Terug na die Ou Testament: Die Feeste (2)

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (2) – Adrio König

3.2 Die feeste en God se reddingsplan?

3.2.1 Word die feeste in Jesus vervul?

Onder Messiaanse Jode en sommige Christene wat wil teruggaan na die Ou Testament is daar ‘n besondere belangstelling in die feeste. Hulle is oortuig dat die feeste vooruitwys na die hele reddingsplan van God met die wêreld. En sommige dring dan daarop aan dat ons dit vandag nog moet vier. Kom ons kyk eers na die feeste as voorafskaduwing van God se reddingsplan.

Hulle werk baie sterk met die omvattende voorskrif oor die feeste in Levitikus 23, maar daar is baie ander gegewens en belangrike inligting op ‘n hele paar ander plekke soos Eksodus 34, Numeri 29 en Deuteronomium 16.

Volgens Levitikus 23 is daar sewe feeste wat gedurende die jaar gevier moet word, vier in die voorjaar (lentetyd), en drie in die najaar (herfstyd).

Voorjaar: Paasfees, die fees van die ongesuurde brode, die fees van die eerstelinge, en die pinksterfees.

Najaar: Die ramshoringfees, die groot versoendag, en die huttefees.

Daar is feeste wat nie hier genoem word nie soos die nuwemaanfeeste, die Sabbatsjaar en die jubeljaar.

Die algemene oortuiging is dat die eerste vier feeste reeds “vervul” is, dit beteken dat hulle vooruitgewys het na heel spesifieke gebeurtenisse in Jesus se lewe en die koms van die Gees:

  • Die paasfees na sy kruisiging.
  • Die fees van die ongesuurde brode na sy sondeloosheid, en sommige meen ook na sy begrafnis.
  • Die eerstelingefees na sy opstanding.
  • Die pinksterfees na die uitstorting van die Heilige Gees.

Dan volg die drie herfsfeeste wat nog nie “vervul” is nie, maar wat vooruit wys na gebeurtenisse wat nog in die toekoms lê:

  • Die ramshoringfees of die fees van die trompette sou verwys na die wegraping.
  • Die groot versoendag na die bruilof van die Lam.
  • Die huttefees na die duisendjarige vrederyk.

Almal stem natuurlik ook nie presies saam oor die spesifieke gebeurtenis waarin die fees “vervul” word nie. Ek het maar net die algemeenste betekenis van elkeen gegee.

  • Die eerste vraag moet seker wees of daar regtig grond in die Bybel is om die feeste só te interpreteer.
  • En dan die vraag waarom sekere feeste uitval.
  • En uiteindelik die vraag presies waarna elke fees sou vooruitwys.
  • Daar word verwys na Amos 3:7: “Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie.” Maar dit sê natuurlik niks oor die feeste nie. Dit beteken net dat ‘n mens in die Ou Testament op die uitkyk moet wees vir profesieë wat later vervul sal word in die werk van God.
  • Soms kry ‘n mens selfs argumente en teksverwysings wat jy op geen manier in verband met die feeste kan bring nie. So word “the blessed hope” (Tit 2:13) gesien as die hoop van gelowiges dat die drie “onvervulde” feeste nog vervul sal word.
  • Die uitdrukking “gewyde byeenkomste” in Levitikus 23:4 word in die King Jamesvertaling weergegee met “holy convocations”. Dit is ‘n verwysing na die viering van die sewe feeste. Die feeste sal met byeenkomste (“convocations”) van die volk gevier word (23:8, 21, 24, 27, 36). Maar nou word beweer dat die oorspronklik betekenis van die Hebreeuse woord vir “byeenkomste” eintlik “repetisies” is, wat dan sou beteken dat elke feesviering eintlik ‘n repetisie (vooraf-oefening) is van die heilsdaad waarna dit verwys en wat later sal plaasvind, soos die kruisiging of die opstanding. Maar ek kry nêrens enige aanduiding dat die Hebreeuse woord oorspronklik “repetisie” beteken het nie.
  • Ek weet van geen verwysing in die Bybel dat al die feeste in groot heilsdade vervul sal word nie. Die feeste word eenvoudig nêrens as ‘n soort profesie aangebied nie. Die feeste het hulle eie, wonderlike betekenis en waarde gehad. Dit is wel so dat sekere heilsdade tydens bepaalde feeste plaasgevind het, maar selfs in daardie gevalle is daar geen aanduiding dat die fees eintlik ‘n soort profesie van die heilsdaad was sodat die fees in die heilsdaad vervul is nie. Ons sal wel later kyk na die manier waarop die Nuwe Testament by sekere gebeurtenisse in Jesus se lewe terugverwys na sekere feeste soos die paasfees en die pinksterfees. Maar ook dáár is daar geen aanduiding dat hierdie verband al in die Ou Testament bekend was nie.
  • Ek kry dus nie gond in die Bybel om te aanvaar dat die sewe feeste eintlik ‘n voorskou van die heilsplan van God was nie.

     

    Skrywer: Prof Adrio König