Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (2)

image_pdfimage_print

 

You don’t think your way into a new kind of living. You live your way into a new kind of thinking – Henri Nouwen

 

Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (2)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die vraag is: As ons uitvind dat daar iets skort, wat kan ons daaraan doen? Daar is twee breë benaderings: jy kan leef asof tevredenheid wel moontlik is of jy kan leef uit die oortuiging dat tevredenheid net nie moontlik is nie.

 

  1. Tevredenheid is wel moontlik

Hier kan ons vier strategieë onderskei:

  • Jongmense reis met die hoop dat hulle tevredenheid sal vind – as ek net die regte werk of vrou kry, sal alles verander. Hulle is rusteloos op soek.
  • Gegriefdheid – ons blameer die hindernisse wat verhoed dat ons die dinge wat ons dink tevredenheid sal bring, verhinder.
  • Gedrewenheid – ons maak net meer en meer bymekaar – geld en prestasies. Ander blameer die dinge wat hulle het: as ek maar net ‘n beter werk of vrou of huis gehad het.
  • Wanhopigheid – nou blameer ons onsself. As ons eerlik na onsself kyk, sal ons altyd iets kry wat tot ons frustrasie bygedra het.

 

  1. Tevredenheid is nie moontlik nie

Hier kan ons drie strategieë onderskei:

  • Altruïsme – naasteliefde. Hierdie mense kyk na die sosiale probleme in ons samelewing en die verbetering van die lot van ander. Hierdie benadering is dikwels selfsugtig: om ander te help omdat jy ontevrede is, sal op die langtermyn nie werk nie.
  • Sinisisme – as jy glo dat vervulling, vreugde en tevredenheid net nie moontlik is nie en jy verhard jou hart teen enige hoop, sal jy baie van jou menslikheid verloor.
  • Onttrekking – om jou liefde vir ander te verminder, sal nie jou tevredenheid vermeerder nie, maar sal dit eerder ondermyn.

 

Hier is sewe strategieë wat mense gebruik om tevredenheid te bou. Nie een van hulle is suksesvol nie. Wat kan ons dan doen met ons ontevredenheid? Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

image_pdfimage_print