Tiendes

Tiendes

Baie mense dink die kerk wil net geld hê en in kerktaal noem mense dit hulle “tiendes”. Hoekom moet ʼn mens dit doen?

Aan die begin van die Ou Testament, toe die mense nog nie Bybels gehad het om hulle van God te vertel nie, het hulle een ding besef: hulle koring groei nie vanself nie, en die lammers val nie sommer uit die lug nie. Daar moet ʼn God wees wat agter dit alles staan. Op ʼn manier wou hulle vir Hom dankie sê. Hulle het toe as gesin bymekaar gekom, ʼn deel van die koring gevat en dit “geoffer”. Dit het beteken dat hulle eintlik uit dankbaarheid saam met God “fees” gehou het. Hulle het dan dele verbrand (wat vir God sou wees) en dele self geëet. Later, toe daar heilige plekke (offerplekke met priesters) kom, is hulle na die heilige plekke toe, want hulle het geweet God is definitief daar. Die priesters wat daar gewerk het, wou ook deelneem aan hulle feeste en so was dit toe ook. Maar jy kon nie priesters afskeep nie, want hulle werk mos vir God. Netnou word die idee geskep dat jy God afskeep, en dit wil ʼn mens nie doen nie. Daarom het hulle besluit dat jy ʼn tiende van jou oes of lammers vir die priester en God sal gee. (Dis maklik om te tel. Jy pak hopies en dan meet jy dit met jou tien vingers af en gee een van die dele vir die priester). So gesê, so gedoen. Die priesters het toe te gulsig geraak en die gee van tiendes ʼn wet gemaak. Dit het nie meer oor dankbaarheid teenoor God gegaan nie, maar oor die koring en lammers wat hulle moes kry.

Toe Jesus gekom het, het Hy weer dinge balans kom gee. Hy het kom beklemtoon dat die gee van “tiendes” nie ʼn reël is nie, maar dat dit ʼn gesindheidsaak is; ʼn saak van liefde en dankbaarheid teenoor die Here. Paulus vertel dat om vir die Here te gee nooit ʼn plig of ʼn wet mag wees nie. Dit moet uit jou hart uit kom. Eintlik moet jy so graag vir die Here iets wil gee, dat jy alles vir Hom sal gee as Hy jou vra. As daar dus iemand is wat iets van jou nodig het, al sou dit meer as ʼn tiende wees, moet jy help. Daar mag ook ʼn situasie kom waar niemand op daardie oomblik iets nodig het nie, dan gee jy minder as ʼn tiende.

Die belangrike is: gee omdat jy die Here liefhet; omdat jy graag van die goedheid wat Hy oor jou uitstort vir hom wil teruggee. Bowenal: gee jou hart, jou gesindheid vir Hom

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy