Toetsing van ons geloof – Hermie van Zyl

Ester vra:

Ek weet in die Bybel word daar baie gepraat oor toetsing van jou geloof. Waarom is dit nodig dat God ons geloof gedurig moet toets. Jesus sê tog dat as jy Hom aangeneem het en jy gered is, ís jy ‘n kind van God en niemand kan jou uit sy hand ruk nie. Ek verstaan dat alles nie altyd so goed verloop vir jou nie, maar as God jou aanneem net soos jy is, hoekom het Hy nodig om jou te toets?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord op ons vraagsteller se vraag – as God jou aanvaar net soos jy is, waarom jou voortdurend toets? – is: Ja, God aanvaar jou net soos jy is, maar los jou nie net soos jy is nie. Daarom word ons geloof voortdurend getoets. Hierdie kort antwoord vra egter om ‘n uitvoeriger verduideliking.

Soos die vraagsteller tereg opmerk, is die toetsing van ons geloof ‘n deurlopende tema in die Bybel. Daar is haas nie ‘n boek in die Bybel waar hierdie saak nie direk of indirek aan die orde is nie. Vanuit ‘n sekere hoek gesien, kan ons sê dat dit die eintlike saak is waaroor die Bybel handel. Want waaroor gaan die Bybel anders as oor God se pad met mense – hoe Hy mense roep, kies, verlos, bevry om sy volk/kinders te wees en dan ‘n pad met hulle loop om hulle na sy wil te vorm. Neem maar vir Abraham: God roep hom uit sy tuisstad, Ur, en gee aan hom die belofte: Ek sal vir jou ‘n God wees; Ek sluit ‘n verbond met jou (Gen 12:1-3; 17:7). Anders gestel, God sê vir hom: Ek sal jou verlos. Hierdie belofte het egter ‘n keersy: Jy moet my verbond onderhou; jy moet vir my ‘n kind/volk wees (Gen 17:9; Jer 31:33). Hierdie struktuur van God se handelinge met die mens vorm die grondslag van alles wat ons in die Bybel aantref – hoe God ons red, sy eiendom maak, en hoe Hy met ons “sukkel” dat ons waardig ons redding leef, dat ons darem lyk soos mense wat deur God gered is.

Die toetsing van ons geloof is dus niks anders nie as God se manier om ons in hierdie wêreld te laat leef en optree soos mense wat in ooreenstemming met God se wil leef. Want die wêreld is vol verleiding en aanvegtinge wat ons van God se pad wil aftrek. Die hele geskiedenis van Israel is tekenend hiervan – hoe God telkens sy profete na Israel toe stuur om hulle op sy pad terug te kry, en hoe hulle die meeste van die tyd hulle nie aan die profete steur nie maar hulle eie pad loop. Maar God gee nie op nie; hoewel sy volk ontrou is, bly Hy getrou.

Die Nuwe Testament vertoon dieselfde prentjie. Nou gaan dit net om die voortsetting van die ou volk van God in die kerk van Jesus Christus. Maar nog steeds is die oproep daar: Ek wil julle God wees en julle moet my volk wees (Heb 8:8-13). En dis by hierdie “volk wees vir God” waar die saak van die toetsing van ons geloof inkom. Met verskeie beelde word die toetsing beskryf. In Heb 12:1-3 word dit met ‘n wedloop vergelyk: Ons moet soos atlete vir Christus die wenpaal in die oog hou en volhardend die wedloop hardloop, van alles ontslae raak wat ons hinder in die wedloop, veral die sonde. In die daaropvolgende verse (Heb 12:4-13) word die geloofstoetsing weer beskryf met die beeld van ‘n aardse vader wat sy kinders tugtig sodat hulle aan die standaarde van die vader kan voldoen. God is ons hemelse Vader en wanneer Hy ons tugtig (toets) is dit nie omdat Hy vir ons kwaad is of ons ondergang wil bewerkstellig nie, maar omdat Hy ons liefhet. Jak 1:2-8 beskryf dieselfde geloofstryd en -toetsing weer in terme van standvastigheid en vrug dra: God wil nie hê nie dat ons soos die golwe van die see heen en weer geslinger word soos mense wat nie weet wie en wat hulle is nie. Hy wil hê dat ons moet volhard sodat ons tot geestelike rypheid kom en ons geloof kan vrug dra. En wanneer ons in die geloofstoetsing swaarkry moet ons nie dink dis omdat God ons probeer verlei nie. Nee, Hy kan deur niemand verlei word nie, en Self verlei Hy ook niemand nie (Jak 1:12-18). God gee net goeie dinge. Ons word deur ons eie begeertes verlei. Nogtans kan ons die versoekings weerstaan, want ons word nie bo ons kragte versoek nie (1 Kor 10:13). Hy gee immers aan ons die wapenrusting waarmee ons die vyand (die Bose) se aanslae kan afweer (Ef 6:10-20). Dit alles gebeur sodat ons geloof getoets en sterk kan word. Dit is soos ‘n boompie wat in sterk winde grootword. Dit leer later hoe om weerstand te bied en kan dan as groot boom selfs skuiling bied aan mens en dier.

