1

Tydbestuur

 

The weakest faith gets the same strong Christ as does the strongest faith. —Sinclair Ferguson

 

Tydbestuur

Meeste van ons voel asof ons nie in volle beheer van ons tyd of dagboek is nie. Hoekom? Want ons sien nie die groter prentjie nie. Tipies as ons aan tydbestuur dink, sien ons ons te-doen lysie asof alles op daardie lysie dieselfde prioriteit het. As ons nie alles gedoen kry nie, aanvaar ons dat ons ons tyd sleg bestuur het.

 

Die probleem is dat nie alles wat ons dink gedoen moet word, moet gedoen word nie. Sekere dinge moet ons doelbewus nie doen nie. Die grootste probleem is dat ons aan tyd net op ‘n logiese manier dink. Daar is ten minste vier dimensies in tydbestuur en ons moet al vier verstaan.

  1. Tydbestuur het ‘n logiese komponent

Ons het 168 uur per week. Daarvan slaap ons 45 – 50 uur. Die res van die tyd moet ons tussen familie, werk, vriende, rus, vermaak, ens verdeel. Dit vereis ‘n kalender, basiese organisasie en ‘n te-doen lysie.

 

  1. Tydbestuur het ‘n emosionele komponent

As ek van my familietyd opoffer vir my werk, sal ek meer gedoen kry, maar dit gaan my emosioneel dreineer. Elke nuwe taak wat ek aanpak, bring ‘n sekere mate van druk. Dit is nie net of ek hierdie nuwe eise in my skedule kan inpas nie, maar ook: met hoeveel emosionele druk gaan dit gepaard.

 

  1. Vir die Christen het tydbestuur ook ‘n geestelike komponent

My verhouding met God word beïnvloed deur hoe ek my tyd spandeer. In tradisionele tydbestuur beteken die eerste uur die nagaan van e-posse. Vir die Christen is dit die tyd om stil te wees met God. Christene wil ook hê dat hulle tyd belê en nie gespandeer moet word nie – ek wil my tyd belê in dinge met ‘n Koninkrykswaarde. Maak die beste gebruik van elke geleentheid (Efesiërs 5:16). Dit beteken nie dat ons nou teen ‘n pas wat ons nie kan volhou moet werk nie. Dit beteken wel dat ek weet wat die belangrikste is en daar my tyd belê.

 

  1. Tydbestuur het ‘n verhoudingskomponent

Die belangrikste ding waaraan ek in my lewe aandag kan gee, is verhoudings. Dit is waar ek my tyd en energie moet fokus.My verhouding met God vereis tyd – Bybelstudie, gebed, luister, skryf en studie. My verhouding met my vrou vereis tyd – praat, saam bid, geniet mekaar. My verhouding met my kinders vereis tyd … So kan ek voortgaan. Ek het ook tyd nodig vir introspeksie.

 

Tyd is nie net matematies nie. Dit is ook emosioneel, geestelik en verhoudings. Tyd moenie net gespandeer word nie, maar moet belê word. Onthou: my tyd is waardevoller as my besittings.