Trots en leuens

image_pdfimage_print

Television knows no night. It is perpetual day. TV embodies our fear of the dark, of night, of the other side of things. -Jean Baudrillard, sosioloog en filosoof (1929-2007)

 

Trots en leuens

Trots is nie iets wat jy doen nie – dit is erger as dit. Dit is ‘n soort geestelike hartsiekte wat geloof vernietig. Hierdie siekte versprei deur leuens wat ons hart maar te gewillig is om te glo. Daar is veral drie dinge wat ‘n trotse hart glo wat deur die waarheid reggestel moet word:

 

  •  Ek is beter. ‘n Trotse hart vergelyk, maar op so ‘n manier dat nie een van die ander kan wen nie. Dit verseker die persoon dat hy baie goed is in vergelyking met ander. Hy ignoreer die sterkes en spot die swakkes om te wys dat hy beter as hulle is. Dit is die gesindheid van die Fariseër wat naby die tollenaar in die tempel gestaan het toe hulle gebid het. Hy fikseer so op die ongeregtigheid van die ander man dat hy dink dat hy heilig is. Hy voel gemaklik omdat hy beter as ‘n ander sondaar is. Hy is nie nederig en gebroke voor die aangesig van God nie. ‘n Trotse hart glo: Ek is beter.
  • Ek verdien beter. ‘n Trotse hart glo dat hy verdien wat hy begeer – nie net dit wat hy het nie. Altyd ontevrede; nooit genoeg nie. Ons is ontevrede met die gawes wat God aan ons gegee het; ons kan nie saam met diegene wat meer as ons het, bly wees nie. Ek verdien dat dinge moet verloop soos ek dit wil hê.
  • Ek is voldoende. ‘n Trotse man vertrou op sy eie vermoëns. Hy kyk net na homself as iets gedoen moet word. Hy weier eerder hulp as om ‘n swakheid te erken. Dit laat jou op jou eie om die eise van die lewe te hanteer.

 

Die vyand van trots is nie nederigheid nie, maar geloof. Dit beteken ons erken: Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1 Korintiërs 1:30). Geloof laat ons dinge reg sien. Ons sien God soos Hy Hom aan ons geopenbaar het – ons sien ook onsself soos ons werklik is. Geloof glo nie dat ek beter is nie – ek besef dat ek God se wet verbreek het. Geloof glo nie dat ek beter verdien nie – ek besef dat wat ek het slegs onverdiende genade is. Geloof glo nie dat ek voldoende is nie – dit laat my besef hoe afhanklik ek van God is.

 

Trots en die leuens wat dit glo, kan net deur geloof oorwin word As ek trots wil doodmaak en in nederigheid wil groei, moet ek my aan God oorgee.

 

 

image_pdfimage_print