Verdere aspekte ten opsigte van die doop

image_pdfimage_print

Verdere aspekte ten opsigte van die doop – Francois Malan

Jan Smith Vra

Vra

Ek skryf na aanleiding van Thys se vraag met betrekking tot die betekenis van die doop en prof Francois Malan se antwoord daarop. U sal onthou dat ek so ruk terug korrespndensie met prof Adrio Konig oor dieselfde onderwerp gehad het en ek neem vrymoedigheid om ook ‘n paar opmerkings te maak oor wat prof Malan geskryf het.

Soms verstaan die professore nie wat die leke skryf nie en andersom.

Doop met die Heilige Gees, en doop met vuur:

Die vuur van die Heilige Gees en die vuur waarmee die kaf verbrand sal word is na my mening twee verskillende entiteite. Die Heilige Gees was ‘n geskenk van God om as die ander Trooster na die dissipels te kom. Jesus sê juis vir hulle om nie Jerusalem te verlaat alvorens hulle nie die belofte van die Vader ontvang het nie. Johannes die Doper het wel met water gedoop maar hulle sal met die Heilige Gees gedoop word. Toe dit wel gebeur toe gewaar hulle “tonge van vuur” wat op hulle gaan sit. En hulle het in tale gespreek soos wat die Gees van God aan elkeen toebedeel het. Hierdie “vuur” het ‘n onmiddellike omkeer tot gevolg gehad. Een oomblik was Petrus nog die verloëner en ‘n swakkeling en die volgende oomblik steek hy ‘n preek af wat so kragtig en oortuigend was dat 3000 mense tot bekering kom. Hiermee saam kon hy hulle vreesloos beskuldig: Hand 2: 23 : “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose mense geneem en gekruisig en omgebring”. Hierdie “vuur” het te make gehad met die krag wat hulle sou ontvang as die Heilige Gees oor hulle kom om Sy getuies te wees in Jerusalem en daarna in die ganse wêreld. En om duiwels uit te dryf; in nuwe tale te spreek; slange op te neem en iets dodeliks te drink en niks oor te kom nie; en vir siekes die hande op te lê om gesond te word. (Markus 16: 17 en 18).

Kinderdoop

Aanhaling: “Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het”.

Prof Malan sê “behoort” maar al sê hy ook “moet” dan hou die stelling nie water nie. Eerstens, dit is nie “doop” nie maar ‘n besprenkeling en tweedens, bots dit met Christus se uitspraak in Johannes 3: 3,5,7 en 8 met betrekking tot die wedergeboorte. Vers 3: “ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”.

Bekering is ‘n persoonlike saak en ek glo nie ons kan dit anders maak nie. Die kinders soos vermeld was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.

Sekere denominasies seën kindertjies in maar selfs hiervoor vind ek nie toepaslike skrif nie maar as ritueel sou ek dink dit is eerder gepas as om ‘n paar druppels water op ‘n baba se kop te sprinkel.

Aanhaling:

“So verbind Paulus die doop aan die besnydenis van Joodse seuntjies op die agste dag, wat die teken was van die ou verbond van God se genade aan Abraham en sy nageslag (Genesis 17:9-14). Die doop is die teken en seël van die nuwe verbond van God met ons en ons kinders dat seunjies en dogterjies van gelowige ouers ook kinders van God is.”

Die nuwe verbond wat God in gedagte gehad het is vervat Esegiël 36: 26: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; En Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee”.

Besnydenis of onbesnedenheid het nou geen waarde by God nie. Slegs geloof soos wat Abraham in  God geglo en dit hom tot geregtigheid gereken is. Gal 2: 15 en 16. Ek glo nie dis skriftuurlik korrek om die besnydenis deur te trek om die besprinkeling van babas te regverdig nie. So iets gryp vir my terug na die doodsheid van die letter van die wet. (Volgens die ou verbond was dogtertjies uitgesluit; hoe kan hulle nou streng gesproke ingesluit word?).

