Verkondig God se woord

image_pdfimage_print

I tell you our strength, whenever we have any, is our greatest weakness, and our fancied wisdom is our real folly. —C.H. Spurgeon

 

Verkondig God se woord

Ons leef in ‘n sogenaamde postmoderne wêreld waar verkondiging met suspisie en skeptisisme bejeën word. Luister na Paulus se opdrag aan die gelowiges in Kolosse: Hom verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring (1:28). Die Griekse woord wat hier met verkondig vertaal word beteken om “openlik en hardop te verklaar.”

 

 Ons kry basies dieselfde in Handelinge 17:2 – 3:  Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen (die sinagoge) gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hy is die Christus.”  Een van die groot probleme in ons gemeentes is dat lidmate glo dat verkondiging die taak/plig van die leraar is – verkondiging is die taak/plig van elke gelowige.

 

In hierdie twee gedeeltes leer ons iets van “sterk verkondiging”:

  • Sterk verkondiging is Christus gesentreerd. Hierdie prediking berus op die evangelie; dit verkondig dat Jesus vir sondaars gesterf het; dat sondaars verlos kan word. Dit wys vir sondaars die verlossingspad.
  • Sterk verkondiging is nie bedees nie.  Paulus sê vir die Ateners dat dit wat hulle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle (Handelinge 17:23). Hy sê ook: Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo … (Romeine 1:16).
  • Sterk verkondiging is vreesloos. Ons is so bang om aanstoot te gee. Daarom gaan ons kompromieë met die werklikhede van die Skrif aan. Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek het (Handeling 20:20). Paulus het vreesloos die volle evangelie verkondig.
  • Sterk verkondiging moet omvattend wees – die hele Skrif en nie stukkies hier en daar nie. Want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie (Handelinge 20:27).
  • Sterk verkondiging moet die fondament vir ‘n Christelike wêreldsiening lê. Christus is die middelpunt van alles. God het deur Hom alles geskep (Kolossense 1:16); deur Hom bly alles in stand (Kolossense 1:17); Deur die Seun het ons die verlossing gekry, die vergewing van sondes (Kolossense 1:14); Hy maak alles nuut (Openbaring 21:5). Gelowiges moet die Christelike wêreldsiening verteenwoordig en so ander gelowiges versterk.
  • Sterk verkondiging moet die volle gewig van die Bybelse gesag dra. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend (2 Timoteus 4:4). Maar gelowiges moet hulle teregwys en uitdaag om die waarheid te aanvaar. Gelowiges moet die wêreldse ideologieë konfronteer: Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie (Kolossense 2:8). Gelowiges moet die waarhede van die Skrif met passie en logika verkondig.
  • Sterk verkondiging moet ‘n sin van dringendheid hê. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baie keer met trane (Handelinge 20:31).
  • Sterk  verkondiging moet intens teologies wees. Die gesondheid van ‘n gemeente word bepaal deur diep Bybelse en teologiese oortuigings.
  • Sterk verkondiging moet ‘n blywende verandering in die harte en denke van mense maak. Die persoon wat dit hoor behoort nooit weer dieselfde te wees nie

 

 Verkondiging is belangrik. Doen dit en mense en gemeentes sal verander.

 

image_pdfimage_print

You may also like...