Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament – Adrio König

3.1 Die wet in die Ou Testament

Ons woord “wet” is nie regtig ’n goeie vertaling van die Hebreeus Torah nie. Hierdie Hebreeuse woord kom meer as 200 keer in die Ou Testament voor en word in verskillende verbande gebruik. Oorspronklik kan dit iets beteken soos “rigtingwyser” of “aanwysing” of “onderrig”.

Watter boeke het hulle onder hierdie drie dele ingedeel? Nie presies wat ons vandag daaronder verstaan nie.

  • Die wet was die eerste vyf boeke (die Pentateug), of soms die eerste ses (die Heksateug) as Josua ook daarby kom.
  • Die profete is al die ander geskiedenisboeke van Rigters af tot by Konings, met die uitsondering van Ester en Rut, en dan ook die boeke wat ons vandag nog die Profete noem.
  • Die geskrifte is die derde groep, en dis nogal ’n “deurmekaar” groep wat wysheidsboeke (Job, Spreuke, Prediker) insluit, maar ook digterlike boeke (Psalms, Hooglied, Klaagliedere), ses historiese boeke (Ester, Rut, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia) en dan nog Daniël ook.

In die tyd van Jesus was daar nog groot verskil onder die Jode oor die gesag van hierdie groepe boeke. Die Sadduseërs was ’n baie “konserwatiewe” groep wat net die Torah as gesaghebbend erken het, en omdat daar niks van die opstanding in staan nie, het hulle ook nie aanvaar dat daar ’n opstanding sal wees nie. Die Fariseërs was die meer “liberale” groep wat ook die ander twee groepe boeke aanvaar het en daarom geglo het daar sal ’n opstanding wees. Dit kom immers duidelik in Daniël 12:2 voor.

Dit was een van die belangrike take van die priesters om die volk te onderrig in die wet en om die wet te interpreteer. Ons het in Haggai 2:10-12 ’n mooi voorbeeld van hoe die priesters genader is met ’n vraag hoe die wet verstaan moes word. Maar ons kan ook uit hierdie besonderhede aflei hoe radikaal hulle die wet in hierdie tyd (na die ballingskap) geïnterpreteer en toegepas het.

In die volgende artikel gaan ons kyk hoe die Jode die wet geïnterpreteer het.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet – Adrio König

Hoofstuk 3

In die volgende aantal artikels gaan ons na die wet uit verskillende hoeke kyk,

naamlik:

  • Die wet in die Ou Testament
  • Die Jode se interpretasie van die wet.
  • Jesus se houding teenoor die wet
  • Die wet in Handelinge
  • Paulus: Die wet en ons saligheid
  • Paulus se verwerping van die wet
  • Die wet in Hebreërs
  • Verskillende houdings teenoor die wet
  • Die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Die wet

Vir baie jare van my lewe het “die wet” my allermins ’n interessante onderwerp gelyk. Maar ek het onlangs my fout uitgevind. Trouens ek begin wonder of daar enige van die groot temas in die Bybel is wat nie opwindend is nie, veral omdat ek al meer besef hoe hulle met Jesus in verband staan.

Dink aan die een kant daaraan dat Jesus die wet volkome ernstig geneem het en selfs verklaar het Hy het gekom om die wet sy volle betekenis te gee. Maar aan die ander kant het Paulus geskryf Jesus is die einde van die wet, en elkeen wat nog die wet wil hou, verbreek die band met Christus en verbeur die genade. Paulus kan skryf die wet is heilig en reg en goed, maar intussen is dit eintlik deur die wet wat Jesus gekruisig is. Hoe werk die dinge oor die wet?

Kom ons begin by die begin, en kyk waar ons uitkom. Is dit nie lekker nie om te probeer om nie vooropgestelde idees en oortuigings te hê nie, en sover moontlik met ’n oop gemoed na die Bybel te gaan en te kyk wat ’n mens kry.

Waar begin ons? By die wet in die Ou Testament.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Wet

Die Groot Geloofswoordeboek: Wet

Wet/Torah/Pentateug Wet/Tien Gebooie/Dekaloog

Torah is die Hebreeuse woord wat onder andere gebruik word vir die eerste vyf boeke van die Bybel. In die Nuwe Testament word dit “die wet” of “die wet van Moses” genoem (Matt 22:40; Hand 28:23). In die tyd van Jesus het hulle na die Ou Testament verwys as “die wet en die profete”. Soms is daar ook na die “geskrifte” verwys, wat die ander boeke was wat nie onder “die wet en die profete” ingesluit is nie. Die eerste vyf boeke word ook die Pentateug genoem. Baie Christene noem die Tien Gebooie ook die wet. Dit veroorsaak soms verwarring.