Die Bybel praat van die huisgesin van Lidia en die tronkbewaarder en om te aanvaar dat daar klein kindertjies betrokke was kan die teendeel ook waar wees naamlik dat hulle al groot genoeg was om die evangelie te verstaan en daarop te reageer.

Volwasse doop – gelowige doop:

Aanhaling:

“Daarom behoort kinders van gelowiges die doop te ontvang as die uiterlike teken van wat Christus vir hulle gedoen het”.

1 Kor 7: 12 – 17 handel oor die posisie van die gesin as ‘n Joodse man met ‘n nie-Jood trou en andersom. Die Jood heilig die ongelowige in beide gevalle maar dit maak nie van hulle “heiliges” nie. Eerstens is dit nie ‘n “volwaardige doop” nie en tweedens soos reeds hierbo vermeld bots dit met Christus se uitspraak met betrekking tot die wedergeboorte in Joh.3: 3,5,7 en 8. Die kinders was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.

Besprinkeling en onderdompeling

Aanhaling:

“ en met die bloed van Jesus besprinkel  te word.”

“Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê..”

“So sien Petrus die samehang tuseen die besprenkeling met die water van die doop van die nuwe verbond en die besprenkeling met die bloed van die nuwe verbond.”

“Vir die doop van klein kinders is die besprenkeling met water dus aangewys as die teken en seël wat God aan hulle gee. Vir ‘n teken en’n seël maak die hoeveelheid water nie saak nie.”

Petrus skryf hier oor dinge wat net deur mense met verstandelike vermoëns begryp kan word. Die besprenkeling met die bloed van Jesus Christus verwys simbolies na die aksie van die Hoëpriester om die bloed op die verbondsark in die allerheiligste van die tabernakel te sprinkel om een maal per jaar versoening te doen vir die sonde van  die volk. In hoofstuk 3: 20 tot 22 skryf Petrus: “ waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl die engele en kragte aan Hom onderwerp is.

Opmerking:

In die 1953 vertaling staan daar: Exodus 24: 8: Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat God met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde”. Wat het Moses dan nou gedoen? Het hy gegooi (baie bloed) of gesprinkel (min bloed).

Terwyl ek nou van Moses skryf is die volgende tekste insiggewend: 1 Kor 10 :1 en 2: “ Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see,” Die Amplified Bible beskryf vers 2 so: “ And each one of them (allowed himself also) to be baptized into Moses in the cloud and in the sea(they were thus brought under obligation to the Law, to Moses, and the covenant, consecrated and set apart to the service of God).” Kinders was ook hier betrokke maar ek twyfel of hulle geweet het besig was om te gebeur.

Johannes die Doper het in die Jordaanrivier gedoop (baie water). Die Hofdienaar van Etiopië het uitgeroep: “Daar is water wat verhinder my om gedoop te word”. Prof Konig sê: Die dopeling het in die water gestaan (miskien halflyf) dan het die doper ‘n paar hande vol water op sy kop uitgegooi (Gesprinkel?) En daarom kan hierdie aksie ook na babas herlei word. Kan dit regtig so wees? Hoekom al die moeite om in ‘n rivier te gaan staan as dieselfde aksie met die nodige fasiliteit ‘n skottel of bad op droë grond eweso die doel kon dien?.

Die doel van die doop

 Die beskrywing wat prof Malan met betrekking tot onderdompeling verstrek in die voorlaaste paragraaf van sy skrywe kan nie op verbeter word nie – dis pragtig!!

Ek wil dan graag byvoeg dat die enigste doel van die doop enersyds geleë is in die woorde van Jesus Mat 3: 15: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” en 1 Petrus 3: “waarvan die teëbeeld, die doop, ons ook nou red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie. Maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus”.

 

Enkele opmerking by Jan se opmerkings deur Prof Francois Malan

1 Die vuur van die Heilige Gees en die vuur waarmee die kaf verbrand sal word is na my mening twee verskillende entiteite.

