Vrees vir die Here as bron van wysheid? – Kobus Kok

As mens so na die jong vrou op die foto kyk kan mens jouself vra wat sy eendag sou word? Sommiges antwoord dan dat sy ‘n sangeres sou word. Ander antwoord dat sy ‘n moeder sou word en sien haar met haar vier kindertjies vir wie sy kos in die borde aan die tafel skep. Meeste mense is verras as mens vertel dat hierdie jong dame later bekend sou staan as ‘n moeder van ‘n ander aard – Moeder Teresa. In die skatkamers van haar gebedshart sien mens hoe God haar ‘n hart gegee het vir ander mense. Ons ken haar immers as die ou vrou in die vuil strate van Calcutta.

Wat presies bedoel die Bybel met die woorde in Psalm 111:10 en op ander plekke dat vrees vir die Here die begin van wysheid is? Wel, dit is die wegspringplek en eindstreep van die geestelike lewensresies, die bron van ware wysheid.

So paar jaar gelede moes ek besluit of ek regte en bedryfsielkunde sou studeer of teologie. Ek was by ’n kruispad in my lewe. Daardie dag (1997) preek Prof Jan van der Watt in my vader se gemeente in Mondeor in Johannesburg. Hy preek die dag oor hoe ou Job alles verloor en hoe God in Job se verhaal met diepe wysheid na die mens kom. Uiteindelik gaan jou lewe nie oor jou nie, maar oor God. Dit gaan oor die ontdekking van God se wysheid en God se plan vir jou lewe. Rondom dieselfde tyd gee my pa vir my die boek van Bob Buford oor “Success to Significance”. Dit is ‘n uitstekende boek wat gaan oor die wysheid wat suksesvolle mense ontdek het wat in die tweede helfde van hulle lewe van sukses na betekenisvolheid beweeg het en ‘n verskil in die wêreld gaan maak het. In die eerste helfde van die lewe het hulle die resies van die lewe met vlieënde vaandels gewen, en nou gee hulle weer terug. Net daar het ek besluit om dit nie op 55 of 60 te begin doen nie, maar op 19. In vele opsigte het ek op ’n jong ouderdom dus hierdie vrae begin vra. Wat is die verskil tussen sukses en betekenisvolheid? Uiteindelik sou ek toe besluit om teologie te gaan studeer in 1998 omdat teologie vir my op daardie stadium die veld was waar jy jou ten volle kon wy aan God en dit nie oor jou gaan nie, maar oor God. Tien jaar later maak ek my doktorsgraad klaar en word ek aangestel as die opvolger van Jan van der Watt by die Universiteit van Pretoria. Hoe ironies dat God so werk? God het wysheid gehad wat ons daardie tyd nie kon sien of eers van droom nie.

Intussen het God ons gesin op verskeie reise geneem. Ons het, soos baie ander mense, die sukses en krisistye van die lewe op verskillende vlakke beleef. So het ons as gesin na sewe jaar in die bediening en sewe jaar in die akademie die roeping aanvaar om alles in ons Vaderland (familie, my vrou se besigheid, etc) op te gee en na België te verhuis vir ’n onseker toekoms in ’n fakulteit wat skaars kop bo water hou. Ons weet letterlik nie of ons oor ’n jaar of twee nog hier sal kan wees nie. Ons is in liminaliteit en op God se klok, terwyl ons harte soms (amper elke tweede dag) draaie na die Suide maak as ons die son en ons mense mis. Nou die dag wou ons kleinste seuntjie Heinrich (4 jaar oud) nie skool toe gaan nie. Onder sy krokodiltrane heen vra ons hom waarom hy nie wil gaan nie. “Vandaag is opa en oma dag, en ik heb geen opa of oma…,” sê hy in sy Afri-Flaamse aksent. Hy voel skaam en alleen, anders as die res van sy maatjies, want hy is ‘n oupa en ouma-weeskind. En al sy maatjies weet dit ook – want toe hulle in die vorige week geskenkies vir oupa en ouma moes maak het almal alreeds verneem dat sy oupa en ouma nie gaan kom nie omdat hulle vêr in Afrika woon. By die skool gekom sê een van die juffrouens vir my vrou: “Geen ouders mogen het concert bijwonen, alleen opa en oma’s”. Soos enige ander ouer huil my hart saam as my kind se hart pyn – veral as my keuses sý lewe raak.