Kom ons kyk eers na die woord torah, en dan na die Tien Ge­booie.

Torah

Die woord torah word in die Ou Testament op ’n hele paar ma­niere gebruik.

• Dit kan in die algemeen raad, lering, onderwysing beteken, veral ouers se opvoeding van kinders (Spr 1:8; 4:1 waar dit vertaal is met “onderrig” en “opvoeding”).

• Dit kan verwys na ’n spesifieke boodskap wat die profeet in die Naam van die Here aan die volk gee. Dikwels word dit dan parallel met “woord” gebruik, soos in Jesaja 1:10 wat eintlik lui: “Luister na die woord van die Here, gee ag op wat ons God julle leer (die torah van die Here).” Uit wat volg blyk dit dat torah hier eintlik waarskuwing of selfs veroordeling beteken, want daar volg ’n reeks sterk veroordelings oor die sonde van die volk.

• Maar dit kan ook verwys na dit wat die Here in die algemeen deur die profeet vir die volk gesê het (Jes 5:24: “openbaring”; Jer 6:19: “leer”).

• Jesaja gebruik dit ook vir die volle omvang van dit wat hy verkondig het (8:16 – “prediking”), dus die hele boodskap van die profeet.

• Daar is psalms wat dit gebruik vir die totale wil van die Here (1:2: “woord”; 105:45: “voorskrifte”). Psalm 119 is ’n uitsonderlike torah-psalm.

Torah word egter ook meer spesifiek gebruik vir die bevele wat Moses aan die volk gegee het (Deut 4:8, 44; 31:9), en moontlik selfs vir een of meer van die eerste vyf boeke (Deut 28:61; Neh 8:2, 4). Gaandeweg word dit dan ook die wet van Moses genoem, en selfs net kortweg die wet (Matt 22:40).

• Uiteindelik word torah dan ’n tegniese term vir die eerste vyf boeke.

Die Torah, dit is die eerste vyf boeke, word deur sommige kon­serwatiewe Joodse groepe as die eintlike Bybel beskou. In die tyd van Jesus het die *Sadduseërs nog steeds net die Torah as ge­sag­heb­bend beskou. Dit is waarom hulle nie aanvaar het dat daar ’n *opstanding sal wees nie (Matt 22:23 ev; Hand 4:2 ev). Daar word niks oor ’n opstanding in die eerste vyf boeke geskryf nie. Dit kom eers baie later in die Ou Testament voor, byvoorbeeld in Daniël 12:2.

In die Nuwe Testament word die Griekse woord nomos vir die wet gebruik, ’n woord wat ons nog herken in ons woorde soos norm en normeer. Die wyse waarop Paulus na “die wet” verwys, is nogal moeilik om te verstaan. Hy kan baie negatief oor die wet wees wanneer die Judaïste vereis dat heidene nog die wet moet hou en daarom ook besny moet word om gered te word (Gal 2:15-21; 3:1-6, 13). Hy noem Christus die einde van die wet (Rom 10:4). Maar aan die ander kant staan hy ook daarop dat die wet heilig en regverdig en goed is (Rom 7:12). Jesus self ontken ten sterkste dat Hy die wet ongeldig wil maak. Hy wil dit juis sy volle betekenis laat kry (Matt 5:17).

’n Verkeerde gebruik van die wet

As ons ’n bepaalde onderskeid maak, kan ons dalk iets verstaan van Paulus se dubbele reaksie op die wet. Die doel waarom die wet by Sinai gegee is, was nooit dat die volk dit moes hou en daardeur verdien om die volk van die Here te word nie. Die Here het glad nie die wet vir ’n heidense volk gegee, en hulle aangemoedig om dit te hou nie. Dis vir sy volk gegee, die volk wat klaar in die *verbond met Abraham opgeneem is. Dit is gegee as rigsnoer vir hulle lewe. Die Here sou hulle ryklik seën as hulle die wet hou, maar swaar straf as hulle dit nie hou nie (Deut 28).

Na die *ballingskap was sekere groepe van die volk baie be­kommerd dat so ’n ramp hulle weer in die toekoms kon tref. Die *Fariseërs het uit een van hierdie groepe ontwikkel. Hulle was oortuig dat hulle so ’n moontlikheid sou kon afweer indien hulle die wet in alle besonderhede hou. Hulle het selfs nog meer wette geformuleer.