Die Heilige Gees is God! Die Gees van God het by die skepping gesweef het oor die waters (Gen 1:2). In Rom 8:2 word Hy die Gees van die lewe genoem. Alle lewe in die skepping, wat deur die Woord van God geskep word, kom van Hom af. Ook wat in Maria ‘verwek is, is uit die Heilige Gees’ (Mat 1:18,20); die engel het vir Maria gesê: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk 1:35). Die Heilige Gees word hier ‘die krag van die Allerhoogste’ genoem.

            In Johannes 14:15-17 sê Jesus, nadat Hy weggaan, sal Hy die Vader vra en Hy sal vir ons ‘n ander Voorspraak/Trooster/Helper stuur om vir ewig by ons te wees, naamlik die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie ken nie, maar julle ken Hom omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. In 14:20 sê Hy: Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader en julle in My en Ek in julle. In 14:23 sê Jesus Hy en sy Vader sal woon in die mens wat Hom liefhet en sy woorde ter harte neem. So woon God, die Vader en die Seun in ons deur God, die Heilige Gees, wat ook die Gees van God en die Gees van Christus genoem word (Romeine 8:9).

 

Jesus sê: die Heilige Gees sal die wêreld oortuig van sonde, omdat hulle nie in My glo nie, van geregtigheid omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sien nie (Jesus gaan vir ons intree by die Vader, en die Gees lei ons nou in die pad van geregtigheid om voor God reg te lewe), van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld (Satan) reeds geoordeel is (Johannes 16:8-11).  Die vuur waarmee die Heilige Gees ons doop is ook ‘n reinigingsvuur, omdat God, wat in ons woon, ook ons sondige gedagtes en woorde en dade kom reinig deur die woorde van Jesus (Joh 15:3). Vir die ongelowiges is dit ‘n oordeelsvuur (Hebr 12:29: Want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur). Ananias en Saffira het inmekaargesak en gesterf omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het (Hand 5:3-5,9-11).

 

 Ons geloof kom nie uit ons self nie; dit is ‘n gawe van God (Efesiërs 2:8). Ons moet wel die besluit neem om in Jesus te glo, maar dit is die Heilige Gees wat deur die woord van God werk om ons te oortuig dat Jesus ons Verlosser is. Dat ons tot die besluit kom, is ‘n genadegawe van God. In Johannes 6:37 sê Jesus: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. In 6:44: Niemand kan na My toe kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie. In 6:65: Niemand kan naMy toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie. In 10:29 praat Jesus van sy skape as ‘hulle wat my Vader aan My gegee het.’ In sy gebed in Johannes 17:2 verwys Hy na elkeen wat U aan Hom gegee het. 17:6,9 verwys na die mense uit die wêreld wat U My gegee het, wat aan God behoort het (vgl ook 17:12, 24; 18:9).

 

Die werk van die Heilige Gees in ons is om ons te verander om al meer soos Jesus te word (2 Kor 3:18). Jesus het vir sy volgelinge gesê: Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het (tot die dood van die kruis) moet julle ook mekaar liefhê (Joh 13:37; vgl. 15:12). Die vrug van die Gees se werk in ons maak van ons mense wat liefhet, altyd bly is, in vrede met God en ons medemens lewe, met geduld teenoor mekaar, altyd vriendelik, gevul met goedheid tenoor ander, getrouheid aan God en in ons lewe, met sagmoedigheid die swakkes help, mense wat hulleself kan beheer, wat ons self verloën, volgens die Gees se leiding lewe, sonder verwaandheid of jaloesie teenoor mekaar (Galasiërs 5:22-26).

 

2 Wedergeboorte en bekering

 

Wedergeboorte kom van God af – Joh 3:3 sê letterlik: As iemand nie van bo weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Joh 3:6 praat van ‘uit die Gees gebore.’ Wanneer die Heilige Gees in ons kom woon, word ons deur Hom gebore tot kinders van God deurdat Hy ons lei, en ons aan die Seun van God kom verbind, sodat Christus in ons sal lewe as die Here wie se woord die seggenskap in ons lewe kry (vgl Rom 8:9-17).