Maar in die proses van ons oorgee aan God en wat ons glo Sy plan is met ons, het Hy deure oopgemaak wat ons nooit in ons wildste drome kon indink nie en kan ons jongmense oplei wat Europa se Christelike wortels gaan vernuwe. Ek word voorgestel aan ministers van buitelandse sake en dien as persoonlike raadgewer vir ‘n ander minister. Terselfdertyd is daar vir ons ’n reuse verlies in ons wegbeweeg van familie, in ons onsekerheid oor ons finansiële toekoms, ensomeer. Kort nadat ons na België gekom het is my vrou se vader onverwags oorlede kort voordat hy vir ons sou kom kuier. Min het ons geweet dat toe ons op die vliegtuig klim dit die laaste keer sou wees wat ons hom sou sien. Kort daarna is ons oudste seun met autisme gediagnoseer, maar ontdek ons die wonder dat hy hier kan skoolgaan in ‘n skool wat spesialiseer in autisme. Teen dusketyd is my ouma oorlede en ons kon nie op die begrafnis wees nie, het my vader ‘n hartaanval gehad en kon ons nie daar wees in die krisistyd in die hospitaal nie. Maar meer as ooit is ons as gesin ‘n hegte eenheid in die vreemde. So is die pad van God ‘n pad wat kom met liminaliteit – ‘n proses van gestroop wees en afhanklik wees – ‘n pad van verlies. Dis nie altyd maanskyn en rose vir die wat ‘n lewe van betekenisvolheid wil leef of wat besluit het om uit die boot te klim en op water te loop in die geloof nie. Geen wonder dat Jesus vir sy dissipels gesê het dat as hulle hom volg, hulle eintlik hulle familie moet groet en dat die dooies hulle eie dooies moet begrawe nie. Dis makliker gesê as gedaan vir ’n mens van vlees en bloed – maar gelukkig is ons ook vol van Sy gees.

So paar dae terug ontmoet ek een van Suid Afrika se mees beroemde besigheidsmanne se dogter wat ook al die ouderdom van my eie ouers is. Sy is baie lief vir die Here. In die motor op pad na hulle hotel in Brussels praat ons oor die hele kwessie van die lewensreis van sukses tot betekenis. Sy noem toe die volgende: “In hierdie geestelike roete ontdek mens dikwels die verskil tussen ‘from success, to significance’ to ‘beyond success and significance to renewed Significant submission to Him’.” Daarmee bedoel sy dat daar ‘n punt kan kom waar mens al die geld in die wêreld kan hê, dit opsy skuif en dit gebruik om werklik ‘n verskil te maak in ‘n poging om werklik “betekenisvol” te leef. Maar sy het ontdek dat mense wat van “success to significance” leef, dikwels nog steeds ‘n sterk ego-sentriese dryf tot “significance” het. Vir haar en ander wat werklik die pad saam met God enduit wil stap het die wysheid deurgebreek dat anderkant sukses en betekenisvolheid, daar nog ‘n fase is wat mens moet deurloop, en dit is dat mens weer moet buig op ‘n tweede naïewe manier voor God as die betekenisvolle Ander (Significant Submission). Dit behels die wysheid wat begin met die vrees van die Here. In die Hebreeuws word die woord Yir’at (יִרְאַ֣ת) gebruik om die gedagte van gesonde vrees of “reverence” mee uit te druk. In Spreuke 9:10 lees ons dat wysheid begin met die vrees van die Here. Wysheid en ‘n betekenisvolle lewe begin daar waar mens jouself weer en weer in die verskillende seisoene van die lewe ondergeskik aan die outoriteit van God stel (Spreuke 111:10). Sulke mense ontwikkel ‘n allergiese spirituele reaksie tot arrogansie en boosheid (Spreuke 8:13) en volgens Spreuke 16:6 vlug hulle graag van mense en dinge wat hulle aflei van God se wysheid – en doen dit in ‘n gees van liefde vir en getrouheid aan God (Spreuke 16:6).

Ons kan dus met vrymoedigheid saam met moeder Teresa en ander wyse mense sê:

“Reverence (yir’at in Hebrew) is the beginning of wisdom (Ps 111:10), implies an allergic spiritual reaction to anything arrogant and evil (Prov 8:13), departing therefrom in a spirit of love and faithfulness (Prov 16:6).”

Bob Buford se boek Success to Significance is pragtig. Maar daar is ‘n baie diep geestelike groeifase wat nie in die boek bespreek word nie, en dit is die verskil tussen “Success to Significance” en “Beyond success and significance to renewed Significant Submission to Him”. Dít is ‘n lewe van ware betekenis en ware wysheid – wanneer mens ondergeskik raak met alles in jou lewe aan die Missio Dei – die Sending en Plan van God in jou lewe. My oom stuur eendag Oswald Chambers se dagstuk “Instantanious and Insistent Sactification” van 08 Februarie aan my. Die dagstukke gaan oor volkome heiligmaking met die vraag hoe ver ons bereid is om te gaan vir die Here en die koste daaraan verbonde. Heiligmaking, sê Chambers, behels: “[I]ntense concentration on God’s point of view. It means every power of body, soul and spirit chained and kept for God’s purpose only. Are we prepared for God to do in us all that He separated us for?” [I]t will cost everything that is not of God in us…” Dus, hoe ver is jy bereid om te gaan en te laat gaan, sodat Hy meer en meer in en deur jou kan doen?