Die probleem met hierdie houding was dat hulle die oorsaak van Israel se ontrou misgekyk het. Dit was nie dat Israel nie sterk genoeg daarop ingestel was om elke wet te onderhou nie, maar dat hulle hulle verhouding met die Here verbreek het. Dit is wat gelei het tot hulle wetsontrouheid.

Dit is presies teen hierdie wettiese ingesteldheid van die Fariseërs en ander groepe wat Paulus reageer. (*Moralisme) Die Judaïseer­ders eis dat selfs die heidene die wet moet hou om gered te word. Die wet se oorspronklike bedoeling word dan misken: ’n rigsnoer vir die lewe van die volk van God, nie ’n heilsweg nie.

Daarom is dit duidelik dat Paulus die wet ook in ’n baie positiewe lig sien. En juis dit bring ons by die Tien Gebooie.

Die Tien Gebooie

Dit word ook die dekaloog genoem, letterlik die tien woorde.

Daar is interessante vrae oor die besondere aandag wat ons aan die Tien Gebooie gee. Hulle word nie so uitgesonder in die Ou Testament nie. Hulle word ook nie afsonderlik die wet genoem soos ons dit doen nie. Waar kom ons hieraan? Waarom is dit vir eeue lank in elke erediens van die Gereformeerde Kerke voorgelees?

Miskien kry hulle dit juis by Paulus. Dit lyk of hy spesifiek na die Tien Gebooie as die wet verwys. Wanneer hy ’n aantal van die Tien Gebooie aanhaal, praat hy van “die hele wet”, en ook van “die volle uitvoering van die wet” (Rom 13:8-10). Daar is nog iets wat belangrik is. Onthou dat hy deeglik daarvan bewus was dat die Torah, dit is die hele wet, as rigsnoer gegee is vir die lewe van die volk. Tog sonder hy telkens die Tien Gebooie uit as hy die gemeente oor hulle lewe vermaan. Net in een lang vermaning haal hy ses van die gebooie aan (Ef 4:25-5:5), en in ’n ander vermaning vyf (Kol 3:5-9). In die algemeen kan die Tien Gebooie ook in sy sondelyste herken word (Rom 1:29-31; Gal 5:19-21). Dit is dus duidelik dat hy ’n besondere waarde geheg het aan die Tien Gebooie as rigsnoer vir die gelowiges se lewe. Ons kan maar gerus daarmee voortgaan.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Onderhou die wet

Onderhou die wet – Adrio König

Jaco vra:

Paulus het ‘n stryd om onder andere die Galasiërs te oortuig dat ons nie deur die onderhouding van die wet gered kan word nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus(Gal.3:1-20). Ons moet wel die wet onderhou, Jesus se self so. My vraag is: wie het besluit dat ons vandag slegs die 10 gebooie probeer onderhou en nie die Torah/Wet van Moses nie, soos beskryf in Die Groot Geloofswoordeboek? Verwys Paulus nie na die “volledige wet”(al 5 boeke) nie?

Antwoord:

Prof Adrio König antwoord:

Teen die einde van die stukkie in die Woordeboek word gewys op die feit dat Paulus juis die tien gebooie uitsonder as hy oor die wet, en selfs oor die hele wet skryf. Verder is Hebreërs duidelik oor die afskaffing van dit wat gewoonlik die seremoniële wet genoem word, die tempel, priesters, offers, omdat Christus dit vervul het. Lees die hele brief, maar veral hoofstukke 7, 9, 10. Ons weet ook dat Paulus die besnydenis verwerp vir gelowiges uit die heidene.

Daar is nie iewers ‘n duidelike uitspraak oor presies wat nog geld, en wat nie meer nie. Maar daar is tog dele wat eenvoudig nie meer vandag kan geld nie soos Jesus se eie uitspraak oor die gawe en die altaar (Mat 5:23). Ons het nie meer ‘n altaar nie. Maar ons interpreteer dit tog nog op so ‘n manier dat dit ook vir ons betekenis het. Omdat die Bybel, en veral die NT, nie een groot wet is wat presies sê hoe ons moet leef nie, maar ‘n boodskap oor God se reddingsdade, is dit nie vreemd dat elke detail nie presies uitgestippel word nie. Maar dis ook waar dat dit veroorsaak dat daar verskille onder gelowiges is, soos oor die Sabbat.

Outeur: Prof Adrio König