Verband tussen eenmalige vergifnis en voortdurende pleit om vergifnis – Hermie van Zyl

Vraag

Boodskapteks: Ons sonde word/is vergewe omdat ons glo. Ons glo ook dat daar vir ons sondes betaal is aan die kruis, deur die bloed van Jesus. Waarom bid ons dan nog altyd en vra dat ons sondes vergewe moet word? Glo ons dit nie werklik nie?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die antwoord op ons vraagsteller se vraag is kort en kragtig: albei is tegelyk waar. Ons word vir eens en vir altyd opgeneem in God se genade wanneer Hy ons sonde in Christus Jesus vergewe, maar dis ook deel van die normale geloofslewe om daagliks te bid dat God ons sonde sal vergewe, soos Jesus ons in die Ons Vader-gebed geleer het (Matteus 6:12): “Vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”

Maar kom ek verduidelik hierdie waarheid breedvoeriger.

God vergewe omdat Hy goed is

Voordat ek ingaan op die verhouding tussen eenmalige en voortdurende vergifnis, moet ons eers een tree terug neem en vra: Hoekom vergewe God ons sonde? Ek handel spesifiek hieroor omdat die vraagsteller sê dat God vergewe omdat ons glo dat daar vir ons sondes betaal is aan die kruis. Paulus verwoord hierdie gedagte in Romeine 5:8 so: “God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” In Christus versoen God Homself met die sondige wêreld en reken Hy die mense hulle oortredinge nie toe nie (2 Korintiërs 5:19). Die vergifnis is dáár, beskikbaar; die genade-fees is gereed gemaak in Christus. Nou wag God met ’n oop hart en uitgestrekte arms vir die wêreld om die uitnodiging te aanvaar en die genade-fees te kom geniet. En dit doen ons wanneer ons glo, dit wil sê, wanneer ons besef dat ons niks uit onsself vir God kan aanbied op grond waarvan Hy ons sondes moet vergewe nie. Nee, Hy doen dit enkel en alleen omdat Hy genadig en goed is, én omdat Hy die regsbasis vir die vergifnis van sonde daargestel het, naamlik deur Christus in ons plek vir ons sonde te straf. God sien dus nie die sonde oor nie, maar straf dit aan Christus. Hy spreek ons vry omdat Hy Christus soos ’n sondaar in ons plek behandel het (2 Korintiërs 5:21).

As God vergewe, doen Hy dit vir eens en altyd

Vervolgens ontstaan die vraag: As God ons vergewe omdat Hy goed is en omdat Hy ons sonde aan Christus gestraf het, hoe lank bly dit geldig? Is God se vergifnis afhanklik van ons voortdurende sondebelydenis en smeking om vergifnis om so seker te maak dat ons nie sy guns en vergifnis verloor nie? Met ander woorde, veroorsaak God se vergifnis nie ’n soort blywende onsekerheid of selfs angstigheid by die gelowige nie? Waar staan ek werklik op die langtermyn met God? Byvoorbeeld, wat van sondes wat ek nog nie bely het nie? Of sondes waarvan ek nie eens bewus is nie? Of sondes wat ek nog gaan doen? Plaas hierdie onbelede sondes nie my verhouding met God in gevaar nie? Beteken dit dat ek op ’n wilde soektog moet gaan na al my vermeende en onontdekte sondes sodat ek dit kan bely ten einde daarvoor vergewe te word?

Hierop kan ons onomwonde antwoord dat die verhouding met God nie ’n quid pro quo-een (“iets vir iets”) is nie. Dit beteken: Dit is nie so dat vir elke moontlike ding wat mag skeefloop in hierdie verhouding God van ons ’n gepaste “teenprestasie” verwag om weer die verhouding te herstel nie. En indien hierdie teenprestasie nie gelewer word nie, dan verbeur ons die seën van God en dreig die verhouding om tot niet te gaan. Nee, die gelowige rus vir tyd en ewigheid in ’n geborge en veilige verhouding met God. Ons is nie vasgevang in ’n wettiese opset waar ons suutjies moet trap en gedurig senuagtig oor die skouer loer of ons God nie dalk geaffronteer het nie. Nee, ons is soos kinders in die ouerhuis. Vir seker is alles nie perfek nie; baie dinge loop verkeerd; daar is onbelede sondes; ons selfinsig is nooit volmaak nie. Maar by God as Vader het ons tuisgekom, rustig geword. Sy Seun het immers gesê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). By God is daar rus, kalmte, geborgenheid en vreugde. Wat meer is, dis ’n liefdesverhouding, en ware liefde dryf die vrees na buite (1 Johannes 4:18). Ons het die Gees van vryheid ontvang wat maak dat ons nie die hele tyd in vrees en onsekerheid lewe nie. Die Gees maak ons tot kinders van God, en as kinders is ons sy ewige erfgename (Romeine 8:15-17). En niemand kan ons aankla of beskuldig dat ons vanweë ons onvolmaaktheid nie vir tyd en ewigheid aan Hom behoort nie. Niks in die hemel of op die aarde kan ons skei van God se liefde in Christus nie, nie eens ons onbelede sondes nie (Romeine 8:31-39).

