1

Terug na die Ou Testament: Die terugkeer na die Ou Testament (1)

Terug na die Ou Testament: Die terugkeer na die Ou Testament (1) – Adrio König

1 Die terugkeer na die Ou Testament

Sommige Christene is vandag ernstig om weer te begin met sekere gebruike wat in die Ou Testament baie belangrik was. En dit beteken ‘n radikale herinterpretasie en herorganisasie van hulle lewe.

Daar was altyd verskille onder Christene oor hoe ons die Ou Testament moet hanteer, oor watter dinge nog vir ons geld, en watter nie. Is dit eenvoudig hierdie selfde dinge wat terugkom, of is dit ‘n nuwe situasie?

 

Kom ons kyk terug op die begin van die Christelike geloof.

 

  • Aan die begin was een van die brandendste vrae die een oor die besnydenis (Hand 15; Galasiërs).
  • Maar die feeste en die Sabbat het ook na vore gekom (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17; Rom 14:5-6).
  • Ook die vleis van onrein diere (Hand 10:9-16), en ander voorskrifte oor vleis (Hand 15:20, 29), en oor eet- en drinkvoorskrifte (Kol 2:16-17).
  • Die vraag of gelowiges die vleis wat deur heidene aan afgode geoffer is, mag eet, het hier bygekom (Rom 14; 1Kor 8; 9).
  • Maar ‘n veel ingrypender vraag was die vraag wat die verhouding moes wees tussen die Joodse gelowiges en die gelowiges uit die heidene. Hieroor het Paulus en Petrus selfs in die openbaar radikaal van mekaar verskil (Gal 2:11-14).
  • Maar miskien die heel belangrikste was die Joodse gelowiges wat skynbaar nie net oorweeg het om weer na sekere gebruike in die Ou Testament terug te gaan nie, maar selfs om hulle geloof in Jesus prys te gee terwille van die Ou Testamentiese gebruike  (Hebreërs).

 

Baie nou hieraan verbonde was die algemene vraag oor die wet. Geld die wet nog, of nie meer nie? Wat van die wet geld nog, en wat nie meer nie (oa Rom 7, 8). In hierdie verband het die vraag: Abraham óf Moses, die geloof óf die wet (Gal 3:1-9)) baie sterk na vore gekom. Maar dit was ‘n omvattender vraag as een of twee spesifieke sake. 

 

Die antwoorde op hierdie vrae oor die Ou Testament was van beslissende betekenis vir die voortbestaan van die Christelike geloofsgemeenskap. Die antwoorde was oorwegend negatief wat die Ou Testament betref:

  • Nie meer die besnydenis nie.
  • Nie meer die feeste nie.
  • Nie meer Sabbat nie.
  • Nie meer die tempel, priesters, offers nie.

 

Alles is nie oornag afgeskaf nie. Die gelowiges het hulle geleidelik al meer losgemaak van hierdie dinge. Die apostels het self aanvanklik nog die tempel besoek (Hand 3), die gelowige Jode in Jerusalem het nog lank hulle seuntjies besny (Hand 21:21), en ons het skynbaar selfs een of twee voorbeelde van feeste wat hulle gevier het (Hand 20:6, 16).  

 

Maar die omvattende prysgawe van al hierdie dinge was onontbeerlik vir die behoud en groei van die Christelike geloofsgemeenskap.

 

Indien hierdie proses van “ontbondeling” met die Jode nie plaasgevind het nie, sou die Christene voortbestaan het bloot as ‘n vreemde groepie Jode binne die Joodse geloofsgemeenskap.

 

Dit is immers hoe die Christelike geloofsgemeenskap begin het. Dit was ‘n groepie Jode, deel van die Joodse geloofsgemeenskap, wat geglo het dat die Messias wat hulle verwag het, reeds gekom het. Hulle het saam met die ander Jode die tempel besoek (Hand 3), die feeste gevier (Hand 20:6, 16; 21:26), die wet gehou en hulle kinders besny (Hand 21: 20-21). Indien hulle só aangegaan het, sou hulle niks meer bereik het nie as om ‘n (kleiner of groter) skeuring in Joodse geledere te veroorsaak.

 

Ons het dit aan Paulus en die Hebreërbrief te danke dat die Christene uit hierdie ingehokte situasie uitgebreek het en die heidenwêreld ingevaar het. Dit is veral die inisiatief van Paulus wat die evangelie “verbruikersvriendelik” vir die heidene gemaak het. Die kans dat ‘n massa heidene skielik Jode sou word, was gering. Ons kan moeilik ten volle die betekenis waardeer wat Paulus gehad het en nog steeds het vir die vorming én die groei van die Christendom in die wêreld. Hy was ‘n gawe van God, nie net aan die kerk nie, maar aan die wêreld.

 

Wat het hy gedoen?

 

  • Hy het nie die Ou Testament afgeskaf nie. Dit sou fataal gewees het.
  • Hy het dit ook nie sondermeer, heelhuids aanvaar nie. Dit sou ewe fataal gewees het.
  • Hy het versigtig, selektief, met fyn onderskeidingsvermoë, uitgesoek wat nog geldig is en geldig sal bly, en wat deur Christus vervul en vervang is. 

 

Skrywer: Prof Adrio König