Uitverkiesing en genade: ’n onverklaarbare hoop

Uitverkiesing en genade: ‘n onverklaarbare hoop – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Die uitverkiesing kan problematies wees vir party mense.  Dit neem skynbaar verlossing uit ons hande.  Die wonderlike van uitverkiesing is dat dit verlossing in die Hande van God plaas.  Uitverkiesing maak dat verlossing genade is, want ons is afhanklik van God daarvoor.  Waar kan ons ‘n veiliger plek kry om te wees as die Hand van God?

2. God kies:

Die Bybel is eintlik van voor tot agter vol van God se uitverkiesing.  God het gekies om ‘n mens te maak om in ‘n verhouding mee te staan (Genesis 1:26-27).  God kies Noag om ‘n nuwe begin mee te maak (Genesis 6-8).  God kies Abraham as vader vir ‘n nuwe verbondsvolk (Genesis 12).  God kies Dawid as “ewige koning” oor sy volk (1 Samuel 16).  Die een eienskap van elkeen van hierdie persone was: God het besluit en uitgekies; dit het nie afgehang van wat hierdie mense doen nie (Romeine 8:13).

God se uitverkiesing word ook nie neergesit of teruggetrek soos speelkaarte nie.  As God kies, trek Hy nooit sy uitverkiesing terug nie (Romeine 11:29).  Sy uitverkiesing is dus betroubaar en standvastig.  Paulus waarsku wel dat takke (gelowiges) wat genadiglik ingeënt is op die stam, weer uitgekap kan word (Romeine 11:17-21).  Daarmee verwys hy egter na hulle wat nie in geloof hulle uitverkiesing wil aanvaar nie.  Daarom moet ons bly “let op die goedheid en strengheid van God” (Romeine 11:22).  Ons kan nie met God se verlossing mors net omdat ons uitverkorenes van God is nie.  Ons moet leef as mense wat deur God uitverkies is.  Ons moet weet dat Christus die krag is wat uitverkorenes aan God vashou (1. Korintiërs 1:24).

Die gronde van die uitverkiesing bly egter ‘n raaisel.  Selfs Paulus sukkel in Romeine 9-11 om ‘n klinkklare antwoord op hierdie Goddelike misterie te gee.  Een ding is egter seker: die uitverkiesing is nie bedoel om ons bang te maak nie.  Ons moet eerder bly wees dat ons wel deur God uitgekies is.

3. God kies en red in genade:

Dat ons uitgekies word deur God, is net ‘n genade (Romeine 11:5).  God kies ons nie vir wie ons is nie.  Hy wag ook nie dat ons eers iets of iemand spesiaal word voordat Hy ons kies nie.  Hy kies ons soos ons is, sonder dat ons iets daarby hoef te doen (Romeine 11:6).  God doen dit omdat Hy ons baie liefhet.  In liefde kies en roep Hy mense.  Hierdie uitverkiesing strek verder terug as ons skepping (Efesiërs 1:4-5).

God se genade is so groot dat Hy ons ook kies vir wie ons gaan wees.  God het ‘n plan vir ons (vgl. Genesis 1:26-27; Romeine 8:28-29).  Hy het ons uitgekies om daardie plan te vervul.  Nou roep Hy ons om deel te word van sy plan.  Hy trek ons in God se plan in deur die verlossing van Jesus Christus aan die kruis.  Hierdie verlossingsplan is ook lankal vooruit bestem deur God (Efesiërs 1:5-8).

Steeds is daar niks wat ons doen vir hierdie verlossing nie.  Dit is alles die werk van God (Efesiërs 2:8-10).  Dit is sy wil alleen.  Deur Hom word ons deel van God se uitverkore volk (Efesiërs 1:13).  Sy genade is so oneindig groot, veral as ons eers besef dat God sy genade nie terugtrek as Hy eenmaal uitgekies het nie (Romeine 11:29).

Gevolgtrekking:

Uitverkiesing en genade gaan saam.  Ons kan net met dankbaarheid God se genade en uitverkiesing aanhoor en aanneem.  Ons kan, en hoef, niks by te voeg nie.  Ons kan verseker wees van ons eie ewige uitverkiesing uit genade alleen.

Ons moenie verwaand wees oor ons uitverkiesing nie.  Ons moet deurentyd onthou dat ons niks daartoe bygedra het nie.  God se genade alleen het ons gemaak wie ons nou is.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph