Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4) – Adrio König

7.4 Doop en kruis

Aan die kruis het God deur Jesus die wêreld versoen. Dis goed om te kyk hoe radikaal Paulus dit formuleer.

“Die boodskap van die versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie” (2 Kor 5:19).

Dit kan tog nie iets anders beteken nie as dat God vandag vir geen enkele mens op die hele aarde een sonde toereken nie, wat hy of sy ook al gedoen het. Beteken dit dan dat ons net vir alle mense moet laat weet dat hulle versoen is, en hulle nie verder daaroor hoef te bekommer nie? Almal is gered, want God het almal versoen?

Nee. Die volgende vers lui: “Ons smeek julle namens Christus: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (5:20)

Wat beteken dit? God het gegee, maar ons moet dit aanneem voor dit vir ons geld. Hy het ons met Homself versoen, maar ons moet hierdie versoening eers aanneem voor dit vir ons geld. Dis hoe ‘n verbond werk, van twee kante af.

Dis mos presies hoe die doop ook werk.

  • In watter boek in die Nuwe Testament lees ons hoe mense gedoop word? Handelinge.
  • In watter boeke lees ons wat die doop beteken? Die Briewe.

Maar die Briewe is ná Handelinge geskryf. Dit is geskryf aan gemeentes, mense wat klaar gedoop is. Dit beteken dat mense nie vooraf oor die betekenis van hulle doop ingelig is nie, maar eers gedoop is (Handelinge) en toe later onderrig is (die Briewe).

Indien dit in die doop gegaan het oor wat ek doen, was dit tog heeltemal verkeerd. Dan moes die apostels eers lang onderhoude gevoer het met mense wat gedoop wil word, en hulle breedvoerig oor die betekenis van die doop ingelig het sodat hulle alles kan verstaan wanneer hulle gedoop word.

Dit is alles normaal, soos dit hoort, want God gee in die doop, en ek moet agterna leer en aanneem wat Hy gegee het, en hoe om dit toe te eiën en daaruit te leef.

Maar dan pas die kinderdoop mos presies in die struktuur van die evangelie, sowel van die kruis as van die doop.

  • Aan die kruis het God ons versoen, en wanneer ons dit nou hoor, moet ons dit in die geloof aanvaar.
  • In die doop bevestig God wat Hy aan die kruis gedoen het, en ons moet dit in die geloof aanvaar.
  • Aan die kruis het God ook die baba versoen, en wanneer die baba dit hoor, moet hy/sy dit in die geloof aanvaar.
  • En in die doop bevestig God ook aan die baba wat Hy aan die kruis gedoen het, en die baba moet dit agterna in die geloof aanvaar.

Die kinderdoop pas dus nie net in die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het en waarin God ons deur die doop opneem nie.

Dit pas ook in die manier waarop die doop in die vroeë kerk bedien is: Eers gedoop, daarna onderrig.

 

Skrywer: Prof Adrio König