie beter verstaan uit die Briewe? Wat sê Paulus oor die wet en ons saligheid?

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet – Adrio König

3.2 Die Jode se interpretasie van die wet

Ons het na die wet in die algemeen en die wet in die Ou Testament gekyk. Dit bring ons by die Joodse leiers se interpretasie van die wet. Die uittog (hoofstuk 9), die verbond (hoofstuk 1), en die wet was die fondament van Israel se verhouding met die Here en met mekaar. Met die uittog het God Homself aan Israel verbind en “die God van Israel” geword, en dus ook die volk gekies as sy volk.

’n Mens kan die uittog as die geboorte van die volk beskou. Deur die verbond het Hy beloof om verantwoordelikheid vir hulle te neem, en van hulle verwag om Hom in liefde te gehoorsaam. Deur die wet het Hy konkreet vir hulle gesê hoe Hy wil hê dat hulle sal lewe.

insettinge, voorskrifte is almal verwysings na die wet.

  • Om volgens u verordenings te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld (v 14).
  • Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie (v 16).
  • Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe (v 32).
  • Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde (v 35).
  • In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig (v 47).
  • Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig (v 48).
  • U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde (v 54).
  • Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe (v 56).

Uiteindelik het hulle ontrou aan die wet egter oorheers ondanks die vermanings en waarskuwings van die profete, en uiteindelik het hulle weens hulle ontrou en ongehoorsaamheid aan die Here in die vernietigende ballingskap beland. In die ballingskap het hulle alles verloor wat vir hulle waarde gehad het. Dit is dus te verstane dat hulle ná hulle terugkeer uit die ballingskap alles in hulle vermoë gedoen het om ’n herhaling daarvan te probeer voorkom. Hulle wou nou ten alle koste die wet hou. Veral Esra en Nehemia het groot nadruk daarop gelê.

Op sigself was daar nog niks daarmee verkeerd nie. Hulle het immers nog die wet gehou omdat hulle die volk van die Here was en aan Hom gehoorsaam moes wees. Maar geleidelik het al meer van hulle die wet begin hou om by God aanneemlik te word, om op hierdie manier in ’n verhouding met God te kom. Daarom het hulle geleidelik ook die wet meer as God self verheerlik. Die wet het hulle behoud geword. In plaas daarvan dat hulle die volk van die Here was wat deur Hom aan die wet gebind was, het hulle ter wille van die wet begin leef.

hele lewe van die Israeliet later deur fyner onderdele van die wet gereël is.

God, mense, Israel en die wêreld is aan die wet onderwerp. Die wet sou dan die instrument wees waarmee God alles geskep het.

In die volgende artikel gaan ons kyk Jesus se houding teenoor die wet.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König