1 Petrus 1:3 sê; God het ons deur die opstanding van Jesus Christus opnuut verwek. Ons is weer gebore deur die lewende en blywende woord van God (1 Petr.1:23).

 

Bekering word in Grieks met drie woorde bekryf: (i) metanoia wat verwys na ‘n lewensverandering as gevolg van ‘n hele verandering van opvatting en houding teenoor sonde en ONS verhouding tot God en sy woord (Mark 1:15); (ii) strefomai om jou lewenswyse te verander  deur na God toe te draai (Mat 18:3); epistrefoo om waarin jy glo en jou lewenswyse te verander deur na God toe te draai  (Mark 4:12). Bekering is ‘n besluit van ‘n mens deurdat die Heilige Gees reeds die wedergeboorte in hom gewerk het. En dit is nodig dat ons ons daagliks bekeer  van verkeerde dinge en gewoontes, soos die Heilige Gees ons van dinge oortuig.

 

3  ‘1 Kor 7:12 – 17 handel oor die posisie van die gesin as ‘n Joodse man met ‘n nie-Jood trou en andersom. Die Jood heilig die ongelowige in beide gevalle maar dit maak nie van hulle “heiliges” nie.’

 

1 Korintiërs word geskryf ‘aan die gemeentes van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, watdie Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here’ (1 Kor 1:2) – nie aan Jode nie!

 

4 ‘Die kinders was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.’  ‘Die kinders soos vermeld was bloot nuuskierig – die dissipels het hulle as lastig beskou en hulle belet om nader te kom.’

Matteus 19:13 sê: ‘toe is kinders na Hom gebring sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid.’ Matteus en Markus 10:13 gebruik die algemene woord paidia vir ‘kinders,’ teryl Lukas 18:15 die woord brefe, babas gebruik, dieselfde woord wat vir die baba Jesus wat met doeke toegedraai in die krip gelê het (Luk 2:12). Die dissipels het met die mense wat die kindertjies na Jesus gebring het berispe (Mt 19:13). Maar Jesus het gesê: Laat die kinders begaan en moet hulle nie verhinder nie om na My toe te kom nie, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

 

5 ‘In die 1953 vertaling staan daar: Exodus 24: 8: Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat God met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde”. Wat het Moses dan nou gedoen? Het hy gegooi (baie bloed) of gesprinkel (min bloed).

Die Hebreeuse bronteks  in Eksodus 24:8 gebruik die woord zarak wat ‘sprnkel’ beteken, en gebruik word om bloed te sprinkel Eksodus 24:6,8; 29:16,20; Lev 1:5,11; 3:2,8,13; 7:2; 8:19,24; 9:12,18; 17:6; Num 18:17; 2 Kon 16:13,15; 2 Kron 30:16; 35:11; Eseg 43:18; ook van water in Eseg 36:25; vgl. Num 19:13,20 (in die 1953 vertaling is al die tekse ‘uitgooi’). Die ou Nederlandse Staten Bijbel van 1637 het reeds ‘sprengen’ gebuik, en die ou Engelse King James Bible van 1611ook ‘sprinkled.’

6  ‘Kinders was ook hier betrokke maar ek twyfel of hulle geweet het besig was om te gebeur’ met die deurgang deur die Rietsee.

 

Die verseëling dat hulle vrygemaakte kinders van God is, deur die Here verlos uit die slawerny van Egipte, is egter bekend by God. So is die doop ook ‘n uiterlike teken wat God gee aandié wat aan Hom behoort. Ons woord ‘kerk’ kom van die Griekse woord kuriake ‘die Here s’n. Dit is Hy wat die teken aan ons gee, en sy seël op ons plaas. In Romeine 9:132 staan: die besluit van God is gegrond op uitverkiesing: dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou  roep.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...