Wysheid se CV

Wysheid

In Spreuke 8 kry ons die CV van Vrou Wysheid. Kom ons vergelyk die dinge soos hulle is met wat sy kan aanbied.

 

  • Baie Christene voel ongemaklik met die waardes van ons samelewing – die klem op rykdom en besittings. Alles baie oppervlakkig. Wysheid sê dat sy dinge wat blywende waarde het bring: opregtheid (vs 6), waarheid (vs 7), regte bedoelings (vs 8), reg (vs 9) en meer as silwer, goud en kosbare edelstene (vs 10 – 11).
  • Ons droom ook van ‘n samelewing waar reg en geregtigheid beloon word. In ons samelewing trek die onregverdige dikwels voordeel en kry mag wat dan teen ander gebruik word. Wysheid sê dat ‘n samelewing waarin die goeie beloon word moontlik is (vs 17 – 21). Die wyse wat in God se weë wandel word erken. Ek maak dié wat my liefhet, ryk.
  • Wysheid sê vir ons dat daar ‘n doel in die heelal is (vs 22 – 31). Ons sien dit daarin dat Wysheid reeds voor alle dinge daar was. Dit beteken God het ‘n doel in die heelal ingebou.

 

Die ewige soeke na wysheid

Calvyn

Die ewige soeke na wysheid

 

Soek ons wysheid los van God word ons dwase wat nie wysheid verstaan nie. As ons na wysheid soek, soek ons die sentrale betekenis en doel van die lewe. Om wysheid te verwerp, is die kern van dwaasheid. Dan weier ons om diep in die hart van dinge te kyk om so uit te vind wat die Here gedoen het toe Hy die wêreld gemaak het tot voordeel van al sy skepsels.

Die gevolgtrekking is duidelik: daar is geen ware kennis moontlik sonder die dien van die Here nie.

Die Wysheid in Spreuke 8

Die Wysheid in Spreuke 8 – Francois Malan

Andre vra: 

Wie is Wysheid waarvan Spreuke 8 praat, want Hy sê Hy was saam met die Here toe die aarde geskep is. Vers 22 – Die Here het my geskep. Dit kan dus nie God of Jesus wees nie, is dit dalk die Heilige Gees.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Spreuke 7 handel oor die verleidelike taal van die owerspeelster, wat ‘n beeld is van alle slegte vroue. Daarop volg hoofstuk 8, wat wysheid aan die woord stel as die predikster van haar waarde vir die mens. In 7:4 het die prediker reeds vir sy seun gesê hy moet wysheid sy suster maak en insig sy familie om hom weg te hou van die slegte vrou af. Soos 1:20-33 word wysheid hier ook geteken as ‘n persoon. Na die gedeeltes oor die wysheid in 1:20-33, 3:13-20, 4:8,9 word wysheid in hoofstuk 8 aan die kant van God self gestel, voor die skepping v22, in gesprek met die Skepper v30, en ‘deur Hom geskep/voortgebring as die begin van sy pad, die eerste van sy werke van toe af’ v22. Die heelal wat God geskep het getuig van sy wysheid waarmee dit gedoen is, en God se plan waarvolgens Hy geskep het word digterlik as ‘n persoon voorgestel.

In hoofstuk 8 gaan dit om digterlike personifikasie van die wysheid van God waarmee Hy die wêreld geskep het, soos in hoofstukke 1,3 en 4, as predikster tot die mense en as troetelkind van die Here. Omdat sy so hoog verhewe is, moet die mense na haar luister. Die bedoeling van die hoofstuk is om die begeerlikheid van die wysheid teenoor die begeerlikheid van die slegte vrou op ons harte te bind, soos ook in die hele eerste afdeling van Spreuke (hoofstukke 1-9). In 8:30 word wysheid as ‘n ou dame voorgestel, ouer as die aarde en die hemel. God onderhou ook sy skepping met wysheid en daarvoor gebruik Hy mense, soos die Spreuke digter self, om die mense aan te spreek.

Die wysheid staan langs die strate, by kruispaaie, by die stadspoorte (8:2). So was die profete die stem van Goddelike wysheid in die openbaar (vgl. Jeremia 7 en 26). Aan koning Salomo is bv. die gawe van Goddelike wysheid gegee om reg te spreek (1 Kon.3:28). Koning Josafat leef soos die Here dit wil (vgl. Spr.1:7), en hy stuur sy beste amptenare uit om in die stede onderrig te gee in die wet van die Here (2 Kron.17:6-9). Later tree die Seun van God self op met die wysheid van God (Mat.13:54, Hebr.1:1; Joh. 18:20; Mt.11:19; Lk.7:35) en Hy is self die weg en die waarheid en die lewe (Joh.14:6).

Jesus kom ons leer van die Heilige Gees (Joh.14:26; 16:7). Die Ou Testament weet van die Gees van die Here wat oor mense kom en hulle vaardig maak, konings, priesters, profete, ambagsmanne, landbouers, ens. Maar nou weet ons van Hom as God wat in ons woon (Rom.8:9). Nou weet ons ook dat God die hemel en die aarde deur sy Woord, Jesus, geskep het (Gen.1:3; Joh.1:1-3; 1 Kor.8:6), dat God ons Vader is, soos Jesus ons leer bid het (Mat.6:9; 11:27); en dat die Heilige Gees wat aan ons die lewe gee, reeds by die skepping oor die waters gesweef het om lewe aan die skepping gegee het (Gen.1:2; 8:2).

Die Vader en die Seun en die Heilige Gees tree met wysheid op, met die skepping, met die onderhouding van die wêreld, en met die herskepping van ons as sy kinders. Die wysheid waarmee hulle dit doen, word in Spreuke 8 besing in die lofsang op die wysheid waarvolgens ons moet lewe. Dit verkry ons deur God te leer ken uit sy woord (ook uit Spreuke), onder leiding van die Heilige Gees in ons, wat ons daagliks lei en onderskraag.

 

Skrywer: Prof Francois Malan