So gesien is dit nie voorbarig nie maar juis tekenend van kinderlike vertroue wanneer ons sê: Daar is geen plek vir onsekerheid en angs in die verhouding met God nie. Ook my onbelede, onbekende én toekomstige sondes is vergewe. My totale gebrokenheid word ondervang deur God se vergifnis wat ten diepste nie afhanklik is van my belydenis van sonde nie, maar van sy genade en liefde in Christus.

Eenmalige vergifnis en voortdurende pleit om vergifnis is keersye van mekaar

Nou kom ons by die spesifieke vraag van ons vraagsteller: Hoe pas sondebelydenis en pleit om God se vergifnis in die normale geloofsverhouding met God in? Anders gestel: Lei berou en sondebelydenis tot geloof in God, of is dit andersom: Berou en sondebelydenis vloei voort uit die geloofsverhouding met God?

Ideaal gesproke behoort ’n “sondebesef” tot geloof in God te lei, maar die geskiedenis leer ons dat dit nie altyd die geval is nie. Hier kan ons dink aan Judas Iskariot. Ja, hy het tot ’n bepaalde sondebesef gekom net nadat hy Jesus verraai het (Matteus 27:3-4), maar dit het nie tot sy redding gelei nie; inteendeel, hy het in wanhoop homself gaan ophang.

Wat eintlik gebeur, is dat die aanvanklike ontmoeting met God lei tot sondebesef, soos Petrus ervaar het tydens die wonderbaarlike visvangs (Lukas 5:8). Hy is so oorstelp deur hierdie gebeure dat hy uitroep: “Gaan weg van my af Here, want ek is ’n sondige mens.” Hy besef hy is op heilige grond, dat hy in die teenwoordigheid van die Heilige is, en dat hy ’n sondaar is. Dit het ook gebeur toe Johannes die Doper met sy prediking begin het: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Lukas 3:3). Hierop het die mense in groot getalle na hom uitgegaan en hulle sondes bely, en gevra wat hulle te doen staan (Lukas 3:7,10-14). In die lig van die ontsagwekkende teenwoordigheid van God se koninkryk is daar net een gepaste reaksie: Sondebesef, skuldbelydenis, ontvangs van God se vergifnis in die geloof, en ’n lewe wat in pas is met God se wil. Maar hierdie aanvanklike daad van geloof moet deel word van die normale geloofslewe. Die groeiende besef van wie God en wie ek is, wat voortvloei uit die groeiproses in ’n normale geloofslewe, lei tot verdieping in sondebesef en -belydenis. Opregte boetvaardigheid word gebore, én verdiep algaande, vanuit die geloofsverhouding met God. Dit is die logiese uitvloeisel van ’n lewe coram Deo (“voor die aangesig van God”).

In hierdie verband het Calvyn gepraat van die Christelike lewe as een van mortificatio en vivificatio, wat beteken: die doding of kruisiging van die vlees (die ou natuur), en die opstanding van die nuwe mens, die vernuwing tot ’n lewe in Christus. So gesien vorm mortificatio en vivificatio keersye van mekaar; beter gestel: die doding van die ou natuur vind plaas vanuit die vernuwing van my lewe in Christus. Hoe nader ek aan Christus leef, hoe meer ek die nuwe mens in Christus ervaar en uitleef – hoe meer haat ek my ou natuur en kruisig ek dit. Die belydenis van sonde en smeking om God se vergifnis is dus nie net ’n eenmalige daad van berou nie, maar deel van ’n lewenslange groei na Christus toe. Hoe meer ek my aan Christus verbind, hoe meer ontdek ek my sonde en wek dit voortdurend die behoefte om my sonde te bely en God te smeek om vergifnis. Uiteraard nie op ’n vreesagtige en patologiese manier nie; dit is net die spontane uitvloeisel van ’n lewe saam met Christus. Ek ontdek en erken algaande die waarheid van Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” Die Christelike lewe bestaan derhalwe daarin om dood te wees vir die sonde (mortificatio), maar te lewe vir God (vivificatio), omdat ons een is met Christus (Romeine 6:11).

So gesien is daar geen teenstrydigheid tussen die feit dat ek vir tyd en ewigheid deur God vergewe is, enersyds, en die behoefte om voortdurend God se vergifnis te soek nie, andersyds. Laasgenoemde is die uitvloeisel van ’n lewe in die teenwoordigheid van God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl