Toegerus vir die taak

… it has begun to rain and snow books and teachers, many of which already lie there forgotten and moldering. Even their names are not remembered any more, despite their confident hope that they would eternally be on sale in the market and rule churches – Martin Luther

 

Toegerus vir die taak

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

As dit alle gelowiges se taak is om dissipels te maak, hoe moet ons hulle toerus? Die vroeë kerk was nie ‘n organisasie gelei deur ‘n CEO nie. Die kerk is ‘n liggaam wat net doeltreffend kan funksioneer as elke lid sy deel doen. In Efesiërs 4:11 – 16 word dit pragtig beskryf. Jesus Christus gee aan sy liggaam – die kerk – sekere gawes – apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Hoekom gee Hy hierdie gawes? Om die werk te doen? Nee, Om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

Wat is die eindresultaat van hierdie benadering? Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus … ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hoekom is dit belangrik dat alle gelowiges betrokke moet wees? Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Dit is baie duidelik dat die kerk die gemeenskap van gelowiges is waarin elke gelowige aktief betrokke is by bediening. Die implikasies is geweldig – ek moet aktief betrokke wees in die kerk anders funksioneer die kerk suboptimaal. Maar ons het so baie verskonings om nie betrokke te raak nie – te besig; ek weet nie genoeg nie; ek wil eers my eie lewe in orde kry … Die probleem is dat daar geen uitsluitingsklousules in Jesus se opdrag is nie. Lees net Lukas 9:57 – 62 vir al die wonderlike verskonings waarmee mense na vore kom. Daar is so dikwels ‘n verskoning waarom ons Jesus Christus nie op hierdie oomblik kan gehoorsaam nie. Luister na Jesus se reaksie: Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie – harde woorde.

Jesus Christus het ons gemaak net soos ons is; Hy het ons van alles voorsien wat ons vir ons taak nodig het. Ons kan nie mense se harte verander nie – net God kan dit doen. Ons moet net gehoorsaam wees en mense wat nie glo nie, leer – al moet ons self nog baie leer.

Ons is toegerus. Al wat oorbly is om die eerste stap te neem. Daarna kyk ons volgende keer.