Skrywer: Prof. Dr. Dr. Jacobus (Kobus) Kok

Head of Department New Testament Studies

Evangelische Theologische Faculteit Leuven

Belgium

NRF Y1 Research Associate University of Pretoria




Wat leer Spreuke ons van wysheid?

“To believe in Jesus Christ and to be of the elect is one and the same thing, just as not to believe in Jesus Christ and not to be of the elect is the same thing.” – Emil Brunner

Wat leer Spreuke ons van wysheid?

Ons lewe is vol probleme, besluite wat geneem moet word, omstandighede wat wysheid vereis. In Spreuke kry ons daardie wysheid van ons Vader. Jakobus sê dat ons vir wysheid moet bid (1:5) en dat ware wysheid van Bo kom (3:15).

Die boek Spreuke is een van die grootste versamelings van tydlose raad en ware wysheid. Ons kry een belangrike tema dwarsdeur die boek: Kennis begin met die dien van die Here (1:7). Wysheid kom van God af. Daar is drie dinge wat Spreuke ons leer oor wysheid.

  • Wysheid gaan oor verhoudings

  • Wysheid is prakties
  • Wysheid is die besit van kennis met die doel om dit toe te pas. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (3:5 – 6). Waaraan daar ‘n groot gebrek in ons samelewing is, is nie ‘n gebrek aan kennis nie, maar aan wysheid. Ons is so bekommerd oor dit wat ons nie weet nie in plaas daarvan om dit wat ons wel weet, toe te pas.

  • Wysheid is nederig
  • ‘n Wyse persoon is nie volmaak nie, maar hy is leerbaar en aanvaar regstelling as dit gegee word. Deur teregwysing en onderrig te aanvaar, wys die persoon dat hy nie trots is nie. As jy wil wys wees, moet jy bereid wees om te leer. Moenie ‘n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige en sy kennis vermeerder (9:8 – 9).

    Wysheid gaan oor voortdurende groei. Wees nederig en bid vir wysheid. Omdat wysheid nie sy oorsprong in ‘n individu het nie, is daar niks om oor te spog nie. In Spreuke is die dwases wys en die wyses nederig. Bid ons nog vir wysheid?

    NEHEMIA – WYSHEID (2)

     “The Bible does not say we should aim at numbers but rather urges us faithfully to proclaim God’s message in the boldness of the Holy Spirit. This will build God’s church God’s way.” ~ Jim Cymbala

     

    Nehemia – Wysheid (2)

    Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

     

    Kenmerk #4: Wysheid … bevorder jou leierskap

     

    Nehemia se lewe van wysheid

    Daar is ‘n paar tekens wat Nehemia se wysheid beskryf.

    • Nehemia soek antwoorde. Ek het by hulle navraag gedoen (1:2).’n Leier het inligting nodig as hy wyse besluite wil neem. Eers inligting en dan optrede.
    • Nehemia vra advies by God. Hy vas en bid. Hy besef dat hy God se krag, sterkte, hulp wysheid nodig sou hê. Daarom bid hy tot die God van die hemel.
    • Nehemia was geduldig. Drie maande lank bid en beplan hy. Moenie oorhaastige besluite neem nie. Dink, bid, vra advies.
    • Nehemia was versigtig. Ek was baie bang (2:2). Hoe oorwin jy vrees? Deur wysheid. Wysheid is versigtig; die aanvaar nie sonder meer iets nie. Nehemia het baie voorregte geniet, maar hy het ook die koning geken. Daarom druk hy sy kommer op ‘n respekvolle manier uit. Ondervinding maak hom versigtig.
    • Nehemia was voorbereid. Stuur my na Juda (2:5). Hy het reeds beplan en gebid. Toe die regte oomblik aanbreek, tree hy met wysheid op. ‘n Wyse leier weet presies wat hy wil sê en wanneer. Hy berei selfs voor vir die moontlike vrae en besware.
    • Nehemia soek geregtigheid. Van God se kinders in Juda is sleg behandel. Van die ryk mense vra selfs rente op lenings. Wat doen Nehemia? Na ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!” (5:7). Let op: kry die feite; dink daaroor; tree dan op.
    • Nehemia soek oplossings. Die muur is herbou. Daar was egter maar min inwoners. Nehemia kry die register van die mense wat eerste teruggekom het. My God het my die besluit laat neem (7:5). Die lot het bepaal watter mense na Jerusalem moes terugkeer (11:1).