Die lewe is een voortdurende toetsing van ons geloof, nie om ons te breek nie, maar sodat die egtheid van ons kindskap kan ontwikkel en ons al meer kan lyk soos God se kinders. Enersyds word ons bemoedig deur die belofte dat ons vir altyd aan Jesus behoort en dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie (Joh 10:28). Andersyds word ons gewaarsku teen afvalligheid (vgl Heb 6:4-6). Dit klink amper teenstrydig: Ons redding lê vir ewig vas in God, en tog word ons gewaarsku om te volhard en nie afvallig te word nie. Belofte en waarskuwing staan egter nie teenoor mekaar nie. Ons moet dit so verstaan dat wie ernstig is oor sy/haar geloof en elke dag die goeie stryd stry, verseker kan wees dat sy/haar geloof nie net staande sal bly nie, maar ook sal groei. Want God sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, nie laat vaar nie (Fil 1:6). Aan die ander kant kan iemand wat geen erg aan God het nie, wat geen begeerte het om Hom werklik te dien nie, nie aanspraak maak op allerlei beloftes wat eenmaal gemaak is nie. Dit is slegs in die geloofstryd, in die toetsing van ons geloof, in ons volharding dat ons God se beloftes van ewige redding kan aangryp en weet dat ons die geloof sal behou.

Die toetsing van ons geloof is natuurlik nie vir almal presies dieselfde nie. Uiteraard is daar gemeenskaplikhede: Ons moet almal veg teen die aanslae van die Bose; ons moet almal stry teen sonde, kleinlikheid en liefdeloosheid. Maar die spesifieke manier hoe dit in elkeen se lewe manifesteer, is nie dieselfde nie. Uiteindelik loop God met elkeen ‘n unieke pad. Geen twee van sy kinders word presies aan dieselfde toetsings, op dieselfde manier, onderwerp nie. Party se toetsing lyk swaarder as ander. Ons weet nie hoekom dit so is nie, en dit help ook nie om daaroor te wonder en daarteen te rebelleer nie. Net soos wat elkeen se omstandighede nie presies ooreenstem nie, net so verskil ons persoonlikhede en verhouding met God. Die waarom’s van die lewe help ons dus nie veel nie, maar eerder wat ons uit die toetsings waaraan ons onderwerp word, kan leer omtrent ons verhouding met God en ons kindwees van Hom.

Om saam te vat: Die toetsing van ons geloof is nie iets onnatuurlik nie, maar dis deel van die lewe saam met God. Sónder toetsing is ons nie egte kinders van God nie. Mét toetsing word ons al meer omvorm na die beeld van God se Seun hier op aarde (Rom 8:29). As God ons net so los soos Hy ons aanvaar het, kan daar geen groei en volwassewording in ons geloof plaasvind nie. Net soos kinders moet leer om in hierdie lewe bepaalde reëls en verantwoordelikhede na te kom, en so bevestig dat hulle egte kinders van hulle ouers is, net so moet ons leer hoe om kinders van God te wees na sy welbehae. En dit vat tyd en oefening. Lewenslank.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl