Vergifnis na erge trauma – Hermie van Zyl

Mariana vra

My man is ‘n alkoholis. Ons is al twee jaar uitmekaar. Hy bly nou saam met ‘n ander vrou en ons het nie eintlik meer kontak nie. Hy het my emosioneel baie mishandel. Hoe vra ek die Here dat ek my man kan vergewe? Hoe vergewe ek myself omdat ek my kinders by so ‘n pa grootgemaak het? Hulle is nou 19, 23 en 28. Al drie is dogters en almal het soveel emosionele skade opgedoen. Wat doen ek met die selfverwyt? Ek weet ek moet alles agter my sit, want ek kan nou niks verander nie. Moet ek nog vir hom bid? Wat maak mens met die skuldgevoel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is ‘n vrou wat met wisselende emosies sit. Sy het erge trauma oor ‘n lang tyd beleef as gevolg van haar gewese man wat haar emosioneel mishandel het, en sy weet nie of sy dit oor haar hart kan kry om hom te vergewe nie. Hiervoor soek sy hulp by die Here. Verder sit sy ook met selfverwyt en skuldgevoelens oor sy toegelaat het dat haar dogters emosionele skade opgedoen het weens haar man se optredes. Het hulle nie dalk onherstelbare skade gely nie? Sy voel dis alles haar skuld, dat sy hulle gefaal het. Tog weet sy dis die beste om die verlede agter te laat en vorentoe te kyk. Want wat gebeur het, het gebeur. Sy kan niks aan die verlede verander nie. ‘n Mens kan nie jou lewe lank ‘n gevangene van die verlede bly nie. God het tog sekerlik iets beter vir haar weggelê in die toekoms?

Hierdie is geen maklike kwessies nie. Skuldgevoelens, selfverwyt, ‘n onvermoë om te vergewe, ‘n onwilligheid om die verlede agter te laat en gebrek aan ‘n toekomsvisie skep ‘n “perfekte emosionele storm” en kan van ‘n mens ‘n wrak maak wat jou lewe ruïneer. Hoe help ons haar op haar weg vorentoe?

Eerstens, maak vrede met die keuses wat jy gemaak het in die verlede. By terugskou is dit maklik om te sê dat jy eerder jou kinders en jou goed moes gevat en geloop het. Maar dis maklik om dit nou te sê; nou is die kinders groot en relatief onafhanklik; al drie kan waarskynlik grotendeels vir hulleself sorg. Maar toe die kinders klein was, was dit ‘n ander storie. Toe was daar ander faktore wat ‘n rol gespeel het: die opvoeding en versorging van die kinders; finansiële sekuriteit; die hoop dat die situasie kan verander. Al hierdie oorwegings kon ‘n rol gespeel het waarom jy nie tóé jou man verlaat het nie. Dis keuses wat jy tóé moes maak wat waarskynlik nie anders kon nie. En met daardie keuses in die verlede moet mens vrede maak, selfs al was hulle by terugskou verkeerd. Niemand van ons is volmaak nie; almal maak groter of kleiner foute waarmee ons moet saamleef vir die res van ons lewe. Dit help nie om nou te sê ek moes destyds anders gekies het of van beter geweet het nie. ‘n Mens maak keuses by die lig wat jy op daardie oomblik ontvang. As jy dink – by die lig wat jy nou oor jou verlede het – dat dit destyds foutiewe keuses was, vra dan die Here om vergifnis, aanvaar sy vergifnis, en leef uit daardie vergifnis. Maar moenie tob oor jou swak keuses van die verlede net omdat jy nou in ‘n beter posisie is om daaroor te oordeel nie. Die Here hang ons nie op aan ons verlede nie. Anders sou Jesus nie vir die vrou wat in owerspel betrap is, gesê het nie: “Jy kan maar gaan, en moenie verder sondig nie” (Joh 8:11).

Tweedens, ek weet nie hoe die verhouding met jou dogters is nie, maar as dit kan, neem hulle in jou vertroue en speel oop kaarte met hulle. Sê vir hulle hoe jy voel oor die verlede – dat jy voel jy het hulle in die steek gelaat. Praat die saak met hulle deur; hoor hoe húlle reageer en daaroor voel. Kinders het partykeer ‘n heel ander perspektief as die ouers op dieselfde situasie. Verder, die drie kinders het nie noodwendig elkeen dieselfde gevoelens oor dinge wat na jou mening verkeerd geloop het nie. En as dit so is dat hulle letsels opgedoen het, vra dan hulle vergifnis daarvoor. Probeer ‘n nuwe verstandhouding met hulle aangaan waarop die verhouding met hulle in die toekoms gebou kan word. Probeer aan hulle verduidelik waarom jy destyds die keuses gemaak het wat jy wel gedoen het. Jy mag dalk net agterkom dat hulle emosionele letsels veel minder is as wat jy self oor skuldig voel. En dan straf jy jouself onnodig. Die punt is: moenie alléén oor die verlede wroeg nie, praat openlik die dinge deur met jou dogters; kry alles in die oopte. Dit op sigself behoort al klaar ‘n stuk verligting en genesing van die skuldgevoelens te bring.