     

    Wat was die geheim van Nehemia se sukses as leier? Ons weet dat hy die Skrif geken het en gehoorsaam was aan wat die Skrif gesê het. Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig (Spreuke 9:10). Wat kan jy doen om ook ‘n wyse leier te word?

    • Verlang na wysheid. God vra vir Salomo wat hy van Hom wil hê. Wat vra Salomo? Insig (1 Konings 3:5 en 9). Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer ‘n groter opbrengs as goud (Spreuke 3:13 – 14).
    • Pleit vir wysheid. God beloof wysheid as jy daarvoor vra. Hoe vra jy vir God? Deur voortdurende gebed.
    • Soek wysheid. God gee wysheid, maar waar kan ons dit kry? Dit is die Here wat wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig (Spreuke 2:6). Grawe in die Bybel en jy sal baie wysheid daar kry.
    • Versorg wysheid. Wysheid moet gereeld gevoed en versorg word – lewenslank. Alles verander en daarom moet jy voortdurend wysheid soek.

     

    Volgende keer gaan ons na ‘n volgende kenmerk van ‘n leier kyk: Beplanning.




    NEHEMIA – WYSHEID (1)

    There is dust enough on some of your Bibles to write ‘damnation’ with your fingers. — Charles Spurgeon

     

    Nehemia – Wysheid (1)

    Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

     

    Ons kyk nou na die vierde eienskap van ‘n leier – wysheid.

     

    Kenmerk #4: Wysheid … bevorder jou leierskap

    “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.”… Hy was die saak dus goedgesind (Nehemia 2:5 – 6)

     

    Drama en groot spanning. Vir drie maande lank het Nehemia gebid; hy soek ‘n oplossing vir die probleem van God se mense. Geduldig en doelgerig berei hy hom vir die regte oomblik voor. Maar toe Nehemia die regte oomblik sien, gryp hy dit aan.

     

    Wysheid gebeur nie sommer nie

    Dit vereis tyd en energie; probeer en misluk. Kan ons nie maar hierdie probeer en misluk fase uitskakel nie? Dit is juis wat God vir ons wil doen. As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (Jakobus 1:5).

     

    Hoe moet ons wysheid verstaan?

    • Die bron van wysheid is God

    Alles begin iewers – dit het ‘n bron. God is die enigste uitsondering. Hy is die bron van alles. Genesis 1 sê dat Hy die Bron van die heelal is. God is ook die bron van wysheid: Jy, Esra, moet volgens die wysheid waaroor jy beskik soos dit jou deur God gegee word … (Esra 7:25). God se wysheid kry Hy van niemand nie: Sou iemand vir God iets kon leer (Job 21:22). Alle ware wysheid kan ons net by Hom kry. As jy wysheid kortkom, kyk na God en sy woord.

     

    • Wysheid is meer as kennis

    Jy het nie formele opleiding nodig om die wysheid van God in sy woord te gebruik nie. Wysheid laat jou helder dink en daarom kan jy die beste besluite, selfs in moeilike situasies, maak.

     

    • Wysheid is beskikbaar

    God het wysheid belowe (Jakobus 1:5). Dit is ‘n belofte – jy moet net daarvoor vra en Hy sal dit gee.

     

    • Wysheid word vryelik gegee

    Probeer ‘n lening by die bank kry – ‘n nagmerrie. God se reaksie is net die teenoorgestelde. Hy gee sonder voorbehoud en verwyt. Jy staan nie in ‘n tou om dit te ontvang nie. Hy gee vryelik en oorvloedig.

     

    • Wysheid kom op ‘n verskeidenheid maniere

    Watter sytakke voer God in jou lewe om jou meer volwasse/wyser te maak?

    • Jou wandel met God. Soos jy saam met Hom loop en Hom volg, word jy meer bewus van Hom. Kennis begin met die dien van die Here (Spreuke 1:7). Soos jy Hom eer en sy woord gehoorsaam, word sy wysheid jou wysheid. Dit is joune as jy toelaat dat Hy die beherende invloed in jou lewe is.
    • Die tyd wat jy in God se woord deurbring. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. … Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele (Psalm 119:98 – 100).
    • Insette van ander. Soek wysheid by mense wat wys is. Kyk na hulle lewens, vra vrae vir hulle, lees wat hulle geskryf het. So groei jy in wysheid. Hier speel mentors ook ‘n groot rol.

     

    Maar wat kan ek doen om ‘n wyse leier te word? Volgende keer kyk ons daarna.