Derdens, jou man. Jy sê nie of julle formeel geskei is nie; ek vermoed van nee, want jy praat nog van jou man asof julle steeds getroud is, hoewel hy intussen by ‘n ander vrou ingetrek het. Maar dit klink of die band permanent verbreek is; jy stel nie daarin belang om die huwelik te probeer red nie. Al wat jy graag wil doen, is om finaal afskeid te neem van daardie deel van jou lewe en vorentoe te beweeg. Indien my opsomming korrek is, dink ek die eerste stap nou is om formeel van hom te skei. Egskeiding bring finaliteit en open nuwe moontlikhede. Want soos sake nou staan, kan jy nie met ‘n goeie gewete nuwe verhoudings aangaan nie. En indien jy sou, sal dit weer nuwe skuldgevoelens by jou kweek. Daarom, pak die bul by die horings en bring formeel ‘n einde aan daardie deel van jou lewe. Dis deel van die genesingsproses. Jy mag dalk vind dat die nuwe situasie van geskei te wees in sigself ‘n stuk terapie is wat dit gaandeweg ook vir jou makliker sal maak om daardie hoofstuk af te sluit. Dit wys dat jy beheer kan neem van jou lewe; jy is nie meer ‘n gevangene van jou verlede en emosies nie. Dit gaan dit ook vir jou makliker maak om hom te vergewe as jy sterker staan in jou eie emosies. Want om daardie hoofstuk werklik af te sluit, sal jy hom uiteindelik móét vergewe. Anders gaan dit aan jou bly vreet, anders bly hy deel van jou lewe. En onthou, vergifnis is nie ‘n emosionele, spontane reaksie nie. Dis ‘n geloofsbesluit wat jy neem om uit God se genade vir jóú te lewe, en op grond daarvan ook ander wat jou onreg aangedoen het, te vergewe. Jy sien dan in die eerste instansie jousélf as medesondaar wat vergifnis nodig het, en vervolgens raak dit ook makliker om ander se oortredings te vergewe. Ons is immers almal sondaars by wie dit ontbreek aan God se heerlikheid (Rom 3:23). En vanuit hierdie breër perspektief op jouself én ander vat jy dan elke dag op sy eie en lééf vanuit daardie geloofsbesluit. En gaandeweg sal jy ervaar dat daar genesing kom en dat jou emosies ook in pas kom met die besluit wat jy geneem het.

Laastens, kom ons werp ‘n bietjie lig op jou situasie vanuit twee Bybelfigure se lewe. Paulus het geweldige skuldgevoelens beleef omdat hy vóór sy bekering die gemeente van God vervolg het. Dit slaan deur in Skrifgedeeltes soos 1 Kor 15:9, Fil 3:6 en 1 Tim 1:13 waar Paulus sê dat hy vanweë sy vorige lewe nie op enigiets kan aanspraak maak nie; trouens, hy sien homself as die geringste van die apostels. Hy sê ook dat hy by terugskou nou verstaan dat hy destyds in totale onkunde gehandel het; hy het nie mooi geweet het wat hy doen nie, want tóé het hy nog nie die opgestane Here op die Damaskuspad ontmoet nie. Die blote feit dat hy hierdie dinge in meer as een van sy briewe noem, briewe wat op verskillende tye van sy bediening geskryf is, lê sy hart bloot – dat hy nooit heeltemal daarvan kon vergeet dat hy so dom en onnosel was, dat hy vroeër in sy lewe sulke verkeerde besluite geneem het nie. Tog sê hy dat hy die dinge wat verby is, agtergelaat het en dat hy hom nou uitstrek na wat voor is (Fil 3:13). Hy kan dit doen omdat hy die genade van God aanvaar het. Hy kan nou voluit vir die Here werk, selfs harder as al die ander apostels. Dus, ten spyte van sy slegte verlede het hy besluit om hom nie sy lewe lank daaroor te verknies nie, maar om aan te beweeg en vrugbaar te arbei in die wingerd van die Here. Dieselfde met die dissipel Petrus. ‘n Mens kan net dink watter geweldige sielewroeging hy moes deurgaan nadat hy sy Meester verloën het. Petrus kon homself ook, soos Judas, gaan ophang het, maar hy besluit om die Here se vergifnis te aanvaar, asook die nuwe taak wat die Here aan hom opdra – om sy kudde te versorg – en voortaan voluit met hierdie roeping besig te wees (Joh 21:15-19). Dit ís dus moontlik om jou slegte verlede agter te laat en die toekoms wat God se genade in Christus vir jou ontsluit, in die geloof aan te gryp en ‘n nuwe lewe te begin. Dit is die enigste pad wat werklik sin maak. Ek wens dit van harte vir jou toe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl